Die kollektiewe herinnering aan die Kaapse Klopse en Tweede Nuwe Jaar

Foto’s: Melany Ismail
Soos verken deur Melany Ismail se kameralens
Die fotograaf en filmmaker Melany Ismail se nuutste versameling werk Cape rhythm: goema, Klopse & memory is gebaseer op haar dokumentasie van die Kaapse Klopse-groep Playaz Inc.
Die uitstalling sluit ’n musiekvideo vir die kunstenaar Boskasie in, sowel as foto’s geneem tydens Playaz Inc-oefensessies in Mitchells Plain en optredes by die Tweede Nuwe Jaar-parade.
Cape rhythm is gegrond op navorsing oor musiekgenres wat sedert die sewentiende eeu in die Kaapkolonie ontwikkel het deur ontmoetings tussen slawe van diverse voorouerlike oorsprong. Ghoema se vroeë invloede strek van Madagaskar tot Indië en Indonesië en het ’n kenmerkende, inheemse Kaapse klank wat met die verloop van die geskiedenis byna sinoniem geraak het met die Kaapse Klopse en die Tweede Nuwe Jaar-vieringe in die Kaap.
(Lees hier meer oor ghoema se rol in die Afrikaanse musiek se geskiedenis van verset, en hier oor hoe die Kaapse Klopse en Tweede Nuwe Jaar aan die Kaap tot stand gekom het.)
Die fotoreeks wat as deel van Cape rhythm uitgestal word, het ontstaan toe Melany saam met Boskasie gewerk het om ’n musiekvideo vir laasgenoemde se song ‘Goema!’ te maak. Playaz Inc is by die video betrek, en so het ’n nuwe kulturele ondersoek ontstaan. Die video is geskiet by die skool in Mitchells Plain waar die troep gewoonlik oefen. Melany vertel sy het aanvanklik ’n ander plek in gedagte gehad vir die musiekvideo, maar daar was iets daaraan om hulle by die skool te sien oefen en met mekaar en die ruimte om te gaan as deel van hulle alledaagse lewens wat baie meer outentiek gevoel het in vergelyking met die storie wat sy aanvanklik in gedagte gehad het.
Daarna het sy die troep beter leer ken en mettertyd saam met hulle marsjeer in die Tweede Nuwe Jaar-parade. Vir haar was dit ’n totaal ander ervaring om deel te wees van die parade, eerder as om dit van buite te aanskou.
Melany is in Manenberg gebore en haar visuele praktyk is toegewy daaraan om die geleefde ervaringe van Bruin gemeenskappe in die Kaap vas te lê. Sy beskou die werk wat deel vorm van Cape rhythm as ’n uitbreiding van haar eie herkoms, veral ten opsigte van die historiese verbintenis tussen Manenberg en Mitchells Plain.
“Beide gemeenskappe deel ’n geskiedenis wat gevorm is deur apartheid se gedwonge verskuiwings, maar hulle word ewe veel gedefinieer deur hul kreatiwiteit, veerkragtigheid en blywende kulturele tradisies.”
Deur haar werk met Playaz Inc wil sy die kultuur van die Kaapse Klopse bewaar.
“Ek het nog nooit regtig belang gestel in die afneem van die Klopse nie; ek stel belang in die mense daaragter: die verhoudings, gevoel van gemeenskap en die oordra van kultuur van een geslag na die volgende,” sê sy. “Die stiller oomblikke – repetisies, voorbereiding en kameraadskap – onthul die hartklop van ons mense en die diepgaande rol wat musiek en kollektiewe geheue speel in die handhawing van kulturele identiteit.”
Vir Melany is haar werk ’n direkte reaksie op die onderverteenwoordiging van Bruin gemeenskappe in die media, beide in Suid-Afrika en in die buiteland.
“Deur middel van film en fotografie bou ek ’n lewende visuele argief wat ons stories bewaar en die rykdom van Coloured kultuur vier. Elke beeld wat ek maak, is ’n bewaringsdaad vir my mense en ons geskiedenis en tradisies.”
Cape rhythm word tydens Erfenismaand (September) in die Kompanjiestuin in Kaapstad uitgestal as deel van die Cape Town Photography Festival.
“Deur middel van film en fotografie bou ek ’n lewende visuele argief wat ons stories bewaar en die rykdom van Coloured kultuur vier. Elke beeld wat ek maak, is ’n bewaringsdaad vir my mense en ons geskiedenis en tradisies.”
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die kollektiewe herinnering aan die Kaapse Klopse en Tweede Nuwe Jaar gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




