'Volkspele, boeremusiek en leuens'

Die rockumentary Johnny en die Maaiers

Johnny en die Maaiers het in 2009 vir die eerste keer op MK89 gewys, back in the hey days. Dié “rockumentary” (’n mengsel tussen ’n dokumentêr en ’n mockumentary) fokus op onse taal, kultuur en dan natuurlik ook die musiekbedryf en al sy dinge. Is “Afrikaans” ’n musiek-genre? Wat sê die kerke oor OppiKoppi? 

Die doccie kyk na hoe musiek die Afrikaner aangehelp het in sy en haar verligting en bewustheid van die wêreld daar buite. Dink Shifty Records, die End Conscription-veldtog (Ek speel oorlog met my beste dae), David Kramer se rooi vellies asook die “ongemaklike stilte” wat gevolg het na die Voëlvry-tydperk. Verwelkom dan The Sprinbok Nude Girls saam met generasie-X wat terugkeer na Engels, want dis cool en Afrikaans is uncool. Battery9 was wel cool op sy tyd. Dit was nie cool toe Miriam Makeba met ’n bierblik gegooi was nie. En siedaar, Fokof laat selfs die souties saam sing.

johnny en die maaiers.jpg

Johnny en die Maaiers raak ’n mondvol sosio-politiese onderwerpe aan, van die politiese bevryding van Afrikaans tot die identiteitspolitiek wat gevolg het. Afrikaners is soms plesierig (die Zoid-generasie word ook bespreek), maar soms glad nie; dis hier waar musiek help as verdowingsmiddel. Die Afrikaner soek na leiersfigure en gryp na Van Coke en kie. Soms trek dinge lelik skeef: ons kyk na jou, Bok Van Blerk.

Nog te verwagte is die ontploffing van kunstefeeste regoor die land, Idols vs JIP Rockspaaider, die impak van digitale vooruitgang en die internet op die musiekbedryf, die koopkrag van die wit Afrikaner en die poging tot selfonderdrukking deur sensuur in die sewentigs en tagtigs. 

Tertius Kapp is die skrywer en navorser, Henré Pretorius regisseur en ThirdWorld Media vervaardiger. Beer Adriaanse bring vermaak as die tussentydse aanbieder. Onderhoude is gevoer met onder andere Annie Klopper, Carel Hoffman, Deon Maas, Jitsvinger, Hunter Kennedy, Kahn Morbee, Paul Riekert en Steve Hofmeyr. 

Kyk Johnny en die Maaiers hieronder:

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van 'Volkspele, boeremusiek en leuens' gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand