Verlies, die dood en eensaamheid in SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge

Verlies, die dood en eensaamheid in SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge

Dié boek het Elzanne Coetzee shooketh gelaat

Ek het onlangs SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge (2023, Human & Rousseau) gelees en ek is shooketh. Van die temas wat uitstaan in hierdie roman, sluit in verlies en die dood, eensaamheid (let wel, eensaamheid verwys hier na beide loneliness en solitude – waarvan eersgenoemde nie selfopgeleg is nie en laasgenoemde wel), vervreemding, manlike verhoudinge (tussen seuns en vaders, asook met minnaars en vreemdelinge) en generasionele trauma. Oor manlikheid en die verhoudinge wat daarmee gepaard gaan, kan ek bloot vanuit ’n buitestanderperspektief nadink. Ek fokus dus daarom en ter wille van bondigheid eerder op die temas van verlies en die dood, eensaamheid en vervreemding.

Verlies en die dood

*spoiler alert

Die tema van verlies (hoewel tydelik) word reeds vroeg in Van vaders en vlugtelinge aangeroer wanneer die hoofkarakter Daniël se twee Serwiese gaste en minnaars, Jugo en Oliver, skielik sak en pak verdwyn uit sy woonstel, sonder om te groet. Kort daarna, wanneer die drie karakters weer verenig, word hulle tydens ’n wegbreek na ’n kampterrein in Das Dorf der drei Flüsse (die dorp van drie riviere) in Suid-Duitsland beroof van hulle besittings (31) en, na afloop van ’n reeks met-opset-verwarrende gebeure, staan Daniël uiteindelik vir beide Jugo en Oliver aan die dood af. Dit word nooit in soveel woorde bevestig nie, en mettertyd voel die hele storie rondom dié twee Serwiërs meer soos ’n herinnering aan ’n koorsdroom as enigiets anders, maar die aanname is dat hulle saam ’n einde aan hulle lewe gebring het in hulle trietsige woonstel in Belgrado: “As [Daniël] sy oë knip, net effens stadiger as gewoonlik, sien hy kortstondig twee liggame wat teen die lig hang. So, dink hy, word koors gestook” (50). Dié twee Serwiër-karakters lei die tema van verlies vir Daniël in. 

Daniël se verlies van eers sy ma en later sy pa word verken deur die loop van die verhaal. ’n Besonderse teer hoofstuk is “Verlore in Maleisië”, waarin die agteruitgang van Daniël se pa op tegelykertyd teer en genadelose wyse omskryf word. Daniël en sy pa het nie ’n goeie verhouding gehad voordat sy pa met demensie gediagnoseer is nie, en nadat Daniël sy lewe in Londen agterlaat om sy pa te versorg in sy laaste dae is hulle verhouding kompleks ten beste. Terwyl die leser uit Daniël se dialoog aflei dat sy pa nie noodwendig ’n “goeie” pa of mens was voor sy siekte nie, word die details van presies hoekom dit Daniël se ervaring van sy pa is weinig toegelig. Wat die leser aangebied word, is eerder net genoeg brokkies van Daniël se verdoemende uitsprake oor sy pa, maar jy kan nie help om tog simpatiek te lees oor die broosheid en uitgelewerdheid van die 82-jarige pa-figuur nie. Needless to say, nog nooit het ek ’n hoofstuk vinniger verslind nie.

Needless to say, nog nooit het ek ’n hoofstuk vinniger verslind nie.
— Elzanne Coetzee

As deel van sy pa se laaste wense, wat Daniël moet nakom mits hy sy erflating wil ontvang, reis Daniël na die Vrystaat, spesifiek die plaas Eenzaamheid waar sy ma grootgeword het. Hy moet op versoek van sy pa sy neef Theon bystaan en ondersteun vir een maand lank. Die testament is ’n geruime tyd voor sy pa se diagnose opgestel, voordat Theon in remissie van beenkanker was. In plaas daarvan dat sy neef siek is by Daniël se aankoms, is dit eerder Malefu, een van die arbeiders/inwoners van Eenzaamheid, se 10-jarige seun Motlalepule (noemnaam Motlale) wat aan ’n seldsame bloedkanker ly. 

Ek wonder teen hierdie tyd van die storie hoe dit voel vir ’n skrywer om ’n karakter te skep met die doel om hulle dood ook te skryf, veral so ’n jong, onskuldige karakter; ’n diepe mistroostigheid kom by my op. Ek is huiwerig om oor die volgende gebeure te skryf, maar hierdie onskuldige-karakter-te-midde-van-“onregverdige”-gebeure-motief word selfs verder gedryf nader aan die slot van die roman.

’n Onsuksesvolle reis na Japan in die hoop om behandeling te kry vir Motlale se kanker laat beide Daniël en Theon onherroeplik veranderd. Uiteindelik ontstaan nog ’n komplekse verhouding in Daniël se lewe, dié met Theon. Daniël verkoop sy woonstel in Kaapstad en Londen om Motlale se liggaam terug na Eenzaamheid te bring. Hy verloor dus tegelykertyd twee ruimtes wat hy as “huis” beskou het. Hy trek in by ’n kothuis in die plattelandse Kent buite Londen (127–8) en uiteindelik meer as ’n jaar later verhuis Daniël vanaf Kent na Eenzaamheid om saam met Theon daar in “’n soort kothuis” (133) te woon. Gegewens soos hierdie “toevallige” ooreenstemming speel met die leser se waarnemingsvermoëns; is daar ’n patroon te bespeur, beteken dit enigiets of is ek net paranoïes? Theon woon nie meer in die hoofhuis nie, dié het hy oorgeteken aan Malefu en haar man nadat hy nie kon voldoen aan sy belofte om Malefu se seun gesond terug te bring van Japan af nie.

Op hierdie noot, wonderlik hoe Naudé ten spyte van hierdie swaar verhaal dit regkry om humor, hoewel wrang en donker, keer op keer met perfekte tydsberekening in te vleg; ’n ligpunt in ’n andersins besonder sombere verhaal. As hierdie roman jou een ding kan leer (nie dat dit ’n lessie-leer-roman is nie), is dit om die klein dinge te waardeer, want soos dit herhaaldelik aangedui word, álles is tydelik. In ’n oogwink kan jy die lig mis. So is die hoogs ironiese benaming van die plaas Eenzaamheid, in die Griekse tragedie sin van die woord, ’n goeie voorbeeld van hierdie humor – die leser kan sekerlik uit die naam aflei waarop die verhaal afstuur, maar die karakters deel nie hierdie insig nie. Ook Daniël se pa se opmerking in die hospitaal waar ’n gewese loods opgeneem is nadat hy aangerand is en nou aan geheueverlies ly (ook die oorsaak van die verlies van sy vlieglisensie), is humoristies juis vanweë die onvanpastheid daarvan. Die eksloods is in ontkenning van sy toestand, maar nadat Daniël se pa, teen dié tyd reeds gevorderd in sy siekte, aanhoor wat die man se dokters en terapeute vir hom te sê het, is sy woorde (wat hy duidelik-hoorbaar uiter): “Hý sal nie weer vlieg nie” (66). Terwyl Daniël se pa se toestand niks is om oor te lag nie, is klein oomblikke soos hierdie een tog snaaks – dit herinner aan die wyse waarop ’n kind met die wêreld omgaan, soms onvanpas maar nooit met ernstige nyd of venyn nie.

As hierdie roman jou een ding kan leer (nie dat dit ’n lessie-leer-roman is nie), is dit om die klein dinge te waardeer, want soos dit herhaaldelik aangedui word, álles is tydelik. In ’n oogwink kan jy die lig mis.
— Elzanne Coetzee

Ieder geval, terug na die tema van verlies, ’n laaste groot verlies wat Daniël ervaar (brace yourself), is dié van ’n vyf maande oue baba waarna hy en Theon omgesien het en in die proses was van amptelik in pleegsorg neem. Die details van hierdie gebeurtenis voel in die besonder wreed en genadeloos, veral inaggenome dat Theon kort daarna weer met kanker gediagnoseer word en ook sterf. Daniël is dus teen die einde van die verhaal heeltemal alleen. Hy het ’n suster, maar vind hom heeltemal vervreemd van haar. Hoewel hy steeds op sy oudag graag wil uitreik na haar, weet hy dat “alle wind [uit] sy seile gesuig [sal word] die oomblik dat hy haar stem hoor” (182) en hy vermy dit dus eerder.

Verwerking van verlies

David Eng (2000:1280) redeneer in sy artikel Melancholia in the Late Twentieth Century dat ’n persoon wat ’n liefdesobjek verloor het, nodig het om daardie objek tegelykertyd te laat vaar én om daarmee te identifiseer op die weg na die Self. In die geval waar ’n persoon sukkel met hierdie proses, kan ’n ervaring van melankolie meegebring word. Melankolie kan ’n mens laat voel asof daar geen uitweg is nie − jy is nou maar eenmaal bedroef en sal altyd só voel − maar Eng meen dat hierdie ervaring van melankolie ons nader kan bring aan ons verhouding met die “miskende” ander, met spesifieke verwysing na vroue, homoseksuele mense, mense van kleur en postkoloniale subjekte. In hierdie opsig sou ’n mens kon aflei dat elkeen van Daniël se verliese hom nader bring aan ander gemarginaliseerdes, eers tydens sy reis na Japan saam met Motlale en Theon, dan waar hy hom tuis vind alleen in Kent en later saam met Theon en die baba op Eenzaamheid.

Daar is ook iets te sê van Daniël se verwerking van groot verliese. Terwyl die verhaal ooglopend ontstellend en hartseer kan wees, is daar nie juis sprake dat Daniël sy verliese teëstribbel nie. Wanneer hy sy pa versorg in sy laaste dae, deel Daniël met hom besonderhede van sy lewe (veral sy liefdeslewe) waaroor hy nooit voorheen met sy pa gepraat het nie. Myns insiens dra dit in ’n groot mate by daartoe dat Daniël sy verlede kan laat vaar en nie uiteindelik ambivalente gevoelens oor sy pa koester nie. Hoewel hy voel dat hy nóg het om sy pa te vertel, is hy minstens vir die eerste keer werklik oop en vulnerable voor sy pa voordat dit te laat is. Die feit dat hy uiteindelik op grappige wyse na sy pa se stoerheid verwys in gesprek met Theon (155), ondersteun die idee dat Daniël wel die verlies van sy pa verwerk het. Ook die slot van die verhaal, waar hy ná jare weer besoek aflê aan die plaas en in die besonder die grafte van mense wat hy verloor het, suggereer ’n element van aanvaarding en afsluiting. Minstens kan daar gesê word dat hy ’n sinvolle lewe kon leef in die lig van sy verliese – hy is op die ou einde “halfverwoes” of verkeer in ’n toestand van “hankai” (110), maar word nooit heeltemal verwoes deur sy verliese nie. (Bygesê, die slot is wel ’n moeilike een, dis nie die geval dat dit lees as ’n mooi, afgeronde happily ever after nie. Dit is meer ’n geval van dit is wat dit is; ook mooi in eie reg, net minder familievriendelik, meer my cup of tea.)

Eensaamheid en isolasie

Terwyl die plaas as terugkerende ruimte se naam reeds van meet af aan sinspeel op die temas van eensaamheid, isolasie en marginalisasie, word hierdie tema verder belig deur Daniël se leefstyl as reisiger tussen Londen en Kaapstad, sowel as sy beroep as skrywer waarvoor hy hom moet isoleer om produktief te wees en sy “ou verhouding[s] (daar is geen tekort aan sulkes nie)” (56–7). Daniël se vroeë lewe is deurspek met eensaamheid en ’n skynbaar doellose soeke na wie-weet-wat. Hy blyk altyd net-net op die oewer te staan van diepgaande menslike konneksie en intimiteit, totdat hy eindelik in Kent “godsalleen” (132) voel. Ook Theon eggo hierdie eensaamheid voordat Daniël by hom intrek. Hy noem byvoorbeeld op ’n stadium dat hy Kaapstad toe wil verhuis omdat hy gehoop het dat hy Daniël se “geselskap sou kon opsoek as die plek te droewig raak” (131). Hierdie eensaamheid word in ’n groot mate vir albei van hierdie karakters meegebring deur hulle besluit om hulself te isoleer van die groter gemeenskap; meer hieroor later.

vyf kenmerke van Vervreemding

Dit bring my by die tema van vervreemding. Sonder vervreemdingstegnieke sou kuns nie tref soos wat dit doen nie. Die hedendaagse leser van fiksie lees mees waarskynlik ook die nuus, of kyk TikTok- of YouTube-video’s oor oorloë, rampe, massamoorde, armoede, ongelykheid... Die lys gaan aan. Tussendeur word ons ook advertensies gevoer wat enige ding onder die son aan ons probeer afsmeer. Om nie te vergeet van die sporadiese Netflix of Disney+ of Apple TV binge nie. Die punt is, die alledaagse mediaverbruiker is oor die algemeen oorgestimuleer en as ’n gevolg afgestomp teenoor temas en gebeure wat eintlik gruwelik is. In Van vaders en vlugtelinge word die tegniek van vervreemding gebruik om deur hierdie afgestomptheid van die leser te sny. Die woorde gaan sit ongemaklik en jeukerig onder jou vel. Die storie bly jou by; ’n vae verlange kom neem sy plek in na mense wat nooit bestaan het nie. Dog is geen deel van die roman sentimenteel-gedrewe nie; ’n slim gebruik van affektiewe taal sonder oordrewe emosionaliteit. Verder verbeeld hierdie tema van vervreemding ook ’n wêreld waarmee die leser kan identifiseer, veral ná die ervaring van isolasie en vervreemding tydens die Covid-19 lockdown-periode.

Die woorde gaan sit ongemaklik en jeukerig onder jou vel. Die storie bly jou by; ’n vae verlange kom neem sy plek in na mense wat nooit bestaan het nie. Dog is geen deel van die roman sentimenteel-gedrewe nie; ’n slim gebruik van affektiewe taal sonder oordrewe emosionaliteit.
— Elzanne Coetzee

Wanneer dit kom by die konsep vervreemding span ek graag Melvin Seeman se skrywe On the Meaning of Alienation (1959) in. Volgens Seeman is daar vyf kenmerke van vervreemding, naamlik magteloosheid, betekenisloosheid, normloosheid, sosiale isolasie en self-vervreemding. Hierdie vyf kenmerke kan in Van vaders en vlugtelinge geïdentifiseer word.

Magteloosheid verwys na ’n persoon se verwagting dat sy/haar handelinge nie die uitkoms van ’n situasie kan verander nie (Seeman, 1959:784). Hier kan die verlies van Daniël se ouers, van Motlale en later ook die verlies van die baba en Theon uitgelig word. In elkeen van hierdie gevalle het Daniël geen beheer gehad of selfs die kans gehad om die situasie te voorkom nie. Vir die sensitiewe leser wat saam met die karakter voel, is dit eweneens ’n vervreemdende ervaring, aangesien elkeen van hierdie verliese so swaar is.

Betekenisloosheid wys op ’n lae verwagting dat bevredigende voorspellings oor toekomstige uitkomste gemaak kan word (Seeman, 1959:786). In hierdie geval staan veral die eerste hoofstuk “Waar die wolwe paar” uit, waarin Daniël vir Jugo en Oliver as twee vreemdelinge ontmoet en kort daarna hulle by hom laat intrek. Dit skeel Daniël oënskynlik glad nie dat hy niks van hulle af weet nie – hy heg geen dieper betekenis aan sy verhouding met dié twee vreemdelinge nie. Hierdie gegewe prikkel juis die leser se agterdog en bring ’n gevoel van ongemak mee, veral vir die deursnee Suid-Afrikaner wat in elk geval amper altyd reeds onveilig voel. Daniël se vriend Mirko, ’n dosent in argitektuurgeskiedenis, waarsku hom ook teen Jugo en Oliver, hulle verdwyn en verskyn sonder verduideliking, hulle tree besonders verdag op tydens die Suid-Duitsland-wegbreek. Daniël raak toenemend paranoïes oor hulle skielike buie, die feit dat hulle byna nooit hulle woonstel in Belgrado verlaat of die gordyne ooptrek nie en omdat hy nie seker is of hulle ooit die waarheid vertel nie, tog verlaat hy nie Belgrado tot ná hulle afsterwe nie. Elkeen van hierdie gegewens stuur ’n rilling teen die leser se ruggraat af. Dit maak ’n mens ongemaklik as gevolg van Daniël se aanvanklike traak-my-nieagtigheid daaroor; jy voel genoop om in die bres te tree vir hom, terselfdertyd wakker dit ook die leser se nuuskierigheid aan.

Normloosheid dui op die situasie waarin die sosiale norme wat individuele gedrag reguleer, afgebreek word of nie meer effektief is as bepalende reëls vir gedrag nie (Seeman, 1959:787). Wat Daniël se normloosheid betref, is dit nie noodwendig die geval dat hy volgens (moderne/nie-konserwatiewe) samelewingsnorme enigiets verkeerd doen nie. Vir hom as individu, met sy spesifieke agtergrond, familieverhoudinge (lees verwagtinge van sy pa), ouderdom en in die konteks van die destydse politieke situasie in Suid-Afrika, voel hy dalk wel asof hy ’n “normlose” lewe lei, veral nadat “sy pa se goedkeuring [nie meer tel]” nie: “Op die soort lewe wat hy deesdae lei, sal sy pa geen greep kan kry nie” (56). Hierdie oorgawe aan ’n “normlose” dog vry bestaan, laat hom nie net ’n paar maal teleurgesteld nie, maar dit maak dit ook vir hom moeilik om sy voete te vind en werklik te voel asof hy iewers behoort. Daniël is uiteindelik heeltemal vervreemd van die Kaap, van sy suster, sy Suid-Afrikaanse vriende en later ook sy Londense vriende. Hy is vervreemd van sy geboorteland en die land waar hy uiteindelik burgerskap het. Sy verhouding met elk van die bogenoemde staan in die teken van verlies; iets wat natuurlik bydra tot sy gevoel van ontheemding, vervreemding en onvastheid en wat verwant is aan die ervaring van die gemarginaliseerde subjek. 

Sosiale isolasie speel mooi in op hierdie gevoel van ontheemding en onvastheid, aangesien dit verwys na ’n gevoel van verwydering van die gemeenskap (Seeman, 1959:788). Daniël distansieer hom eers van Londen wanneer hy sy Londense woonstel verkoop en in Kent gaan woon. Hier bring hy byna al sy tyd alleen in sy huis deur en wanneer hy uitgaan, na die local kroeg, drink hy alleen en keer hy alleen terug huis toe. Hy noem in ’n brief aan Theon dat hy “die lewe van verhoudings afgesweer [het]” (128). “Sy ledemate en stem word stram en sku. Sy lippe is nie meer gewoond aan praat nie” (132). Selfs nadat hy by Theon intrek, kan ’n mens redeneer hy isoleer homself, want nie hy of Theon doen moeite om by mense in die omgewing uit te kom of om nuwe vriende te maak nie. Die komplekse aard van hulle verhouding, soos uitgelig deur die karakter Hein – “Hulle is op ’n manier bymekaar maar terselfdertyd op hulle eie. [...] Hy weet nie lekker hoe om dit uit te druk nie, maar wat seker is, is dat hulle weird is” (142) – is ’n verdere vervreemdende aspek. Die laaste deel van Daniël en Theon se lewe saam, waar hulle woonagtig is in Kent, is self ook vervreemdend en isolerend omdat Theon se kanker teen daardie tyd al gevorderd is. Ook in die slot van die verhaal waar Daniël niemand meer oor het nie behalwe sy suster, verkies hy sy alleenheid. Iets wat hom tot so ’n mate affekteer dat hy sy “geloof in stories uitdink” (132) verloor.

Self-vervreemding dui ’n toestand van ontkenning van die individu se belange aan; ’n soeke na ekstrinsieke eerder as intrinsieke bevrediging (Seeman, 1959:789). Wat die verloop van die verhaal betref, is dit heel gepas dat hierdie kenmerk laaste op die lys is. Terwyl Daniël in twee-derdes van die verhaal meesal sy eie belange ontken, soos reeds genoem laat staan hy sy lewe in Londen om sy pa te versorg wanneer dit nodig is, hy bied vir Jugo en Oliver sy spaarkamer aan en hy verkoop sy woonstel in Kaapstad om aan Motlale se familie die geleentheid te bied om op eerbiedige manier van hom afskeid te neem. Nader aan die einde van die verhaal lyk dit asof Daniël egter sy eie belange hoër op die prys stel, veral wanneer die baba ter sprake kom en die maatskaplike werker huiwerig is om hom in pleegsorg by Daniël en Theon te plaas. Daniël se uiteindelike erkenning van sy belange is ’n verwikkeling wat nie moontlik sou wees mits dit nie vir sy pa se testament was wat ’n wending in Daniël se lewe teweeggebring het nie; ’n ongevraagde versoek van sy pa wat hom dwing daartoe om sy eie belange in ag te neem.

SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge is ’n pelgrimstog oor die lewe en psige heen van ’n komplekse, delikaat-verbeelde karakter; die perfekte balans tussen chaos en stilte. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Verlies, die dood en eensaamheid in SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand