Ons Klyntji zine voorblaaie: Toast Coetzer gesels met Willem Samuel
Afrikaans vir die 21ste eeu
Willem Samuel, gebore in 1983, in Kaapstad. Toast Coetzer, gebore in 1977, in Cradock. Ons Klyntji, gebore in 1896, by hook or by crook. Toast – een van die redakteurs van die Ons Klyntji zine – gesels met kunstenaar Willem Samuel oor sy kunswerke wat oor die jare op die voorblad van Ons Klyntji verskyn het.
Om ander voorblaaie deur Arno Kruger te sien, gaan kyk hier. ’n Nuwe uitgawe van die zine verskyn in 2022, geborg deur kykNET: hou Klyntji dop vir meer inligting om inhoud vir die zine te submit (jy kan egter regdeur die jaar inhoud stuur na sendusyourpoems@gmail.com).
Gaan loer ook na die digitale Ons Klyntji-argief wat nog aangevul word, en as jy meer wil leer oor die storie van Ons Klyntji (en Klyntji.com) kyk na hierdie tweedelige feature deur Mila de Villiers. Ons Klyntji zine verskyn jaarliks in drukvorm en Klyntji, dié webjoernaal, publiseer regdeur die jaar.
Daar is ook opname-tunes gemaak in samewerking met vorige jare se Ons Klyntji bydraers deur Joe Botha: gaan luister na Klyn Deuntjies jaargange 2019, 2018, 2017 en 2016.
TOAST: Kom ons begin by die heel begin. Hierdie cover, wat dateer uit November 2006 (Ons Klyntji, jaargang 110). “Voorwaarts, krygers!” staan hier, en daai ou sê: “Gnn... Assimileer!” Dit lyk na konflik tussen robot invasion en Voortrekker met ’n voorlaaier. Kan jy dit nog onthou?
WILLEM: Ja-nee, dis ’n classic Samuel-cover! Dit het nog daai hoërskool-vibe van my, die robots en Anglo-Boereoorlog-krygers. Dit was sommer net fun om te doen; ek het dit nie ge-overthink nie. Dit was ’n jaar ná universiteit, so ek was so 22 of 23. Ek het kuns geswot en hierdie beelde was die tipe goed wat ek nie kon teken in my kursus nie. Om ’n Ons Klyntji-cover te doen, was ’n golden opportunity om die goeters te teken wat vir my funny was. Ons Klyntji het hierdie old school vibe gebring. Die naam “Ons Klyntji” het my laat voel ek moet iets subversive doen — die Afrikaner versus die digital age. Al het ek dalk nie toe so diep daaroor gedink nie...
Al die covers was vir my nog altyd die opportunity om te, nie om te flex nie, maar om te wys wat kan jy doen met jou kuns, met teken. Jy het ’n blank slate wanneer jy ’n cover teken. Dis eintlik snaaks om nou daarna te kyk en te sien dat ek dadelik na iets comic book-agtigs en satiries gegaan het.
TOAST: Ek en Erns (Grundling, ander Ons Klyntji-redakteur) het gewoonlik nie veel voorgeskryf oor wat ons soek vir die cover nie. Hierbo staan “Afrikaans vir die 21ste eeu,” en jy’s reg, die cover het so Beyond 2000-gevoel. Dis so ’n paar boere wat sê not ’n donner wanneer die alien-robot invasion kom en sê hulle moet assimileer... Jy gaan veg tot die bittereinde!
WILLEM: En jy weet nie aan wie se kant jy is nie! Is jy aan die robotte se kant, of die konserwatiewe boere s’n? You don’t really know. Die cover is met die hand geteken, wat harde werk was. En dit lyk bietjie anders as my meer onlangse werk. Ek het met pencil gesit en teken op ’n stuk papier. So ek is ’n bietjie embarrassed, die gewere is heeltemal verkeerd, dis nie Mausers nie. Ek het maar net ’n geweer uit my kop uit geteken.
TOAST: Hoe verskil iets soos hierdie ontwerp – waar jy net gevra word om ’n stand-alone cover te maak – van byvoorbeeld jou eie comics (die Mengelmoes-reeks, onder andere) waar jy beheer het oor die hele projek? ’n Ons Klyntji-cover moet ’n hele klomp diverse bydraes bekendstel aan die leser. Met jou eie projek beheer jy natuurlik wat in die res van die boekie ook verskyn.
WILLEM: Ja, met Ons Klyntji is jy bewus van die feit dat jy die cover maak vir ander mense se werk. Dis hulle cover ook. Veral met meer onlangse covers was die uitdaging altyd om iets van die zeitgeist van die tyd vas te vang, wat daai jaar gebeur het, of wat vir my reg voel. Trying to capture the moment, die tyd waarin dit geskep is. Die kans is goed dat die cover dan sal resoneer met wat in die res van die boekie is, selfs al het ek geen idee wat in die mense se gedigte staan vooraf nie. Jy hoop jy kry dus ’n tema of beeld wat dit opsom.
Ek dink waar dit van my eie werk verskil, is dat dit meer spesifiek is, terwyl jy met ’n Ons Klyntji-cover wyer gaan – al wil jy steeds ’n spesifieke thought of gevoel nail, maar dis nie particular tot jouself nie. Ek is bewus dis ’n cover vir almal, en nie net ’n cover vir myself nie. Dit moet spesifiek generic wees. Nie plain nie, maar verstaanbaar en leesbaar, maar steeds inviting. Iemand moet daarna kyk en dink, hier is iets interessants aan die gang.
TOAST: Ja, want jy kan Ons Klyntji seker baie meer slick ontwerp en op ander maniere benader. Goed, volgende een, November 2007 (jaargang 111).
WILLEM: Dis definitief een van my favourites. Ek kan nie onthou of ek daai artwork spesifiek vir Ons Klyntji geskep het destyds nie.
TOAST: Ek kan ook nie onthou nie... Hoe het ek en Erns destyds met jou connect, kan jy dit onthou?
WILLEM: Ek het ’n gevoel ek was nog op Stellenbosch gewees, of dalk was dit net my eerste jaar uit universiteit. Ek het nog na jou flat gegaan in Vredehoek, en julle het my ge-brief.
Daai cover was dalk my eerste Photoshop submission. Die image is met die hand gedoen, maar daarna het ek op Photoshop verder gewerk aan die skrif, die typeface, en in die lug bo het ek ’n fade ingesit. Dit was early days van my digital assimilasie. Die band en die crowd was een image, en ek het dit ingescan en toe die raam om geteken, die Ons Klyntji-masthead font ingesit, die glow-effek bo bygesit. Dit was die begin van my blootstelling aan die digital wêreld. Ek het besef dit gaan my lewe makliker maak, which it did.
Dis seker een van my niceste images wat ek in daai tyd gemaak het, in terme van my eie ontwikkeling. Maar dit het steeds die cartoony vibe daaraan, maar donker. Ek hou maar by daai tema. Was daar nie ook musiek by daai uitgawe nie?
TOAST: Dis reg, dis die enigste Ons Klyntji wat ooit met ’n CD uitgekom het. Drikus Barnard het dit destyds saamgestel, hier is amazing goed op die CD, soos Nul, Bittervrug, Bacchus Nel, Piet Pompies & Esmé Eva Kwaad, Stean & Die Crankshafts, Kabous Verwoed, Brixton Barnard, Ronél Nel, Insek, Paul Riekert, Piet Planter... So ons moes jou seker brief voor die tyd dat musiek ’n rol speel in die uitgawe, sodat jy dit kon inwerk in die cover image. Maar kan jy onthou hoekom jy ’n dassie ingeteken het?
WILLEM: Dit was jou skuld! Jy’t gehou van dassies. Jy’t my vertel van jou fassinasie met dassies. Soos gewoonlik het ek my eie lewe gebruik as bron van inspirasie, so ek het my band geteken en toe sit ek maar die dassie in die crowd...
TOAST: Ek dink ek weet hoekom. In 2007 het ek en Erns met die mense by OppiKoppi begin connect en die eerste projek wat ons saam met hulle gedoen het, was nie ’n Ons Klyntji nie, maar ook ’n klein boekie, Das Kapital, wat geheel en al oor dassies gegaan het omdat daai jaar se OppiKoppi-tema “The Way of the Dassie” was. So 2007 was die jaar van die dassie-zeitgeist, en hierdie dassie dra selfs ’n das! Nog iets wat ek nou raaksien op jou cover is die selfoon, en slimfone feature ook nogals prominent in jou meer onlangse werk. Maar hierdie een kan jy sien is nog een van daai slide-phones wat jy destyds gekry het. Was die band ’n spesfieke een, en die venue, is dit Mercury Live of iewers?
WILLEM: Dis definitief Mercury Live en dis definitief my band – Black India. Daai foon, ek het ook so ’n foon gehad, en die maklikste manier om iets te teken is om te teken wat om jou is. En dis my eie band, want ek het gedink ons is cool genoeg om dit te warrant.
TOAST: Watter een is jy op die prentjie?
WILLEM: Ek is die bassist, Nick is die guitarist en Justin die drummer is agter. Dis ’n tipe version van my, I guess. Is dit ek? Is enige prentjie wat ek van myself doen, rêrig ek? Dis die vraag.
TOAST: Daai vraag is te groot vir die scope van hierdie frivolous gesprek...
WILLEM: Die bored girl wat daar voor sit op haar foon, dis ook ek. That’s who I am. That’s the person I feel the closest to. Aan haar of die dassie.
TOAST: Ek het vooraf somehow net geweet hierdie is Mercury Live want ek weet nie, dalk is dit hierdie uitgepaaste ou in die agtergrond... Ná 2007 gaan 10 of 11 jaar verby voor jy weer ’n cover vir ons doen. Teen daai tyd het ons nou geskuif van A5 na A6 in grootte vir die zine. Jy het nou-nou van Photoshop gepraat, maar dis nou 10 jaar later, so in daai tyd sou baie verander het wat die tegnologie betref. Hoe het jou werksmetode verander teen die tyd dat Ons Klyntji 2018 (jaargang 122) verbyswaai?
WILLEM: Daai image is alles digitaal. Ek gebruik ’n Wacom Sketchpad om te teken. Die interessante ding is daar’s ’n hele lang tyd as jy begin digitaal werk, wat jy probeer om dit nie digitaal te laat lyk nie. Dis die hele game, eintlik. Toe hierdie cover uitgekom het, het ek dit half reggekry. Daai dotjies is ’n styl wat mense in comic books gebruik. Hulle het altyd letterlik dotjies uitgesny en geplak op die blad, op so ’n see-through film, om daai texture te skep. Nou is dit so maklik om te doen in Photoshop. So dis fully digitaal maar meer gemaskerd, op ’n manier. Die simulation is complete, I could say.
TOAST: Wat het jy nou weer hier uitgebeeld? In 2017 het ’n soortgelyke historiese huis afgebrand – dit was die digter Totius se huis. Of het jy toevallig ’n brandende Kaaps-Hollandse huis geteken?
WILLEM: Ek dink dit was ’n coincidence, maar ek kan nie lekker onthou nie. Ek onthou die historiese gebou wat gebrand het. Maar die idee met die cover was “die einde van Afrikaans, maar ons gaan ook marshmallows braai terwyl die vuur brand”. How can I make the destruction of something funny? Iets wat brand, maar ons maak marshmallows. Die huis is eenvoudig iets wat ek uit my kop uit kan teken, ’n Kaaps-Hollandse huis, eerder as wat ek daai spesifieke huis ge-google het om te kyk hoe dit gelyk het. Ek wil dus amper sê ek het dit geteken en toe hoor ek eers daarna van die historiese huis wat afgebrand het.
TOAST: En dit hoef nie definitief connected te wees nie. Die simboliek van die Kaaps-Hollandse huis sê klaar iets. ’n Ou, koloniale deel van Suid-Afrika se geskiedenis – die dak brand.
WILLEM: Ek was so stoked om weer die covers te doen, so ek was bewus van wat om my gebeur, wat die vibe is, en het dit ge-channel in die artwork.
TOAST: En dis al wat ons ooit van enige bydraer tot Ons Klyntji vra. Mense wil baie keer weet wat die tema is, maar daar is nooit ’n tema vooraf nie. Die tema, of temas, openbaar hulself soos die zine saamgestel word, en al die vele stemme in die zine help daai tema skep. Al wat ons vra, is dat jy kyk, luister en voel na wat om jou gebeur, en dit channel in jou werk in. Iets wat goeie artists in elk geval doen.
WILLEM: Ja, die tema is daai jaar, dis al.
TOAST: Ja, die tricky ding is seker om iets te skep wat resonate op meer as een level, of dit nou kunswerk of gedig is. Jy kan ’n great, literêre, gekunstelde gedig skryf en instuur maar dit beteken nie noodwendig ons gaan dit plaas in Ons Klyntji nie, want ons – en dis ’n hele groep mense wat help lees en keur aan bydraes – worry nie oor hoe tegnies die gedig is nie, daar moet net ’n waarheid in die gedig of storie wees, selfs al sukkel die skrywer om dit reg uit te druk. Jy moet net iets onverwags sê in jou gedig. Daarom is die vooraf-tema nie nodig nie: just be true to yourself. En dit kom baie sterk uit in jou covers.
WILLEM: Dis ’n bietjie dieselfde met ander covers in die laaste ruk van my career. Met daai eerste cover, die boerekrygers met die verkeerde gewere, jy kom agter daar’s ’n angstigheid om korrek te teken. Maar meer onlangs, teen die tyd dat hierdie cover gedoen is, besef jy niemand gee om dat jy kan teken nie, dit gaan nie net oor die kwaliteit van die kunswerk nie, maar oor wat dit vasvang en uitbeeld. Dit moet iets kan kommunikeer, maar die tekentegniek maak minder saak.
TOAST: Nog iets waaraan mens moet dink met ’n cover vir ’n zine, of boek of tydskrif, is dat jy die zine se naam bo-aan het. Die naam “Ons Klyntji” en die artwork praat dus noodgedwonge met mekaar, dis nie asof die artwork in isolasie hang in ’n galery waar jy net die prentjie, sonder die “Ons Klyntji” sien nie.
WILLEM: En die size van Ons Klyntji is ook ’n challenge, want met ’n groter size sou jy meer ruimte hê, maar met die A6-size moet jy mooi dink, jy kan nie te veel detail of nuance insluit nie, it needs to be almost instantly readable. Dis hoekom ek mal is oor die swart en wit-styl wat Ons Klyntji gebruik, want dit maak die visuals soos teks. Nes jy letters sien, word die visuals ook ikonografie op ’n manier. It reads as fast as a word. Dis home turf vir my, Ons Klyntji-covers. Dis my gemaklike posisie in die krieketspan.
TOAST: Ek is nog altyd ’n swart en wit-fan, ook van fotografie. As ons skielik ’n kleur-cover doen, sal dit seker meer aandag trek, maar swart en wit skep identiteit vir die zine. In die onlangse paar jaar het ons die font size binne begin standaardiseer, want ons het famously (in 2019) al ’n mikroskopiese klein font gebruik... Maar swart en wit gee ’n samehorigheid aan al die covers, van tien of meer jaar terug tot nou. Right, 2019 (jaargang 123), met sy dekadente skoolwapen...
WILLEM: In the end it’s my least favourite, selfs al het ek dalk die langste aan hom gewerk. Die idee was om ’n paspoort te maak; dit het daai jaar gevoel asof almal net wou fokkof, wou waai uit die land uit. So ek het gevoel die cover moet sê jy kan ook escape deur kuns, en daar is ander maniere van escape as om net land-uit te waai. Die idee was lekker, en die size van Ons Klyntji is ook dieselfde omtrent as ’n regte paspoort s’n. Maar paspoort-design, daar is nie veel wat jy daarmee kan doen nie, en ek het nou met skedels en goed gewerk... Ons praat van iconography en hoe jy goed lees. So ek dink hier lees jy die skedel, en nie noodwendig die paspoort nie. Ek is dus nie seker of dit suksesvol was of nie...
TOAST: Ek dink dit was ook ’n jaar waar ons jou meer as die gewone drie dae tyd gegee het om ’n cover te doen, en dat ons dalk vroeg tydens selection gesien het dat daar heelwat bydraes is wat sou pas by die paspoort-tema. Maar dis slim hoe jy dit omgedraai het. Ek onthou toe ek jonk was in die 80’s, toe sigarette nog oral geadverteer was, Peter Stuyvesant het so slogan gehad: “Your passport to smoking pleasure,” die advertensies het altyd mense op ’n seiljag gewys, blou agtergrond. “Jou paspoort tot plesier,” jou pakkie Stuyvesant, terwyl hierdie Ons Klyntji jou paspoort is tot kreatiwiteit. Hierdie bitesize ding, maar vol dinge, 144 bladsye in 2018 (sedert 2022 is dit 152 bladsye), dis met ander woorde ’n maxi paspoort. Hierdie design het great gelyk op die T-shirt wat ons gemaak het; die groter size laat dit dikwels ook sterker vertoon.
WILLEM: Ek dink die probleem was dat julle my te veel tyd gegee het vir hierdie cover...
TOAST: Haha, dalk! Met die cover vir Ons Klyntji 2020 (jaargang 124) het ek ’n tipe faux pas gemaak, want toe jy hierdie cover vir my email toe moes ek vir jou vra, maar is dit klaar? Op die oog af, ten minste, is hierdie artwork net enkele penhale, baie anders as die vorige jaar s’n wat baie meer detail, kontras en dies meer het. Ek wonder toe, maar gaan jy nog verder teken hieraan, of is this it? Maar hierdie illustrasie het eintlik een van my favourites geword en die meeste reaksie gekry van mense. Dit het ’n baie emosionele impak, baie anders as vorige covers.
WILLEM: Dit was obviously 2020 gewees, en om nou iets met skulls, of iets donkers, evil en heavy te teken, het regtig vir my redundant gevoel. Almal was besig om te deal met die dood op een of ander manier, of met isolasie. Ek het net gevoel die cover moet iets positiefs wees, hoe dit ook al nou ’n artist grief om ’n positive message uit te reik en ’n “we are the world”-tipe ding te doen. Ek wou net iets ligters doen, so ek het begin met die idee om ’n wit agtergrond te gebruik eerder as ’n swart een. Dan het ek gedink aan goed wat ek gemis het daai jaar, en om mense hugs te gee, was een daarvan. Dis iets wat ek vir maande nie gedoen het nie. Daai fisiese kontak het ’n mens amper heeltemal ontbreek in daai tyd. Die skets het redelik vinnig gekom en ek wou nie te veel daaraan peuter nie, ek was bang ek sal iets verloor. Ek wou die idee van ’n embrace gee, eerder as ’n embrace tussen twee spesifieke mense. You can also give it too much meaning. Dis nie ’n Joe Biden-hug nie. Dis nie ’n Weinstein-hug nie, dít lyk anders. As dit nie vir 2020 en Covid was nie, het ek miskien so ’n cover gedoen, maar ek het besluit, let’s do something nice. Iets positive, fresh en uplifting en die wit agtergrond just gave it that space and lightness. Like a breath of fresh air. Want selfs ons suurstof was besoedel in 2020, so let’s just clean it up a bit. Ek dink my eerste idee was om kieme te teken, kieme in die lug, maar toe dink ek nobody needs that. Niemand het ’n reminder nodig dat dinge kak is nie.
TOAST: Daar is soms ’n meer obvious ding om te teken, maar dis nie altyd iets wat sal last nie. Ek dink ook die feit dat dit lyk asof dit vinnig gedoen is, gee dit ’n broosheid, ’n kosbaarheid. Jy teken ook dikwels in jou eie werk, jouself en jou vrou, en hierdie figure lyk ook soos julle, is ek reg?
WILLEM: Ja, dis my manier om generic te wees, is om myself te teken. Dit klink soos ’n contradiction maar as ek nou ’n generic couple moet teken, moet ek dink aan hoe dit gaan lyk, met ’n design vorendag kom, hoe lyk die vrou, hoe lyk die twee karakters, oor al hierdie goed moet ek dink en dan word dit iets anders. My eie verwysingsraamwerk is op ’n manier oper en makliker om mee te werk. Ek het gedink, moet ek die mussie afhaal, want dis nogals baie spesifiek hoe ek aantrek, ek was nervous oor mense se reaksie. Maar mense sien die hug, nie die karakters nie. Dit was ’n risk, maar dit het gewerk.
TOAST: En in die tyd dat die cover geteken is, het ek ’n blok en ’n half van julle af gewoon in Vredehoek, so ons het mekaar nou en dan in die straat gesien. So vir my is jy en Marie-Louise herkenbaar, maar obviously vir die meeste mense nie. Ook, omdat ek iets weet van julle privaatlewe, dis ook rondom die tyd van die geboorte van julle kind geteken, of hoe?
WILLEM: Ja, dis ’n tipe koebaai, die einde van ’n era-tipe image. Wanneer ek weer ’n image van ek en my vrou teken, dan is ons ’n gesin, want dan is ons baba by, en that has been what’s happening in my outobiografiese werk. Dis die laaste image van net ek en my vrou saam.
TOAST: Daar is ook ’n tradisie van cartoonists om hulself te teken. Ek dink byvoorbeeld aan Joe Sacco se Palestine (2001), waarin hy uitgebeeld word terwyl hy die land besoek en mense ontmoet. Dis documentary style, reportage. Wie is vir jou inspirational cartoonists?
WILLEM: Joe Sacco definitief. Ook Guy Delisle wat Jerusalem (2011) gedoen het. Hy doen dieselfde as Joe Sacco, besoek ’n plek en skryf en teken daaroor...
TOAST: Ja, ek ken vir Guy Delisle, ek het sy Pyongyang (2004), maar ek dink ek het dit vir iemand geleen...
WILLEM: ’n Mens moet nooit comics uitleen nie! Ek het ’n hele collection wat ek gehad het, uitgeleen het, en nou nie meer het nie. Obviously ook Anton Kannemeyer. Ek dink al my favourite comic artists is op ’n manier autobiographical. Anton het my leer comics teken in die Universiteit Stellenbosch Kunsdepartement; ek het onder hom studeer daar. As dit nie vir hom was nie, sou ek nie ’n job ná universiteit gekry het nie. Hy het my gewys hoe om ’n comic te teken. Niemand daar het my geleer hoe om ’n kuns piece te maak of ’n skildery te verf of ’n conceptual artwork te maak of ’n gallery te curate of iets nie, maar hy het my geleer van line weights, gewys hoe om fonts te gebruik. Dis danksy hom dat ek daai eerste cover kon teken, want ek het geleer dit moet op ’n sekere manier gedoen word dat dit reproduce kan word. Jy kan nie vuil lynwerk hê nie, veral ek wat nogal messy is as artist. My tesis oor outobiografiese comics het ook oor hom gegaan, in my finale jaar.
Ek dink daar is ’n neiging in my om archival te wees en goed te document en te preserve of te behou op ’n manier. Stuff that happened. Jy gravitate na realism toe, na die strangeness of life, maar die reality of it. Of jy dit nou op ’n funny manier sien, of op ’n ander manier, om daai goedjies te record. Ek is nou al lank genoeg lewendig dat ek die waarde sien in goed wat ek lank terug geteken het, when I find it again, it’s quite often great. Nie in terme van dat dit goed is nie, maar dis ’n snippet van iets. Dis vir my lekker om daai goedjies te collect, hierdie moments in time, en spaces. Met non-fiction kan jy dit regkry. Ek het nou die dag gehoor iemand sê daar is tans ’n groter need vir non-fiction as fiction, because no-one is trying to escape. We would like the ordinary again, die gewone goedjies wat ons laat beter voel. We’re not that excited for the space race anymore.
TOAST: Ek is nie groot op die space race nie. Not for me. Nou vir die heel nuutste cover, Ons Klyntji 2021 (jaargang 125). Dit lyk soos jy wat op jou balkon staan in Vredehoek, met Leeukop sigbaar daaragter.
WILLEM: Ja, dis ek in my woonstel tydens Covid. Ek weet nie eers waar daai image vandaan kom nie, dit het net uitgekom uit daai stadium van net op my fokken stoep sit. En ek dink almal het dit ervaar in 2020 en tot ’n mate nog in 2021, waar ook al jy was, jy moes maar sit. Daar’s nie aksie nie. Jy word dan baie bewus van wat om jou in die neighbourhood aan die gang is, jy hoor daai handeklappery in die aand, in 2020 se winter, ensovoorts.
TOAST: Ja, what happened to that?
WILLEM: I don’t know. Nou dat jy dit noem, ek sou dink dat ek groter notice sou neem when it died down, but I just forgot about it.
TOAST: Ek het op daai stadium ook nog in Vredehoek gewoon – winter 2020 – en ek dink dit het eenvoudig later uitgereën, want as dit reën in die Kaap gaan jy nie sommer uit nie, ook nie om hande te klap nie, en die wind en reën se geraas doof in elk geval die res van die klank uit. Jy klap, maar niemand hoor jou nie.
WILLEM: Exactly, dit het een aand gereën en that was that. That’s Cape Town.
TOAST: Dis nou egter ’n jaar later en ek voel mense is aan die uitkom, die restaurante is weer vol. En hierdie voorblad hint daarna, want die figuur het sulke groot oë soos ’n nagapie wat nou uit sy gat gekom het. Die horison wink weer. Dis ’n stil en donker image, maar daar’s lig ook. So een derde lig...
WILLEM: Dis vir my nie te donker nie, dis brooding maar dis nie negatief nie, daar is sonskyn op die berg agter en daar’s plantjies op die balkon maar ook ’n bokskedel. I guess, it’s a time of uncertainty, jy moet maar sit en kyk. Jy sê almal is weer terug uit, but I’m not out! Comparatively weet ek nie eers of ek dit mis nie, of jy ooit weer wil uitgaan nie. Nou die dag was ons by die Oranjezicht-markie, en toe’s dit kak. Ek wonder by myself, hoekom wil ek hier in die son wees saam met hierdie mense met goed wat ek nie kan bekostig nie en op houtsaagsels rondloop? Dis horrible. Ons is basically in ’n parking lot. Ek kan by die huis wees!
Dis so tussen Covid, my werk en ons baba wat maak dat ek happy is by die huis. Om ’n ouer te word is ’n paradigm shift. Ek sê vir mense, dis soos om mushrooms te vat en nooit weer van dit af te kom nie. My hele konsep van tyd en mortality het heeltemal verander, jy’s net so bewus van tyd wat verbygaan. Ek het op ’n stadium vir Marie-Louise gesê, ek dink heeltyd aan die dood want jy sien jou kind so vinnig grootword. It happens naturally, maar elke nou en dan besef jy, my fok, maar ek is die ouer hier, die pa. Ons sit nog steeds en kyk hoe Jonny rondkruip en vra vir mekaar, waar die fok kom hierdie outjie vandaan?
Sover het ons dit baie lucky ge-strike, dis waarvoor ek baie dankbaar is. Dis nie met almal so nie, ek dink dit kan jou nogals opfok. Jy moet mentally prepared wees vir ouerskap. Maar ons kon in dit in-ease. Maar dis moer lekker en ons raak nou meer van ’n gang. It has also been a supreme motivator in terme van werk en so. Die ander cover-idee was ’n demon baby, maar toe dog ek, ek gaan nie vir jou ’n tekening van Jonny stuur en dan moet jy dit reject en sê nee, ons soek nie jou pragtige kind op die cover nie.
TOAST: Submit dit vir die Baba-tydskrif...