Teef en ander towerwoorde
Mart-Mari van der Merwe skryf oor die taalkundige hertoeëiening van sogenaamde taboewoorde in Afrikaans
Woorde is die naaste wat ons mere mortals aan towerkrag kan kom. Myns insiens is woorde een van die coolste goed wat die mensdom het. Ek bedoel, magic. Ek sê vrou en jou brein pas al die klanke saam soos legkaartstukke en maak sin daarvan. Miskien sien jy Florence Pugh poedelkaal tussen ’n klomp suurgesigmans in pakke op ’n hengse skerm in ’n volgepakte, donker filmteater. Ek sê vrou en jy ruik die parfuum aan jou ma se polse. Ek sê vrou en jy voel die seepborrels dans oor die gladde skaatsbaan van jou lyf as jy stort. Met woorde kan ons sien en hoor en ruik en proe en voel. Iets binne jou tóór tot binne-in iemand anders. Die punt is: Ek sê iets, en iets daarvan dring tot jou deur. Woorde het krag. Taboewoorde (lees: Enige woorde wat in sommige kontekste vir verskillende mense ’n taboewaarde kan hê) is ’n spesiale vertakking van daai magic, ene met ’n teelepel (of ’n kruiwa) ekstra skop. Die navorsing oor talige taboes ondersteun die idee dat taboewoorde ’n groter krag op jou uitoefen as ander meer neutrale woorde.
En dit bring ons by teef en ander soortgelyke towerwoorde.
Ek’t onlangs ’n meestergraadstudie voltooi oor taboewoorde, spesifiek oor die prototipiesste (die sentraalste, gebruiklikste, gevestigste of most entrenched) Afrikaanse taboewoorde. Sonder om jou aan ’n lyntjie te hou, gaan ek seremonieloos die 50 prototipiesste Afrikaanse taboewoorde aan jou voorlê. Hulle is, in volgorde van dalende prototipisiteit:
fok, poes, bliksem, doos, kak, donder, kont, moer, naai, fokken, fokker, hoer, etter, poephol, piel, drol, slet, fokkit, fokkof, jissus, moerskont, naaier, teef, blerrie, shit, stront, ma se poes, befok, tos, k-woord, hol, fokkol, god, jirre, fok tog, gat, pis, wetter, fuck, tril, dêmmit, fokkop, skyt, asshole, moerse, ballas, bitch, werfetter, bekak en spyker.
Al daardie woorde is nie nou hier van belang nie, maar ’n bietjie meer konteks sal dalk nuttig wees. Die ondersoek het so gewerk: Ons het ’n vraelys op vloek.co.za gepubliseer met ’n enkele opdrag aan die respondente om in twee minute soveel vloekwoorde as waaraan hulle kan dink in die antwoordboksie te tik. Toe doen ons al die wetenskapperige dinge met Excel-blaaie en somme en siedaar! ’n Lys van die woorde wat Afrikaanssprekendes die vinnigste herroep as hulle dink: vloekwoord.
As jy nou mooi kyk na daai lys sal jy sien 11 van die woorde/uitdrukkings is in bold: poes, doos, kont, moer, hoer, slet, moerskont, teef, ma se poes, moerse en bitch. Die towerwoorde aan die orde van die dag (om dinge te vergemaklik, verwys ek sommer voorts na daardie 11 as “towerwoorde”). Wat het hulle almal gemeen met mekaar? 11 van die gebruiklikste Afrikaanse taboewoorde se oorsprong lê in die domein (soos in “betekenisveld”) van die vroulike. Daarteenoor ontspring (pun intended) net drie in die manlike domein: piel, tril en ballas. Die prototipiesste een van daardie drie, piel, is laer af in die lys as vyf van die towerwoorde. Hoekom maak dit saak?
Histories, en selfs vandag nog, het taboewoorde oor die algemeen ’n bad rep. Ons gebruik hulle om te swets, te skel, te beledig, te vervloek, te laster en te sweer. Dis die woorde met die meeste trefkrag en daarom ook die grootste seermaakpotensiaal. Hoekom? Sterk emosies word gewoonlik met vloek geassosieer. Dit gaan nie net oor die betekenis van die woord of oor hoe dit klink nie, maar ook oor jou eie ervaring en herinneringe (en die emotional baggage wat daarmee saamgaan). Die betekenis van die woord is wel ook van belang omdat dit baie te make het met taboewaardes: Die woorde hou iets taboe in, iets wat ten minste iewers in die verlede of die hede werklike negatiewe gevolge sou hê en dus vermy moet word. Shit en kak hoort byvoorbeeld nie in die strate nie, want kieme galore sou aan die orde van die dag wees. So waarom dan meer prototipiese taboewoorde wat etimologies na die vrou ge-trace kan word as na die man? ’n Patriargale samelewing sou tog nie ’n sosiale kontrak onderteken wat meer krag aan poese as aan piele toeskryf nie?
Inderdaad, nee. Kom ons kyk na bitch en teef. Reeds rondom die 1400’s word bitch as “a term of contempt” vir ’n vrou gebruik. In Nederlands is teef al sedert die sewentiende eeu gebruik as ’n skeldnaam vir ’n “slechte, gemene vrouw”, vermoedelik omdat wyfiehonde op hitte geredelik hulle tande wys. Daar is ook die vrugbare geleentheid om die metafoor verder te vat: ’n Teef is ook wulps, sexy, aanloklik, maar meer as dit, uitlokkend. Dierlik, lyflik. Dink visnetkouse en rooi lipstiek en ’n vrou soos ’n dier op jag. Grrrr. Jy dink nie “goeie meisie” nie, of hoe? Dit laat my nou dink aan die Ronelda Kamfer-gedig oor wat “goeie meisies” nié doen nie.
goeie meisies – Ronelda S Kamfer
goeie meisies join nie gangs nie
hulle raakie pregnant op dertien nie
hulle dra nie tjappies nie
hulle roekie weed nie
hulle tik nie
hulle djol nie saam met onderwysers nie
hulle speen nie saam met taxi drivers nie
hulle werk nie vir Shoprite nie
hulle is nie die cleaners nie
goeie meisies bly nie oppie Cape Flats nie
So basies het die taboe in die towerwoorde baie te make met die gevolge vir vroue as hulle nie is soos die samelewing (lees: die patriargie) dit wou hê nie. Die krag in teef word nie vír haar ingespan nie, maar eerder teen haar. Dis nie ’n issue dat hierdie woorde negatiewe konnotasies het nie; niemand van ons is engeltjies nie. Die issue is wanneer jy ’n woedende vrou voor die voet teef doop, sonder om te wonder waaroor sy kwaad is. Lui daar ’n klokkie? Dink aan die argetipiese histeriese vrou, ’n beeld wat al eeue lank gebruik word om vroue se woede toe te skryf aan een of ander emosionele kranksinnigheid. As sy mal is, kan sy mos nie die projekleier wees nie? Sy kan nie die president wees nie, sy kan nie ’n prokureur wees nie, sy kan nie in die ICU werk nie en die lysie gaan aan. Bitches be trippin’, verkieslik tot in die kombuis, en dis al.
Die issue met ’n woord soos teef is die idee dat vroue wat kwaad is en wat hou van seks, gelykgestel word aan diere, en dan natuurlik minder is en minder méns is as mans. (Interessant: Histories is mans oor dieselfde kam geskeer, of in elk geval, soort van. Standbeelde van die “gekultiveerde” en “slim” mans van die Antieke Grieke het almal klein geslagsdele, omdat die teenoorgestelde barbarisme sou impliseer. Ons weet almal wat vandag met daai idee gebeur het...) Die issue is dat woorde nie net woorde is nie; die woorde wat jy kies, maak saak. Seksistiese beledigings en skeldname onderskryf en bevestig sosiale norme wat al vir eeue ingespan word om vroue in sekere boksies te dwing. Dit onderhou ’n lens waardeur die wêreld geweld teen vroue, of dit nou mondelinge of fisiese geweld is, as sosiaal aanvaarbaar sien. Gelukkig lewe ons in ’n era waar vroue toenemend die sosiale gedragskodes uitdaag om die skaal van magsverdelings te herkalibreer. Vroue met woede wat nie ladylike in die hoekie sit en toekyk hoe daar getoor word met ons krag nie. Ons tééf in opstand.
Een van die talige wapens in ons arsenaal is linguistic reclamation (“taalkundige hertoeëiening” as ’n soort betekenisverruimende taalverandering, iets wat in elk geval konstant gebeur). ’n Verskynsel waar onderdruktes dieselfde woorde waarmee hulle ge-violate word vir hulleself vat. Weaponising bitchiness as sosiale protes. Die aantal empowering inskrywings in Urban Dictionary vir bitch is ’n pluimpie in die hoed vir al die bitchin’ (good, fuckin’ great, awesome) bitches daarbuite. Daar’s selfs ’n inskrywing wat teef indeel by die cool kids, by name soos dude en bro. ’n Byproduk van hierdie reclamation is die skep van ’n tipe groepsgevoel – belangrik, want oorloë word nie deur een teef alleen gewen nie.
Volgens Mihaela Popa-Wyatt (2020) is daar drie vlakke van linguistiese hertoeëiening. Eerstens is daar die individuele vlak wat sy as self-labelling beskryf: Ek is ’n teef. Tweedens begin die groep die label aanwend as “symbol to rally around”: Ons is tewe. Derdens, sukses. ’n Suksesvolle hertoeëiening bevestig die empowering gebruik van die label in die wyer gemeenskap en maak dit moeiliker vir almal om die woord in ’n negatiewe sin te gebruik: Julle is tewe. Ja, ons is. Deal with it.
Daar is heelwat vrae onder akademici oor hoe suksesvol linguistiese hertoeëiening is. Gaan dit werk of gaan dit net die teenoorgestelde vermag? Gaan die gebruik daarvan werklik bemagtigend wees of gaan dit eerder ingespan word op dieselfde vernederende wyses as voorheen? Daar is beslis voorbeelde waar reclaimed slurs wiele aan die rol gesit het om die wêreld te verander. Dink aan queer en die n-woord in die VSA. Dink aan byvoorbeeld SlutWalk wat op 3 April 2011 begin het met ten minste 3000 mense verenig in protes teen slut shaming en victim blaming (jy weet, daai “haar rokkie was te kort, sy’t gevra daarvoor”-nonsens). SlutWalk het in Amerika begin en gou tot een van die grootste feministiese veldtogte ooit gegroei –wêreldwyd.
Al was die reaksies op hierdie movement nie volkome in harmonie nie, is daar een ding wat tog onteenseglik positief blyk: Dit maak lekker sensasionele headlines wat sorg vir ’n wyer gehoor (werk slimmer, nie harder nie). Dit kry mense aan die wonder en aan die praat. Dit maak ruimte vir belangrike gesprekke oor seksuele outonomiteit en consent. Daarin, veral, lê die krag, of soos wat Popa-Wyatt (2020) dit verwoord:
What we see in reclamation is the tussle for control over words that are then used to grab power in conversation. This conversational power leaks out into power shifts in the real world. Thus, reclamation gets right to the heart of why it is that words have power, and thereby why we care about the words used to name us and name ourselves so much (Popa-Wyatt 2020).
Uit die aard van die saak is dit onwaarskynlik dat hertoeëiening gaan lei tot die algehele uitwissing van die skadelike gebruik van teef en ander towerwoorde. Taalverandering gebeur ook nie in ’n oogwink nie, maar as jy die oomblik reg kies, dan mag jy dalk iets ekstra tot in die betekenisboks van teef toor. Iets soos:
T: Tarantula, tatoe. Tart. Teater. Tsunami. Transendentaal.
E: Elegie, elasties, elektries. Enigmaties. Enigiets.
E: Emansipasie. Emalje, emosie, ego, eggo. Ekstase. Ek.
F: Fakkel, flikker, flonker. Feniks, fleurig, flerrie. Fok, fokken. Fokkof. Fokkol. Fluit-fluit.
TEEF
Wat beteken dit om ’n teef te wees? Geen van daai woorde het tegnies iets daarmee uit te waai nie. Behalwe as jy ’n teef is wat konvensies uittart met ’n tarantulatatoe teen jou nek. Of die wêreld sien as een helse teater, en jy’s die ster op die stage. ’n Teef in hakskoene is ’n tsunami, in tekkies ’n aardbewing. ’n Teef by die bar met ’n whiskey glo in die transcendental of in denimbaadjies of in pienk of in blou of in al die delicious contradictions van die mens. Elegieë is sad songs, is skree teen die mure, is begeleiding met elektriese kitaar, is alles wat mal is, behalwe jy – jy is nie mal nie. Emalje is maskers, is wegsteek, is gly uit jou hande, is breek, is elke skans wat jy al ooit teen die wêreld moes oprig. Tewe is almal elasties: elastigirls. Almal enigmaties. Enigiets wat hulle wil wees. Almal curators van emansipasie. Almal regtig en lewendig, met ’n sterrestelsel van emosies. Hulle ego’s eggo in ekstase: Ek. Ek. Ek. Vat die fakkel oor. Laat dit flikker en flonker. Feniks die nag tot ’n oranjerooi stortreën van fabulous vere. Fokkof, vatterige vent. Vry fokken vroue, so fuckable of unfuckable as wat hulle wil wees. Fleurige flerries voel fokkol. Fluit-fluit.
Oor die skrywer: Mart-Mari van der Merwe het onlangs ’n meestersgraad in Afrikaanse taalkunde oor Afrikaanse vloekwoorde voltooi. In haar vrye tyd lees sy graag alles wat (volgens StoryGraph) reflektief, emosioneel en donker is, en in die regte wêreld gee sy kommunikasievaardighede vir ingenieurswesestudente by TUT.