In gesprek met Dominique Botha oor Donkerberg
Donkerberg.jpeg

Haar debuutbundel bind die ganse kosmos met persoonlike verlies aanmekaar

Daar is ’n toneel in Valsrivier (2013), Dominique Botha se seëvierende debuutroman, waar die hoofkarakter Dominique en haar broer Paul in die draaikolk van ’n ruisende rivierstroom beland en hy haar tot bedaring probeer dwing totdat hulle oplaas op die oorkantse rivierwal uitgegooi word. “Ek wil nie weer terugswem nie. Ek kan nie. Daar’s nie ’n manier nie,” huil Dominique by Paul. ’n Paar oomblikke vóór hierdie insident strek Paul nog sy arms langs die rivier uit en gaap: “Fokkol gebeur hier, behalwe dat die natuur sy gang gaan.” Meermalig word hierdie skadukant van die natuur, en die verganklikheid daarvan, in Botha se debuutroman sowel as haar debuutbundel Donkerberg (2021, Dwarsrivier) belig. Daar is ’n leegheid aan haar velde, stowwerigheid aan haar wind, ’n verbleekte maan hier en daar en “die vrot parfuum van damwater” (uit Donkerberg). 

Dit is daarom geskik dat albei Botha se publikasies se titels onderskeidelik die selfstandige naamwoorde “rivier” en “berg” bevat wat albei deur die skrynende byvoeglike naamwoorde “vals” en “donker” voorafgegaan word; onse Eden, word daar geïmpliseer, is vol gevaar en boosheid, chaos en moord, onsekerheid en verskrikking. Juis hierdie wantroue in die natuurlike wêreld en die negering van ’n geïdealiseerde danigheid met die natuur is wat die leser opval in Botha se aangrypende debuutbundel, wat herinner aan die aanhaling in ’n ander onlangs bekroonde digdebuut:

“... destyds het ouens soos van wyk louw en opperman / nice gedigte oor die natuur geskryf / ons het nie meer tyd vir sulke kak nie” (uit Toast Coetzer se ‘natuurgedig’ in Nuwe Stemme 2 (2001), soos aangehaal in Pieter Odendaal se Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018))

Nes Odendaal in sy bundel die natuur en gemeenskap met mekaar verweef, die afhanklikheid tussen die twee, word die ganse kosmos in Botha se Donkerberg met persoonlike verlies aanmekaargebind; die een kan net so min soos die ander onderskat en op sigwaarde geneem word (hoe’t Frost dit so weerloos gestel: “So Eden sank to grief, / So dawn goes down to day. / Nothing gold can stay.”)

Ek gesels met die digter oor haar nie so “nice gedigte” oor die natuur nie, verlies en verganklikheid en hoe gedigte ’n mate van orde help skep. 


MARCEL: Johannes Comestor het destyds op LitNet oor Valrsivier gesê dat die skryfstyl vir hom meer na poësie as prosa neig – ek wonder dus hoe jy jouself sien, veral ná die publikasie van ’n digbundel. Meer van ’n digter as ’n romanskrywer, of is die een nes die ander, geen onderskeid te tref nie?

DOMINIQUE: Beide digters en romansiers maak gebruik van die musikaliteit van woorde, maar die meeste lesers sou in die teenoorgestelde rigting begin hardloop indien jy ’n roman as een lang gedig aanbeveel!  Ek stem egter saam dat die skryfstyl in Valsrivier meer neig na die poëtiese as die narratiewe. 

Daar is ’n groot verskil in die skryf van gedigte teenoor die skryf van prosa ten opsigte van die lengte daarvan. Die roman moet aan ook sekere verwagtinge van die leser voldoen. Dit moet ’n begin, middel en einde hê; nie noodwendig in daardie volgorde nie. ’n Roman het karakters, dinge gebeur. Die oeroue funksie van ’n storie is tog die soeke om sin te maak van gedeelde ervarings.

Digkuns is nader aan inkantasie en dit gaan hand aan hand met vervreemding. Dit speel in op dit wat nie in woorde omgesit kan word nie, die misterie wat buite die omvang van teks vibreer. Elke woord in ’n gedig moet juis wees. En elke woord dra ’n lading van assosiasies en veelstemmigheid. Dit is wat gedigte dig maak.  

Om jou vraag dus met ’n ompad te antwoord, ek sien myself miskien dan meer as ’n werksku digter as ’n onproduktiewe romansier?

Om jou vraag dus met ’n ompad te antwoord, ek sien myself miskien dan meer as ’n werksku digter as ’n onproduktiewe romansier?
— Dominique Botha

MARCEL: Valsrivier sien in 2013 die lig. Agt jaar later verskyn daar eers weer iets uit jou pen. Hoekom die lang wag? En het jy gedink dit gaan ’n bundel wees, of was/is daar ’n roman iewers in ’n laai weggesteek? 

DOMINIQUE: Ek onthou nog baie goed hoe die oorlede Mark Behr net voor die publikasie van Valsrivier vir my gesê het, koester hierdie oomblik, dit sal nooit weer soos ’n eerste keer wees nie. Op daardie stadium was ek meer verstrik in angs oor die gebruik van my private familiegeskiedenis as die abstrakte moontlikheid van ’n leserspubliek. 

Sedertdien het daar darem hier en daar ’n artikel of reisberig uit my pen in verskeie publikasies verskyn, maar ja, dis onteenseglik waar dat ek hoogtevrees gekry het ná die verrassende ontvangs van Valsrivier. Die lang wag is maar toe te skryf aan ydel vrese.

Daar is meer as een roman, twee in feite, in ’n laai weggesteek. Ek het eers begin met ’n liefdesverhaal in Italië, maar het vinnig besef dat dit amper onmoontlik is om my denkbeeld van Italië los te wikkel uit ’n borstrok van vooropgestelde idees en clichés. Die landskap, die mense en die kultuur is reeds so oorbepaal deur Hollywood en ander se kulturele produkte dat sodra jy begin skryf, doem ’n bekende tafereel voor jou oë op: Die verfrommelde oumatjie in ’n swart rok wat op haar stoep sit en ertjies skil, en die kelner in ’n manelpak wat sy tafels met die plegtigheid van ’n hartchirurg bedien, die geparfumeerde mans vol machismo.  

Oor sy skrywerskap het Kurt Vonnegut gesê: “I myself find that I trust my own writing most, and others seem to trust it most, too, when I sound most like a person from Indianapolis, which is what I am.”

Dit was ’n rigtingwyser om te grawe waar ek staan. Ek het my toe begewe in ’n klug oor die Banhoekvallei, ’n stukkie hemel op aarde waar ek nou woon in die Boland. Dit is ’n storieryke wêreld dié. Ek wil aanhou grawe. 

’n Paar jaar terug het ek heel toevallig vir Joan Hambidge by die ingang van ’n restaurant in die Kaap gesien. Sy het my voorgekeer en gesê: “Jy moet ’n bundel skryf. Gaan in tot by die argetipe waar die wond van jou broer se dood is, dit is waar jou digterskap lê.”

En moenie jou umwelt as ’n alibi gebruik om dit nie te doen nie.

MARCEL: Ek wonder verder oor jou verhouding met poësie; jy het, as voorsmakie van jou digterskap, Valsrivier geëindig met die rougedig oor jou broer en hier verras jy ons uiteindelik met ’n kragtige digdebuut... Dig jy gereeld? Wat maak dat jy eerder oor ’n spesifieke herinnering sal dig as om prosaïes daarmee om te gaan? 

DOMINIQUE: Ek dig en skryf sporadies. Soms word die poging om ’n verhaal te skep verknot tot ’n vers. Ek weet dadelik as ek iets hoor of beleef dat daardie sin of oomblik ’n lading van dieper weerklanke dra, al weet ek nie noodwendig waarom nie. 

Ten spyte van die aanmaning dat ’n mens nie ’n besige lewe as ’n verskoning mag gebruik om nie te skryf nie, is dit nogtans waar dat ’n gedig in stilte aanwas. Petra Müller het gesê: “Kreatiwiteit groei in stilte. Dikwels in isolasie en meestal vergesel van pyn.” 

Ten spyte van die aanmaning dat ’n mens nie ’n besige lewe as ’n verskoning mag gebruik om nie te skryf nie, is dit nogtans waar dat ’n gedig in stilte aanwas.
— Dominique Botha

Wanneer ek soms Vrystaat toe gaan in die laatwinter en alles so droog is soos papier; met die lig uitgeblou; bakkies wat na sigarette en diesel ruik; die murmerende Sesotho van mense wat teen die weste mure hurk om die laaste van die son op te vang voor die snerpende donker val; swaels in bondelvlug voor die eerste storms; wilgergesoomde riviere… Veral dan kom gedigte skielik na vore. 

In ’n omdigting van ’n 12de eeuse Oosterse gedig skryf Petra Müller:

ons het vir ons ’n lae huis gebou van roubaksteen,
woon hier beskeie,
word soms gesien op straat
besit die helfte van ’n moerbeilaan
en twee gesonde waterbeeste…

ons laat, wanneer die donder kom,
die twee klein vensters en die bodeur oop
vir die deurtog van huislose geeste

Mens moet, wanneer die donder kom, die bodeur ooplaat vir huislose gedigte. 

MARCEL: Is daar ’n spesifieke gedig waarmee jy gesukkel het? Hetsy oor die inhoud of die vorm daarvan. Watter een het die moeilikste gegroei en gooi jy ooit ’n gedig weg wat net nie wil werk nie?

DOMINIQUE: Ek het ’n snippermandjie vol verstotelinge. Soms wil ’n gedig net eenvoudig nie dieper as die oppervlak dryf nie. Soms kan jy ’n sin red deur dit êrens anders aan te wend. “Kill the little darlings” is ’n goeie mantra. Jy moet gewoond raak daaraan om die witvoetjies van jou ydelheid die nekslag toe te dien. En soms meld gedigte hulself klokhelder en skoon aan. Dan is jy dankbaar. 

In die gedig ‘eendagvers’ het ek gesukkel om die gepaste slot te vind. Uiteindelik het ek besef dat die inleidende stanza eintlik ’n refrein is, en dus herhalend aangewend kan word. Skielik het die liedjiepatroon van die gedig deurgesyfer. 

pa het ’n huis gebou
wat die wind nie kon omblaas nie
riete was fluite in die vlei
winter ’n witklavier van glas
flaminke het die laatmiddag oor rietpan
omhoog gegooi in ’n banier van roos of vuur

en ons het vir ewig gelewe

Met die verandering van een woord (“en” word “want”) verkry die gedig deur die herhaling ’n ander betekenis. So ook word daar op ’n inkantoriese wyse die gewenste stemming bewerkstellig. 

pa het ’n huis gebou
wat die wind nie kon omblaas nie
riete was fluite in die vlei
winter ’n witklavier van glas
flaminke het die laatmiddag oor rietpan
omhoog gegooi in ’n banier van roos of vuur

want ons het vir ewig gelewe

MARCEL: Daar is ’n opbloei van eko-gedigte en -bundels vanweë die klimaatkrisis, maar ek weet nie of ek jou soseer ’n natuurskrywer sou noem nie? Tog is die bundel deurtrek van verwysings na gebergtes, plase, blomme en seisoene, spesifiek jou grootwordwêreld. Voel jy ’n mate van dringendheid, miskien plig, om oor die natuur te dig? Of is dit bloot nostalgie?

DOMINIQUE: Ek gaan nie die natuur red deur ’n gedig te skryf nie. Ek kan eerder minder in my kar rondry, minder appels koop wat in plastieksakke verpak word; dis ’n erfsonde! Ek is ’n sondaar. Ons is almal aandadig in die verbruik en misbruik van die natuur, ons is almal sondaars. Maar ons is ook deel van die natuur, ons staan nie apart van die skepping nie. Die klimaatkrisis behoort nie aan ’n politieke posisionering nie. Dit is ’n diep en komplekse vraagstuk wat tot die hart van ons samelewing se etos spreek. Ek sou Martin Versfeld se essay ‘Our Rapist Society’ aanbeveel as stof tot nadenke. Sy beleë, aardse en Sokratiese wyshede sny tot op die been. 

Nostalgie? Nee. Dit impliseer ’n terugskouing. Ek dink ’n verhouding met die natuur kan nie staties wees nie en is ewig vernuwend. Die natuur is ons herkoms en ons toekoms. Dit staan buite die dampkring van nostalgie.  

Ek gaan nie die natuur red deur ’n gedig te skryf nie.
— Maar minder rondry en plastieksakke kan help, seg Dominique Botha

MARCEL: Die titel van die openingsgedig ‘alles is stuifmeel selfs die bitter blomme’ suggereer vir die leser iets omtrent die bundel se oorhoofse tema; dat die lewe en die natuur onplesierig dog betowerend kan wees. Gaan jy akkoord met so ’n stelling? Indien nie, wat is die betekenis agter hierdie gedig se posisie in die bundel? 

DOMINIQUE: Ek gaan akkoord met so ’n stelling. Jy kan ’n kalfie liefhê, jy kan die appel-van-die-oog-liefde in die ma vir haar huppelende kind sien blink. En in jou is die kannibaal wat hulle albei verslind. Ons word in aandadigheid gebore. Miskien is poësie ’n poging om die teenstrydighede te help verwerk. Dit bied nie noodwendig oplossings nie, maar help om die wrang daarvan te verdiskonteer. Alles kan omgetower en omvorm word. Selfs die dood is vrygewig. 

Uiteraad is die gedig ‘alles is stuifmeel selfs die bitter blomme’ ’n rigtingwyser vir die leser. Die eerste versreël is ’n uitnodiging aan die leser om saam te kom op ’n verbeeldingsvlug, om blind te vlieg na ’n verdwene idille. 

ek reis met die witduif van my oë
terug na die mooiweer en warm koninkryk

Jy kan ’n kalfie liefhê, jy kan die appel-van-die-oog-liefde in die ma vir haar huppelende kind sien blink. En in jou is die kannibaal wat hulle albei verslind.
— Dominique Botha oor teenstrydighede
Bloodwood.jpeg

MARCEL: John Muir, die bekende naturalis en natuurbewaarder, het liries geraak oor “mountain baptism”, ’n “radical religion of beauty”. Pieter Odendaal, meer onlangs, sê eweneens in ’n onderhoud op LitNet oor sy debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie: “Berge is ou geeste; hulle is groter en wyser as ons – daar sal altyd iets onkenbaar aan hulle bly.” By albei hierdie stellings is daar ’n eerbied vir die natuur te bespeur, terwyl Donkerberg se gedigte vir die leser iets meer sinister omtrent die natuur belig. Wat is dit omtrent die “donker” van die berg en die “vals” van die rivier wat jou aantrek? 

DOMINIQUE: Reg aan die begin van die skrywe het ek Die Valsrivier op my eerste lêer se sykant in potlood geskryf. Uiteindelik het net die lidwoord weggeval. Die Valsrivier vloei deur die plaas waar my broer Paul begrawe lê. Die rivier is so benoem weens sy bedrieglike natuur, ’n stil byna verdwene stroompie in die winter wat in die somer omvorm in ’n geweldige watermassa wat alles in sy pad meesleur. 

Wanneer mens so ver weg van die wêreld grootword, is ’n rivier ’n magiese verskynsel, letterlik ’n bewegende, lewende roete tussen hier en elders. ’n Glimmende silwer lint van naaldekokers en visarende; ’n skemerrivier; ’n winterrivier; soveel vervoegings van skoonheid. Ook ’n grens. Die grond anderkant die rivier was nie meer ons s’n nie. Dus ’n skeiding tussen die bekende en die ontoeganklike. 

Die naam van die rivier het natuurlik ’n dubbelsinnige byklank, omdat “vals” op iets troebel sinspeel in teenstelling met die suiwerheid wat gewoonlik aan water en riviere toegeskryf word. In my agterkop was daar ook Eugène Marais se “diep rivier, o donker stroom” wat ek simbolies, heel moontlik verkeerdelik, met dwelmverslawing verbind het. ’n Rivier kan voed en ’n rivier kan vloed. So ook is my broer deur die donker stroom van sy dwelmverslawing verswelg. Die boek het ook gehandel oor ’n verwronge tydperk in ons land se geskiedenis. 

Die Afrikaanse titel Donkerberg word ontleen aan die gedig ‘voorbode’. Hierdie berg is letterlik ’n goddelike landskap, soos aangedui deur die benaming van die dorpie Pniël (wat in Hebreeus aangesig van God beteken). Die berg is vol blomme, soms vol watervalle, teen sononder in roosgoud gedoop, die duiwel woon ook daar in ’n diep kloof.  

Die byvoeglike potensiaal van “vals” en “donker” word ten volle ontgin. 

MARCEL: Ek wil graag ’n antwoord op bogenoemde vraag waag: dat ons in Suid-Afrika miskien só oorweldig is deur al die geweld dat selfs ons kuns nie eers daarvan kan ontsnap nie (jy dig byvoorbeeld oor die byl in Anna se kop, tannie Marie se verkragting, die kinderrympie ‘Who killed Cock Robin?’ ensovoorts). Wallace Stevens het van poësie gepraat as ’n “defensive force [...] a violence from within that protects us from a violence from without.” Dink jy geweld, of die verwerking daarvan, speel ’n groot rol in jou skryfproses? Hoe skryf ’n mens mooi oor die lelike goed?

DOMINIQUE: Hoe skryf jy nie oor die lelike dinge nie? Dit kom neer op sensuur. Ek glo mens moet poog om so eerlik moontlik te skryf oor dinge wat jou opreg prikkel. Ten minste kom jy dan nader aan die ideaal van die waarheid, and truth is beauty. ’n Mens moet egter versigtig wees om prekerig voor te kom of ’n posisie/stelling in te neem, want ’n gedig werk, myns insiens, as dit gevoel oordra, nie noodwendig ’n boodskap of ’n ideologie nie. Dan word dit propaganda. 

MARCEL: Die gedig ‘ten minste het die wind gaan lê’ se slotreël: “die derde dag nie meer nie,” roep vir die leser iets van die skepping op, dat op die derde dag is land, see, plante en bome geskep. Later, in die gedig ‘die land van die skemer’, maak jy verwysing na Haydn se Schopfüng, letterlik Die Skepping, wat interessant genoeg Haydn se persoonlike verklaring van geloof was. Sou jy sê Valsrivier en Donkerberg sáám beskou, is ’n tipe geloofsverklaring? Dat die natuur nes die lewe ook maar onbetroubaar en onbeheersd is? Anders beskou, is die skrywe oor die natuur en die gang van die lewe vir jou ’n soeke na “die eerste god”, die ilex mitis, die immergroenboom? 

DOMINIQUE: Die boom is ’n argaïese simbool wat in die heel eerste boek van die Bybel die status van kennisdraer van goed en kwaad toegedig word. Hoeveel eeue moes die voorstelling in Genesis voorafgegaan het? En ook dan soveel eeue later het bome vergestalting gekry as die kolomme in die Griekse tempels en later in die katedrale van die christene. ’n Woud is ’n oerkatedraal. As jy lank genoeg deur ’n woud stap, is jy nie meer net in die woud nie, die woud is nou in jou. Dit is reeds salig.

’n Woud is ’n oerkatedraal. As jy lank genoeg deur ’n woud stap, is jy nie meer net in die woud nie, die woud is nou in jou. Dit is reeds salig.
— Dominique Botha oor die boom, ’n argaïese simbool

MARCEL: Op die noot van Haydn se Schopfüng: in die aartsengel Uriel se inleidende aria is daar ’n reël “disorder yields to order” en die skryfproses word algemeen beskou as ’n manier om aan ’n storie of gebeurtenis vorm te gee aldus Odilon Redon: “The artist will always be a special, isolated, solitary agent with an innate sense of organising matter.” Ek dink byvoorbeeld aan die versreëls in die gedig ‘verdere besoek aan die museum’: “waar glimlaggende dowes / die fluisterwind met handgebare / tot sin dirigeer”. Vind jy dat wanneer jy oor ’n sekere herinnering skryf of dig dat die rangskikking daarvan jou beter beheer daaroor gee? Kry jy as’t ware die fluisterwind tot sin gedirigeer? 

DOMINIQUE: Sonder twyfel is die skryf van poësie ’n proses van kondensering; letterlik ’n verdigting van ervarings, tyd, plekke, mense en emosies wat onder een versreël begrawe word. Dit is ’n geval van wegbrand, skoonmaak, orden, met die besem die jaart skoonvee. Dis psigiese spring cleaning en geweldig bevredigend om ’n groot hoop papiere vol gefragmenteerde gevoelens en ongeordende herinneringe te kan afskaal tot een mooi boekie. Uiteindelik bly net ’n essensie oor.

MARCEL: Ter voorbereiding van ons gesprek, luister ek ook na ’n podcast, On Being with Krista Tippett, waar sy ’n onderhoud voer met die digter Gregory Orr, wat op ’n baie jong ouderdom sy broer in ’n skietongeluk verloor het. Hulle praat van “shaping grief with language” en ek wonder of Donkerberg, nes Valsrivier, ’n verdere poging is tot die verstaan van verlies, om aan rou vorm te probeer gee?

DOMINIQUE: Gregory Orr se lewensverhaal bevat ’n skokkende tragedie. Ek twyfel of hy ooit werklik die dood van sy broer en sy aandeel daarin kan verwerk. Om op die ouderdom van twaalf per ongeluk jou eie broer dood te skiet, moet ’n ongeneesbare wond in ’n kind agterlaat. Dit maak sin dat hy sy lewe deur poësie probeer oorleef. 

Smart was definitief die impetus wat my tot skryf gedryf het. ’n Leemte word omskep in ’n aanwesigheid. Die poging om iets daar te stel in die plek van verlies, of dit nou potte of poësie is, kan lei tot katarsis. Dis soos ’n geboorte, of lente, of om ’n water-aar raak te boor — dit bring vernuwing. 

WH Auden het ’n wonderlike elegie vir WB Yeats gekomponeer. Daarin beskryf hy die bron van Yeats se digterlike gewaarwording as ’n hele land en nasie se smartlike geskiedenis, en terselfdertyd verwoord hy in wrang erkenning dat poësie niks vermag nie, maar dit leef voort, juis weens die beskeie bedoelings van die kunsvorm. 

You were silly like us; your gift survived it all:
The parish of rich women, physical decay,
Yourself. Mad Ireland hurt you into poetry.
Now Ireland has her madness and her weather still,
For poetry makes nothing happen: it survives
In the valley of its making where executives
Would never want to tamper, flows on south
From ranches of isolation and the busy griefs,
Raw towns that we believe and die in; it survives,
A way of happening, a mouth.

MARCEL: Van verlies en rou gepraat, is daar gedigte of digters wie se treurverse baie instruktief was in die skep van Donkerberg?

DOMINIQUE: Ferenc Juhazh se gedig ‘The boy turned into a stag cries out at the gates of midnight’ het my soos ’n weerligskoot getref. Daar is nou vir jou ’n gedig. En gepraat van hoe die intieme deur ’n manjifieke digterskap die universele aanspreek. Ook voor sy tyd ’n klimaatgedig. Die vertaling deur Ted Hughes is die een om te lees. 

MARCEL: Is daar ’n gedig wat nie die bundel gehaal het nie, maar wat tog ’n spesiale plek in jou arsenaal beklee? Sou jy dit dalk met ons lesers kon deel?

DOMINIQUE: Ek het ’n versameling geleentheidsgedigte wat in ’n kleinodekissie bewaar word, en nie vir publikasie bedoel is nie. Ek heg aan ’n vers oor my dogter, geskryf toe sy op die drumpel van vrouword staan. 

 

meermin

sy streel my hare
tussen duimpie en fielafooi 
’n speenvarkie wat dolf en wroet 
na die bors se vla en soet

dan gaan slaap sy
’n kat wat volkome tevrede
aan ’n piering vol drome spin

bollemakiesie holderstebolder
’n tweetandskapie en toe
’n vulletjie op langbene geword
’n rankblom wat teen haar pa opvly
’n deuntjie wat uitloop op akkoord

haar hare gevlegte soetbrood 
uit madeliefie gars gewan
’n sluier stuifmeel
in die bad verwelk dit
tot stengels wier
en sy word ’n blou keiserin
lethrinus nebulosus
deur ’n maan se kom-en-gaan omkring

van ver rol die vissers
op die net van branders in

 

MARCEL: Die laaste gedig van die bundel ‘roudig’ het ook destyds in Valsrivier verskyn. In Valsrivier het die plasing daarvan ’n voortsleping by die leser meegebring maande nadat die boek neergesit is; die plasing daarvan aan die einde van Donkerberg voel egter soos iets anders, dalk iets meer gegrond, asof dit iets kom vestig. Het die gedig ander betekenis vir jou gekry in hierdie bundel? Hoekom was dit vir jou belangrik om die bundel daarmee af te sluit?

DOMINIQUE: Prosa het my daar, reg aan die einde van Valsrivier, in die steek gelaat, en poësie het ’n hand uitgesteek in die vorm van daardie treurvers wat die werklike roubeklag geword het. Ek het van die begin af geweet ek wil graag ‘roudig’ in die bundel insluit. Dit is beide deel van Valsrivier, maar dit staan ook daarvan los. ‘Roudig’ was die oorspronklike gedig, dit was my toegangspoort tot poësie. Ek wou dit in die versameling hê, maar ek moes eers die bundel as ’n geheel sien. Eers ná ’n gesukkel om die volgorde van gedigte in Donkerberg te bepaal, het ek besef die gedig kan nêrens behalwe aan die einde wees nie. So ’n lang gedig elders in die bundel sou die vloei opbreek. 

They say everything ends where it begins…


Regstelling: In ’n vorige weergawe van hierdie artikel is die aanhaling in die inleiding uit Asof geen berge ooit hier gewoon het nie verkeerdelik aan Pieter Odendaal toegeskryf. Dit het egter oorspronklik in ’n gedig deur Toast Coetzer in Nuwe Stemme 2 verskyn.


Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van In gesprek met Dominique Botha oor Donkerberg gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand