Terugvoer oor die Afrikaanse kultuurfees in Amsterdam
Jente Rhebergen

Jente Rhebergen

Holland was die naweek Kaaps met die koms van ’n klompie Suid-Afrikaanse kunstenaars na die ander moederstad hier in Europa, Amsterdam. Dit was die derde keer wat die fees vir Afrikaans in Nederland gehou is, hierdie jaar met ’n nuwe naam, A.K.A., oftewel die Afrikaans Kultuurfees Amsterdam, só gedoop om beter by die ander kunstefeeste in die streek aan te sluit.

Daar was omtrent ’n verskeidenheid van musikante, dansers, teatermense, skrywers en digters by die fees te sien. Nie net het hul bymekaargekom in die Compagnietheater nie, maar ook in die nuut-gerestoureerde Zuid-Afrikahuis en selfs in die bekende klub, Melkweg.

Zuid-Afrikahuis

Zuid-Afrikahuis

Die Compagnietheater was ’n opvallende keuse aangesien die teater se naam verwys na die VOC (Verenigde Oost-Indische Compagnie) wat Nederland en Suid-Afrika se bande saamgesmee het.

Dié opvallendheid het wel nie die feesgangers bygeval met ’n Nederlandse bier in die een hand en ’n stuk Suid-Afrikaanse melktert in die ander nie, dit terwyl Francois van Coke en Die Heuwels Fantasties besig was om geraas te maak, op ’n intieme manier. Dan was daar natuurlik ook die pragtige indringende woorde van die ene Antjie Krog.

Enkele hoogtepunte was die uitreiking van die A.K.A.-filmprys vir Sink en Between The Devil And The Deep (’n memoir van Pieter-Dirk Uys), die herdenking van André P. Brink, Nicola Hanekom se nuwe toneelstuk Trippie asook die konsert van Jack Parow, De Kraaien en De Likt in ’n uitverkoopte Melkweg.

Jack Parow is omtrent elke jaar te sien met een van sy toere deur Nederland – hy het ook onlangs ’n song opgeneem met die Nederlandse rapgroep De Kraaien, naamlik Kattekwaad.

Daar was ook ander Suid-Afrikaanse musikante wat spesiaal vir die fees saam met ander Nederlandse kunstenaars saamgewerk het. Leslie Javan en Tribal Echo het op die verhoog geklim met Theatergroep Flint. Emo Adams en die Kaap-Maleis koor het weer saamgekom met Shawn de Vries.

Dit bly indrukwekkend dat daar soveel belangstelling vanuit Nederland is oor die fees. Tog moet die organisasie waak dat hulle die Nederlanders nie oorskat nie. Die fees was vanjaar so groot dat sommige shows met mekaar moes kompeteer vir die publiek se aandag. Soms is minder maar tog ’n bietjie meer.

But hey, ons wag in spanning vir wat volgende jaar bring!

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Terugvoer oor die Afrikaanse kultuurfees in Amsterdam gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand