Die verbeelding van grondwetlikheid in Suid-Afrika

Die verbeelding van grondwetlikheid in Suid-Afrika

Thomas Mulcaire, A Luta Continua (2003). Foto: Akona Kenqu. Foto’s van kunswerke word met vergunning van die Constitutional Court Trust geplaas.

Geregtigheid onder 'n boom

Die reg word vervat in beelde, en daardie beelde beïnvloed hoe ons die reg verstaan en uitvoer. Ons dink gewoonlik aan die reg as teks – wette, uitsprake, kontrakte, die Grondwet self. Maar die reg verskyn ook visueel. Dit trek togas en uniforms aan, sit op verhoogde banke, dra wapens (heraldiek én gewere), bou geboue wat die besoeker klein laat voel. Ons sien die reg deur padstrepe, heinings en “geen toegang”-borde. Die reg oortuig nie net deur argumentvoering nie, maar ook deur opvoering. Dit skep die visuele orde.

Dit is die vertrekpunt van my doktorale tesis Visualising constitutional democracy: the images of South African jurisprudence (Centre for Rhetoric Studies aan die Universiteit van Kaapstad se regsfakulteit). Die navorsingsvraag is eenvoudig gestel, maar die gevolge daarvan strek ver: Hoe word post-apartheid-grondwetlikheid in Suid-Afrika verbeeld, en hoe vorm dié estetiese opvatting ons begrip van geregtigheid en die reg? Die studie is die eerste doktorale ondersoek vanuit die regte wat die simbole, argitektuur, kunswerke, drag en opvoering van die post-apartheid-regsorde saam in oënskou neem.

Sentraal tot die studie is die simboliek van geregtigheid onder ’n boom (justice under a tree), ’n direkte antwoord op die nalatenskap van die koloniale en apartheidtydperk se visuele orde gemik op die skeiding van mense, en die mens en natuur.

Die reg as opvoering

In die tesis benader ek die reg nie net as ’n stel reëls wat toevallig ook ’n voorkoms het nie, maar as ’n retoriese onderneming van oorreding wat in wese esteties werk. Die reg orden liggame en voorwerpe in die ruimte: Wie mag waar wees, wie word gehoor, wie word gesien. Die Griekse begrip nomos dui reeds op so ’n ruimtelike ordening, en Andreas Philippopoulos-Mihalopoulos se begrip van die lawscape – die regslandskap waarin reg en ruimte onskeibaar is – bou daarop voort. Die nomos word ook uiteengesit in die navorsing van my studieleier Jaco Barnard-Naudé. 

Jacques Rancière praat ook van die verdeling van die waarneembare (le partage du sensible): ’n orde wat bepaal wat sigbaar en hoorbaar is, en wat nie. My hipotese is dat die reg weinig mag sou hê as dit van sy sigbare vorme gestroop word – dan veral in die binnesaal van die reg: die hofdrag, die openbare ritueel, die ontwerp van die hofsaal, die ornament. Peter Goodrich stel dit so: Die reg se boek van formules beteken niks sonder sy liturgiese omgewing en die rituele waarin regslui dit tot lewe bring nie.

Mohau Moholane, Lekgotla (2024). Plastiekstoele in ’n tradisionele hofbyeenkoms: tradisie en die moderne in een beeld.

Metodologies bring die studie grondwetlike post-apartheid-regsteorie in gesprek met semiotiek, ikonografie, visuele retoriek en ruimtelike regsleer (spatial jurisprudence). Die beweegrede kom egter uit die Suid-Afrikaanse konteks self. Wessel le Roux het aangetoon dat die estetiese wending in die post-apartheid-regsdenke gebore is uit ’n begeerte na demokratiese transformasie – ’n breuk met ’n regswetenskap wat apartheid tegnokraties en sonder substantiewe morele argument uitgevoer het. As transformatiewe konstitusionalisme ’n verandering in regskultuur vereis, volg dit dat daardie regskultuur ook sigbaar moet verander. Ruimtelike transformasie en grondwetlike transformasie loop hand aan hand. Dié transformasie word vervat en spruit vanuit een bron: die Grondwet, en verder ook hoe die Grondwet verbeel(d) word.

Van weegskaal na boom

Toe die eerste bank van die Grondwethof, met onder andere Yvonne Mokgoro en Albie Sachs, in die middel-negentigerjare ’n identiteit vir die nuutgeskepte Grondwethof moes skep, het hulle die Westerse erfenis doelbewus opsy geskuif. Geen geblinddoekte Lady Justice met weegskaal en swaard nie, geen Romeinse kolomme of hamer nie. Die logo wat president Nelson Mandela op 14 Februarie 1995 by die hof se inhuldiging onthul het, ontwerp deur Carolyn Parton in samewerking met die regters, toon eerder 11 menslike figure onder ’n boom met 11 takke. Die stam en takke volg die Y-vorm van die landsvlag. Die figure wissel tussen donker en lig, die voorste vier tussen manlik en vroulik en die figure daaragter gender-neutraal, en die sirkel wat alles omsluit, is oop gelaat. Geen spesifieke boomsoort word uitgebeeld nie; die beeld word dus nie aan een enkele tradisie vasgepen nie – dit is almal se boom.

Ek lees hierdie verskuiwing nie as ’n kostuumwisseling nie, maar as ’n verandering van houding: van keiserlike afstand na interverbonde nabyheid. Waar Justitia se gesag vertikaal en eensaam is, beeld die boom ’n horisontale, gemeenskaplike vergadering uit. Die boom is terselfdertyd skuiling en baken – die plek waarheen ’n mens stap om byeen te kom en te praat oor wat saak maak. Die 11 takke laat ook ’n tweede lesing toe: die Grondwet as stam, met wetgewing, die gemenereg, presedent, gewoontereg en internasionale reg wat daaruit spruit. Sachs het verder opgemerk dat die boom die mense beskerm, maar dat die mense die boom ook versorg. Die beskerming loop in twee rigtings.

Die beeld spruit uit ’n werklike praktyk. Gemeenskappe kom lank reeds onder bome byeen om te beraadslaag en te oordeel – die kgotla of lekgotla; die imbizo; die Somaliese xeerka geedka (letterlik “die reg van die boom”); die Rwandese gacaca; en in die bybelse boek Rigters spreek Debora reg onder ’n dadelpalm. Jean-Godefroy Bidima se beskrywing van die Wes-Afrikase palabre onder die palaverboom is ’n sleutel vir die tesis: ’n oop gesprek waarin elke deelnemer die eie oortuigings relativeer, en waarin mag verskuif van oorheersing oor na samewerking met. Die Constitutional Assembly se openbare veldtog rondom die Grondwet van 1996 het dieselfde beeldtaal gebruik; die bekende Grondwet-boekie plaas ’n boom bo die aanhef.

In die tesis word die kritiek ook ernstig opgeneem: dat die boom ’n geromantiseerde Afrika-identiteit voorhou, dat dit kan verstar tot ’n nuwe nasionalistiese ikoon – wat Slavoj Žižek ’n sublieme objek sou noem – en dat die Grondwet self soms tot bo alle kritiek verhef word. Ek toets daarom of die beeld “in die alternatief” gelees kan word: as embleem van transformatiewe regskritiek eerder as van soewereine gesag. Die gevolgtrekking is dat die boom nie net ’n logo is nie, maar ’n grondwetlike opdrag: Dit vra dat argitektuur, kuns en ritueel geregtigheid oop, deurlaatbaar en gasvry maak, en dat waardigheid relasioneel eerder as bloot formeel verstaan word.

“Die boom is terselfdertyd skuiling en baken – die plek waarheen ’n mens stap om byeen te kom en te praat oor wat saak maak.”
— Francois Lion-Cachet

Die boom bewoonbaar gemaak

As die logo die idee stel, voer die gebou dit uit. Die Grondwethof op Constitution Hill, wat in 2004 op die terrein van ’n voormalige tronk geopen is, verander die embleem in ’n ruimte waarin ’n mens kan instap. Die kolomme in die voorportaal hel oor soos boomstamme; Jane du Rand se mosaïek beweeg van rooi en oker onder na blougroen bo; Walter Oltmann se draadkandelaars hang soos ’n blaredak; ligvensters laat gespikkelde lig deur. Die hofsaal is in ’n halfsirkel ingerig, soos ’n byeenkoms in ’n kraal of onder ’n boom. Die retoriese meganisme is subtiel: Wie die logo op pad na die hofsaal raaksien, besef dalk dat hy, sy of hulle self een van die figure geword het. Die afstand tussen beeld en toeskouer val weg.

Daarteenoor monumentaliseer die klassisisme van die Paleis van Justisie in Pretoria en die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein hiërargie en roep dit die burger op tot ’n houding van onderdanigheid. Die nuwer hoë hof in Mbombela neem die Grondwethof se visuele presedent verder. Tog bly die simboliese orde van ons howe ongelyk. Die staatswapen hang steeds agter baie regters, al put die howe hul gesag uit die Grondwet en nie uit die staat nie. Die embleem van die Office of the Chief Justice, wat ook dien as die Justisie se logo, wys wel na die Grondwet (’n boek), maar span daarvoor die Westerse weegskaal, ’n Romeinse lourierkrans en die sonstrale van die staatswapen in – juis die heraldiese konvensies wat die Grondwethof agtergelaat het.

Die gedagte word ook op die liggaam gedra. Die regters van die Grondwethof het die ou swart en rooi togas vir groen verruil. Mokgoro het verduidelik dat groen die aarde verteenwoordig. Bosgroen regterlike drag is internasionaal byna ongehoord, en dit voltooi die argument wat die logo begin: Die regters sit nie bloot bo die boom se waardes nie; hulle dra dit.

Skuins kolomme, Du Rand se mosaïek en Oltmann se kandelaars. Foto: Francois Lion-Cachet

Kuns en skerm

Die Grondwethof se buitengewone kunsversameling van sowat 900 werke – wat in 1995 met Joseph Ndlovu se handgeweefde tapisserie Humanity begin het – is nie ornament nie, maar ’n regsakteur. Dit beslis nie sake nie, maar rig die morele verbeelding van regters en die publiek. Met verwysing na Rancière se begrip dissensus, en voortbouend op die werk van Stacey Vorster en Eliza Garnsey, wys ek hoe werke soos die Bethesda Arts Centre se The Truth Tree (2006) – ’n boom wat by die wortels aangeval word, met blare waarop 15 vroue van Nieu-Bethesda hul eie stories van sosiale verval vertel – die groot grondwetlike verhaal in individuele lewens opbreek. Terselfdertyd is daar ’n risiko: Weerstandskuns wat in ’n institusionele uitstalling opgeneem word, kan kritiek verdoof eerder as verskerp. Die versameling se potensiaal bly onvolledig verwesenlik, onder meer omdat junior kuratorskap grotendeels tot instandhouding beperk is en uitdagende visie verlang word; aanwinste hang ook van skenkings af.

Die laaste tematiese hoofstuk kyk na regterlike opvoering, ook op die skerm. Virtuele en hibriede verhore verbreed toegang, maar hulle kan ook gedeelde teenwoordigheid verdun. Howe behoort die eiesoortigheid van hul voorkoms en seremonie te behou – nie uit nostalgie nie, maar as kulturele anker in ’n aandagekonomie wat alles tot uitruilbare inhoud reduseer, en in ’n tyd waarin openbare beregting ook na private arbitrasie wegskuif. Die digitale hof moet die beliggaamde verhoor onder die spreekwoordelike boom uitbrei, nie vervang nie.

Omgewingsubuntu

Die mees uitdagende bevinding in my tesis lê in wat die boom vandag van die reg vra. Die figure onder die boom druk ons interverbondenheid met mekaar uit; die boom self trek daardie verhoudingsetiek uit na die lewende wêreld. Edwin Etieyibo betoog dat ubuntu buite sy gebruiklike mensgesentreerde lesing verstaan moet word, sodat die verbondenheid van alle lewende wesens ingesluit word – menslike welvaart is nie los te maak van die welvaart van alles waarvan ons afhanklik is nie. Ek noem dit omgewingsubuntu. Dit sluit aan by die werk van Melanie Jean Murcott.

Koloniale en apartheidsreg, wat bevolkingsgroepe van mekaar en mense van die natuur geskei het en so voortdoen, kan as ’n a-estetiese orde gelees word: ’n verdowing wat die gevoel tussen liggaam en wêreld afsny (soos ongesien deur die geblinddoekte Lady Justice). Met die post-apartheid-beeld word die teenoorgestelde gevra, naamlik ’n estetiese heroriëntering wat die regsdenke inskakel by ’n lewende, kwesbare planeet. In die Antroposeen, met sy klimaatkrisis en ekologiese agteruitgang, blyk dit duidelik uit die beeld van die boom dat ’n voorstelling van geregtigheid wat die grond onder ons voete ignoreer, onvolledig is. Grondwetlikheid behoort omgewingsapartheid teë te staan en ’n eko-nomos te ondersteun. So gelees, is geregtigheid onder ’n boom Suid-Afrika se semiotiese bydrae – self uit uiteenlopende wêreldpraktyke saamgestel – tot ’n hernude, universele begrip van geregtigheid. Die volgende stap, wat ek in verdere werk wil opneem, is om die beeld ook in die regspraak self, veral die omgewingsreg, normatief bruikbaar te maak, en om dit te vergelyk met Andes-konsepte soos sumak kawsay (good living) en die regspersoonlikheid van die natuur.

“Grondwetlikheid behoort omgewingsapartheid teë te staan en ’n eko-nomos te ondersteun. So gelees, is geregtigheid onder ’n boom Suid-Afrika se semiotiese bydrae – self uit uiteenlopende wêreldpraktyke saamgestel – tot ’n hernude, universele begrip van geregtigheid.”
— Francois Lion-Cachet

A luta continua

In die tesis word ook gewaarsku teen leë simboliek. Drie dekades ná 1994 vertel die verdeelde landskap steeds die storie van apartheid: lang pendeltogte, skraal infrastruktuur, brose instellings. Onder sulke toestande kan grondwetlike beelde ’n belofte laat voel asof dit nagekom is, terwyl dit nie so is nie. Jy kan nie die Grondwet eet nie – en ook nie sy logo nie. ’n Kunsversameling wat sus, ’n logo wat bemark en ’n toga wat vlei, dryf weg van regsherstel na skouspel (à la Karin van Marle). Wanneer beelde egter konflik blootlê, aan onenigheid ruimte gee, deelname aanmoedig en teenwoordigheid herverdeel, word hulle instrumente van transformasie.

In die voorportaal van die Hof is Thomas Mulcaire se neonwerk A Luta Continua (2003) teen die behoue trappehuis van die ou Awaiting Trial Block aangebring. Dit herinner daaraan dat die stryd nie afgehandel is nie. Die slotsom waarby ek uitkom is dat regslui en regters ’n kritiese bewussyn van die reg se visualiteit behoort te hê – nie net om aan die vorme van die regskultuur te voldoen nie, maar om verantwoordelikheid daarvoor te neem. Ons moet nie sig verloor van die vooruitsig nie. Die uitnodiging wat deur die hele tesis terugkeer, is eenvoudig: Moenie die beeld bewonder nie; bewerk dit.


Francois Lion-Cachet is ’n advokaat by die Johannesburgse Balie en voorsittende uitgewer van Klyntji. Van 2018 tot 2024 is hy aangestel deur die Constitutional Court Trust vir publieke skakeling deur dié Hof se kunsversameling en kulturele programme. Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se nagraadse navorsing en vorm deel van die Klyn Akademie-projek, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. ’n Verwante Engelse essay Justice under a tree verskyn in Advocate.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die verbeelding van grondwetlikheid in Suid-Afrika gehou? Ondersteun ons dan. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand