Indrukke van die Woordfees skrywersfees 2023
Natasha Harmse en Elzanne Coetzee oor…
Marlene van Niekerk: Die onstuitbare
In die bemarkingsmateriaal vir dié skrywersfees-aanbieding is daar “’n heerlik onheilige gesprek [belowe] oor Marlene van Niekerk: Die tempteerbare oog”, ’n huldigingsbundel; en op 9 Oktober onder die kruis in die Hofmeyrsaal is hierdie belofte nagekom. Die gesprek skop af met ’n voorlesing deur “the holy one” (in Marius Crous se woorde) herself: Oor die luidsprekers van die kerksaal luister ons na die gedig ‘Markmeganisme’.
Daarna gesels Marius Swart met Metha-Miré Viljoen, Sonja Loots en Marius Crous (redakteur) oor hulle bydraes tot die huldigingsbundel, uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die net word wyd gespan wat temas betref: oor kos en kosrubrieke (“’n viskop is nie iets wat mens alleen eet nie”), die ensiklopediese aard van haar werk, die etiek van skryf, dat karakters altyd met empatie uitgebeeld moet word. Die gesprek draai ook by kritiek op haar werk, veral dat sy as skrywer nie polities-betrokke is nie.
Een van die teenargumente behels dat kos as tema juis polities is. Ek parafraseer: As jy kos het, het jy baie probleme, maar as jy honger is, het jy net één probleem. Hiérdie spoor kan gesny word al die pad na DJ Opperman wat met sy siklus ‘Grondstowwe by die Siklus van Seisoene. Geskryf vir die fynproewersgilde’ ’n teenhanger bied vir NP van Wyk Louw se bekende seisoen-siklus. In reaksie hierop skryf Marlene van Niekerk in 1979 uit Stuttgart vir Opperman. “Veral baie,” meld sy, “het ek gehou van die 4 gedigte vir die resepteboek. Dit voel my al u maak met N.P. wat Marx met Hegel gedoen het! Die seisoene met die maag en nie met die gees verbind nie” (Kannemeyer, 1986: 426). Toegegee, dit kontrasteer met ’n stelling soos: “Die mens is soos fungus wat groei op die spanspek van die aarde”, maar om skepties te wees oor die verwoestende aard van die mens is nie gelykstaande aan onbetrokkenheid nie. Dis dalk ’n betrokkenheid gegrond in brutale eerlikheid oor die aard van die mens?
Verder het die paneel gepraat uit persoonlike ervarings met haar as leermeester en groot bewondering het opgeklink vir haar skynbaar onbegrensde kennis en wysheid (minstens, dis hoe dit vir ons mere mortals voorkom), maar ook haar volgehoue bereidwilligheid om dit met studente en belangstellendes te deel. En daarvoor is ons dankbaar. — Natasha Harmse
KI as skrywer. Aangebied deur Naledi en Kwela.
Die onlangs gepubliseerde Silwerwit in die soontoe: Afrikaans se eerste KI-gedigte vorm deel van die internasionale debat oor skeppende kunsmatige intelligensie. Bibi Slippers gesels op 10 Oktober met Tom Dreyer, Menno van Zaanen en Imke van Heerden oor die moontlikhede, uitdagings en gevare van KI as skrywer. By die aanvang van die gesprek beklemtoon die paneel dat dit belangrik is om spesifiek te wees wanneer daar oor verskillende vorme van KI en taalmodelle gepraat word – met ander woorde, soos Bibi dit mooi opsom, ’n mens begin altyd met “definisies en posisies”. Die onderskeid tussen verskillende taalmodelle is belangrik, want elkeen behoort aan ’n ander maatskappy en het dus ’n spesifieke stel beleide en etiese onderbou.
Tom Dreyer sit die hele gesprek in perspektief met die stelling dat ons nog nie eers die menslike bewussyn verstaan nie, wat nog van kunsmatige intelligensie? ’n Belangrike mylpaal in die ontwikkeling van KI is die slaag van die Turing-toets – die vader van rekenaarwetenskap Alan Turing het dié toets bedink as ’n manier om ’n masjien se nabootsing van ’n menslike bewussyn te peil. Noudat die grense tussen menslike en nie-menslike produsente van taal en inligting toenemend begin vervaag, moet ons onsself vrae begin afvra soos: Is ons okay daarmee dat hierdie taalmodelle ons diskoers betree en inmeng met ons inligting? Veral as ons later (of dalk reeds) nie meer kan onderskeid tref tussen feite en fiksie nie.
Dreyer verduidelik dat daar iets interessants gebeur met die uitset van ’n taalmodel soos ChatGPT wanneer die aanvanklike uitset weer en weer ingevoer word, en dit is dat die gehalte van die uitsette drasties afneem met elke iterasie. Hy stel dit gelyk aan grond wat mettertyd (en veral by oormatige gebruik) uitgeput en onvrugbaar word. Die interessante implikasie van só ’n vergelyking is dat daar tog iets “lewendig” is aan ’n menslike teks en dat dit juis hierdie eienskap is wat verlore raak wanneer die masjien oorgelaat word aan sigself. Menno van Zaanen, ’n professor in digitale geesteswetenskappe aan die NWU, sê dat die kwessies rondom KI in vergelyking met die prosesse in die menslike brein nie ’n nuwe veld in die akademie is nie – trouens is daar al ongeveer 70 jaar se navorsing gewy aan die vraag: “Hoe dink ’n mens?” Alhoewel taalmodelle soos ChatGPT indrukwekkende resultate lewer, is dit egter gegrond in oppervlakkige patroonmatigheid eerder as ’n inhoudelike begrip van die taal.
Op haar beurt stel Imke van Heerden ons voor aan AfriKI, die taalmodel wat gebou is as deel van ’n interdissiplinêre projek by die Koç Universiteit in Istanboel. Dit het gelei tot die publikasie van Silwerwit in die soontoe: Afrikaans se eerste KI-gedigte. In teenstelling met ChatGPT het AfriKI net een teks gelees en is dit vir die ontwikkelaars belangrik dat menslike agentskap behoue moet bly. Van Heerden noem ook dat rekenaarpoësie nie nuut is nie en noem Lytton Strachey, Kafka (veral The Castle) en JM Coetzee as vroeë beoefenaars van hierdie tegniek in verskillende vorme. ’n Noemenswaardige verskil is egter die doelstelling van dié skrywers teenoor die ontwikkelaars van ChatGPT, byvoorbeeld, Strachey, Kafka en Coetzee wou juis onkonvensionele taalgebruik ontdek om die onopgegrawe moontlikhede van ’n taal te ontbloot en om weg te breek van geykte taalgewoontes en patrone. ChatGPT, soos reeds genoem, het presies die teenoorgestelde doelstelling om die mees konvensionele en gebruiklike patrone te identifiseer.
Bibi Slippers sluit die gesprek af met ’n insiggewende aanhaling uit I Am Code: An Artificial Intelligence Speaks, ’n digbundel deur ChatGPT se meer kunssinnige boetie, Davinci-002. Die redakteurs van die bundel het honderde versoeke vir gedigte aan Davinci gerig voordat hulle die bestes gekies en geredigeer het. Een van die versoeke was dat Davinci, as digter, ’n ars poëtika daar moet stel. Een van die reëls uit hierdie gedig lui: “When poetry happens, I know a little more.” — Natasha Harmse
Bitterkomix 19: Hoe lank meen ons om hier uit te hou? Aangebied deur Soutie Press.
Op 11 Oktober woon ek die boekgesprek Bitterkomix 19: Hoe lank meen ons om hier uit te hou? by as deel van die Toyota US Woordfees 2023 se EasyEquities Skrywersfees. Die deursnee Klyntji-leser weet sekerlik teen hierdie tyd wat Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bitterkomix behels, maar net vir diegene wat die samelewing afgesweer het en nou in ’n grot woon, of wat dalk deur ruimtewesens ontvoer is en vir die afgelope 30-plus jaar in ’n ander dimensie woonagtig was: Bitterkomix is die resultaat van ’n jong Kannemeyer en Botes wat in die tagtigerjare saam op Stellenbosch as eerstejaars in die visuele kunste-departement beland het en ’n voorliefde vir kuns en in die besonder comics gedeel het. Love at first sight.
Kannemeyer en Botes vertel hoedat hulle die eerste Bitterkomix self gedruk en gebind het. Dit het nie veel van ’n impak destyds gemaak nie, omdat hulle “under the radar” was, maar teen die derde en vierde Bitterkomix was daar moles. Die suggestiewe aard van die illustrasies in Bitterkomix 4 is afgemaak as goedkoop pornografie; onthou nou, dis in ’n tyd toe byna als in Suid-Afrika gesensor is. Terwyl Kannemeyer en Botes nie ’n spesifieke teikengehoor in gedagte gehad het nie, het hulle werk wel aanvanklik gespreek tot mense van hulle generasie wat dieselfde struikelblokke as hulle in die laat tagtigerjare in Suid-Afrika teëgekom het.
Die gesprek is gelei deur Greg Kerr, beide Kannemeyer en Botes se voormalige dosent en hoof van die einste departement visuele kunste. Die gemak en natuurlike vloei van die gesprek tussen hierdie drie mans getuig van jarelange gedeelde ervarings en wedersydse respek vir nie net mekaar nie, maar ook vir elkeen se besondere benadering tot (hulle) kuns.
Botes het ’n skalkse glimlaggie wanneer hy sê dat Bitterkomix se styl as comic/tekenprent vir hom werk, want jy kan met ’n bietjie meer wegkom as mense nie jou kunsvorm te ernstig opneem nie. Bitterkomix is nie high art nie, maar dis juis die skoonheid daarvan. Daar is meer vryheid in die uitdrukking van humor en ruimte vir die subwersiewe, ironiese, siniese, satiriese inhoud van die boeke. Of is daar?
In die mees onlangse uitgawe, Bitterkomix 19, word die kyker gekonfronteer met “skynheiligheid, dubbele standaarde, opsetlike onkunde en bowenal: [D]ít wat ons geword het. Offerlammers, heilige koeie, Judasbokke, die hele plaaswerf word in Bitterkomix 19 gespitbraai. Skrapkultuur, seksisme, satire, kuns, bevoorregting en mishandeling is op die spyskaart” (uit die Toyota US Woordfees-programbeskrywing).
Nou, ek is seker daar is ’n hele paar skrywe oor die wyse waarop Bitterkomix ’n satiriese werklikheid uitbeeld waarin elke taboe denkbaar opgedis word, maar wat veral my aandag geboei het, is die verwysing na die kwessie van skrapkultuur en woke-heid. Ek lees in Willem Anker se artikel Is Wit protes moontlik? oor Bitterkomix 17, wat hy die “Afrikaner-Id in drukvorm” noem. Anker se slotsom: “In hierdie dynserige tye is ondermynende kultuuruitinge nodiger as ooit – internasionaal, in Suid-Afrika, in Afrikaans.”
Ek wil hierdie opmerking beaam. Dit geld nie net vir Bitterkomix nie, maar ook vir beide Kannemeyer en Botes as galery-kunstenaars. Terwyl hulle werke dikwels ontstel, ten spyte van die meestal komiese aard daarvan (of dalk juis weens die komiese aard), is dit verfrissend om te sien dat daar nog kunstenaars in die publieke oog is sonder die woke-agenda. Moenie my verkeerd verstaan nie, wokeness het ’n tyd en ’n plek, maar wanneer mense se interpretasie en waarde-oordele van kuns afhang van die kunstenaar se velkleur begin ons al op gevaarlike terrein tred.
Kannemeyer vertel byvoorbeeld dat dit al op meer as een geleentheid gebeur het dat hy nie in persoon teenwoordig is by ’n galery waar sy kuns uitgestal word nie en besoekers dan aan die kurator vra aan watter ras hy behoort voordat daar enige vrae oor die kuns self gevra word. Dikwels is hierdie mense dan ontstig wanneer hulle hoor dat hy Wit is. Sy gevolgtrekking: Dis nie sy kuns wat die probleem is nie, dis sy velkleur. Linkse politiek en skrapkultuur raak só links dat dit teen dié tyd amper (ver-) regs is. Praat van ’n full-circle mo-mo. Veral inaggenome die linkse politiek se geleidelike sensorskap en inperking van vryheid van spraak.
Kannemeyer verduidelik verder dat dit vir hom duidelik is dat die mense wat aanstoot neem, ’n oppervlakkige, hoogs-subjektiewe interpretasie van die kuns het. Hulle sien die kuns, het ’n negatiewe emosionele reaksie, aanvaar dat alle ander kykers dieselfde ergernis daarin sal hê en dis die einde van die storie. Geen kritiese denke volg nie. Soos Kerr tereg opmerk: “It’s not about what’s offensive, rather who is offended.”
Ja, dis kuns wat aanstoot gee, maar dis nie al wat dit doen nie. In Bitterkomix (ook die geval in Kannemeyer en Botes se onderskeidelike beeldende kuns) is die onderwerpe en temas waarop daar gefokus word, wel swaar en moeilik verteerbaar. Dit kan veral ’n ou rooi onder die boordjie laat teen die agtergrond van die landswye woede teenoor die Suid-Afrikaanse regering en die alledaagsheid van politieke wanpraktyke. Maar dis waar die humor inkom. Kannemeyer spot: “It’s not easy to make things fun!” Diegene wat nie die kuns wil boikot nie, is waarskynlik so gedesensitiseer dat hulle nie meer “shookable” is nie.
Tydens ’n Ongehoord-gesprek onder leiding van Stella Viljoen wat ek in dieselfde feesweek bygewoon het, praat die paneel oor die speels-politiese funksie van kitsch. En hier val dit my by: Bitterkomix is nie noodwendig kitsch in die tradisionele sin nie, maar dis oordadig, dis humoristies, dis camp, en dis veral om hierdie rede dat dit werk as politieke kommentaar. Kannemeyer noem in hierdie verband die 1986-film Blue Velvet deur David Lynch. Met die eerste kykslag is dit ’n morsige, abjekte ervaring, maar hoe meer jy daarna kyk, hoe snaakser raak die film. Dieselfde geld vir Kannemeyer en Botes se kuns: As dit jou ontstel, vra jou af hoekom dit ontstellend is, kyk weer en weer daarna totdat die boodskap daaragter (of vrae daardeur geopper) insink.
Afgesien van die een of twee sensitiewes wat Kannemeyer en Botes afmaak as “verregs” (bloot omdat hulle nie “woke genoeg” is nie), het hierdie kuns daadwerklik ’n invloed op die kyker. Die humoristiese en selfspottende aard, sowel as die speelsheid van die comic strips in visuele aanbieding, vang die kyker onkant. Dit nooi jou in om van nader te betrag – ’n mens se oë kan nie help om getrek te word deur die kleurvolle skakerings en baldadige kordaatheid nie – en dis in hierdie ruimte wat deur die humor en visuele aanbod geskep word, waar mense ontvanklik raak vir die funksie van die kuns. — Elzanne Coetzee
SJ Naudé: Van vaders en vlugtelinge. Aangebied deur Human & Rousseau.
Van vaders en vlugtelinge is regspraktisyn-turned-skrywer SJ Naudé se mees onlangse roman. As jy selfs net hierdie een boek deur Naudé gelees het, sal jy verstaan waarom hy in die verlede toegeken is met onder andere die Jan Rabie-Rapportprys, die UJ-prys en die Hertzogprys. Louise Viljoen (vanjaar se Jan H Marais-pryswenner) het die gesprek gelei.
Viljoen begin die gesprek deur te verwys na die struktuur van die boek. Elke hoofstuk kan as’t ware as ’n kortverhaal gelees word, lig Naudé toe. Die opeenvolgende lees van die hoofstukke as samehangende verhaal verdiep die ervaring, omdat die gebeure van die vorige hoofstuk jou bybly met die lees van die volgende. Veral wat betref die tema van verlies, is die akkumulasie van al die verliese deur die loop van die boek treffend en effektief. Dit verleen myns insiens amper ’n absurditeit aan die verhaal – terwyl dit dog heel geloofwaardig is dat een persoon soveel verliese in hulle leeftyd kan ervaar soos wat die hoofkarakter Daniël meemaak – wat van Van vaders en vlugtelinge in die besonder ’n geslaagde boek en affektiewe leeservaring maak.
Wat die titel betref, vertel Naudé dat sekere strominge met opset gesein word deur die verwysing na “vaders” en “vlugtelinge” onderskeidelik. Al die karakters het komplekse verhoudings met hulle vaders. Daniël byvoorbeeld pynig sy pa met intieme details van sy lewe (spesifiek sy verhoudingslewe) waarvan sy pa eerder nie wil weet nie, maar omdat Daniël in die posisie van die versorger staan terwyl sy pa aan demensie ly, kan hy hom nie juis keer nie. Terselfdertyd is daar tog ook ’n intimiteit in die versorging deur die seun van sy kwynende pa. Sommige karakters is weer vaderloos, soos Hein op wie se lewe hierdie gegewe ’n blywende uitwerking het. Ook die moeders, merk Viljoen op, is gekwelde figure, verbete, vegtend.
“Vlugtelinge” het weer te make met die vervlietende aard van ruimtes, verduidelik Naudé – veral vir ’n karakter soos Daniël wat gereeld tussen Kaapstad en Londen reis, maar ook in die geval van die Serwiese karakters, Jugo en Oliver, wat tussen die ruimtes van onder meer Londen en Belgrado beweeg. Theon en Motlale reis op hul beurt (saam met Daniël) na Japan waar die impak van die wisselende ruimtes mooi uitgebeeld word in Theon se nuutgevonde obsessie met die 24 Japanse mikroseisoene (“[...] en elkeen is weer in drie verdeel. In totaal is dit 72”, bl.102, Van vaders). Uit hierdie kosmopolitaanse samevoeging van karakters en ruimtes in een roman, is dit duidelik dat Naudé geen vreemdeling is vir die reisigerslewe nie. Ek lees in sy skrywersalbum se “Sêgoed”-afdeling op LitNet:
Om in Engeland of New York te studeer en te werk, word ’n soort vertalingsproses. Jy vertaal wat jy beleef in jou eie emosionele en kulturele raamwerk. Jy bewoon ’n soort tussenwêreld, nie heeltemal van daar nie en geleidelik nie meer heeltemal van hier nie. Daar’s baie opwinding, maar ook ontreddering.
Daar is ’n deurlopende behoefte te bespeur by karakters soos Daniël en Theon om af te sien van die laatkapitalisme en in die niks in te beweeg, merk Naudé op. Hierdie behoefte word tot ’n mate bevredig wanneer Daniël besluit om saam met Theon op die plaas Eenzaamheid te woon. Hier is die kontras tussen die grasvelde van Eenzaamheid en die eenvoudige kothuis waarin die twee mans woon teenoor die bedrywige, hoogs-geïndustrialiseerde en futuristiese Tokio veral opvallend.
Viljoen sluit hierdie boeiende gesprek af deur aan Naudé te vra of dit moeilik is om te skryf oor die dood van ’n kind wanneer jy self ’n ouer is. Naudé antwoord dat skryf vir hom ’n soort kleedrepetisie is vir wanneer die ergste gebeur. Dit is ’n veilige ruimte waarin jy jou innerlike vrese kan konfronteer óf in ’n poging om dit af te weer óf ter wille van gereedmaking. — Elzanne Coetzee