Necktie Youth
Dis post-apartheid en Jo’burg se opper-middelklas jeug is in ’n identiteitskrisis. Hulle drink, dwelm en seks dit weg met ’n hedonistiese leefstyl as verligting, waar rasse-skeidings en armoede tweede staan teenoor die eksistensiële krisis wat gevolg het. “Things have been pretty good since they did away with all that apartheid shit,” reken Jabz, Necktie Youth se protagonis. Dit mag dalk vir sommiges so wees, maar pappa se swart Jaguar en platinum American Express los veel te wense. Die hedendaagse situasie van ’n “nuwe Suid-Afrika” – uitgebeeld deur die 23-jarige regisseur Sibs Shongwe-La Mermaar en hoofsaaklik sy vriende as akteurs (uit hul eie perspektiewe: “om dit so organies en natuurlik as moontlik te hou”) – word dikwels verdoesel deur die magdom ander en meer drukkende probleme wat die land troef.
Die storie begin by ’n jong meisie wat haar selfmoord live-stream in haar ouerhuis en die emosionele trefslae wat meer as ’n jaar later nog deur haar vriende en ex-lover verwerk word. Die karakters probeer sin maak van die wêreld en hul lewens daarin, met die half-belowende Johannesburg en haar welvarende voorstede in die voor- en agtergrond (“we live in Sandton you know… everything’s nice”). Necktie Youth is as hoogtepunt by die onlangse Tribeca Film Festival bekendgestel. Die produksiemaatskappy agter die werk, Urucu Media, doen amazing shit: voorsmakies hier.