Die nuwe ouens op die blok, die nuwe ouens in jou kop: Uncle Spike
'The forest is good at understanding me'
“Welcome to the forest where the air is clean… the trees form a canopy and falling leaves adore just living statically. I think the city’s mad at me, I think we’ve got a different perspective of living lavishly.” Só sing Uncle Spike in hulle crowd favourite, ‘Bacon Avo Egg’, ietwat van ’n nuwe ballade vir niks-doen, zen-wees.
Ek gesels met die band oor hulle rol in jong alternatiewe Suid-Afrikaanse musiek.
“This is probably the last time we’ll see each other like this,” sê ’n lang maer man ’n paar weke gelede kalm van die verhoog af vir ’n klein skare in Stellenbosch. Sy saksofoon hou hy soos ’n groot hond in sy arms vas. Voor hom breek bierbottels soos mense mekaar onder Aandklas se lae dak vertrap om by die verhoog uit te kom; om byna die saksofoonman se verbleikte skoenveters los te rafel.
“Ons gaan in elk geval… Ons almal gaan in elk geval doodgaan,” skree Francois van Wyk, hoofsanger van Uncle Spike oor die mic wat saam met hom vorentoe en terug wieg.
Michael Burke (“The Real Mike Burke”, luidens Instagram) was reg. Kort daarna kondig pres. Cyril Ramaphosa die landswye lockdown aan. Dit is, inderdaad, die laaste keer dat ons mekaar só gesien het.
Van nou af sal ons van pre- of post-Covid-19 praat, lees ek vandeesweek in ’n artikel wat aangee dat die mensdom ’n “retail apocalypse” in die oë staar. Die virus sal ons laat besef wat werklik belangrik is, sê die skrywer. Het Uncle Spike ― vyf-man band wat in 2018 met hul debuutalbum I in the Sky ’n stoel nader getrek het om agterstevoorom by die tafel van Suid-Afrikaanse alternatiewe musiek te sit ― lankal reeds besef wat werklik saak maak?
In Oktober 2017 speel Uncle Spike vir die eerste keer in Stellenbosch se berugte Bohemia. Mense bondel by die deur om deel van die pasgebore revolusie te vorm; vir die band word ’n droom bewaarheid. Bohemia is immers die heilige graal.
Die gloriedae van MK, Heuwels Fantasties, Van Coke Kartel, aKing, Dirty Skirts, Fokofpolisiekar en Zinkplaat het Marcel van der Veen, kitaarspeler, inspireer om live shows te speel. “Om ’n plaaslike band te sien optree, praat met jou as jy weet dat hierdie ouens by die pad af bly,” sê van der Veen.
En Uncle Spike ― die nuwe ouens op die blok; die nuwe ouens in jou kop ― bied presies dit. Die band is jonk en rebels, en tog bring hulle musiek ’n onverwagse rustigheid, ’n vertroudheid.
“Dis ’n new age generation station ― emancipation, liberation, inflation,” lui ‘Nuwe Ou op die Blok’, een van die snitte op I in the Sky.
Soos die dae op die lockdown-kalender tydsaam omslaan, is daar ’n wêreldwye ontworteling van dít waaraan ons gewoond is, waarmee ons onsself besig hou, wat ons belangrik ag en waar ons in sosiale hierargieë inpas. Die skarniere wat klas, prioriteite en persoonlike oortuigings in verskillende vertrekke afsonder, word deur die virus ongedaan gemaak.
“Just take care of yourself,” praat-sing Burke in ‘We Don’t Even Know’, ’n sagte, liriese song op die EP met dieselfde titel wat stadig opbou tot ’n instrumentele agtergrond vir die saksofoon wat so eie aan Uncle Spike is. Die vraag, dus, of Uncle Spike ’n oplossing het vir (of ten minste die herkenning van) ’n fluisterende probleem wat vir menigte moeiliker raak om aan te hou om oor die hoof te sien, word duideliker beantwoord met die ontvou van die lirieke van elke song.
“Ons probeer altyd om iets nuuts na die verhoog en tot ons musiek te bring,” sê Van Wyk. “So, na elke oefening, elke show en elke album kan jy ’n nuwe Spike verwag.”
En werklik, elke album ― elke song, elke musiekvideo ― lei sy luisteraars na nog ’n bestemming.
Die wenresep is eenvoudig. Volgens Paul Twekye, rapper en baskitaarspeler, behou die band die fundamentele kern van Uncle Spike deur te eksperimenteer ― en dit te geniet. Die ouens skryf net musiek en “jam it until we decide if we should record it or not”.
“P A U L, I E T, My name is Twesigye Twekye and you're about to know me,” stel Twekye homself in ‘Erection Song’ voor. “Hit the books, coz my dad says I need that degree coz man he doesn't give a fuck about my poetry.”
“It's Pauly T on the Muthafuckin microphone,” stel Van Wyk hom later aan die woord in ‘Bacon Avo Egg’. En wanneer Pauly T voor die mic inskuif, luister jy. “They wonder if it hurts my learning, I say not a bit. I don't hurt a fucken soul, I just smile and sit, but propaganda got them thinking that I'm not legit,” sing hy in ‘High’.
Lood van Niekerk, dromspeler, meen dit is Uncle Spike se informele benadering tot musiek wat die band “different” maak. Vir hom is dit ’n groot eer dat mense langs die pad by hierdie groep vriende aangesluit het.
“The essence of the Spike is to be carefree, sticking it to the man, and not taking yourself too seriously,” sê Van Niekerk.
Die ouens is jonk en hulle leer nog, en die idee dat die ouer garde dikwels hierdie leerkurwe as tydmors afmaak, word menigmaal in hulle lirieke vasgevang.
“I was born in ’97 so I'm young as hell, they’re confused coz a laitjie can rap so well,” open Twekye in I in the Sky met ‘High’. En herinner weer in ‘Bacon Avo Egg’: “Born in ’97 so I'm still a fuckin laatie”.
“Ons wil musiek met ’n boodskap oordra, maar ons is nog in die proses daarvan om te leer ken presies wat ons wil sê. Hopelik maak ons ’n blywende indruk op mense en maak miskien die wêreld ’n beter plek in die proses.” Só sê Van Wyk oor Uncle Spike se musiekskryfproses.
Die band is ’n smeltkroes van verskillende ervarings in Suid-Afrika, wat geroer en bewerk word om die klank en lirieke van Uncle Spike vorendag te bring, verduidelik Burke.
Bou Uncle Spike op dit waarmee kunstenaars voor hulle begin het, of skep hulle iets nuut?
“We are not Polisiekar, Heuwels, or whatever. We are the Uncle and the Spike,” sê Van der Veen.
Tog bou die band op die sin van gemeenskap in die Suid-Afrikaanse alternatiewe landskap. Daar is geen kompetisie nie; Uncle Spike vergelyk hulself nie met ander bands nie; en jong nuwe kunstenaars ondersteun en moedig mekaar aan.
“I would say we are part of the DIY ‘we cannot afford that shit’ wave,” sê Van der Veen, en verduidelik dat hierdie benadering rou en opreg is. Dít is wat mense mis. “They want the real music, man.”
Burke meen dat die “first wave” van alternatiewe Suid-Afrikaanse musiek die grondslag vir die “second wave” gelê het; die “African renaissance in alternative music”.
“As the young bands of South Africa, we live in the legacy of the bands that broke us free, gave us the courage to stand against traditions that our parents’ generation enforced upon us and allowed us to feel empowered to further experiment with music,” sê hy.
Noudat die fondament gelê is, is dit tyd om met nuwe klank en idees te eksperimenteer. Die band probeer om deur hulle musiek die diversiteit van die land te weerspieël in terme van verskillende tipes klank wat op die oomblik in alternatiewe Suid-Afrikaanse musiek bestaan.
Ná Just Take Care of Yourself in 2019 uitgereik is, werk Uncle Spike nou aan hulle derde album, en hulle beplan om dit teen die einde van die jaar vry te stel. Verwag ’n splinternuwe interpretasie van Uncle Spike se kenmerklike rock/punk/funk/reggae (tesame met die getroue saksofoon), gebou op ’n moderne vertaling van die MK-gloriedae.
Luister op Apple Music of Spotify, en kyk op YouTube.