Stap vir stap pre-printmaking prep met Johan Stegmann

Stap vir stap pre-printmaking prep met Johan Stegmann

Gereedskap gereed. Foto’s deur Mila de Villiers

Ets, ek sê! Vanuit sy ateljee in Doornfontein

Johan Stegmann, die Polokwane-boorling wat die ’burbs vir Jo’burg se middestad verruil het en sedertdien die kunzzz-wêreld met sy Pierneef-esque prints betree en betower, klets met my vanuit sy woonplek-slash-ateljee in Doornfontein se kunstenaarshub, August House. Vandag is toegewy aan pre-printmaking-voorbereiding.

The artist is very much present in hierdie ruimte wat sy kunswerke uitstal, werksoppervlaktes wat die ene ets-en-skets-toebehore is en met die geroesemoes van Doornfontein as agtergrondmusiek – ’n kakofonie van verkeer, opgewekte kinderstemme, smouse, annie-gang voetgangers, blêrende taxi’s – val hy weg …

stap 1: vind inspirasie

Johan se kreatiewe energie word hoofsaaklik ontlok uit woede en aggressie, “soos wanneer jy jouself afgepis het,” vertel hy my soos hy ’n boek neffens hom met sy hand tref: Pierneef linosneë deur FEG Nilant. ’n Duidelik deeglik-deurgeblaaide titel en ’n bron van visuele inspirasie.

“Ek wou bietjie kyk na die individual language van Pierneef. Ek hou daarvan om sy quintessential visual language te channel,” verduidelik hy omtrent sy eie The Cape-Dutch wonder of Wonderboom (soos ’n rooihuid). “Hierdie werk was minder generically Eurocentric en meer soos die Afrikanermite.” Dié lino is Johan se herinterpretasie van ’n Pierneef-stuk wat in Wonderboom, Pretoria geskep is: “Hence my titel.”

Johan skryf Pierneef se trefkrag toe aan dié meester van ouds se abstraksie. “Hy hét abstract, maar tog hoe méér hy abstract, hoe méér herken jy iets real van die landskap. In daai opsig admire ek hom. Wat ek by doen, is hierdie idee van …” Hy peins ’n oomblik. “Veronderstel jy pas daai lens toe op die middestad of op die refugee-krisis … Of iets wat actually aan die gang is,” sê hy. 

Jacob Hendrik Pierneef, Krommerivier, Stellenbosch (Nilant 15) (1925). Linosnee op papier. Via straussart.co.za

Johan Stegmann, The Cape-Dutch wonder of Wonderboom (soos ’n rooihuid) (2025). Linosnee op papier. Kunswerke verskaf

Johan se kopie van Nilant se Pierneef linosneë

Werklike grootte van Johan se The Cape-Dutch wonder

Johan boots Pierneef se Wonderboom-lino op Gimp na.

Die ware Jakob, soos in Nilant

stap 2: maak foute 

Johan blaai deur Nilant se tasbare nalatenskap van Pierneef se landskappe. “So, op Gimp …” dwaal hy af terwyl hy die beeldmanipulasie-program oopmaak. ’n Frons is op sy voorkop geëts, soos hy Pierneef se Wonderboom-lino naboots met ’n Stegmann-spin: ’n Rooivalk-aanvalhelikopter luier onheilspellend in die lug, die agtergrond die ene paddastoelwolke wat herinner aan atoombomwolke.

Hy staar deurpriemend na die skerm; sy oë dartel rond. “Ek besef nou iets verskrikliks … Ek doen dit altyd, ou!” kom die uitlating soos hy sy kop mismoedig op sy hande laat sak. “Ek doen dit altyd! Die eenvoudige prinsiep wat jy moet onthou met printmaking is dat die hele ding moet flip. Ek het hom nie geflip nie; ek teken hom soos hy nou daar is.”

Maar all is not lost. “Ek het ’n klomp images van die Rooivalk gedownload om my te help met hoe hy sal lyk met … Hierdie is eintlik mooi, flip … Ek gaan hom gou impose en kyk hoe hierdie een lyk,” begin hy. 

Foute is deel van die proses, soos gesoute kunstenaars soos Johan ook leer.

All is not lost – fok voort as jy foute begaan.

stap 3: impose die beeld 

Johan demonstreer dié proses – waar die oorspronklike beeld waarmee jy werk via Gimp getweak en esteties gemanipuleer word – soos volg: “Jy sit die contrast baie hoog en what-what,” vertel hy soos hy die kontras van die Rooivalk-foto verhoog, “en dan desaturate jy die beeld sodat jy kan sien waarmee jy besig is.” (Desaturation, of ontsadiging, is die proses waardeur die intensiteit van kleur verswak word.)

Gimp, contrast, desaturation: woorde wat sinoniem is met die 21ste eeu, Die Digitale Era. Tog glo Johan dat digitaal lame is. “Veral met AI. Dis funny, soos om te paint op ’n rekenaar. Die probleem is, dis nog steeds ’n beautiful craft om digital art te maak, maar die viewer kan nie sien of jy dit self gemaak het nie. Die viewer kort evidence of the imperfect human creative act. Die punt van kuns is soveel om die imperfections te wys as die accomplishments. Jy soek daai tekstuur, evidence van die beweging, van die merk,” verduidelik hy. “Die magic van Pierneef: Baie van hierdie goeters is super-vinnig en flowy gedoen. Dit is seker ’n 20 minuut job vir hom; ek vat twee dae van ‘okay, hier kom ons!’” lag hy.

“Hoe perfek moet dit wees?” wil ek volgende weet.

“Die great ding wanneer jy in ’n tipe van ’n flow kom, is om te laat gaan van die idee om perfek te reproduce en reinterpret. Hierdie een [The Cape-Dutch wonder] het baie meer flowy uitgekom. Dis kind of nice. Die kere wat ek dit al toegelaat het om te kan gebeur is so – ah! – it surprises!” 

Ons praat volgende oor titels.

“Ek het ’n habit om dubbeltitels te gee: Afrikaans en Engels. Kind of die een vertaal in die ander, waar die vertaling in hakies is, maar gewoonlik gee ek dit dan ’n ander betekenis. Soms die teenoorgestelde. Partykeer gee dit ’n clue; partykeer probeer dit iets verduidelik,” vertel Johan. “Die oomblik wat ’n titel gekies word, skep jy iets … Dit gee meer intrige. Dis amper soos ’n creative act self.” 

Die probleem is, dis nog steeds ’n beautiful craft om digital art te maak, maar die viewer kan nie sien of jy dit self gemaak het nie. Die viewer kort evidence of the imperfect human creative act. Die punt van kuns is soveel om die imperfections te wys as die accomplishments.
— Johan Stegmann oor KI en kuns

Die volgende beeld, His girlfriend’s building is now collapsed (Yeah, man!!), is aan’t beurt.

“Om dit so dieselfde te kry, moes ek obviously die images flip. Al wat ek verander het, is hierdie emojis in die lug. Daai emojis kom uit die leaked Signal messages waar ons gesien het: O, Donald Trump is ook maar ’n bom-meneer en hy’s besig om Yemen te bom. Die Trump-administrasie het ’n faux pas begaan en per abuis ’n joernalis van die Atlantic bygevoeg op ’n groep waar bomaanvalle op Yemen beplan word,” verduidelik Johan. “Kak-dom. Dan sê hulle iets van: His girlfriend’s building has now collapsed. Dis geparaphrase. En die titel is in hakies, (Yeah, man!!), want dis Yemen.” 

Johan Stegmann, His girlfriend’s building is now collapsed (Yeah, man!!) (2025). Linosnee op papier

Hy verduidelik verder: “En dan die insinuation van die Pierneef-wolke wat maybe atoombomme is. Die idee dat die Afrikaner en Trump nou supposedly in dieselfde kamp is, is vir my ’n betrayal.” 

“Het jy atoombom-vrese?” wil ek by hom weet.

“Uhm … nee. Dis so ’n onwerklike vrees. Ek sal sukkel om dit regtig te internalise. Ek dink ons is te ver weg … Minstens is Pierneef se wolk reguit. Myne is ’n bietjie skeef.”

“Aspris?” 

“Nee, dit was actually per ongeluk. Ek moes beter geteken het! Jy sien, daar’s so wit dingetjie daar. Die idee is dat dit die base van die mushroom kan wees; dis so bietjie weggesteek agter die bome.” 

Ons gesels volgende oor The refugees are our allies (Pierneef gaan border toe).

Johan Stegmann, The refugees are our allies (Pierneef gaan border toe) (2025). Linosnee op papier

Jacob Hendrik Pierneef, Stormwolke, Springbokvlakte (1928). Linosee op papier. Via straussart.co.za

“Die basic idee is die image wat baie subtly probeer om ’n contemporary statement te maak, maar dat dit net so mooi soos ’n Pierneef moet wees,” vertel Johan.

“Hoe groot is jy op ‘mooi’-wees?” wil ek weet.

“Ek is into mooi … Ek dink die Gimp-ification van mooi … Daar’s ’n valid en ’n non-valid kant tot dit. Die valid kant is oor hoe ek voel oor die middestad van Johannesburg. Dis verskriklik mooi,” kom die verduideliking. “Dis wat ek hier ook doen, eintlik meer van ’n siniese, postmoderne kontras wat probeer sê: Niks is kuns; kuns bestaan nie. Dit wil eintlik nie hê ‘mooi’ moet bestaan nie. Dis inconvenient, daai interpretasie dat iets nét kan ‘mooi’ wees. So daar is ’n mate van konvensionele mooi saam met die kritiek-van-mooi nodig,” tref hy die balans. “En ek is pro dit, want op die einde van die dag is ek in die skool wat sê kuns bestaan actually, so dan moet jy goed entertain soos dat beauty ook actually bestaan.”

Stap 4: wees punteneurig

“Linosnee is van die meer maklik intuïtiewe, verstaanbare print mediums van fine art printmaking,” rek Johan “fine art printmaking” in ’n aansitterige aksent uit.

“Om dit nou eers te mansplain,” grinnik hy met ’n knowing look in my rigting, “tradisionele vorms van drukwerk wat grotendeels handgemaak is, word deesdae gesien as fine art. Daar is multiples, maar dis nie originals vir die plaat nie.” (Die plaat = die vierkantige oppervlak wat dien as sy lino-skilderdoek.) “Daar’s gewoonlik ’n direkte lyn tussen die kunstenaar se hand en die werk self,” verduidelik hy terwyl hy rondvroetel in ’n metaalkissie vir sy verkose kerfpunt. 

Is hy moontlik puntenerig oor die regte punt? wonder ek.

“Ek is!” lag hy. “Ek soek ’n spesifieke enetjie wat lekker gaan werk. Ek guess dis ook ’n natuurlike vorm van procrastination … Dis twee identiese stelle, maar daar’s een wat ’n bietjie nouer en net perfect is …” prewel hy terwyl hy op soek is na die nouer, net-perfect-punt. 

Op soek na die perfekte punt

Steeds op soek

En et voilà! Hy spoor sy puntenerige punt op.

“Jy’t hierdie plaatjie en alles wat jy gaan wegkerf uit hom uit, gaan wit wees. Alles wat agterbly, is waar jy die ink gaan oprol en dit gaan swart wees,” demonstreer hy soos hy kerf-en-klets. 

Johan lewer bietjie kunstenaarskommentaar op linoleum soos hy aan sy pre-printmaking-prent werk.

“Daar was altyd hierdie goed wat hulle in laerskool vir jou gegee het om mee te speel. Sulke rubberagtige, bros, brokkelende bullshit,” scoff hy. Hedendaagse linoleum is ’n ander ball game: “Dit verbrokkel nie maklik nie. Jy kan meer detail daaruit kry en die printmaker sê hoe meer hulle daarmee print, hoe harder word dit,” besing hy dié se lof.

Gepraat van harder … 

“Dit is bietjie irriterend,” laat Johan van Doornfontein se melodie van kakofonie hoor.

Hy staan op. Stap na die swaar grid wat as ’n ingeboude ystergordyn – in ’n nie-Koue Oorlog-konteks – dien en poog om dit af te trek. 

“Daar is soms ’n knee-jerk-reaksie. ‘Wat is al hierdie geraas?!’ Dit gebeur soms, maar hoofsaaklik dink ek maar net: Ek maak geraas; julle maak geraas …” muse hy.

Hy slaag nie daarin om sy ystergordyn helemal te laat sak nie en stap terug na sy werkstafel.

“Buiten die mirrestad, kan die ’burbs maar ook lekker raas,” meen ek.

“Is daar geraas in die ’burbs?! Ek dog daar’s WhatsApp groups vir dit!” skerts Johan.

Met die regte punt kan die kunstenaar begin werskaf.

Stap 5: go with the flow

“Ek soek net ’n plekkie vir my hand sodat die potlood nie die hele wêreld vol smudge nie,” prewel hy. “Potlode smudge veral erg en elke keer dat jy smudge met jou hand …” Hy dwaal af soos hy aan die smudgery dink. 

Smudge is ongunstig, maar om die balans te tref tussen detail kry en om jou hand toe te laat om ’n flowing merk te maak, is ideaal, luidens die kunztenaar. 

Sy regterhand beweeg met gemak oor die plaatjie en hy ets klein en fyn detail met behendigheid. En nee, hy gebruik nie ’n vergrootglas nie, “maar ek dink een van die dae sal my oë my eventually forseer. Deesdae, veral met etchings, is ek geneig om detail in te kleur soos wat my oë en die medium my toelaat. Dan is dit goed om ’n limit te hê en nie ’n vergrootglas te hê om dieper in die dinges in te gaan nie.”

Hy raak selde gefrustreerd met hierdie delikate – en presiese – tekenproses en indien daar ’n fout begaan is, kan Super Glue jou situasie beredder. (Arts ’n crafts 101, ek sê!) 

“Altyd langer as verwag,” is sy antwoord op hoe lank dit hom neem om ’n beeld te skep. “Hierdie kleintjies kan ek uitklap in twee dae.”

Om ’n klein ding te laat aanhou win hoef nie noodwendig kartografies eksie-perfeksie te wees nie, tog is Johan ’n deeglike man wanneer dit by die reproduksie van sekere beelde kom. “Jy sien hierdie blokkies wat ek opgedeel het – dis omdat ek die Pierneef-deel van die image reg wil reproduce, en die blokkies help my om presies te wees,” beduie hy na die ligte potloodstrepe waar hy (byna kartografies eksie-perfeksie!) blokkies geteken het. 

Arts ’n crafts 101: Al die wit moet weggekerf word.

Hy beskryf blokkies as “kind of cheating”: “Dis definitief meer legit om sonder die blokkies te werk en sonder om alles te meet. En dan werk ek bietjie meer vry en dis beter om bietjie meer vry te werk as jy kan.” (Flow, mos!)

Maar wanneer ’n sperdatum roep, is blokkies ’n moet. Buiten dié kamma-kultegniek, word daar ook aansienlik meer op rekenaars staatgemaak vir beplanning wanneer die deadline dreig, vertel Johan. “Ek sal graag meer werk wil doen waar ek minder beplan en meer net kerf. En dit was die idee met daai silhouette,” beduie hy na sy ets-in-die-proses, “daar was nul beplanning betrokke, maar as gevolg daarvan moes ek corrective action doen. Die eksperiment van meer flowy werk het daai alles wit gemaak. Hierdie was alles wit. Toe moes ek stukke plaat uitsny en nuwe plaat insit sodat ek nog bossies kon bysit. Anders sou die ding nie gebalanseerd gelyk het nie.” 

Hoe groot is Johan op balans, wil ek volgende weet. 

“Hoe goed is ek met balans?” hoor hy my verkeerd. 

Nou dat hy dit noem, is ek nuuskierig om te weet waar sy graad van balans lê. Ek vra hom om op een been te staan. Hy spring regop en balanseer flamink-flink soos hy praat.

“Pilates help,” verduidelik eenbeen-Stegmann. “Omdat ek ’n kontemporêre kunstenaar is wat geneig is om statements te wil maak, veral oor die Jo’burg aesthetic, wil ek altyd bietjie van balans af wees, maar die afgelope tyd wil ek meer balans terugbring. Soos ek sê, op die einde van die dag het jy mooi goed nodig. Balans is great. Maar maybe is dit lelik.” 

Flink word die flamink weer tweevoetig soos hy vra of ons sal aanbeweeg etchings toe. 

“Is dit volgende?” wil ek weet. Ek eggo sy ja, want dit is immers pre-printmaking prep 101 à la Johan Stegmann. 

“Allah Akbar!” grinnik hy stout. 

Die kerfwerk – “met stupid, puntenerige Johan Stegmann-OCD tweaks” – is klaar.

Omdat ek ’n kontemporêre kunstenaar is wat geneig is om statements te wil maak, veral oor die Jo’burg aesthetic, wil ek altyd bietjie van balans af wees, maar die afgelope tyd wil ek meer balans terugbring. Soos ek sê, op die einde van die dag het jy mooi goed nodig. Balans is great. Maar maybe is dit lelik.
— Johan Stegmann

Stap 6: Ets, ek sê!

“So, met etswerk,” begin Johan verduidelik: 

  1. Begin met ’n skoon, smooth, koperkleurige plaat. 

  2. Dan apply jy ’n lagie mengsel van beeswax wat acid resistant is. 

  3. Met ’n kers rook jy die ding swart en dit raak ’n bietjie harder en dis hoekom dit “hard ground” genoem word; ’n mens kry ook ’n soft ground wat anders werk. Met hard ground kan jy baie lekker lynwerk doen. Al die lyne wat jy hierso sien, is met hard ground opgesit.

Hard ground-lyne

Hard ground werk só: 

  1. In plaas van teken met ’n pen, teken jy met ’n naald. 

  2. Oral waar jy krap, krap jy was weg. Jy kry ook ander metodes waar jy in die metaal krap. Hier is die doel nie rêrig om in die metaal te krap nie; dis meer om die was weg te krap. 

  3. As jy dit in ferric chloride doop, dan vreet dit die plaat oral waar die was gekrap is. Dan verskyn hierdie lyntjies in die metaal.

  4. As jy dan die was afwas en die ink opsmeer en afvee, bly dit agter. 

  5. Dan kry jy al die lyne. Maar dit gee jou nie al hierdie tonezzz nie. Sien jy hierdie areas wat ingekleur is? Die donker en ligdonker? Die donker hier is sterretjie-agtig. 

  6. Die tones word aquatones genoem. Maar hierdie is ’n spray paint aquatint. Dit beteken jy vat ’n spray paint-bottel, spuit dit op die ding, dan settle daar so mist van paint-kolletjies oor alles. Jy wil die bottel se nozzle so fyn as moontlik hê hiervoor.

  7. Die meer proper manier wat op party van die ander metodes werk, is ’n aquatint box. Dan maak dit ’n stofwolk, soos resin dust, wat op die plaat settle. So nou het jy duisende mikroskopiese kolletjies wat op die plaat insmelt. Dán, as jy dit in die suur doop – net so paar sekondes – dan vreet dit tekstuur in die metaal in. 

Wenk: Hoe dieper die tekstuur is, hoe meer ink gaan dit hou. 

“Just draw trash!”

Nou moet jy alles wat jy wil lig hou, eers uitblok met bitumen:

  1. Doop dit vir ’n paar sekondes.

  2. Dan blok jy die volgende vlak uit met bitumen. 

  3. Dan doop jy hom vir nog ’n paar sekondes.

  4. Dan kry jy die verskillende donker tints.

(En nee, ’n hazmat suit is nie nodig nie, maar voorsorgmaatreëls moet getref word wanneer daar met die stof gewerk word.)

“Die hoeveelheid detail wat jy kan kry uit etching, is shocking,” vertel Johan verder. “En dis bad vir iemand soos ek wat al daai detail wíl insit – jy kan jouself net nie help nie. Dis hoekom lino vir my so ’n bevrydende medium is.”

Johan beskou nie sy kuns as “werk” in die nine-to-five-sin nie. “Ek maak nog nie genoeg inkomste daaruit nie. Ek het nog nie rêrig daai level getref nie. Ek dink ook ek gaan seker maar op ’n plek moet kom waar ek moet grootword en daai druk op myself moet plaas,” lig hy sy wenkbroue. “Op die ou end van die dag, of jy gedruk is om inkomste te maak en of jy gedruk is om ’n deadline te haal, dis eintlik dieselfde ding,” laat die kunstenaar-cum-sage van hom hoor.


bonus post-printmaking prep: van ink tot print

Johan Stegmann, Voortrekker Momentum (2025). Linosnee op papier

Johan Stegmann, One Point (!ke e xarra ke) (2025). Linosnee op papier

Johan Stegmann, Hillbrow Takes Off (gee jou Pierneef vir Hillbrow) (2023). Etswerk op papier

Johan Stegmann, Diplomacy (2025). Linosnee op papier

Mila is redakteur van BooksLIVE.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Stap vir stap pre-printmaking prep met Johan Stegmann gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand