The Buckfever Underground is een van die beste volksgeheime

The Buckfever Underground is een van die beste volksgeheime
Foto: Alice Inggs

The Buckfever Underground bestaan al sedert 1998, wat dit hulle 20ste bestaansjaar maak. Hulle genre word as iets in die lyn van "free-form improvised jazz-rock spokenword (did you get that?)" beskryf. Die meeste van hulle shows is huiskonserte, as deel van hulle informele toere na spasies waar meubels rondgeskuif word. Hulle het al twee albums release, Saves (2007) en Verkeerdevlei (2012), asook 'n hele klompie EP's. Die huidige lede bestaan uit Toast Coetzer (woordman, ook Ons Klyntji se mede-redakteur), Stephen Timm (tromme) en Michael Currin (snare). Gil Hockman, Righard Kapp en Jon Savage was, onder andere, al deel van die groep. Aanhangers van The Buckfever Underground is dikwels gesoute Afrikaners, maar net so dikwels souties ook. Toast se digte lirieke is wat die musiek ver laat trek, 'n meevoerende reis maak. Hier's 'n paar van die tekste: 


hoe dit gaan

ek wonder soms, vriende, hoe dit gaan
daar in die doderyk, of waar die gedagtes ookal
die hiernamaals kan verbeel,
ek glo daar's 'n stoep, 'n oop kroeg, rakvol boeke en
'n Cessna, altyd gereed op die aanloopbaan
vir vertrek na plekke waar die wild wei
in kniehoogte gras
en die son op die water skyn

dalk strompel julle nou deur sneeuveld
met die wind van voor en jul oë
korrelfyn en stip, dor soos die klop
van klip op ys waaronder die pelswarm
robbe met min moeite
deur die soutwater gly

dalk in die woestyn nou, 
die nagasem koud in die holtes
van julle sandgestroopte bene
jul gedagtes die vae skadus van
Boeings, so hoog bo die aarde,
byna niks voor die son

maar wees gerus:
die kelke hier bly vir julle oop, vriende,
die deure op skrefies, die whiskeyprop net liggies
vasgedraai

als hier is gereed, soos julle dit laat staan het
ons sit hier en wag in die hut
waarvan julle nou die gloed
in die verte kan sien

Foto's: Dirk Hugo

Foto's: Dirk Hugo

egrets

we are haunted by our faces
marked by those of our forefathers
embedded in the deeper layers of our skin
eroded by time, the unhurried burn of the sun
around which we cling to the ride

our bones themselves
are stood upon the curves of those
who put us here to try to explain
all the pain, the simple fact of:
we are murderers

this is the land, that is the sea
on the backs of cattle
egrets ride

maak planne

mense maak planne in karre vir babas
en tuur oor die stomende skemervlaktes oor die leë damme
en drooggerookte skaduwees na die ander, soortgelyke, lewens
wat hulle lei met soortgelyke mense in soortgelyke huise in soortgelyke stede
maak planne, vir dit waaroor jy geen beheer kan uitoefen nie,
vir slange in jou kind se cot, vir karre wat oor stopstrate jaag in jou ribbes vas,
maak planne vir jou oudag, spaar jou sente, 
hou jou bootjie gestuur op die eerlike pad van die lig en die waarheid – 
maar onthou: die eerlike pad van die lig en die waarheid voel vir jou net mooi rare kanker, ongevraagde droogte, suiwer ontboste depressie, die vuur van eensaamheid te midde van alles besit onder die son
maak planne vir die dood en jou reis na niks, laat woorde agter soos duwwels, soos dade, soos dadels, skaaf rusbank, beitel gesig uit graniet, vergryp jouself aan die bottel, laat die ink van alkohol jou eenvoud verdun en vermeerder en oor die aardbol strooi as die asvlekke van historiese page impressions van jou miljoene ongebore lewes, jou miljoene ongesterfte sterftes, jou miljoene ongevonde liefdes, jou miljoene moeders, jou ander pa's, jou broers en susters onmeetbaar klein en fyn in die wind deur die halms van die grasvelde van die miljoene vorige weergawes van die aarde, en jou planne daarin, jou planne daarin.

 

we are

when we kiss, and our tears meet
we are standing ankle-deep
in salty, warm seas
of electricity

we are not dead, we are dead
minus the years we are not dead
which is now
we are alive

we are on a planet unknown to everyone
but ourselves, we do not even know
what is underground, we do not
understand even flu

we are asleep with crying children
in the room next door
in our dreams
we are them

we eat history with bombs
we pulverize the walls
of shrines, we shine,
we shine

we are stuck in the loop
we are slaves, we find ourselves
with guns, shooting
one another

we are in the open cast mine
of the Anthropocene Epoch
livid at ourselves, loving our
iPhones

when we call, our voices
are soft, across the water,
in Vietnam, a giant soft-shell turtle
is dead

 

koedoes

soggens skuif die son ons voete warm
tot in die sy, waar ons strepe hang
ons is bokke, koedoes
in die heelal
uitgesprei oor die koppe, die rante, hange, valleie, klowe, kranskoeltes, digbegroeide rivierloopdraaie, aalwynknope, swart olienskadus
en hierin wentel ons, saam, oor plaasdrade, teen wildheinings af
op soek na oorspringplek, op ou bergpaadjies langs, om besembos en blinkblaar,
oor suurpol en rooigras, verby klipstapel en rotshoop, die planete van
dassies, rooikat, ystervark, vlakhaas, pofadder, bleekvlerkspreeu
en ons kalm oë drink die wip van die uur
aaneengestroom, onafgebroke
nie as tyd nie
maar as leeftyd
by die koel fontein
voed ons die aarde, en die aarde ons
neuse raak aan mekaar en god,
'n skepping, lippe vol intieme
elektrisiteit fotosintetiseer
deur die somer, herfs, winter, lente
ente pyn, seer van hart,
korte duur, elle lang,
leef en beef
tot vul
wat uit
die herd ontsnap
die drade knip
die gewelf ontglip
ek kyk na jou
en jy na my
en ons bene lê die wêreld wit
ons lied se sleepsel kwispel lispel
in die tuig om strydros
die juk op trekos
kreun en kraak
die werwels wat
ons legkaart bou
in lig wat nou
is son wat
sak
ons is bokke, koedoes
in die heelal
saans trek die nag ons toe
ons vou ineen en hang
soos vlermuise
in die wind

in die begin

in die begin was die aarde woes, en lees
hierdie storie wat ek vir jou skilder
met die fyndermink van 'n vink
op die papier van die natuur
dit handel oor die eenvoud van
houtvoeg vassluit
en boeg bou
voor en onder visribbes van hout
om mee ver te seil oor die see
na nuwe hoop en heil, wel en weë

in die begin was die aarde wroeg, en leef
saam met my deur die eensaamste ure
by doodsbeddens waar die koue
asems van ouers ontbind
en in die meubels en matte
gordyne en groukatgate
syg en sif, deur spinnerakdoek
sybokhaarsag spoel
om die slape van die nag


  • Kyk hier vir hulle upcoming gigs.
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van The Buckfever Underground is een van die beste volksgeheime gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand