Klimaatangs en welgeluksaligheid by 'n ATKV-kuier

Klimaatangs en welgeluksaligheid by 'n ATKV-kuier

Illustrasie: Eckhard Cloete

Ná 'n gesprek van Dave Pepler, Johannes de Villiers en Denise Stubbs

Die ATKV Kultuurkuier is van 18–20 Julie by die ATKV-Goudini Spa gehou; ’n geleentheid vir die verskeie ATKV-takke van regoor die land om bymekaar te kom, te netwerk en saam te dink en gesels oor waar hulle nou is en waarheen hulle op pad is. Dis ook die gulde geleentheid vir die toekenningsaand van die ATKV-takke.

Natasha Harmse en Elzanne Coetzee het hierdie kultuurkuier meegemaak en deel hulle indrukke.


Goudini Spa is een van die ATKV se sewe oorde, naby Rawsonville in die Wes-Kaap. Dit spog met ’n epiese uitsig oor die Bolandse berge en ’n natuurlik-verhitte swembad danksy die nabygeleë warmwaterbron. Ons ry douvoordag vanuit Stellenbosch en bereik hierdie lowerparadys kort ná die sonsopkoms.

Nou, kyk, ons was ’n bietjie skepties want ’n mens hoor “ATKV” en jy dink Afrikaans, jy dink Hartenbos, jy dink skriflesing en gebed. Maar ons was dalk te vinnig om te oordeel (alhoewel die openings- en afsluitingspraatjie en -gebed effens eienaardig was). Die ATKV Kultuurkuier gaan om meer as net die inner circle – daar is daadwerklik belangrike gesprekke gevoer by dié geleentheid. ’n Goeie vriendin se leuse lui boonop: “Waar ek gaan, aanvaar ek.”

Gemeenskap, omgewing, verbintenis

Vanjaar se tema van die ATKV Kultuurkuier is “Gemeenskap, omgewing, verbintenis” – ’n tema wat menigte Suid-Afrikaners waarskynlik met ’n gevoel van ambivalensie laat, ons inkluis. Met ons aankoms op Woensdag 19 Julie en ná registrasie, neem ons ons plekke in die saal in saam met die meer as 300 afgevaardigdes wat die geleentheid meemaak.

Dis ’n fris oggend in die Breede Rivier Vallei en ons word kniekombersies aangebied terwyl die gassprekers hulle plekke op die verhoog inneem vir die paneelgesprek. Terloops, die kniekombersies was net die oortjies van die seekoei wat dié mense se gasvryheid betref: Ons is deurlopend bederf met die lekkerste eet- en drinkgoed en met ope arms verwelkom op die oord.

Die gassprekers, Dave Pepler, Johannes de Villiers en Denise Stubbs, is saam met Martelize Brink (as gespreksleier) ’n goeie balans op die glyskaal van doemprofeet tot hoop-inprater.

Dave Pepler begin die gesprek op ’n ernstige noot: Die aarde brand. Ten tyde van hierdie gesprek is die hoogste temperature die voorafgaande week op aarde aangeteken sedert ons die instrumente ontwikkel het om temperatuur te meet, met ander woorde, op rekord was die aarde nog nooit so warm soos nóú nie. 

Die toename in temperatuur is as gevolg van die opeenhoping van koolstofdioksied en ander kweekhuisgasse in die atmosfeer. Volgens die IPCC se onlangse verslag, wat ’n sintese van die bestaande kennis oor klimaatsverandering is, is onherroeplike skade reeds aangerig. Dit hou ’n reeks gevolge soos stygende seevlakke, verlies aan biodiversiteit en groot bedreigings vir landbou in (Harvey, 2023).

Teen die huidige koers van klimaatsverandering het ons enkele (nie eers tiene of honderde) goeie jare oor voordat voorheen-buitengewone, verwoestende weerverskynsels soos oorstromings, droogtes en ander rampe die norm gaan word. Daar is egter nog hoop dat ons onder die 1,5 °C-stygingslimiet kan bly en steeds ’n volhoubare toekoms vir die mensdom kan verseker mits daar onmiddellik en drasties ingegryp word (Harvey, 2023). Dave se raad? Ontwikkel ’n liefde vir jóú plek. Maak jou ruimte heilig. Maak ’n verskil daar waar jy is. 

Ontwikkel ’n liefde vir jóú plek. Maak jou ruimte heilig. Maak ’n verskil daar waar jy is.
— Dave Pepler se raad vir klimaatangs

Asof klimaatsverandering nie beklemmend genoeg is nie, moet ons boonop erken dat dit nie maklik is in ’n plek soos Suid-Afrika waar mense daagliks traumatiese ervaringe het nie. Volgens Johannes de Villiers lei dit in die algemeen tot moedeloosheid en woede – wat verstaanbaar is – maar wat gebeur as jy verby die reaktiewe emosies beweeg? Een moontlikheid is dat jy dalk post-traumatiese groei ervaar. Sonder die uitdaging van sterk wind is ’n boom se wortels veel vlakker, en die stam dunner, as een wat al teëspoed oorleef het. 

Denise Stubbs beaam hierdie gedagte wanneer sy vertel oor haar betrokkenheid by die gemeenskap in Pniël; ’n betrokkenheid gegrond in haar eie grootwordjare in die area. As gemeenskap omhels hulle alle emosies – ook hartseer. Volgens Denise is hulle “nie skaam vir wie en wat hulle is nie” en sy praat openlik met besoekers oor Pniël se geskiedenis as slawedorpie. Vir hulle behoort die verlede nie onderdruk te word nie: “Ons leef dit, ons maak dit werk.” Deel van wat ’n gemeenskap funksioneel maak, is ’n ruimte vir die verwerking van trauma en verlies, en hierdie proses vind in Pniël veral deur middel van humor op die planke van die plaaslike teater plaas. 

Martelize Brink, wat self al ’n struikelblok of twee moes oorkom in haar lewe, sluit af met die kerngedagte uit hierdie gesprek: “Daar is net een pad en dis vorentoe.” 

welgeluksaligheid

Johannes se werkswinkel “Ruimte vir geluk” oor die positiewe sielkunde ná ’n koffie-/teebreuk skakel lekker in by die tema van die paneelgesprek. Hy verduidelik dat daar sowat 25 jaar gelede ’n gaping in die sielkunde geïdentifiseer is – ons verstaan geestesongesteldheid redelik goed teen hierdie tyd, maar wat weet ons van positiewe emosies? 

Ter inleiding vertel Johannes ’n storie van ’n vrou wat gelyk het of sy haar lewe agtermekaar het, met die huis, die kar, die goeie man en kinders, die vermoë om voorsiening te maak in al haar behoeftes en begeertes. Die enigste probleem is dat sy bly voel het iets skort. Toe word sy skielik siek. Gelukkig het sy ’n goeie mediese fonds! Die dokter gaan sien, ontvang sy ’n verpletterende diagnose wat beteken dat hulle byna onmiddellik sal moet opereer in ’n poging om haar lewe te red. Sy ondergaan die operasie en maak dit tot in die waakeenheid voordat sy begin besef daar is groot fout. 

Hoe weet sy daar is fout? Sy begin die skrikwekkendste droombeelde ervaar: Slange wat onder haar bed uitseil, donker figure wat bo-oor haar staan. Dit voel vir haar of die dood haar kom haal. 

Hoe weet die mediese personeel? Wanneer haar inwendige bloeding erg genoeg word dat dit haar organe begin aantas. Op hierdie punt van die storie stel Johannes ons gerus: Toemaar, sy kon dié storie oorvertel, so sy het dit natuurlik oorleef! 

Ná haar skyndood is sy ’n ander mens. Sy is nie meer die chronies-ontevrede vrou wat sy eens was nie, sy is intens-dankbaar vir elke oomblik, selfs die ongemaklike oomblikke. Sy is dankbaar wanneer haar kinders sarkasties is met haar. Sy is dankbaar wanneer al die robotte die dag rooi is: “Dankie tog ek is nog hier om die rooi lig te sien!”

Na aanleiding van hierdie verhaal deel Johannes sy driehoek van geluk: blydskap, dankbaarheid en hoop. Natuurlik is niemand 24/7 opgewonde-gelukkig nie, maar die geluk waarna Johannes verwys, is meer van ’n volhoubare geluk – ’n welgeluksaligheid.

Jou gedagtes neem jou weg van die huidige oomblik na die verlede of die toekoms, verduidelik Johannes. Oefen om jou bewustheid terug te lei na die teenwoordige tyd, met ander woorde, beoefen bewuste teenwoordigheid, mindfulness. “Soos jy daar sit, ontspan jou voorkop, ontspan jou kakebeen, laat sak jou skouers weg van jou ore af, stoot jou maag uit, haal diep asem, laat rus jou hande op jou skoot en sprei jou vingers oop,” neem Johannes ons deur die stappe om spanning van jou lyf af te skud. 

Dompel jou in die sensoriese in die hier en nou, en wanneer jou gedagtes begin afdwaal, word weer bewus van jou asemhaling. Hoe lug instroom by jou neus wanneer jy inasem, deur jou lugpyp in jou longe wat die suurstof in jou are instuur, volg denkbeeldig die bloedstrome wat elke deeltjie van jou liggaam van nuwe suurstof voorsien. Asem weer uit en stuur sommer die spanning wat in jou spiere sit, saam met die koolstofdioksied by jou neus uit.

Johannes se woorde kom weer by ons op wanneer ons vir oulaas op Donderdagoggend ’n ent op die staproete in die berge verken. Terwyl die gedagte dat die aarde soos ons dit ken, besig is om tot ’n einde te kom – en dít teen ’n moerse spoed – waarskynlik in die agterkop sal bly resoneer, is die idee dat moeilikhede kan lei na ’n anti-fragility, na verbintenisse met ons gemeenskap wat dalk voorheen nooit sou plaasvind nie, na die kweek van ’n nuwe liefde en waardering vir jou omgewing tog vertroostend.

[D]ie idee dat moeilikhede kan lei na ’n anti-fragility, na verbintenisse met ons gemeenskap wat dalk voorheen nooit sou plaasvind nie, na die kweek van ’n nuwe liefde en waardering vir jou omgewing [is] tog vertroostend.
— Natasha Harmse en Elzanne Coetzee

As ons nie hier is vir ’n lang tyd nie, kan ons net sowel elke minuut laat geld. Of jy jou dae deurbring deur obsessief die nuus te volg en negatiewe gedagtes te huisves en aan te moedig, en of jy kies om ten spyte van die donkerte die lig op te soek en na te volg, is jóú keuse. Jy alleen bepaal jou werklikheid.


Oor die illustreerder: Eckhard Cloete woon in Kaapstad. Hy skryf advertensies om die pot aan die kook te hou en gedigte ter oorlewing. Hy teken meestal met vulpenink en ’n ystervarkpen wat hy naby Piketberg opgetel het.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Klimaatangs en welgeluksaligheid by 'n ATKV-kuier gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand