Russiese satire herhaal in 'n hedendaagse Suid-Afrika
Hofnar-humor dryf die spot met die slaggate van ons samelewing
Ek lees in die programbeskrywing van die Vrystaat Kunstefees 2023 dat die debuutproduksie Ou Wyntoon en die Weerlose Kreatuur en die Oudisie (Dubbelskater klugte) ’n “splinternuwe klug en komedie is deur Nico Luwes vir die verhoog verwerk uit twee van Anton Tsjechof se snaaksste tekste”. Tjechof was ’n Russiese dokter, dramaturg en “kenner van die mens en sy pyne”, soos hy omskryf word in die episodebeskrywing van die opname van Ou Wyntoon op Spotify.
In Ou Wyntoon en die Weerlose Kreatuur word die verouderde bankier Kistoenof (Ou Wyntoon gedoop weens sy probleem met jig as hy te veel rooiwyn drink) besoek deur ’n Madame Shtchoekin (’n “weerlose” kliënt), wat ’n lang en dramatiese storie oor haar man se “senuwee-versteuring” en haar gesin se desperate situasie aanbied, en hom smeek vir finansiële bystand. Ietwat verbysterd wys hy daarop dat sy bankrekening niks met haar probleme te doen het nie. Sy raak al hoe meer histeries soos sy hom smeek om die doktersertifikaat te lees wat haar man se siekte bevestig. Hy probeer haar uiteindelik uit sy kantoor gooi en noem haar ’n “plaag”, maar sy plaas op teatrale wyse ’n vloek op sy besigheid. ’n Gefrustreerde Kistoenof sê vir sy assistent Pochatkin om haar te gee wat sy ook al voor vra – en sy stem in om die volgende dag terug te keer om die geld te kom haal.
In Die oudisie kom ’n jong vrou met die naam Nina Mikhaelovna Zarechnaya by ’n teater aan, desperaat om ’n oudisie vir die rol van Anya vir Tsjechof self se nuwe toneelstuk te doen. Hy merk op dat sy siek is met koors, maar sy smeek om tog vir hom te lees en verduidelik dat sy maande gewag het vir hierdie geleentheid. Hy is skepties wanneer hy uitvind dat sy nie ’n professionele akteur is nie, maar sy vlei hom met komplimente oor sy skryfwerk. Hy is verstom wanneer sy Irina se monoloog uit Die drie susters soomloos uitvoer, opgevolg met ’n voorlesing en improvisasie van die rol van Anya, maar sy verlaat egter die teater vinnig daarna; sy wou bloot die geleentheid hê om vir hom op te tree.
Die geselskap van hierdie ironiese dubbeldoorklugte (Ou Wyntoon – Johann Nel, Esther von Waltsleben, Jan-Hendrik Opperman, en Die Oudisie – Peter Taljaard, Chanmari Erasmus, Thys Heydenrych) kwyt hulle goed van hulle taak om hierdie laat 19de eeuse stories nuwe lewe te gee. Die vraag is: Hoekom is hierdie stories nóú, meer as 100 jaar later, relevant?
Die frase “history repeats itself” kom by my op. Tsjechof het geskryf gedurende die laat 1800’s in Rusland; ’n tydperk wat deur Melinda Bruns omskryf word as: “[...] some of the hardest, yet most inspirational years of existence.” In 1861 is serfdom (nie heeltemal dieselfde konsep as slawerny nie, maar dit kom min of meer op dieselfde elemente neer) amptelik in Rusland afgeskaf. Omdat alle Russe nie ten gunste was van hierdie besluit nie, was dit ’n tydperk van groot oproer en politieke onluste in nie net Rusland nie, maar ook in die res van die wêreld.
Dié revolusionêre atmosfeer, tesame met die politieke onstuimigheid van die tyd, was die perfekte speelgrond vir van die grootste Russiese skrywers. Skrywers soos Tolstoi, Gorki en, natuurlik, Tsjechof het dieper gedelf as, en dikwels ten spyte van, die ysterhand van die tsaar en sy raad van literêre sensuur. Hierdie skrywers, en baie ander kunstenaars, het nie net vir hulself gepraat nie, maar ook vir die gewone mense van Rusland, wie se lot hulle elke dag waargeneem het.
Beide Ou Wyntoon en Die oudisie is in die 1970’s deur Neil Simon vertaal en verwerk as deel van ’n toneelstuk bestaande uit 11 onderskeie satiriese Tsjechof-eenbedrywe, getiteld The Good Doctor. Simon en Tsjechof (en Luwes kan hierby ingereken word) het albei die geleentheid gesien om dit wat hulle rondom hulle waarneem, die onregte van die tyd, op ongemaklike dog humoristiese wyse vas te vang. Iets wat in die 21ste eeu, teen die agtergrond van die ongebalanseerde sosio-ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika, ewe effektief en funksioneel is.
Ou Wyntoon en Die oudisie is albei stories waarin ’n reeks probleme in en met die samelewing uitgebeeld word: Van die korrupsie van die hoërklasse en die ontberinge van die werkersklasse, tot die slaggate van die burokrasie en die oënskynlike nutteloosheid daarvan om te probeer om op te staan vir jouself en vir waarin jy glo. Elkeen kwessies wat net sowel geassosieer kon word met die ervaring van die alledaagse Suid-Afrikaanse nuusuitsending.
’n Volgende vraag wat by my opduik, is hoekom juis die klug as gekose genre? Die klugspel as genre word in die HAT (sesde uitgawe 2015) gedefinieer as ’n “(kort) snaakse toneelstuk/rolprent waarin die karakters in lawwe onwaarskynlike/ingewikkelde situasies beland, waarvan die doel is om mense te laat lag”. Klugte dryf die spot met ’n betrokke samelewingsgegewe en/of -kwessie en dit sluit tipies kru karakterisering in. Ou Wyntoon en Die oudisie voldoen albei beslis aan elkeen van hierdie eienskappe.
My gevoel is dat die klug-vorm juis gepas is in die geval van beide Ou Wyntoon en Die oudisie, en in ag genome vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor, omdat die werklikheid deesdae dikwels vreemder as fiksie is. Gehore wil nie noodwendig gekonfronteer word met die harde waarheid van ons omstandighede nie, omdat ons daagliks gebombardeer word met slegte nuus. Ons wil dikwels eerder, eie aan die styl van hofnar-humor, vir ’n slag lag oor die absurditeit van die tye waarin ons leef.
In hierdie opsig dien Luwes se verwerking van Tsjechof se verhale ’n belangrike doel in die opheffing van die gehoor se gemoedere en terselfdertyd die bewusmaking van kwessies rondom ongelykheid in ons samelewing.