Kirvan Fortuin se dood sal nie tevergeefs wees nie

Kirvan Fortuin se dood sal nie tevergeefs wees nie
Foto: Marcel van Oostroom

Foto: Marcel van Oostroom

Sy onsterflike gees, aktivisme en nalatenskap

Op 13 Junie 2020 is Kirvan Fortuin (28), ’n ontluikende choreograaf, talentvolle danser en baanbrekende aktivis vermoor. Na bewering deur ’n mes in die hand van ’n 14-jarige meisie. ’n Reuseverlies, nie net vir die Kaapse kunste nie, maar ook vir die LGBTIQA+ aktivis-ruimte. Kirvan se dood het gemengde reaksies ontlok: ’n oorweldigende aantal is diep geraak deur sy dood. Daar is wél ’n paar mense wat sy dood probeer regverdig deur Bybelversies aan te haal oor die “sonde” van homoseksualiteit. Kirvan se dood tydens die wêreldwye Pride-maand verteenwoordig die lewens van soveel ander. Dit is belangrik om aandag te skenk aan die feit dat Kirvan soveel mense geraak het. Sy lewe verdien lof; wat hy verrig het verseker dat sy nalatenskap nog lank sal voortduur.

'n Nederige begin

Op hoërskool het Kirvan betrokke geraak by uitreikwerk deur die Field Band Foundation in Macassar. Kirvan, wat in graad 11 begin dans het, het groot belofte en potensiaal getoon – genoeg om ’n plek by die Universiteit van Kaapstad se destydse School of Dance te kry. Sy kwalifikasies in dansonderrig en kontemporêre dans, tesame met sy hardnekkige en streng werketiek, het die grondslag van Kirvan se sukses gelê. Deur die loop van sy dansloopbaan het hy meer as tien werke gechoreografeer, waarvan verskeie aan wêreldgehore opgevoer is, veral in Nederland waar ’n groot deel van sy dansloopbaan deurgebring is. 

’n Onlangse werk, Katrina: Die Dansende Taal, is in 2018 in die Kunstekaap-teater opgevoer. Hierdie bekroonde dansteaterstuk vier die lewe van Ouma Katrina Esau, een van die laaste vlot sprekers van die N|uu-taal. Ten spyte van die feit dat hierdie taal besig is om uit te sterf, is taalaktiviste en taalkundiges besig met veldtogte om N|uu-taalonderrig te bevorder. Katrina het gelei tot Kirvan se ontvang van die 2019 Ministeriële Toekenning vir Uitstaande Bydrae tot die Bewaring en Bevordering van ’n Inheemse Kunsvorm, van die Wes-Kaapse regering. Kirvan se choreografie handel oor sy sterk gevoelens oor sosiale geregtigheid, inheemse taal- en kultuurbewaring, die toeganklikheid van die kunste, identiteitsontdekking, queer-identiteit en die uitwissing van sistemiese rassisme.

Kirvan se choreografie handel oor sy sterk gevoelens oor sosiale geregtigheid, inheemse taal- en kultuurbewaring, die toeganklikheid van die kunste, identiteitsontdekking, queer-identiteit en die uitwissing van sistemiese rassisme.

'n Volhoubare nalatenskap

Kirvan het dans gebruik om sosiale verandering te bewerkstellig. Dit is waarom hy die Kirvan Fortuin-stigting begin het, ’n niewinsgewende organisasie wat dans as medium gebruik om sosiale bewustheid te skep. Deur sy werk in dié sektor het Kirvan vaardighede aan baie jeugdiges oorgedra binne en buite Kaapstad se grense – voornemende dansers tot in Oos-Londen en Bloemfontein is blootgestel aan opleiding in klassieke ballet en kontemporêre dans en is deur sy teatergeselskap, Fortuin Dance Theatre, die geleentheid gebied om in ’n formele teateromgewing te werk.

ezgif.com-video-to-gif.gif
Foto’s: Helena Fagan

Foto’s: Helena Fagan

Veelsydige en interseksionele aktivisme

Kirvan het ook House of le Cap, ’n huis in Kaapstad vir drag ball culture, gestig. In club circles was hy as Kirvan le Cap, Mother of the House of Le Cap, bekend. Diegene wat vertroud is met die Netflix-reeks, Pose (kyk ook Paris is Burning), sal weet dat sulke huise ruimtes is vir alternatiewe gesinsstrukture binne die LGBTIQA+ gemeenskap. Ball-kultuur, met oorsprong in New York, is ’n ondergrondse scene waarin deelnemers in deftige, vogue drag-uitrustings modelleer en perform vir trofeë en verskeie ander pryse.  Een van House of le Cap se lede het hulle hartseer uitgespreek oor Kirvan se tragiese heengaan. “Kirvan was always loving and nurturing, and did more for others than for himself,” sê Matte Jacobs. “His activism was for the benefit of us all. For you and for me. He is loved, he will always be loved. We will live his legacy in all its facets,” voeg Jacobs by.

Kirvan het ook House of le Cap en die Kirvan Fortuin-stigting as platforms gebruik om geld in te samel vir lede van die Kaapstadse queer gemeenskap met HIV/Vigs. Hierdie fondse is aangewend vir behandeling en berading. 

’n Vinnige scroll deur Kirvan se sosiale media-rekeninge wys dat sy politieke standpunte verder gestrek het as LGBTIQA+ regte; hy het ook ’n sterk posisie ingeneem teen rassisme en ter ondersteuning van die #BlackLivesMatter-beweging. Kirvan se interseksionele aktivisme was ’n geskenk aan die wêreld.

69478711_2607960045935041_8391688062781882368_n.jpg
Foto’s: House of le Cap

Foto’s: House of le Cap

Duskant die graf

Kirvan se dood konfronteer ons met ’n paar moontlike lesse. Eers moet ons as mense die idee van dood begin omhels, want dit is die derde element in die trilogie van konstantes (geboorte, verandering, dood) – dit is iets wat vir ons almal voorlê. Maar dis effens van die punt af. Kirvan laat my wel dink oor aktivisme rondom die regte en vryhede van mense in die LGBTIQA+ gemeenskap. Is ons werklik effektief in ons aktivisme? Hoe kan ’n mens daadwerklik meer doen? Hoe bly jy gemotiveerd, selfs al sien jy dat die mense rondom jou nie verstaan waarvoor jy baklei nie? Dit is vrae wat Kirvan dalk self oor nagedink het. Hierdie gedagtes lei my tot twee nadenke: eerstens het ons nog ’n lang pad om te gaan voordat die grotendeels heteronormatiewe en cisgender samelewing ons ten volle sal aanvaar, en tweedens, dat ons beter, sterker aktiviste kan wees. Om dit te bereik moet daar meer gedoen word as om net vocal te wees. Raak betrokke by gemeenskapsorganisasies wat in hierdie sektor werk, en vind uit hoe jy kan help. Kirvan se lewe is ’n goeie voorbeeld van hoe – hy het ons gewys dat jy ’n nalatenskap kan bou deur middel van aangehoue toeweiding. Hy laat iets agter wat ons kan navolg. 

@gotsewaarheid op Twitter

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Kirvan Fortuin se dood sal nie tevergeefs wees nie gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand