Klyntji

Voorleggings/pitches

Ons is op soek na bydraers


Ons fokus

Ons fokus op die deel en bespreek van diverse en progressiewe kuns en kultuur. Dit skakel aan by identiteit.

Ons kategorieë is Film & Foto, Kuns, Literatuur, Mode, Musiek, Nuus, Omgewing, Opinie & Essays, en Opvoer & TV. ’n Nuwe reisafdeling word ook uitgebrei.

Media- en omgewingsake geniet aandag by Klyntji, sowel as geestesgesondheid. Ons is ’n ingeligte queer-vriendelike spasie.

Stories van Suid-Afrika en die diaspora geniet voorkeur. Ons perspektief is egter globaal.

Klyntji is onder meer ’n platform waar alternatiewe stories wat nie noodwendig in ander media aandag geniet nie, gepubliseer kan word.

Klyntji publiseer soms versamelings van gedigte, maar nie kortverhale nie, aktuele essays wel.

Onderhoude, verkenningstukke of features, korter nuusstories en resensies word dikwels gepubliseer.

Klyntji poog om by te dra tot die dokumentering van kultuur, ook om argiefmateriaal en akademiese navorsing op te delf vir groter toeganklikheid en breër verwysing.

Gereelde bydraers kan in aanmerking geneem word vir redaksionele posisies.

Taal en styl

Klyntji is nie hoogheilig oor taal nie, maar poog om deurdagte en gehalte-inhoud te deel.

Klyntji word in alle variante van Afrikaans gepubliseer. Aanhalings en stellings in ander tale word aanvaar. Goue riglyn: skryf soos jy praat.

Klyntji se inhoud word geredigeer. Stylbesluite word intern deur die redaksie ontwikkel. Hier is ons werkende stylgids.

Stories moet breedweg aanskakel by Klyntji se aanslag en trant.

Visueel-gedrewe

Klyntji poog om treffende en goeie kwaliteit foto’s/video’s saam met elke storie te publiseer. Skrywers word aangemoedig om voorstelle vir grafika te maak wat by die betrokke storie aansluit.

Fotograwe, illustreerders, videograwe, kunstenaars: Oorspronklike foto en video elemente kan ook vir Klyntji vervaardig word. Stories wat hoofsaaklik uit visuele materiaal bestaan kan ook voorgestel word. Stuur vir ons jou idee, voorgestelde spanlede vir modestories en ’n mood board/samples.

Lengte

Van vars kort nuusstories tot breedvoerige verkennings, poog Klyntji om bondig tog volledig met stories om te gaan. Substansie is belangrik.

Ons behou die reg voor om aan stories te sny, uitbreidings te versoek of om tekstuele aanpassings te maak in oorleg met die skrywer.

Keuring

Alle finale bydraes is onderworpe aan redaksionele keuring ingevolge kwaliteit en relevansie.

Betaling

Danksy die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis (TAKKE) het Klyntji tans ’n (beperkte) begroting om skrywers, foto- en videograwe en illustreerders te vergoed. Betaling is onderworpe aan Klyntji se betalingsbeleid en word gemaak aan die einde van die maand waarin die storie verskyn.

Toegang tot produksies en geleenthede vir dekking kan moontlik deur akkreditasie gereël word.

Beleid en wettige vereistes

Vir meer inligting, sien ons redaksionele verklaring en wettige stipulasies.

Voorstelle, bydraes en navrae

Kort storie pitches wat ’n onderwerp en aanslag uiteensit word verwelkom.

Stuur alle voorstelle, bydraes en navrae aan redaksie@klyntji.com.

Ons Klyntji zine

Die Ons Klyntji zine word apart van Klyntji.com uitgegee. Kyk hier vir riglyne oor bydraes aan hierdie jaarlikse gedrukte publikasie.