Vreemde nuwe kortfilms van Neill Blomkamp
oats-studios-trailer-2-00.jpg

Neill Blomkamp, regisseur van District 9 en CHAPPiE, se nuwe kortfilms is iets om te gewaar. ’n Verskeidenheid eksperimentele videos is oor die afgelope maand deur sy nuwe produksiemaatskappy, Oats Studios, vrygestel. Die aard van die studio en hul werk val buite enige konvensionele definisie, maar dié vooraanstaande futurist kry sy gulde geleentheid om die vreemdste sci-fi te maak; net soos ons kom ken. Blomkamp se afgelope vollengte films het nie na die betrokke Hollywood produksiemaatskappye se wense presteer nie – dus die wegbeweeg na ’n self-gedrewe en onafhanklike studio.

Die vrygestelde materiaal verskil van aanslag en tema, waar sommiges enkele drie-minuut video-vrystellings is, en ander deel vorm van ’n reeks. Daarenteen is drie kortfilms tot op datum vrygestel, van ongeveer 25 minute elk, wat onderskeidelik as die eerste volume van ’n groter film gemeld word. Die publiek word aangemoedig om verdere vrystellings te ondersteun deur die koop van produksieinligting- en materiaal as aanmoediging om self die storielyn verder te neem.

In God: Serengeti word die Skepper en sy butler (die Afrikaans is dienskneg) uitgebeeld terwyl hulle hulself vermaak met die oermens se pogings tot vuurmaak en oorlewing.

In Rakka, wat afspeel in 2020, word mense as slawe aangehou en op geëksperimenteer deur monsteragtige aliens. Dis ’n drastiese ommekeer van ’n wêreld waar mense op aarde heers met die (mees) gevorderde tegnologie en wapens. Daar word gespekuleer dat die naam van die kortfilm gebaseer is op Raqqa, ’n stad in Sirië, wat geplaag word deur die aktiwiteite van ISIS.

Cooking with Bill is ’n komiese dog tragiese reeks gebaseer op vroeë televisie infomercials. ’n Bietjie sci-fi is vir die wis en onwis by die resep gevoeg.

Firebase is nog ’n kortfilm in ware Blomkamp-styl. Die simboliese oorlog tussen Jesus en die Duiwel, in die vorm van supersoldate, word in die Viëtnamese oerwoud gevoer. Weird, maar cool. 

Dan is daar nog ander vreemde goed op Oats Studios se YouTube-kanaal

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Vreemde nuwe kortfilms van Neill Blomkamp gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand