Die troue as performance in Lillith & Lesbet Trou
'Dis jóú dag'
Ek is ’n Afrikaanse vrou in my dertigs in ’n langtermyn verhouding en ek probeer om nie te trou nie, maar dit is moeiliker as wat ek gedink het.
Dit is 2021 en ek het aangeneem dat die huwelik nie meer die norm vir my generasie vroue sal wees nie. Soveel van ons is nie meer godsdienstig nie, is finansieel onafhanklik. Ons het vervullende loopbane, sekslewens en verhoudings. Ons leef doelbewuste feministiese lewens en ons bevraagteken oor die algemeen alles waarmee die vorige generasies ons gelaat het. En tog. Een vir een trou ons almal. Uiteindelik gaan jy op die dieet en staan jy in die wit rok voor die kerk of ten minste die staat en beloof ewige trou aan een persoon, al glo jy nie meer regtig aan een van daardie dinge nie.
Ons kies om dit te doen al ken ons die feite. Ons weet dat die huwelik, soos ons dit ken, ’n ou patriargale instelling is met die doel om die seksualiteit en versorgingswerk (care labour) van vroue in diens te stel van die Christelike nasie, die (wit) volk en later die koloniale/moderne kapitalistiese ekonomie. Ons ken die statistieke, ons weet dat die huwelik steeds vrouens se posisie in die arbeidsmark benadeel, terwyl dit tot voordeel van die mans funksioneer (sien byvoorbeeld hierdie 2019 studie). En ons weet veral dat om te trou jou nie teen ’n breakup gaan beskerm nie.
Hoekom doen ons dit dan? (Om te sê dat dit oor commitment gaan, of oor die viering van jou verhouding, is nie heeltemal ’n antwoord nie, want daarvoor hoef ’n mens nie te trou nie.)
Dit is hierdie vraag waardeur die kunstenaars Nicolene Burger en Mandri Sutherland werk in Lillith & Lesbet Trou, ’n performance kuns-stuk wat hulle vir die eerste keer in Junie 2021 voor ’n klein gehoor in Vishoek opgevoer het.
In Lillith & Lesbet Trou word die troues van twee jong wit Afrikaanse vroue uitgebeeld. Hulle trou nie met mekaar nie, maar met mans wie se teenwoordigheid net gesuggereer word. Soos vir ’n regte troue nooi Burger en Sutherland hulle naaste vriende, trek hulle die handgestikte rokke aan, kies ’n kleurskema, en huur ’n fotograaf.
Die karakter van Lesbet (gespeel deur Burger) het van kleins af ’n flip file gehad waarin sy, met die aanmoediging van haar ma, foto’s van mooi trourokke versamel het. Ná skool het sy ’n kunstenaar geword en die meeste van die konserwatiewe gendernorme van haar ouerhuis agtergelaat, maar sy kon nie heeltemal laat gaan van die droom van die sprokiesdag in die wit rok nie. Op haar troudag is daar ’n shaman wat ’n deel van die seremonie lei, en ’n lied wat gesing word in Sanskrit. Tog het Lesbet die prinsesrok aan, die extensions in haar hare en die lashes; Oom Faan is daar om ’n skriflesing te doen, en op ’n manier is alles soos ons dit ken.
Lillith (gespeel deur Sutherland) se troue lyk ook nie heeltemal tipies nie. Sy trou in ’n rooi rok, en sy het die trouring van haar drome van die hand gewys om eerder die geld te gebruik om ’n slow combustion kaggel te koop. Maar sy het nietemin jare aan die beplanning van haar spesiale dag bestee, klomp gewig verloor (met die Mindset movement) en alles lyk perfek.
Lillith & Lesbet Trou ontvou as ’n skeeusnaakse parodie op die hedendaagse troue. Hulle spot met die postfeministiese retoriek wat ons deesdae gebruik om oor troues te praat: “Dis jóú dag,” sê Lesbet se suster vir haar terwyl die gaste arriveer. Die bruid is reeds bevry, sy kíés liefde en ’n sexy rok, sy doen dit alles op haar eie terme, en dalk selfs met haar eie geld. Die curation van die perfekte troue is nóg ’n manier waarop sy die lewe skep wat sy wil hê. Haar sukses en bevryding word veral in terme van materiële welvaart en konsumpsie verstaan: die Weylandts registry, die belofte van die Smeg toaster.
In Lillith & Lesbet Trou word ons aandag ook terselfdetyd gevestig op die dinge wat verbloem word deur hierdie postfeministiese neo-liberale retoriek. Oom Faan lees oor die liefde uit Hooglied, oor die einde van die wêreld uit Openbaring, en sê in dieselfde asem iets oor Afrikaans is Groot – so word ons herinner aan die verband tussen die heteroseksuele wit Afrikaanse huwelik en die voortbestaan van die volk. Deurentyd word die byna pornografiese aard van die trouritueel onderstreep – die koek word gesny en van Lesbet se lyf af bedien.
Maar uiteindelik doen Lillith & Lesbet Trou iets meer ingewikkeld as om die spot te dryf. In die stuk word daar gewys dat dit te eenvoudig is om bloot in terme van goed of sleg te dink – want as om te trou gewoon sleg is, hoekom doen ons almal dit nog steeds? Deur die troue op te voer, benader Burger en Sutherland die ritueel as ’n gebruik waardeur ons gedeelde betekenis skep, en hulle wys hoe die betekenis wat ons skep tegelykertyd bevrydend én beperkend kan wees.
Lesbet het self besluit hoe haar troue moet lyk, dit bymekaar gesit op ’n manier wat haar identiteit kan weerspiëel. Maar aan die einde van die aand lyk sy hartseer en teleurgesteld. Sy trek haar rok uit en dan hardloop sy skaam en half kaal by die trappe op, vermoedelik na die huweliksbed. “Sien jou by die doop, Sussie,” roep iemand uit die gehoor.
Waar Lesbet se spesiale dag melankolies en ambivalent eindig, kulmineer Lillith s’n in verdriet. Alleen op die verhoog begin sy haar twyfel uitspreek oor die man met wie sy trou, die lewe wat sy saam met hom kan hê. Sy vra om verskoning want sy “voel so bietjie fucked en leeg en seer en ongemaklik en depressief,” sy weet nie eens of sy in die huwelik glo nie, haar ouers is geskei. En dan doen sy die ondenkbare: “Ek dink nie ek kan voortgaan met hierdie nie. Ek’s jammer.”
Lillith neem ’n skêr en begin om die blink rooi rok van haar lyf af te sny. Die materiaal is dik en dit neem ’n paar minute. Sy begin bo, in die middel van haar cleavage, en skeur en sny in ’n reguit lyn voor in die middel van haar lyf af. Wanneer die rok uiteindelik vormloos op die grond rondom haar voete lê, staan sy vir ’n paar oomblikke in gewone swart katoen onderklere voor ons, voordat sy ook by die trappe op verdwyn. Sy het die huwelik ontsnap, maar dit is nie ’n triomfantlike oomblik nie. Lillith se vertwyfeling en ooglopende droefheid sê iets van hoe moeilik en ongemaklik dit nog vir vroue in ons kultuur is om ’n lewe te skep buite die aanvaarde raamwerk van die (verkieslik heteroseksuele) gesin, die huis en die kind. Jy verloor in elk geval.
Hoewel Lillith & Lesbet Trou dus nie baie optimisties is oor hoeveel bevryding daar vir vroue in die huwelik te vinde is nie, wys Burger en Sutherland die instelling nie gewoon af nie. Met die performance bring hulle ’n klomp mense bymekaar wat saam koek eet en sjampanje drink, opnuut oor ons verhoudings dink en in ’n gedeelde register praat oor wat dit beteken om mens te wees, lief te hê en familiebande te skep. Ons het mooi aangetrek en ver gery vir die geleentheid, ons gaan die aand nog lank ná die tyd onthou.
Miskien is die mees kragtige aspek van die stuk dan juis die manier waarop Burger en Sutherland die performatiewe aard van die bruilof uitlig. Deur die elemente van ’n troue op so ’n wyse op te voer, herinner hulle die kyker aan die feit dat elke troue ’n performance is. Met die verloop van die aand, het die lyn tussen ’n “regte” troue en die opvoering van ’n troue so vaag geword, dat ek baie van die dinge gevoel het wat ek by regte troues ervaar (’n abstrakte nostalgie in die kerk, woede oor soveel aspekte van die ritueel, sentimentaliteit, die plesier van samesyn etc.). Ná die tyd vra ek selfs vir Nicolene of sy nou anders voel nadat sy die ritueel deurgeleef het en eers toe sy lag, besef ek dis wat ’n mens so gereeld vir pasgetroude bruide vra.
Die queer en feministiese filosoof Judith Butler argumenteer dat ons optrede bepaal word deur die norme van die samelewing, maar ook dat ons optrede die einste norme in stand hou. Die implikasie is dat dit deur ons optrede is wat ons normatiewe strukture kan verander. Lillith & Lesbet Trou kan deur hierdie lens gelees word. Op ’n manier wys die stuk vir ons hoe diepgesetel die simboliese betekenisse van die trouritueel is – jy kan soveel tantra en chanting daar insit as wat jy wil, almal weet presies waarmee jy eintlik besig is en op ’n manier het ’n mens baie min agentskap om die narratief te verander. Maar deur die troue as performance uit te beeld, onderstreep hulle juis ook die krag wat in die ritueel sit om die aard van die ritueel te verander en die simboliese betekenis daarvan te verskuif. Dit wys die mate waartoe ons nie volledig bepaal word deur die sisteme waarbinne ons word wie ons is nie, maar hoe ons deurentyd sáám vorm gee aan ’n gedeelde wêreld en ’n manier van menswees.
In hierdie sin is Lillith & Lesbet Trou nie net ’n slim en snaakse parodie nie, maar ’n radikale en genuanseerde politieke gebaar wat helend en hoopvol is.
Luister ook na Nicolene Burger en Jana Vosloo se Air It-podsending-episode, ‘Dis jou dag: Reflections on White Afrikaner Wedding Rituals’.
Azille Coetzee is ’n postdoktorale genoot by die Sentrum vir Historiese Trauma en Transformasie, Universiteit Stellenbosch. Haar navorsing gaan oor gender en dekolonisasie en sy is in verskeie internasionale tydskrifte gepubliseer. Sy is die skrywer van die memoir In my vel (2019, Tafelberg) en haar eerste roman verskyn in Oktober.
Azille Coetzee is die skrywer van ‘In my Vel: ’n Reisverhaal’ wat later hierdie jaar deur Tafelberg Uitgewers uitgegee word, en ’n nadoktorale genoot by die South African Research Chair for Gender Politics by Stellenbosch Universiteit.