Is jy die volgende Ruk en Rym-wenner?

Is jy die volgende Ruk en Rym-wenner?

Collage geskep met foto’s van Ruk en Rym se 2025-wenners (geneem deur Gerrie Bezuidenhout) en illustrasies deur Octavia Roodt

Aandag, alle alternatiewe Afrikaanse musiekmakers

Dis weer sukke tyd: Taalgenoot se Ruk en Rym-kompetisie is vanjaar terug vir ’n vierde rondte.

ICYMI: Ruk en Rym is dié geleentheid vir musikante wat nie bang is om teen die hoofstroom te beweeg nie, en wat oorspronklike alternatiewe musiek met hoofsaaklik Afrikaanse lirieke maak.

Van rock en punk tot indie, kletsrym, metal, elektronies en alles tussenin, gee Ruk en Rym nie net vir opkomende kunstenaars die geleentheid om hul musiek met ’n wyer gehoor te deel nie, maar ook die kans om ’n verskeidenheid pryse (ateljeetyd, onder meer) te wen.

Die kompetisie het in vorige jare van die Klyntji-redaksie se gunsteling- nuwe klankkunstenaars opgelewer, soos Hendriek Bleik, Dierbaar, SAMPAULE, Emile Kepeal, The Karriers, L!SA, Ultra-Mal, Karel Bester en die Kraaines Band, RFKI en verlede jaar se wenner, Magé Troskie, om maar net ’n paar te noem. Jaco van der Merwe (van Bittereinder-faam) is die dinkdansmasjien (oftewel, die kreatiewe regisseur) agter die ruk en die rym van die saak.

Skryf hier in – daar is geen inskrywingsfooi nie. Solo-sanger-liedjieskrywers en bands van alle genres en klanke is welkom. Vorige inskrywers, deelnemers wat deurgedring het en selfs vorige wenners mag weer inskryf – mits jy die keurpaneel weer kan verras. Check die reëls en voorwaardes hier uit en kyk hier vir meer inligting oor hoe inskrywings beoordeel word. Inskrywings sluit om middernag op 31 Julie.

Die keurpaneel bestaan uit Jaco, Hunter Kennedy, Wendy Verwey Bekker, Jerome Rex en Lundi Khoisan. Sossi, Paul Riekert, Jaco en Janke Mostert beoordeel vanjaar die live vertonings en bepaal wie na die volgende rondtes vorder – en wie uiteindelik die Draadman-trofee inpak huis toe.

Die twee semifinale rondtes vind vanjaar weer plaas by die alternatiewe musiekvenues Railways Café in Irene, Centurion en die Daisy Jones Bar net buite Stellenbosch. Laasgenoemde is ook die verhoog vir die Groot Finaal (in Oktober as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees).

Hiér gaan die ding weer ruk. Gaan jý op die verhoog wees?

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Is jy die volgende Ruk en Rym-wenner? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand