Vroue, maar ook mans in Azille Coetzee se Die teenoorgestelde is net so waar

Vroue, maar ook mans in Azille Coetzee se Die teenoorgestelde is net so waar
Azille Coetzee - Die teenoorgestelde is net so waar

Omslagkuns deur Luami Calitz

'n Feministiese blik op die roman deur Klara du Plessis

In 2015 het ek ’n paar weke lank op my bank gelê en lees aan Elena Ferrante se vier Neapolitan Novels (2011—2014), ’n reeks romans wat handel oor vriendskap tussen vroue, eers as kinders en dan as volwassenes. Destyds was die literêre wêreld gaande oor die idee van ’n bildungsroman wat die kompleksiteit van vriendskap tussen vroue weergee, waarin die teerheid en intimiteit, maar ook die jaloesie, aggressie en spannings van daardie intimiteit met eerlikheid verken word. 

In Azille Coetzee se meesleurende roman Die teenoorgestelde is net so waar (2021, Human & Rousseau; ná In my vel in 2019) word so ’n fokus op vriendskap na ’n Suid-Afrikaanse en Afrikaanse konteks versit. Hier vind die leser drie ambisieuse vrouekarakters wat van kindsbeen af vriende is: Charlotte (’n kunstenaar wat veral belangstel in geweld en Afrikaneridentiteit), Katryn (’n bekende, beeldskone aktrise) en Lien (’n prokureur en moeder). Hierdie genuanseerde vertelling van die drie vroue se lewenservaring het ’n feministiese strekking. Charlotte, Katryn en Lien weier om hulle lewens te skik na tradisionele verwagtinge; trou en kinders is nie die fokus nie. Kuns, loopbaan en passie, asook die verwerping van die sogenaamde marriage plot, word eerder die kolk waarrondom hulle ontwikkeling as karakters draai. Hulle wil die lokus van hulle eie lewens bepaal en hulle eiesoortige outobiografieë, wat nie noodwendig volgens heteronormatiewe standaarde gemeet wil wees nie, weef. Dis moontlik die eerste Afrikaanse roman waarin ek myself — as ’n eietydse, Afrikaanssprekende vrou — kan herken, in die tipe keuses wat die vroulike karakters uitleef en die genot wat hulle as protagoniste uit hulle bestaan put.

As tematiese voortsetting eerder as teenstrydigheid, speel mans ’n sentrale rol in die roman se feministiese raamwerk en onderskeie definisies van manlikheid vorm ’n dominante motief. ’n Reeks negatiewe rolmodelle dryf die stereotipering van machismo al meer op die spits. Daar is Lien se besitlike man wat graag ’n ouderwetse rolverdeling wil volg deur Lien by die huis te hou, die klem op populasie-aanwas; daar is Lien se skoonpa wat knaend sy vrou verneuk; en daar is geskiedkundige, apartheid-pa’s wat hulle hele gesinne uitmoor. Maar net soos jy begin dink mans verteenwoordig alles wat fout is in die wêreld, vind die leser “[d]ie teenoorgestelde is net so waar.” Hierdie eponieme woorde, wat vorm aan die boek se karakter as ’n geheel gee, word deur die karakter, Hendrik, gespreek. Hendrik, die beskeie, intelligente, ondersteunende teler van boerboelhonde, en Charlotte se vriend en minnaar. Hendrik wat self ook deur teenstrydighede ’n tipe “ideale” man beliggaam. Hy wil trou en kinders hê, maar is ook bereid om letterlik jare vir Charlotte te wag terwyl sy sukkel om haarself aan een man te verbind; sy seksstyl is “hard en vinnig” en tog is hy ook ’n sensitiewe, bedagsame vryer; hy “is ’n boer en [hy] is nie een nie.” Ek wil amper sê dat Hendrik ’n tipe pornografiese perfeksie — met uiteenlopende eienskappe en ’n utopiese, onbereikbare persoonlikheid — verteenwoordig. Hy is ’n man wat deur sy betroubaarheid, maar ook deur sy geduld, sy tradisionele sedelikheid en sy seksuele aantreklikheid, verskillende fantasieë kan voltooi.

En hierdie fantasieë word deur ’n bemagtigende, vroulike lens gefiltreer. Die filosoof Laura Mulvey se term “female gaze” (die herskrywing van John Berger se bekender “male gaze”) is hier relevant as verskuiwing van gesag. Die persoon wat kyk, interpreteer en oordeel dit wat gesien word, en projekteer begeerte en daardeur ook mag. By ’n residency-program geniet Charlotte ’n kort verhouding met ’n beroemde, ouer skilder, Thomas. Mettertyd vra sy hom of sy hom mag skilder en wanneer hy uiteindelik instem, kan sy hom letterlik deur haar vroulike blik uitbeeld, deur haar sin van wat begeerlik is (sy noem hom ook gereeld “mooi”). Die eindproduk dien as ’n komiese omkering van die kunshistoriese norm waardeur vroue gereeld geobjektiveer word in die estetiese vlees van naaktheid:

“Op die doek is [Thomas se] vel vlekkeloos en glad, blink met dik lae verf in sensuele skakerings van pienk. Sy ledemate is oor die wit bed gestrek, sag en amper adolessent in die terloopsheid daarvan. Sy lang, dun penis soos ’n breekbare objek, delikaat in Spaanse pienk en pers. Maar daar is iets verontrustends omtrent die uitbeelding. Sy gesig is weggedraai van die kyker, sy kaal lyf oopgespalk soos ’n vrou s’n.”

“Is dit hoe jy my sien?” vra Thomas, aanvanklik ontevrede met sy dekadente uitbeelding. Juis omdat Thomas ’n pretensieuse pierewaaier is wat beweer hy “het nie ’n ‘identiteit’ nie,” kry ek eers lekker om hom so pienk en blootgestel in die skildery voorgestel te sien. Maar dan vang ek myself uit — hoekom is dit kastig beledigend vir Thomas om “soos ’n vrou” geskilder te word? Hoekom ervaar ek sy naakte geslagsdele en kwesbare vlees as onderdanigheid? Ek sou ook kon redeneer dat Charlotte hom red uit ’n patriargale, binêre begrip waarin mens net eenduidig “mooi” of aantreklik en swak of manhaftig kan wees. Terselfdertyd stel Charlotte haarself in die posisie van skilder, skepper en subjek.

Die vroulike blik is natuurlik ook van toepassing op Coetzee as skrywer. Tydens haar boekbekendstelling by die Kaapse Waterfront, 9 November 2021, laat sy val dat sy graag ’n volgende roman met ’n manlike hoofkarakter sou wou skryf. As ’n digter wat self in ’n onlangse bundel vanuit die stem van ’n seun en pa geskryf het, dink ek dadelik aan ’n paar voorbeelde waaraan ek gekou het — George Eliot se Silas Marner (1861), Virginia Woolf se Jacob’s Room (1922), Anne Carson se Autobiography of Red (1998). Maar daarna begin ek wonder of Coetzee nie reeds in Die teenoorgestelde mans sentraal ontwikkel juis deur die ingrypende rol wat hulle in die vrouens se lewens vertolk nie. Daarmee bedoel ek glad nie dat Hendrik, Thomas en hetero-romanse oor die algemeen die hooftema van vriendskap tussen vroue verduister nie. Dit is veel eerder die skrywer se vermoë om genders in relasie tot mekaar te laat uitspeel in die roman, wat beide gelykheid uitbeeld en aandring daarop om dominante narratiewe om te keer en te verwerk. Spoiler alert. Teen die einde van die roman gee Hendrik vir Charlotte sy ma se trouring — ’n ring wat sy ma “geglo [het...] bring ongeluk” — as ’n teken van hulle ewigdurende liefde vir mekaar, maar ook as ’n amptelike erkenning van hulle nie-normatiewe verhouding wat nooit die vorm van ’n stabiele kerngesin sal aanneem nie. 

So word die vooruitsig van ’n tradisionele, gelukkige einde herdefinieer en dan oorgeskuif na Lien en Katryn se vriendskap toe, ’n vriendskap wat deur die jare ontwikkel het, skeefgeloop het en weer vlamgevat het as ’n liefdesverhouding. Die deurgaanse tema van vriendskap word dus verdiep in die konseptualisering van queer as werkwoord. Dit wat verwag word deur die leser word omvergegooi sodat vernuwende narratiewe deur die aktiewe, veranderlike waarhede van teenoorgesteldes hulself kan ontplooi.


Klara du Plessis is ’n Suid-Afrikaans-Kanadese digter wie se transtalige debuutbundel, Ekke, in 2019 die wenner was van die Pat Lowther Memorial Award, ’n nasionale prys wat in Kanada toegeken word aan ’n digbundel geskryf deur ’n vrou. Haar tweede digbundel in Engels, Hell Light Flesh, het in 2020 in Kanada verskyn. Klara is tans ’n doktorale student aan Concordia Universiteit en woon in Montreal en Kaapstad.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Vroue, maar ook mans in Azille Coetzee se Die teenoorgestelde is net so waar gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand