Om Señor de Quyllur Rit'i in Peru tegemoet te gaan

Quispicanchi-nasie, Qullqipunku in die agtergrond
Foto’s verskaf deur die skrywer

Pieter Madibuseng Odendaal op soek na 'n wonderwerk op 'n antieke sinkretiese pelgrimstog

Die bus uit Cusco klief soos ’n seiljag deur die nag op die noue bergpad. Ek sukkel om te onderskei tussen die gebrek aan suurstof en my stygende angsvlakke. Honderde busse, trokke, kombi’s, karre en motorfietse is almal op pad na een van die oudste pelgrimstogte ter wêreld: die Quyllur Rit’i-fees aan die voet van Qullqipunku-berg, waar inheemse Andiese spirituele praktyke en Katolieke rituele mekaar oopoog ontmoet.

Eenuur die oggend, tussen berg, bloekomwoud en die gefluister van nuwe vriende, weet ek nie mooi wat om te verwag nie. Mense sê dis ’n plek vir wonderwerke, en die meer as 100 000 pelgrims wat die tog meemaak, het elkeen ’n geheime wens. Ek besluit waarna ek die meeste smag, die kil nag om my bene gevou: Om my los te maak van wat agter my is en uit te strek na wat voorlê. Ek wil vreesloos vir die toekoms leef, in die spanning tussen strek en spring floreer. En ek sal graag my man Jorge in die skare pelgrims wil raakloop – hy’s twee dae vroeër die berge in om viool te speel as deel van die fees se magiese rituele.

Ek, vier locals uit Cusco en ’n stadsjapie uit Lima arriveer halfdrie die oggend in Mahuayani, die beginpunt vir die groot stap. Ek het nie ’n oog toegemaak nie, net aanhou dink aan laasjaar se paniekaanvalle, die tekort aan asem en hoe graag ek wil ophou om my grootste boelie te wees. Ons stoei ’n halwe kilometer deur ’n verkeersophoping voor die eintlike tog die berg in begin. Aan weerskante van die pad is makeshift stalletjies in blou plastiek – tee en warm kos, water en handskoene, mussies en agua florida vir die hoogtesiekte. 

Ek gee skaars 20 treë voor my longe lugloos word. Die kwynende liglyn van flitse teen die berghang stel my nie gerus nie. Nie vir ’n fok gaan ek agt kilometer van hierdie pad in die middel van die nag uitklim nie! Ek vra vir die stadsjapie hoe hoog bo seevlak ons is – “4 000 metros,” sê hy, net so uitasem soos ek. Ons kyk bevrees na mekaar voor ek die termos uithaal – my skoonma het kokatee voorberei. Die kookwarmwater gee my lyf weer moed.

Duisende mense beur boontoe: Ooms en tannies in hulle 70’s, gesinne, groepe vriende, kleuters op hul ouers se skouers, papbabatjies in veelkleurige komberse. Die meeste van die dansers en musikante is reeds in die Heiligdom, die Santuario in die Sinak’ara-laagte, aan die voet van Qullqipunku-berg, waarheen ons almal op pad is.

“What’s that fire on the mountain?” vra ek vir Willie, een van die locals uit Cusco wat die tog al menigmaal aangepak het. 

“It’s not a fire, it’s candles!” Dis ’n kruis, besef ek toe ons naby genoeg is om te sien hoe biddendes die hout met hul vingers aanraak, ’n kruis oor hul bors trek en ’n kers aansteek. 

“The first of eight crosses – one for each kilometre,” verduidelik Willie as ons stop om asem te skep. Ons maak elkeen ’n k’intu in ons koue hande: drie versigtig-gekose kokablare as ’n offerande aan Pachamama (Moeder Aarde), aan Qullqipunku voor ons en Ausungate-berg agter ons. Ons pass ’n mapacho (seremoniële tabak) tussen ons rond, plaas ons k’intu’s versigtig teen ’n rots, val weer in die pad. 

Een van die kruise op die tog

Ons stop elke kilo om ’n bietjie kokatee te drink, suurlemoensweeties te suig en kokablare te kou. Ons kou en kou sodat ons are kan dileer om meer suurstof by ons bene uit te kry. Dis -5 grade Celsius, maar ons sweet van die uitmergeling. Elke nou en dan moet ek stop sodat my hart kan opvang.

Skielik moet ons plekmaak teen die berg – twee mans hol met ’n derde op ’n stretcher verby ons af. “Un muerto,” waarsku Willie my, ’n dooie. Ek onthou my man se woorde, dat vreeslike dinge op hierdie tog kan gebeur. Sonder lewensgevaar is wonderwerke nie moontlik nie. Ons lig ons koppe na bo – die bewolkte nag steek die maan weg, maar gelukkig het ons flitse. Mag die señor op die stretcher in vrede rus.

Hier teen die vierde kruis raak dit duidelik dat die Limeense stadsjapie swaar trek. Hy ontvang ’n paar druppels agua florida in sy hand, vryf sy palms teen mekaar en versprei die geurige alkohol oor sy gesig – dit werk die ergste van die hoogtesiekte teë.

Intussen kom ’n man verby met ’n helse geraamde skildery van Señor de Quyllur Rit’i op sy rug. Señor de Quyllur Rit’i is ’n Jesus-figuur wat teen ’n meteoriet hoog in die berg geverf is. Maar Willie verduidelik Quyllur Rit’i is ’n antieke fees, met wortels wat verder terugstrek as die Spanjaarde en hul Christendom. Dis ’n inheemse fees om die herverskyning van die Pleiades in die hemel te gedenk. Om die verbintenis met Qullqipunku, die magtige berg, sy sneeu en die magiese swart meteoriet te vier. Om die wintersonstilstand met fanfare in te gaan – vol musiek en dans 4 800 meter bo seevlak. Om die koue in die gesig te staar en terug te smile.

Dis ’n inheemse fees om die herverskyning van die Pleiades in die hemel te gedenk. Om die verbintenis met Qullqipunku, die magtige berg, sy sneeu en die magiese swart meteoriet te vier. Om die wintersonstilstand met fanfare in te gaan – vol musiek en dans 4 800 meter bo seevlak. Om die koue in die gesig te staar en terug te smile.
— Pieter Madibuseng Odendaal

***

Dis skielik half ses en nie meer stikdonker nie. Mense begin hul flitse afskakel soos die son agter wolke die nuwe dag aankondig. Ek kan die sneeu teen Qullqipunku uitmaak. Gister se heavy sneeu is ’n welkome verrassing na daar verlede jaar amper geen wit vir die fees was nie. 

“Climate change?” vra ek vir Willie. 

“Climate crisis,” antwoord hy. “Before, representatives would take blocks of snow back to their communities, to the centre of Cusco and towns throughout the Andes. But now they’ve prohibited it. There’s just not enough snow left. All of this,” hy wys na die ligterwordende grys berge om ons, “used to be covered in snow twenty years ago.” Nou is alles grys klip.

Onverwagse vuurwerke voor ons – die dag in die Sanktuarium lê en wag! 

Weer eens blou winkels weerskante van die pad – nou om plastiekkarre, huisies en universiteitsertifikate te verkoop. “To manifest what you want,” verduidelik Willie. Ek glimlag vir ’n jong meisie wat in die ry staan om haar graad te kry. 

Na die laaste stretch kom Qullqipunku – die “Silwer Poort” in Quechua – in sy volle glorie voor my te staan, witgevlek na gister se onverwagte sneeu. Ek kan nie help om te huil nie. Dit sal nie die laaste keer vandag wees nie. Bo teen die berghange, net onder die sneeulyn, wapper die helderkleurige vlae van verskillende nasies, verteenwoordigers uit agt areas rondom Cusco: Quispicanchi, Paucartambo, Anta, Paruro, Canchis, Acomayo, Urubamba en Tawantinsuyo. Elke nasie bestaan uit verskeie comparsas: dansers, musikante en leiers wat as afgevaardigdes uit verskillende streke dien.

Ek hardloop saam met Willie en sy meisie bergwaarts. Hulle nasie – Quispiqanchi, in uitbundige rooi getooi – kom terug van die pieke, dansend op die maat van chakiri’s – die kenmerkende melodieë wat eie is aan die fees. Quenas (Andiese fluite), akkordeons, viole, basdromme, saksofone en ramshorings begelei die vlae dansers wat die berg afhol. Klokkies om hulle bene maak saam lawaai. Cue nog trane – die vreugde van saam met ’n reus verkeer, van lewendig wees in die mees ekstreme omstandighede. Van feesvier ten spyte van oorloë en tekort, uitsterwings en eindes. Iewers in die vreugde verloor ons die Limeense stadsjapie. Ai, ons het so mooi na hom probeer kyk …

Die groepe dansers is almal in elaborate helderkleurige kostuums uitgevat, volgens die karakters wat hulle beliggaam: daar is Ukukus (wagters in swart wat seker maak niemand ruk handuit nie) en Qhapaq Qollas (in wit maskers, verteenwoordigers van llama-boere uit die hooglande van Peru en Bolivië), Chunchachas (vrouens in veelkleurige vere wat die Amasone verteenwoordig), Qhapaq Negros (verteenwoordigers van Afroperuane wat eens slawe was, maar later gefloreer het), Wayri Chunchos (glo Señor de Quyllur Rit’i se favourites) en meer. Elke kostuum is met groot sorg deur die danser en hul familie ontwerp. Elkeen het maande lank geoefen om hier tussen hul landsgenote ’n eeue-oue tradisie voort te sit. 

Chunchachas

Comparsas uit die Quispicanchi-nasie

Dansers op die berg

Twee Wayri Chunchus, skare in die agtegrond

Ukukus uit die Paucartambo-nasie

Ukukus op pad terug van die pieke

***

Hoe gaan ek vir Jorge tussen die feesgangers opspoor? Hy’s twee dae lank al hier, as violis vir die Qhapaq Qolla-dansers uit die Viva el Peru-woonbuurt as deel van die Tiwantinsuyo-nasie (verteenwoordigers uit Cusco). “Soek die reënboogvlag,” onthou ek sy woorde. Net dan kom die reënboogvlae stadig oor die piek te voorskyn. Ek begin weer boontoe sukkel oor die vallei van klip en mos, my longe uitgestrek na bo. 

Wanneer ek sy oë vind, is sy gesig die eerste son wat ek vandag sien. “Pieter!” vorm die wasem voor sy mond terwyl hy aanhou chakiri’s speel en die dansers die laagte in volg. Dit begin sneeu. Ek bekyk die prosessie, die vlokkies oor sy gesig en verstaan vir die eerste keer ’n deel van my man wat tot nou toe vir my verborge was: Die deel wat hy hier kom volmaak, die stersneeu wat hy hier saam met derduisende ander pelgrims kom oproep.

Terug in die tentedorp bied die vrouens vir ons ontbyt aan (wanneer laas het ek geëet?). Hoender, groente en noedels stoom teen die sneeu wat ons koppe, voete en hande bedek. Ek haal ’n klein botteltjie rum uit wat ek vir die musikante saamgebring het. As die hitte nie van buite wil kom nie, moet ons dit maar van binne af aanhits.

Ek bekyk die prosessie, die vlokkies oor sy gesig en verstaan vir die eerste keer ’n deel van my man wat tot nou toe vir my verborge was: Die deel wat hy hier kom volmaak, die stersneeu wat hy hier saam met derduisende ander pelgrims kom oproep.
— Pieter Madibuseng Odendaal

Ná ontbyt gaan “koop” ons ’n huis in Mamachapata – die be-rumde musikante is ons getuies. Ons skaf eers die monopoly-geld aan (70 1000 dollarnote), soek die kliphuisie uit wat die meeste soos ons droom lyk en koop dan die erftitel. ’n Notaris teken en bestempel die dokument, wens ons geluk en gee vir ons ’n glasie wyn en streamers om oor die huisie uit te gooi en ons nuwe tuiste te seën. Die musikante klap hande. ’n Klipgooi verder trou paartjies en onder ons word mense se nuwe plastiekkarretjies ingewy. Almal manifesteer hul diepste wense asof die lewe een groot spel is.

Op pad terug kry ek ’n rare kans om die kapel in te gaan – ek glip net-net in voor die deure agter die skare toemaak. Ons beweeg stadig deur die kapel, al nader aan Señor de Quyllur Rit’i voor teen die altaar. My bors wil ontplof as ek die geverfde man teen die swart klip ontmoet, omring deur dansende Peruane, selfone in die lug.

Ek belowe hom dat ek dinge agter my gaan sit, dat ek gaan ophou om myself te kasty, dat ek my losmaak van die verlede en uitstrek na die moontlikhede wat soos sneeu teen die kilswart berg voor my skitter. Die musiek dra die skare tree vir tree nader aan hul Señor. Weer eens trane as ons by die kapel se voordeur uitpeul. Dis my manier om vir die oorweldigende wêreld te glimlag.

My man en sy band

Ek en my man met die erftitel van ons droomhuisie op Mamachapata

Verskeie comparsas van die Tawantinsuyo-nasie op die berg

Qhapaq Qolla daal neer na die tentedorp

Tentedorp in die Sinak’ara-laagte

***

Dan is dit tyd om te waai – ek het nog 3 uur se stap en 3 uur se bus tot in Cusco oor. Willie en die res van die geselskap gaan nog 20 uur langer klim om die son môreoggend te groet, maar my koue voete en kloppende kop raai my aan om terug te keer soos oorspronklik beplan. Ek groet die geselskap, dankbaar vir die voorreg om die tog deur hulle oë te kon aanpak.

Ek groet vir Jorge en wens hom ’n warm nag toe voor ek wegdraai van die feesstad in die berg. Die stadsjapie bly vermis (hy’t darem die volgende dag via WhatsApp laat weet dat hy veilig saam met ’n ander vriend onder aangekom het). Ek bly terugdraai om die besneeude berg te beskou (net nog een keer), elke keer weer water in my oë. Net nog een keer.

Die opwaartse stoei het my heldhaftig gemaak, so ek verwag dat die afwaartse asem makliker sal wees. Maar my kop begin klop soos die skare om my aangroei – almal vlugvoetig op pad terug na die werklikheid. Die musiek van bo en die drieledige pyn bly my die heelpad by: my kopseer, my laerugpyn en my vlammende voete in die bergskoene. Ek het twee dae lank nie geslaap nie. En hoeveel kokablare het ek gekou om die hoogte af te weer? Ek drink water; dit help niks. Die massa stroom teen die berg af. Ek moet byhou, of agterbly. Ek kan my oë nie oophou nie. 

Die kruise raak nie minder nie. Ek dog ons trek al by nommer ses of sewe, maar die oumie agter my sê: “Cuatro”. Ausungate skitter wit voor ons in die V van die vallei waar ons neerdaal. Ek moet aanhou stap, maak nie saak hoe seer dit is nie. By stasie 7 verskyn ’n reënboog teen die geel hellings voor ons: die kleure van Tawantinsuyo, van queer-wees, van vlugtige hoop in die hartjie van die winter. Die dorpie kom lê voor die kronkelende pelgrims. Ons lig ons koppe effens hoër – die einde is in sig. 

Uiteindelik onder, soek ek desperaat vir ’n bus om my terug Cusco toe te vat. Almal is gaar en verlang na huis. Vanaand droom ons almal van eindelose paaie in verre gebergtes. Die oomblik wat my boude die sitplek tref, is ek uit soos ’n pelgrimskers. My voete en my hart brand fel – ’n vreugdevuur vir dié wonderbaarlike tog. 

Dankie dat ek nie die pad byster geraak het nie, Señor. Dankie.

Portret van die digter by Quyllur Rit’i

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Om Señor de Quyllur Rit'i in Peru tegemoet te gaan gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand