Pride is 'n protesoptog, nie net 'n partytjie nie
Renaldo Schwarp belig queer-wees in Skeef
In ’n wêreld waar mense gemartel en teen gediskrimineer word omdat hulle heteroseksueel is, sou iets soos “straight pride” sin maak. Junie is internasionale LGBTI+ Pride-maand en tydens dié maand word die ikoniese Stonewall-optogte ook herdenk, wat 50 jaar gelede plaasgevind het. Pride is ’n protesoptog, nie net ’n partytjie nie. Die onlangse kritiek wat Boer Soek ’n Vrou ontlok het oor hul besluit om ’n gay boer deel van die program te maak, asook die berigte dat Brunei gay seks met steniging strafbaar wil maak, dien as herinnering aan die feit dat die stryd teen LGBTI-diskriminasie en -onderdrukking nog vêr van verby is. Dan is daar nog die menseregvergrype in Chechnya ook. Gesprekke oor gay-wees is nog net so krities as ooit vantevore.
SKEEF, ’n 4-deel dokumentêre reeks wat die realiteite van gay- en trans-wees in Suid-Afrika onder ’n vergrootglas plaas, poog om ’n eerlike verteenwoordiging van moderne gay identiteit weer te gee. Die goed en die sleg. Die reeks plaas ’n soeklig op die struikelblokke wat die plaaslike LGBTI+ gemeenskap in die gesig staar, al het Suid-Afrika een van die mees progressiewe grondwette in die wêreld. SKEEF is vervaardig en aangebied deur die kykNET & Kie TV-aanbieder en Jacaranda FM-omroeper, Renaldo Schwarp (27).
Daar word gepraat met die komediant Marc Lottering, sanger Joe Foster, Good Things Guy se Brent Lindeque en Kanarie-medeskrywer Charl-Johan Lingenfelder. Vrae oor die verteenwoordiging van die LGBTI+ gemeenskap in Afrikaanse media, word ook aan VIA se kanaalhoof, Izelle Venter, gestel.
Daar is ook te hoor van Adnan Al Mouselli – ’n gay Siriese vlugteling wat uit vrees vir sy lewe uit Sirië moes vlug. Josh Harper, ’n tweedejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria wat in 2017 opslae gemaak het toe hy saam met ’n ander seun na Pretoria Boys High se matriekafskeid gegaan het, word ook mee gesels.
Kyk al vier die episodes hieronder.