Modeontwerper Nuraan Mohamed eer Distrik Ses se werkersklasvroue
En haar opkomende klerereeks ondersoek metroseksuele manlikheid in Marokko
’n Uitstalling oor Kewpie by die Distrik Ses-museum in Kaapstad het as inspirasie gedien vir Nuraan Mohamed se modeskoolversameling The working class women of District Six, met foto’s en ’n film geneem deur Ryno Stols. Eugene Fritz, beter bekend as Kewpie, was ’n prominente haarkapper en drag queen van die Distrik Ses-era. Die uitstalling by die D6-museum is aangebied met die tema van ’n haarsalon, saam met foto’s van Kewpie en haar vriende.
Oor die konsep van dié reeks verwys Mohamed na die geskiedenis van die Kaapse hairdressing culture tot en met die 1960’s. Om hieraan eer te betoon het sy sommige van die foto’s van die Kewpie-uitstalling by haar ontwerpe geïnkorporeer, dis veral herkenbaar op ’n besondere woljas. Sy vertel dat die idee van ’n jas vir haar verbind is aan wat tradisioneel sou deel vorm van ’n trousseau. Die ander kledingstukke in die reeks is gebaseer op ander navorsing van Distrik Ses se blomtyd, veral op die modes van daardie tyd.
Daar is ook ’n film gemaak in die salon in Kensington wat Kewpie besit het. Die huidige eienaar, Ebrahim Faro of beter bekend as Fay, het as skoonmaker in die salon gewerk van 16-jarige ouderdom af. Hy is nou 59 en het sy herinneringe van Kewpie met Mohamed gedeel. Hy het dadelik ingestem toe Mohamed haar idee vir die film met hom gedeel het. In die film word die daaglikse lewe van vier karakters rondom die haarsalon uitgebeeld, sonder dat die fokus val op die geweld van D6 se uiteindelike sloping.
Mohamed is tans besig met die voltooiïng van haar graad in modeontwerp by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en was van agt-jarige ouderdom af by die Tygerberg Kunssentrum ingeskryf. Mohamed se ouma het vir 40 jaar in die ontwerpkamer van Ronald Sassoon (nou Sissy Boy) se fabriek gewerk – haar ouma se stories oor dié werk het ook ’n blywende indruk op Mohamed in haar grootwordjare gehad. Volgens Mohamed is dit haar doel om haarself uit te druk in haar ontwerpe, terwyl sommiges ook daarby aanklank sal vind, en sy beveel aan dat mens belê in ’n paar kledingstukke wat jy oor tien jaar nog sal waardeer.
Mohamed, ’n Afrikaansspreker met ’n diploma in Spaans, is tans besig met haar volgende versameling, hierdie keer vir mans. Die titel is in Spaans, Ciudad Azul, en dit vertaal as “Blou Stad”. Sy is geïnspireer deur Marokkaanse kunsvorme en argitektuur – veral die Chouara-kleurvate (looierye) in die stad van Fez. Met Mohamed se navorsing oor Marokko het sy gevind dat dit meestal mans is wat die arbeid in die kunstige handwerksektor doen, terwyl sy beïndruk is deur die deurdagte aandag aan detail. Vanweë hierdie inspirasie wil sy metroseksualiteit ondersoek in mans wat in die kunste werk deur te kyk na hoe hulle hulself dra. Hierdeur wil sy die persepsie uitdaag van hoe ’n heteroseksuele man lyk. Mohamed vertel dat omtrent die hele Chefchaouen, ’n stad in Marokko, in verskillende skadu’s van blou geverf is; blou word as ’n heilige kleur in Marokko bestempel. Sy wil dus in haar manlike reeks verskillende skakerings van indigo en turkoois gebruik – deels ook geïnspireer deur die “Blue Men” van die Sahara (die Tuareg-mense se velle word blou gekleur weens die blou lappe wat hulle dra). Sy wil al hierdie elemente in een silhoeët saambind.