KunsBen AlbertynZander Blom

Zander Blom dink deur sy hande

KunsBen AlbertynZander Blom
Zander Blom dink deur sy hande

Foto’s verskaf deur Stevenson, kopiereg voorbehou
Alle kunswerke ongetiteld en olie op doek

Op die oppervlak van Monochrome Paintings 2

Zander Blom werk op die oomblik slegs in swart en wit. Oor die afgelope paar jaar het die kunstenaar vasgehaak op ’n redelik eenvoudige skildertegniek. Die proses verloop soos volg: Slykswart vorms word eers met olieverf op wit linne uitgelê, waarna fyner merke met staal-, rubber- of silikongereedskap in die verf ingesny word nog voor dit kan droog raak. Die eindproduk lyk amper digitaal: Vlymskerp en oppervlakkig, maar tog ook oortuigend drie-dimensioneel. Wat op die oog af dalk eentonig mag blyk, is eindelik verbasend dinamies en boeiend.

Kort voordat Blom die laaste skilderye vir sy nuutse uitstalling by Stevenson na die ramers toe gestuur het, het ek ’n bietjie studiobesoek gaan aflê. Hy werk in ’n gebou op die rantjie van Gardens in die Kaapse middestad. Soos ek sy nuutse monokroom skepsels bekyk het, het ons gelag oor hoe blokkerig die woord abstraksie is en hoe dit sukkel om die betekenis van abstraction te omvat. Nietemin probeer ons toe sy werk in Afrikaans bespreek, as ’n oefening. Dit het gevoel soos ’n gepaste vorm vir die gesprek.

So het ons vir ’n uur of twee deur die anglisismes gekrap op soek na klein waarhede oor sy skilderkuns. Blom se werk is ’n gekrappery. Soos om deur ’n onvanpaste taal te krap vir iets skerp en beskrywend, so krap Blom deur sy materiale en die ongemaklike milieu van die plaaslike kunsmark op soek na iets wat kan werk. Die kunstenaar wroeg duidelik oor die verskeie estetiese probleme waarteen hy te staan kom en die werk voel soos ’n blote neweproduk van daardie wroeging. Dit wil egter voorkom asof die monokroomtegniek wat hy onlangs ontdek het, baie van sy eertydse probleme opgelos het.

Vroeër in sy loopbaan het Blom ’n manifes laat druk oor sogenaamde “garage-ism”, ’n benadering tot die skilderkuns wat kunstenaars aanmoedig om werk te maak wat lyk asof dit uit iemand se garage uit kom. ’n Gotiese tekstuur bly konstant deur sy werk, maar die garage-ism-era-skilderye lyk veral duiwels. Die verdraaide gelate uit hierdie tydperk spreek tot Blom se tienerobsessie met Francis Bacon, maar verklap ook ’n spesifiek-Suid-Afrikaanse vulgariteit. Garage-ism omhels die kreatiewe mislukking en beweer, regtelik, dat ’n kunstenaar se tekortkominge noodwendig die interessantste aspek van hul werk is. Daar is ’n soort waarheid in die mislukking wat by die suksesvolle werk ontbreek.

Die monokroom skilderye is egter anders. Daar is iets heelwat meer elegant aan hierdie styl, selfs wanneer dit maar net soos ru-olie op ’n doek lê en stink. Tog moes Blom hierdie aanslag ook in die garage gaan vind. Dit het ontstaan nadat hy sy onvermoë om iets meer piktoraal of polities te maak uiteindelik aanvaar het. “I’ve felt a kind of nagging shame for being an artist in the 21st century who makes mostly abstract paintings,” bieg hy in die uitstallingteks. “But I just don’t care anymore.” Dit was dus juis die mislukking van sy konseptuele ambisies wat sy praktyk nuwe lewe gegee het. Blom moes oorgee aan abstrakte werk, teen wil en dank, om ’n vorm te vind wat sin maak. Dit wat hy met hierdie tweede spul monokroom skilderye uitgerig het, is bewys daarvan.

Met die eerste oogopslag voel dit asof die uitstalling soos ’n salvo van skerp pyle op ’n mens toesak. Die blote volume van werk is opvallend en van die merke lyk asof dit met ’n sweep in die swart verf ingepiets is. In die uitstalling se voorkamer is meestal kleiner panele wat salon-styl die muur volhang. Al die stukke is ongetiteld. Van hulle spartel, ander tuimel in mekaar in en ek gewaar ’n bose kraanvoël wat pik in ’n skildery naby die deur. Herkenbare figure duik hier en daar op, maar as ’n mens toelaat dat die werk oop en ongevormd bly, behou dit ’n soort eindeloosheid. Om oor te gee aan nie weet waarna jy kyk nie is ’n gesonde oefening, glo ek.

Die groter stukke hang in ’n ruimer saal langsaan. Hul vorm is ook merkbaar anders as die bogenoemde suite. Waar ’n dik swart onderlaag die kleiner panele bedek, slaan groot kolle van die wit doek hier deur. Handevol swart is plek-plek oor die doeke gemors en met verdere merke versier. Ek geniet hierdie skilderye veral. Hulle is ronder; minder aanvallend maar wel meer okkulties. In van die stukke sien ek ’n vae uitslag van kleur (soms geel, soms groen, soms blou) wat ’n amper sieklike ondertoon bydra. In van die ander word die merke om mekaar verstrengel, soos in ’n slangput, totdat al die asem uit die paneel gewurg is. Dit klink alles waarskynlik donkerder as wat dit werklik is, want ’n tong-in-die-kies speelsheid skyn deur Blom se werk selfs in die uitstalling se swaarste oomblikke.

Die waarheid van hierdie monokroom skilderye lê op die oppervlak. Blom sny gereeld in sy oppervlaktes in, maar hy sny nooit baie diep nie. Die werk het nie ’n agenda nie. “I like to make marks on a surface and then respond with successive marks, in order to solve a composition,” verduidelik hy. Blom se skilderkuns bewys dat praktyk altyd eerste kom. Die idees sal daarop volg. Monochrome Paintings 2 is die produk van ’n baie eenvoudige deug wat tog so maklik deur ’n mens se vingers glip: Die deug van dink deur jou hande.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Zander Blom dink deur sy hande gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand