Volksmoeder Tannie Aletta Francina de Kock

Volksmoeder Tannie Aletta Francina de Kock
“Sy’s daai multifaceted meisie 💅💫”

“Sy’s daai multifaceted meisie 💅💫”

In gesprek met jou gunstelingtante op Instagram

Die Afrikaanse Tannie kan moontlik as een van die bekendste en oudste (Suid-) Afrikaanse argetipes beskou word. Die tannie vorm in wese deel van die (Suid-) Afrikaanse psige, iets wat die Franse sosioloog Maurice Halbwachs die kollektiewe herinnering noem.

Die beeld van die tipiese tannie is soms geneig om woorde soos “konserwatief” en “streng” op te roep, alhoewel woorde soos “dierbaar” en “koesterend” ook dié argetipiese beeld van die tannie inkleur. Elsabé Brink beskryf in die versameling kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke, Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar (2008), die kollektiewe herinnering van die Volksmoeder – die tannie se voorganger:

Die Volksmoeder is ’n beeld van ’n vrou. Sy is beeldskoon, beeldryk, beeldspraak; ’n geïdealiseerde voorbeeld van vrouwees, wat vir meer as ’n eeu Afrikaanse meisies en vroue oproep tot die stryd om hulself in diens van hul familie en hul volk te stel. Met hierdie oproep word die Volksmoeder vir die grootste deel van die twintigste eeu ’n plek van herinnering met emosionele drakrag aan wie etlike geslagte Afrikaanse vroue blootgestel is.[…] Sy is ’n visuele samevatting van ‘die adel en die mooie in die Afrikaanse jong meisie’ wat menige tot ‘eenvoud en tot verinnerliking’ moet aanspoor.

Nes die Volksmoeder in die 19de en 20ste eeu, is die Afrikaanse tannie in die laat 20ste en 21ste eeu deel van die kollektiewe herinnering en bewustheid van Afrikaanssprekendes (en feitlik alle ander Suid-Afrikaners). Die tannie – as 21ste eeuse weergawe van die Volksmoeder – is daardie vrou in die samelewing wat met haar wysheid, praktiese know-how en styl die volk voed en opvoed – gewoonlik met raad direk uit die Huisgenoot of Sarie.

Maar stereotipes soos dié van die eng tannie is ook geneig om op sy kop gedraai te wil word – mens dink byvoorbeeld aan g’n ander as Tannie Evita Bezuidenhout, “the most famous white woman in South Africa”. Tannie Evita, alter-ego van Pieter-Dirk Uys, is waarskynlik die bekendste tannie-persona wat vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor kommentaar op die Suid-Afrikaanse politiek en samelewing bied.

Pieter-Dirk Uys se Tannie Evita personifieer wat Elsabé Brink ook van die nederige Volksmoeder-beeld opmerk:

[…] dat die Volksmoeder nie bloot as simbool van verkramptheid en ondergeskiktheid gesien moet word nie, want sy beskik oor navolgingswaardige eienskappe: onafhanklike denke, entrepreneurskap, oorlewingsvaardighede en ’n geskiedenis van selfhelp en opheffingswerk.

Aletta Francina de Kock, ’n self-employed creative van Paarl, stof hierdie bekende dog genuanseerde beeld van die tannie af en revamp dit vir ’n generasie wat weet hoe om Instagram te gebruik. Sy het in die tydperk van minder as ’n jaar ’n naam vir haarself op Instagram gemaak as Tannie Aletta Francina de Kock. Sy is ’n trou-videograaf en sy doen portretfotografie on the side.

“Hallo, dit is ek, Tannie Aletta Francina de Kock, hoeka toeka ja-ja.”

Só stel Tannie Aletta Francina haarself aan haar 23.9k followers op Instagram voor wanneer sy Top Billing-style huistoere doen en met ’n glas Du Toitskloof wys hoe om ’n hoender vir die oond voor te berei, millennial style. Die verskil tussen Tannie Aletta en waarskynlik sommer enige ander tannie is dat Tannie Aletta al hierdie tannie-plesiere uitvoer terwyl sy vloek, bekende catch-phrases uitroep soos Lúúks, my skatta! en Hoeka toeka ja-ja! (ja, soos daai Carike Keuzenkamp-song) en vir haarself en die performatiwiteite van tannie-wees lag. Nog ’n waarskynlike verskil: Tannie Aletta is 24 jaar oud. Ek het met haar gesels.

 

ANDRÉA: Wie is jou most iconic, gunstelingtannie(s)? Ek dink veral aan iemand soos Tannie Evita Bezuidenhout wat ’n groot rolspeler is.

TANNIE ALETTA: Ek is ’n groot Fran Lebowitz meisie. Love vir Iris Apfel ook – hulle is altwee unapologetically themselves. Icons. Eendag as ek groot is, wil ek ook ’n Icon wees. ’n Girl kan seker droom.

ANDRÉA: Waar en hoe het jou aanlyn content creating begin, veral jou vlogging?

TANNIE ALETTA: Ek het op hoërskool al begin vlog, niemand het dit gekyk nie, dank die vader – want dit was die onoorspronklikste content wat jy al in jou hele lewe gesien het. In matriek het ek gedink ek is ’n fashion blogger, het sommer ’n regte .com website ook gehad met klomp foto’s van my wat pose met die mees voorspelbare outfits, shame. Ná skool het ek hier en daar ’n vlog gepost op YouTube, maar nooit dit heeltemal pursue nie. 2020 was toe die heel kakste jaar van my lewe en ek het besluit om my energie in iets te channel wat my bietjie joy bring en hier is ek nou. Worra journey. 

Ek is ’n groot Fran Lebowitz meisie. Love vir Iris Apfel ook – hulle is altwee unapologetically themselves. Icons. Eendag as ek groot is, wil ek ook ’n Icon wees. ’n Girl kan seker droom.
— Tannie Aletta

ANDRÉA: Sien jy jouself as ’n “influencer”? Was jou bedoeling met die eerste paar Tannie Aletta-video’s om ’n “influencer” te word? Jy verwys ook soms na influencers as “influenzas”. Wat dink jy van influencer culture?

TANNIE ALETTA: Ek kry ’n freebie elke nou en dan maar dit voel baie boastful om te sê ek is ’n influencer. Influencer culture stick nie lekker met my nie, niks is meer real nie. Ek wil nie eintlik deel wees van iets wat nie real is nie, maar ek dink ek is besig om my eie way te carve op die internet wat niks te doen het met die tradisionele “lifestyle influencer”-tipe storie nie. Dis die grootste kompliment wanneer mense vir my sê ek is uniek en real. Kom ons almal wees net gou ’n bietjie real – ek dink die wêreld sal ’n beter plek wees dan.

ANDRÉA: Hoekom die persona van ’n tannie vir ’n twenty-something creative? Wat van die tannie-persona trek jou aan? Hoe herskep jy die persona van ’n tannie om te spreek tot jou peers?

TANNIE ALETTA: Ek grap altyd en sê ek is ’n tannie, omdat ek hou van tuinmaak en al die ander “boring” goed waarvan tannies hou. Dit was als net ’n moerse grap en toe stick dit sowaar.

ANDRÉA: Beskou jy Tannie Aletta as ’n aparte persona van Aletta? Hoe verskil Aletta van Tannie Aletta?

TANNIE ALETTA: Ek is eintlik maar Tannie Aletta op ’n goeie dag of ná 3 glase wyn. Maar ek moet die twee seperate in my kop sodat ek nie in ’n bondeltjie lê en huil wanneer iemand iets beledigend los in ’n comment op TikTok nie. Sê maar vir myself “weet hulle even dis ’n persona?” as ek iets leliks lees, so asof ek nie al maande aan daai persona gewerk het nie, siestog.

ANDRÉA: Wie is die ideale/tipiese @alettafrancina-follower en Tannie Aletta-fan vir wie jy inhoud skep?

TANNIE ALETTA: Ek is elke keer geskok met my diverse following – daar is genuinely 70-jarige tannies wat my prys in my DM’s en 7-jarige kinders. Ek weet nie vir wie ek skep nie, wat bietjie tricky kan wees — veral met my gevloekery. Ek sê altyd ek moet minder vloek want ek is basies Ghoempie, maar dan vloek dit net al aan in my vireos.

ANDRÉA: Hoe kan aanlyn personalities hulle platforms gebruik om kwessies soos rassisme, ongelykheid en stigmatisering in die Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse) konteks aan te spreek?  

TANNIE ALETTA: Dis nie iets wat mens eintlik ooit sien nie. Ek was onlangs by ’n konsert van Karen Zoid en sy het iets van rassisme genoem en jy kon ’n speld hoor val. Die Afrikaanse gemeenskap is maar effe (kak baie) backwards en verwag nie sommer dat die kunstenaars waarna hulle opkyk iets gaan sê wat dalk controversial is of hulle gaan challenge nie. Ek sê en skree en gaan tekere al sien ek hoe die mense unfollow. Ek het eerlikwaar nie rassiste en backwards bietse nodig in my DM’s nie.

Ek was onlangs by ’n konsert van Karen Zoid en sy het iets van rassisme genoem en jy kon ’n speld hoor val. Die Afrikaanse gemeenskap is maar effe (kak baie) backwards en verwag nie sommer dat die kunstenaars waarna hulle opkyk iets gaan sê wat dalk controversial is of hulle gaan challenge nie.
— Tannie Aletta

ANDRÉA: Hoe voel jy oor Afrikaanse kuns en kultuur? Hoe voel jy oor Afrikaans en Afrikaans-wees in ’n moderne Suid-Afrika?

TANNIE ALETTA: Nataniël is al die Afrikaanse kuns en kultuur wat ek consume, maar dit wat hy bied, is genoeg vir my spirit, die res move my nie eintlik nie.

ANDRÉA: Jy was in Paarl op skool by Laerskool Noord-Eind en Hoërskool Labori. Kan jy meer vertel oor jou ervarings van die Afrikaanse skoolsisteem?

TANNIE ALETTA: Ek dink ek het die perfekte persoonlikheid gehad vir homeschooling. Skool was nie vir my nie. Kon letterlik nie wag om klaar te maak nie. Ek het vir lank gedink ek is daai akademiese meisie en het vas geglo ek gaan ’n IT (information technology) girl wees. In die proses het ek myself lelik in die voet geskiet en nooit kuns gedoen nie. Ek was ook in ’n tegniese hoërskool wat nou glad nie gehelp het nie. Dit was bloot net ’n fase in my lewe, en glad nie iets waaroor ek terugdink met ’n traan in myne oog nie.

ANDRÉA: Jy is ’n single, 24 year old, independent woman. Jy het kort ná Valentynsdag ’n video geplaas waarin Tannie Aletta na ’n man soek. Dink jy daar word te veel druk op jongmense geplaas om in verhoudings te wees? (Is dit ’n Afrikaner-ding?)

TANNIE ALETTA: Ek vergeet partykeer ek is 24 en het nog baie tyd vir liefde vind. Die meeste van my maats is in hulle 30’s en alreeds getroud. Ek spot eintlik in my videos want ek weet dit is relatable om oor te grap. Ek is regtig nie gejaag nie – ek is anyways so content en happy met myself en my space dat ek nie nou net gaan settle vir iemand wat nie al die boksies tick nie.

ANDRÉA: Is jy bekommerd oor die klimaatkrisis en drastiese afname in omgewingsdiversiteit? Is dit iets wat jy in jou lewe beklemtoon? Hoekom en hoe?

TANNIE ALETTA: Elke twee maande kyk ek ’n nuwe dokumentêr en voel ek moet die wêreld verander, dis nie so eenvoudig soos dit nie though. Ek probeer my bes, ek thrift als van klere tot decor tot enigiets en probeer goed recycle en repurpose. Ek lewe nie waste free nie, want dit is onmoontlik. Ek dink as ons almal net ons bes probeer met die klein goed en ons winkelsakkies in driehoekies vou vir later sal dit al klaar ’n moerse verskil maak.

ANDRÉA: Jy verskyn onlangs in twee advertensies vir LekkeSlaap, en jy bied gereeld kompetisies in samewerking met Du Toitskloofwyn aan. Dis beslis tekens van sukses vir ’n aanlyn content creator en/of influencer. Maar betaal jou werk as Tannie Aletta die huur? Dink jy aanlyn content creators en creatives in Suid-Afrika kan dit maak sonder om ’n day job te hê?

TANNIE ALETTA: Ek voel in my waters dat hierdie my werk gaan wees binne die volgende paar maande, maar ek moet dit seker nie hardop sê nie. Ek dink ek het al genoeg tyd in die troue-industrie spandeer en ek is reg vir die volgende ding, so ek probeer my bes en kyk waarheen hierdie ding my vat. Ek weet ek gaan nog troues skiet vir die volgende jaar of twee, maar ek hoop om van 2023 uit daardie industrie te beweeg en voltyds die mense te laat lag.

ANDRÉA: Komedie as ’n coping mechanism. Wat is jou gedagtes hieroor?

TANNIE ALETTA: Komedie is ’n goeie distractor, vat jou koppie affie dinge wat pla. Ek dink mense wat deur heavy shit is, het heel beslis ’n beter sense of humour. Ek is deur ’n terrible jaar, en die content wat ek voor my trauma versus nou maak is WÊRELDE apart. Ek het letterlik 10 keer snaakser aan die anderkant uitgekom, ek sweer. 

ANDRÉA: Wat lees/kyk/luister jy op die oomblik? Is jy ’n series- of boekmens? Verkies jy die classics of die nuutste, jongste werke? Is daar enige iets waarna jy gereeld terugkeer?

TANNIE ALETTA: Ek spandeer ure op TikTok, maar kan vir die lewe van my nie commit met ’n bleddie series nie. Die laaste ding wat ek gekyk het, was Tali’s Baby Diary – dit was amazing. Ek lees nooit. Kannie. Koppie willie. As ek nie op TikTok is nie, luister ek ’n plethora van nonsens-podcasts wat ook nie veel beter is nie. Ek consume basies net nonsense, maar dis ook okay, daar is nog baie tyd om te leer oor belangrike dinge. Ek sien wel uit na die nuwe seisoen van The Handmaid’s Tale – dis die beste series wat ek nog ooit gekyk het.

Ek spandeer ure op TikTok, maar kan vir die lewe van my nie commit met ’n bleddie series nie. Die laaste ding wat ek gekyk het was Tali’s Baby Diary – dit was amazing. Ek lees nooit. Kannie. Koppie willie.
— Tannie Aletta
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Volksmoeder Tannie Aletta Francina de Kock gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand