Om jou eie begrafnis op te voer
Lara Hattingh en Mandri Sutherland se Eulogy to the Moon
’n Paar weke gelede ontvang ek ’n uitnodiging na ’n begrafnisdiens by ’n woonstel in Seepunt. “You are cordially invited to our funeral! It came a bit quicker than we had anticipated, but here we are. Also, sorry that you have to buy a ticket, but artists don't have wiggle room in their budget for a funeral policy. Dress code: Black (it’s a funeral).”
Die aand van die begrafnis meld ek stiptelik om ses by die woonstelblok se voorhek aan. “Hoe ken jy die oorledene?” groet ’n medebegrafnisganger my. Ek is nie seker wat om te antwoord nie. Van Instagram af, dink ek. Of deur mutual friends van Stellenbosch se dramadepartement. Of word hierdie diens eintlik vir die maan gehou? Ons sal binnekort uitvind. Buite die woonsteldeur word ons vriendelik gevra om nog so tien minute toe te laat vir die oorledenes om ’n paar tegniese struikelblokke uit te sorteer. Die diens moet immers ook oor Zoom uitgesaai word vir dié wat nie vanaand hier kan wees nie. Dan word ons binnegenooi, elkeen ’n moerse glas vonkelwyn in die hand gestop en na die stoep gelei waar die rougedompelde gaste ’n laaste sigaret rook voor die verrigtinge begin.
“Broers en susters…” groet dominee Beer Adriaanse in ’n pre-recorded video-opname voor hy met gebed open en die gemeente vra om te staan vir Lied 464. Dan, vanuit een van die woonstel se slaapkamers, verskyn die einste twee geliefdes van wie die dominee nou net afskeid geneem het. Lara Hattingh en Mandri Sutherland bedank die gemeentegehoor dat hulle so gaaf is om hulle begrafnisdiens by te woon. Om die beurt begin deel hulle ’n reeks kort lofredes vir die vól lewens wat Lara en Mandri geleef het. Tussendeur die stories wat hulle kruisbeen op Lara se kombuistafel sit en vertel, vat hulle elke nou en dan ’n blaaskans om die sitkamer vol gaste se wynglase vol te skink.
Eulogy to the Moon is ’n immersive, eksperimentele performance art experience deur Hattingh en Sutherland, twee skrywers en teatermakers wat in Kaapstad woon. In 2021 het Sutherland ’n soortgelyke performance kunsstuk Lillith & Lesbet Trou aangepak in samewerking met Nicolene Burger. Waar dié stuk die tradisionele troue as performance ondersoek en die spot dryf met die postfeministiese retoriek wat deesdae gebruik word om oor troues te praat (só skryf Azille Coetzee in haar resensie van Lillith & Lesbet Trou), is Sutherland se jongste huiskonsertprojek in samewerking met Hattingh ’n herverbeelding van die begrafnis as ’n viering van die lewe; ’n self-inquiring stream of consciousness van dít wat ek net kan beskryf as die unbearably painful and joyous condition of being alive.
Die huiskonsertformaat bied ’n mate van intimiteit wat selde in die tipiese teateromgewing gevind word. Die kombinasie van die huislike ruimte waarin die teks opgevoer word, die klein gehoor, en die sosiale aspek van die kuier voor en ná die main event dra by tot ’n eensoortige ervaring waartydens die grense tussen die verhoog en die gehoor afgebreek word. Die teatergangers transcend dus hulle rol as waarnemers en word op so ’n manier onlosmaaklik deel van die performance. Soortgelyk aan die troue-performance-stuk, waar die gaste se uitrustings, die venue se dekor en kleurskema, en die gehuurde fotograaf bydra tot die egtheid van die verbeeldingswêreld wat op die “verhoog” uitgespeel word, slaag die bykomende sintuiglike elemente van Eulogy to the Moon daarin om die konsep van die performance veel verder as die beperkings van die opvoerruimte te laat strek — van die gaste wat van kop tot tone in swart uitrustings en kerkskoene uitgevat is tot die orrelbegeleide saamsing en die komkommerbroodjies wat ná die tyd op ’n buffettafel uitgestal word terwyl die begrafnisgangers tot laat in die nag op Lara se woonstelstoep kuier (die liedboekgesange word wel mettertyd verruil vir ’n in-house DJ wat sy toerusting op die kombuistafel uitpak).
’n Paar dae ná die huiskonsert loop ek een van die gaste raak in die stad. Hy vra of die show my ook diép emosioneel geraak het. Heelwat van die vroue met wie hy ná die tyd gesels het, verduidelik hy, het blykbaar baie emosioneel geraak oor die stories wat vertel is. Hmm. Ek sou nie sê ek het juis ’n vreeslike emotional release ervaar tydens die vertoning nie. Hoewel ek nog nooit so baie gelag het tydens ’n begrafnisdiens nie — make-believe of te not. As kind is die dood, en die begrafnisritueel, nie by my vasgelê as ’n viering van die lewe nie. In my ervaring is die begrafnis eerder ’n dreaded skouspel van die dominee se pogings om ’n boodskap van berusting uit die nuwe testament te ontgin, die kerkraadvroue wat vroeër uitglip om solank die gladwrap van die southappies in die kerksaal te gaan afhaal, en dan die verpligtheid om small talk te maak met familielede wat van veeeeer af gery het om jou en jou gesin tydens die moeilike tyd te kom ondersteun. En sodra die begrafnis verby is, moet jy sommer klaar gerou wees ook. Terug skool toe, terug werk toe. Nie te veel tekens laat wys dat die begrafnis toe nou nie die gewenste afskeid en vrede gebring het nie. Nie die mense rondom jou ongemaklik laat voel met die gewig van die niksheid wat jy met jou saamdra nie.
Eulogy to the Moon slaag dan hierin: Om tussendeur die lag en die huil die begrafnis, soos menigte van ons dit ken, te reframe as ’n celebration; ’n thanksgiving aan saamwees, ’n huldeblyk aan die poetic practice of remembering.
Lara en Mandri deel meer oor die kreatiewe moontlikhede van die huiskonsert en die uitdagings van self-writing.
ELODI: Hoe het die konsep vir die show ontwikkel? Kan julle meer deel oor die skryfproses? Die “begrafnis” het op die ou end amper ontaard in ’n celebration... Was dit julle bedoeling? Of is daar tog iets wat julle te ruste wou lê deur hierdie tipe self-inquiring teks?
LARA: Die konsep van die show het baie organies ontwikkel. Ek skryf al sedert 2019 aan ’n outobiografiese teks wat vrouwees en die idee rondom onskuldigheid ondersoek. Dit het begin as stream of consciousness en amper dagboek-styl refleksies, maar soos ek aanhou skryf het, het ek besef daar is meer as net een storie wat tussen als wegkruip. Ek en Mandri gesels al lank oor die idee van huiskonserte en toe ons gaan sit en die materiaal wat ons beide reeds beskikbaar het met mekaar deel, het baie sterk ooreenstemmende temas in ons albei se werk uitgekom. Deur dit te set in die konteks van ’n tradisionele Afrikaanse begrafnis was die gehoor verplaas na ’n sekere interne milieu nog voor die vertoning begin het. Alhoewel die toneel die trant van ’n regte begrafnis volg, kan die dood beskou word as ’n metafoor en dus ’n celebration.
MANDRI: Ek wou al lank begin met huiskonserte, omdat daar soveel vryheid is vir die kunstenaar en soveel geleentheid vir eksplorasie. Deur te collaborate met hierdie projek het ek en Lara nie geweet waarheen ons op pad is nie, maar ons het die proses van skepping diep vertrou. Toe ons eers begin weef aan stories kon ons nie ophou nie. Ons het ’n datum gekies en toe is dit dit. Dit was moeilik omdat ons elkeen ook ons side hussles het, maar ons het omtrent elke dag met mekaar ingecheck, idees uitgeruil en die vloei van die performance gerespekteer.
We just really wanted to share our stories. Lara het op die naam besluit en dit was so mooi dat ons, ons stories daarvandaan kon laat vloei as ’n danksegging aan die maan. Somehow het baie van ons stories tematies verbind aan die donker, die maan, die idee van projeksie en ook ontvlugting na ’n ander lewe. Lara het een middag op my bank van haar stories gelees en dit was vir my hartverskeurend mooi en snaaks en alles tussenin. Ek het besef dat baie van ons stories op ’n manier resoneer en so het ons uitgekom op ’n proses van die lewe aflsluit, oor begin, skoonmaak, sodat daar nuwe lewe kan wees.
Ek dink die hele idee om die konvensies van ’n begrafnis te gebruik, is hoe ek daarvan hou om my performances ook op te stel. Die vorige performance was ’n troue en die gehoor was ons witnesses op die dag. Die stories lê op die draadwerk van rituele waarvandaan ek kom, met spesifieke verwysing na my tradisionele, christelike huis en grootwordjare. Ek trek die meeste van my inspirasie en die manier hoe ek skryf van daai tye af. Hierdie performances moet vir my baie na aan die waarheid bly van hoe ons as mense onsself posisioneer in rituele. Ek het grootgeword waar daar tot ’n mate ge-celebrate word as iemand heengaan. Dit was altyd as kind vir my ’n ongemaklike storie, maar dit is wat ek ken. Ek dink die idee was om te eindig op ’n vroliker noot en die lewe wat was te vier. In ons geval wou ons ook net lekker gesels en kuier saam ons vriende.
ELODI: Kan julle ook meer deel oor die besluit om die show as huiskonsert aan te bied in so ’n intieme omgewing? Hoe ervaar julle die huiskonsert setup in vergelyking met tradisionele teater?
MANDRI: Bloot vir die feit om kostes so laag moontlik te hou, en as dit volgens ons terme is, het ons die vryheid om dit te curate soos ons wil. En dan ook die vraag, waar is daar dan nog kleiner teaters om te perform? Dis eintlik die ding. Waar is die stages? Ons het dit net gemaak werk met wat ons het en dis ’n konsep waarmee ek wil voortgaan. Ek love die intimate storievertelling, dis meer onmiddellik, present en dis vir my anders as in ’n tradisionele teater. Ons maak ons eie reëls, die gehoor vorm deel, mense is onwrikbaar deel van die energie. Ons het baie van dit af ook gespeel.
LARA: Die pandemie het beteken dat teater amper geheel en al tot stilstand kom en ’n huiskonsert was een van ons enigste opsies as teaterakteurs om weer voor ’n gehoor te kon perform. Hierdie medium van storievertel leen hom ook tot ’n meer intieme setup. Deur die gehoor te verplaas tot in die performance-wêreld word die stories nie net meer tasbaar nie, maar die gehoor se eie herinneringe word ontwortel.
ELODI: Dit is natuurlik baie meer intimate om die gehoor in jou huis in te nooi, en vir die gehoor om byna deel te vorm van die vertoning self. In hierdie geval was baie van die gehoorlede ook julle vriende, mense wat moontlik reeds bekend is met van die stories wat gedeel word. Hoe beïnvloed dit julle experience as teatermakers?
LARA: Ek en Mandri was beide baie opgewonde oor die feit dat alhoewel die stories wat gedeel word baie persoonlik is en die meerderheid van hierdie eerste gehoor ons persoonlik geken het, niemand werklik die stories wat ons vertel het, sou ken nie. Dit het dinge beslis effens meer stresvol gemaak, maar vulnerability as kunstenaar bly empowering. Die krag van hierdie vorm van teater is ook iets waarin ons baie sterk glo en daar is baie huiskonserte in die pyplyn. Ek het pas ’n studio gekry wat gereelde huiskonserte sal huisves, waarvan Eulogy to the Moon beslis die eerste sal wees.
MANDRI: Ek dink dit is baie spesiaal vir die mense wat ons ken, maar dat die stories ook resoneer met dié wat ons nie noodwendig ken nie. Al was dit persoonlik, vind elke gehoorlid hulle eie gedagtegang en waarmee hulle resoneer. By hierdie vertoning was daar byvoorbeeld twee Nederlandse vriende wat ná die tyd gesê het hoe hulle self teruggegaan het na hulle oumas se huise en die reuke en rituele terwyl ek my eie persoonlike stories vertel het oor my ouma. Baie van hierdie stories kan ook as ’n stream of consciousness beskou word.
Ek gaan definitief die huiskonsertidee verder neem. My volgende optrede is op 1 April saam met Amalia Uys. Ons werk aan ’n teks wat ek in 2019 by Woordfees opgevoer het. Weereens is dit die hele ervaring dat jou kaartjieprys ’n aand insluit waar jy kop kan loslaat en droom, jou dors geles word en jy terug kan sit terwyl jy na iets kyk wat baie mooi bymekaar gesit is. My droom en dryf agter die huiskonserte is om myself en ander kunstenaars die geleentheid te gee om te speel en te deel; om dit deel te maak van die lewensritme en van hoe ons as gemeenskap dinge verwerk en beleef.
As kunstenaars leef ons die stories en deur dit so intiem te stage kan mense deel en sin maak van hulle eie stories se ritmes. Ek is honger vir teater. Mense is honger vir teater. Ons het nodig om gevoed te word met ’n konstante, amper ritualistiese instelling deur elke maand ’n show te kan hê. Ek wil dit deel maak van die kollektief. Dit is eintlik al reeds, ons het net nodig om dit meer te begin execute.
ELODI: Die stories wat julle gedeel het was albei so mooi, en soos reeds genoem, dikwels ook baie persoonlik. Beskou julle die show as outobiografies? Is Lara en Mandri steeds Lara en Mandri op die verhoog, of behou julle ’n afstand tussen julleself en die gelyknamige karakters?
LARA: Die meeste van die stories was in die waarheid geanker, maar digterlike vryheid is beslis gebruik. ’n Mens sou kon sê dat ons die karakters van Lara en Mandri vertolk het. Dit is ook waar die toneelstuk en die werklikheid bymekaar kom, omdat die vertolking van ’n karakter tematies deurgetrek word. Soos die vertoning aangaan het ons beide verder van die karakters af beweeg én nader aan onsself.
MANDRI: Definitief outobiografies, very close to home. Daar is ’n mate van performance maar die performance was oor ons eie stories, so daar is nie regtig ander karakters as ons twee ter sprake nie. Met die een storie oor die vrou wat verlief geraak het op die maan, was daar ’n bietjie van Mandri en meer van die maan-vrou.
ELODI: Is die stories wat van die show deel vorm tailored tot die gehoor? Sou julle dan miskien ander narratiewe verken as julle die vertoning vir ander gehore sou opvoer? Ek dink byvoorbeeld aan die potensiaal om die show na mense se huise te neem... Hoewel die sosiale aspek van die hele experience heeltemal anders sal uitspeel wanneer die teks in iemand anders se huis aangebied word eerder as in julle eie safe spaces. In my ervaring van die vertoning was die kuier voor en ná die tyd amper net so belangrik soos die show self, wat weer terugkeer na die idee van die huiskonsertgehoor wat aktief deelneem aan die teater en nie bloot toeskouers is nie.
MANDRI: Ek dink dit maak dit so spesiaal dat dit ons stories is en so kry mense ’n oomblik om te reflekteer op hulle eie lewensnarratiewe. Ek dink vir dié show werk dit. Dis ’n package deal, ’n hele ervaring. Van die komkommertoebroodjies en snoephappies, MCC voor die tyd en gedurende die show, die gehoor wat aansit en kyk na die TV met die opname van die dominee tot die afloop ná die tyd waar mense kan samesyn. Ons stories is geleef in Afrikaans, en daarom resoneer dit meer met die Afrikaanse teikenmark.
LARA: Die stories wat vertel is, is universeel en ’n verskeidenheid Afrikaanse gehore sal daarby aanklank vind. Ons is reeds in gesprek met mense wat die show kom kyk het wat graag wil hê die konsert moet by hulle huis opgevoer word. Ek meen die sosiale aspek vooraf is so uiters belangrik omdat die gehoor ’n oomlik neem om te connect met mekaar en werklik in te koop in die wêreld. Dit was vir my opvallend hoe almal na afloop van die show hulle eie weergawes van die stories wat vertel is met mekaar deel. Op ’n manier bring teater nie net vir die makers healing nie, maar ook vir die gehoor.
Eulogy to the Moon word later in April weer opgevoer. Hou Lara en Mandri dop op Instagram vir meer inligting oor hulle opkomende huiskonserte.