Hier's wat ons van jou Silwerskermfilm gedink het
Fluit-fluit, Silwerskermfees is uit
Die 11de Silwerskermfees was die grootste een nog: Buiten vyf speelfilms en 14 kortfilms, het die fees vanjaar vir die eerste keer ook ses dokumentêre films en drie loodsepisodes van nuwe televisiereekse gewys. Die Klyntji-span het baie lekker ge-popcorn, ge-movie en ge-fan girl oor al die mooi dinge wat die land se slim creatives geskep het.
Ná die laaste credits oor die grootskerm gerol het, het die feesvieringe voortgeduur by ’n swanky toekenningsgeleentheid. (Baie dankie vir die invites, kykNET, ons hoop julle het mooi foto’s van ons geneem, want julle gaan dié spul skrywers nie gou weer só opgedollie sien nie!)
Hier is ’n paar resensies vanuit Kampsbaai.
'n Doop om stilte
Ontgroening word, natuurlik, beskou as ’n rite of passage: Die oorgang van een fase na die ander; van enkel-individu na deel van die groep. In ’n Doop om stilte word die toksisiteit van hierdie proses ondersoek; hoe die afbreek van die individu ten gunste van integrasie in die groep ’n proses van psigiese geweldpleging behels. Veral wanneer dit in die naam van “tradisie” en “manlikheid” gepleeg word.
Op die oppervlak beeld die film bloot die impak van ’n skoolontgroening of “doop” op die psige van ’n jong graad 8-seun uit. Maar ’n Doop om stilte is geensins ’n oppervlakkige film nie; dit is, inteendeel, diep, diep, diep – so diep soos die stille waters van Josua (Tiaan Luyt), hoofrol in die kortfilm, wat letterlik tot stilte gedwing word deur sy doop.
’n Doop om stilte is ’n besonders kragtige uitbeelding van die voortsetting van toksiese manlikheid en die verlies van onskuld. En, dalk meer nog, hoe stilte funksioneer om siklusse van geweld en patriargale onderdrukking voort te sit.
Die kinematografie werk besonders goed saam met die teks om ’n deurlopende gevoel van onheil aan die film te verleen. Die rolvertolking word puik en oortuigend uitgevoer. Ek moet Jan Combrink en Tiaan Luyt uitsonder; Combrink is baie oortuigend as die wrede matriekseun en Luyt se vertolking van Josua is besonders kragtig – veral in daardie laaste scene. Stille waters, diepe grond, inderdaad. Sjoe.
Alhoewel ’n Doop om stilte ’n kortfilm is, is die impak daarvan gelykstaande (dalk selfs groter) as dié van ’n vollengte film. Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst het uitmuntende werk hier gedoen. Ek hoop om nog baie meer uit die pen en lens van Viljoen en Badenhorst as power duo te sien. – Andréa Müller
***
Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst het ’n moerse middelvinger vir masculinity gegooi in ’n Doop om stilte. Die verhaal vetel ’n story oo Joshua, ’n grade 8 learner wat deur ’n intiation process gan. As expected is die ontgroeningsaand loaded met die seniors wat hulle krag abuse. Vi my wôd die futility enni vacancy van die ontgroeningsproses in die spotlight gesit, kaal en met al sy vulnerability. Is net ’n geraas wat niks eintlik beteken nie, but die effects leave a ringing sensation in jou ear, soes second-hand earphones. Dai tinnitus los jou disoriented, confused.
In soe ’n shortfilm question hulle concepts van masculinity en brotherhood, en overall vra dit die viewer of daa actually ’n good framework vi healthy masculinity is. There’s moments waa jy glimmers van dit sien, maa inni shadow vanni nag is dai glimmers niks annes nie as twilight wat transient is.
Byrri time watti film end, sien ôs vi Joseph. Broken. ’n Oomblik waa jy eintlik moet net quiet wies, sit in dai moment, die tears vanne child is ’n storie op sy eie. – Paul Kammies
Dans dat die biesies bewe
Dans dat die biesies bewe is ’n absolute fees om te kyk. ’n Feel-good film as daar ooit een was. Esteties is dit mooi en evokatief van ’n nostalgiese gevoel, die droë humor is werklik snaaks en die verhaal is besonders heilsaam. Ek het nog nooit iets soos dit in Afrikaans gesien nie.
Cara Meiring (Mieke Kruger) en Rikus Strauss (André Kruger) se rolvertolking is on point en komplementeer mekaar baie goed. Ek moet wel vir Meiring uitsonder; haar vertolking van die dead-pan, awkward Mieke is besonders sjarmant. Luzanne Potgieter het fantasiese werk as regisseur verrig.
Aanhangers van Napoleon Dynamite (2004) sal die film se estetika, klankbaan en rolvertolking baie geniet. – Andréa Müller
***
Camp asf.
Personally was die shortfilm so entertaining met so many good moments waa jy kan lag. Ôs follow vi Mieke wat ’n rol as ’n backup dancer vi Wimpy Steyn, ’n bekende pop-star, wil losslaan. (Side note, ’n hele reeks oo die daily life van Mieke, wat quirky, dead-pan en charming is, sal nie bad wees nie.) In ’n audition room met professional-looking dancers staan sy uit in ’n volle-80’s disco gap. Inni actual audition issit apparent dat sy dalk nie die beste dancer van die group is nie, en haa broer André support haa wanne sy naby to “calling it quits” is. Sy keer terug met ’n fire, thrusting, kart-wheelz en dancing. Very much soese 80’s aerobics class as dit deur John Waters directed was. Extra flair, absurd en bold.
Ek love die film, want dit remind ’n mens dat dancing net fun is. Dat dit ’n creative expression is wat die gedeeltes van iemand articulate wat woorde nie kan explain nie. Gelaai metti nostalgia vanni 80’s en early 2000’s, odd-humour en ’n unforgettable dance scene sal Dans dat die biesies bewe defs jou hart opwarm. – Paul Kammies
Die Blokke
Die blokke, real en unforgiving in wat dit display. Issi storie van manne wat die system probeer conquer; virre job, virre house, virre phone vi ’n man se laatie. Is erg though, want die situation is dire inne community waa gansterism en drug use/selling die apparent choices is en die right way van dinge nie vi jou accessible issi — oo hoe mense sacrifices moet maak wat heeltemal hulle lives verander. “Die moeilikheid kom na my toe.” ’n Line wat heavy aan my getref’et. Dit point out hoe heavily constructed die world oppi flats is. ’n Line wat my lat voel dat die film emphasise die pyn en suffering wat uit fury kom, ’n fury wat exude uit die desire for a sheltered en peaceful life.
Een ding wat ’n mens moetie van die flats vergietie, is dat daa community is. Interwoven, extensive, deep-seated, deep-rooted. Dit mean almal dra die weight vanni struggle, no matter how far removed hulle is vanni situation; hoe conservative, hoe heilig, hoe gaaf jy is, die amount of potential wat jy het, is maa net outside variables.
Die blokke is at it’s heart ’n storie oo hoe ’n mens se drome altyd in jeopardy is en oo hoe die cycle van violence homself constantly rebirth, soese reflex. Sonder om virri kyker ’n lesson te gie oo die historical displacement en poverty. Isse shortfilm wat vir homself praat, clearly. – Paul Kammies
Die swart draak ontwaak
Die swart draak ontwaak is ’n interesting shortfilm. Watti literary background behels, issi struggle between ’n sensei en ’n kingpin, isse saak van morality en hoe hulle hulle power en influence channel. Een gebruik it om virri kinders vanni flats te empower, die anne om vi mense te intimidate en misbruik. Die shortfilm kry die viewer by dai point waa die families vanni kingpin enni sensei overlap. Daa’s ’n line between business en family, ’n line wat moet nooit ge-cross wies nie. Twee notable figures oppi flats with everything on the line moet veg tot die bitter end.
My critique oppi film is dat dit nie grounded voel nie. Ek dink die storie self het nie dai further constructions wat die storie sy bearings gie nie, dai sense of wat lê diepe in die script, die factors watti morality scale begin tip. Is dalk nit-picking, maa inbetween allie action scenes enni wraak neem sal ek ook virri villian ’n bietjie empathy hê. I want to see the hidden antagonist, ’n nuance van hoe sometimes is not okay vir ’n protagonist to retaliate. Die idea is solid en die performances van die cast is worthy of giving credit to, omdat die synergy between hulle almal is real, die martial arts en action is well crafted, but die storie leave a bit more to be desired. – Paul Kammies
Die tragiese saak van Pamina Vermaak
Die tragiese saak van Pamina Vermaak is die filmverwerking van Annie Klopper se 2018-roman met dieselfde titel. Deur na die fluisteringe tydens die fees te luister, kon ek agterkom dat kykers gróót verwagtinge vir Kabous Meiring se directorial debut gehad het. Kitsresensies in die lyn van “dit was lekker/oulik/nice!” het ná die premiere deur die Bay Hotel-kroeg weerklink.
Ek wil nie bloot oor afgeluisterde menings berig nie, maar stem wel heelhartig saam dat dit ’n lekker/oulike/nice fliek is. Ek het dit geniet. Die algehele visuele aanbieding is fantasties. Die essence van die karakters word byvoorbeeld heel effektief oorgedra deur die keuses van hulle kleredrag: Pamina se dikwels mismatched-outfits wat saamgestel word uit die oorblyfsels van haar hoërskoolklerekas in die huis waar sy grootgeword het, haar twee ma’s se helder uitrustings wat gepaard gaan met die warm en positiewe energie wat hulle tot elke toneel voeg en die love interest Wolf se oopgeknoopte flannelhemde wat natuurlik daarop dui dat hy ’n misunderstood musikant van Higgovale is.
Daarmee saam is die (binnenshuise) stelontwerpe *chef’s kiss*, veral Pamina se tienerslaapkamer in haar ouerhuis waar alle dekor – van die string fairylights bo die bed en die posters teen die muur tot die Walkman wat al jare lank geduldig op die bedkassie sit en wag vir haar om huis toe te kom – drup van nostalgie vir die persoon wat sy op hoërskool gedink het sy oor ’n paar jaar sou wees (painfully, embarrassingly relatable).
Vanuit ’n tegniese oogpunt is die fliek indrukwekkend. Die algehele regie en redigering is puik gedaan. Carla Smith as Pamina bewys weer eens dat haar vaardigheid as kunstenaar besonder fyn afgerond is. Sy maak van Pamina ’n oortuigende loskopkarakter met wie jy nie kan help om te vereenselwig en voor lief te raak nie. (Ek kan ongelukkig nie dieselfde sê van die Wolf-karakter teenoor wie sy speel nie.) Daar is ook iets heilsaams aan die mooi verhouding wat tussen Pamina se ma’s (vertolk deur Anna-Mart van der Merwe en Lee-Ann van Rooi) en halfbroer (Duane Williams) uitgebeeld word. Ek sou graag wou sien dat hulle onkonvensionele gesinsdinamika verder verken word, maar ’n fliek kan natuurlik ook net so lank wees (en Pamina Vermaak is immers ’n romcom).
Storielyngewys is die fliek grotendeels voorspelbaar en verpak met clichés. “Dit is nie ’n grensverskuiwende letterkundige oeuvre nie, maar poog ook hoegenaamd nie om een te wees nie,” skryf André van der Hoven in 2019 oor die boek. “Dit is eerder ’n unieke en kontemporêre verhaal in eie reg en eie klas. Niks meer nie – en dit is 100% perfek net só. Dit is ’n roman wat sy teikenmark baie goed verstaan en goed mee kon click.” (Ek is versigtig om die boek in dieselfde asem as die fliek te bespreek aangesien daar natuurlik ’n groot mate van herskryf plaasvind met die verwerking van roman na draaiboek, maar hierdie aanhaling is besonders nuttig om my gedagtes in hierdie geval te motiveer.)
Wat dié romcom wel uniek maak in die genre, is die posisionering van die storie binne bekende landskappe – die plekke, letterlik-gesproke, maar ook die taal en die konteks wat deur die soundtrack vasgelê word. Die sterk ruimtelike verwysings na Kaapstad en die (fiktiewe) Weskusdorpie is na my mening uiters suksesvol. Die vroeër tonele wat in die Kaapse middestad afspeel, was van my gunstelinge. As ’n voormalige Weskusser was die tonele wat in Velddrif en Laaiplek verfilm is, ook vir my besonders mooi.
Alles in ag genome, ’n film van noemenswaardige hoë gehalte. In ’n 2018-resensie van Pamina Vermaak, die boek, beskryf Bibi Burger dit as die “perfekte Desembervakansievermaak”. Soortgelyk is Pamina Vermaak, die fliek, die perfekte Sondagaandvermaak. – Elodi Troskie
Frankie en Filipé
Frankie en Felipé is ’n plesier om te kyk. Dié vollengte komedie se indrukwekkende cast (Bradley Olivier, Solomon Cupido, Kim Syster, Bianca Flanders, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs, Danny Ross, Lee-Ann van Rooi, Bouwer Bosch, Terence Bridgett, Brendon Daniels, en meer) sorg vir ’n fyn-afgeronde resultaat: Oomblikke van tenderness wat met perfectly timed lag-uit-jou-maag-punchlines afgewissel word.
Olivier en Cupido, wat die draaiboek (saam met Brett Michael Innes) geskryf het, die film vervaardig het en die hoofrolle vertolk, is ’n absolute power duo. Daar is ’n sinergie tussen dié twee akteurs wat ek selde op die skerm sien. Dit is daarom ook spesiaal dat Frankie en Felipé die laaste projek is waaraan Olivier gewerk het voor hy net ’n paar weke voor die premiere van die fliek oorlede is. Tydens die premiere, sowel as die feestoekenningsaand waar die film en sy akteurs gereeld in benoemde kategorieë ter sprake gekom het, was dit vir my opmerkbaar hoe die respek vir Olivier en sy werk deurentyd in die vertrek teenwoordig was.
Hoewel Frankie en Felipé ’n komedie is, is daar betekenis wat dieper onder die oppervlak skuil. Die positiewe uitbeeldings van gesinsdinamikas, ouer-kind-verhoudings en romantiese verhoudings (onder karakters van beide jonger en ouer generasies) was vir my besonders mooi. Die sekondêre storielyne (byvoorbeeld die tonele tussen Cupido en Flanders, en Meas en Klink se karakters onderskeidelik) was boonop net so vermaaklik soos die primêre verhaallyn. ’n Lekker-kyk, lekker-lag en onwillekeurige-traanpik-fliek wat pure vreugde uitstraal. – Elodi Troskie
Karen
Karen is ’n komedie wat op ’n interessante manier met die Karen-trope speel. Susan (Laura-Lee Mostert) word in ’n misverstand in ’n koffiewinkel tot “Karen” én rower bestempel. Uiteindelik ontknoop die film só: Met Susan, haar ma (Franci Swanepoel) en koffiewinkel-barista (Abigail Heyns) wat wraak neem op Susan se eksman.
Alhoewel ek baie van die konsep hou, val die film vir my ’n bietjie plat met die wille, gekompliseerde en onwaarskynlike verhaallyn. Die etiket “Karen” kon nog meer uitgepak en geïroniseer geword het. Ek dink die dryfkrag van die film is om ’n feministiese take op die Karen-trope te gee, maar dit mis die merk net-net (of die merk word effe verlore in die warboel van verhaalgebeure).
Karen is tog, ondanks sekere tekortkominge, baie snaaks. ’n Lighartige kyk met oomblikke van comedy gold. – Andréa Müller
Langafstand
In die dokumentêre kortfilm, Langafstand, maak die kyker kennis met Deon-Lee Hendricks, ’n langafstandatleet wat besig is om voor te berei vir die landloopproewe waartydens die Suid-Afrikaanse span gekies word om die land internasionaal te verteenwoordig. Die film begin met ’n reeks shots van Hendricks wat hardloop deur die strate van Cloetesville, waar hy woon. Hy verkies dit om hiér te hardloop, vertel hy, omdat hy sy gemeenskap wil wys dat dit hulle is wat hom dra in sy atletiekloopbaan.
“Deon-Lee, hy is iemand wie hard werk vir wat hy wil hê, iemand wat hardloop vir God en vir sy ma,” stel hy homself bekend. Kykers bring sowat ’n week saam met die jong atleet deur soos die dae aftel na die proewe. Gedurende hierdie tyd word gesprekke gevoer met onder andere sy suster, pa, afrigter, lede van sy oefengroep, inwoners van Cloetesville en atletieklegendes soos Elana van Zyl en Zola Budd. Uit hierdie gesprekke word dit duidelik dat Hendricks ’n sterk ondersteuningsraamwerk het en ’n enorme impak het op dié wat sy harde werk dophou. Sy pa vertel byvoorbeeld dat Hendricks as die “hope of Cloetesville” beskou word. Hierdie sentiment word bevestig deur ander lede van die gemeenskap wat almal opregte belangstelling toon in die aanloop na die proewe waarvoor hy aan die voorberei is. Daarmee saam het die opbouende verhoudings tussen hom en sy suster, afrigter en ander atlete wat saam met hom oefen, my veral bygeval. Die wedersydse liefde en respek is byna tasbaar.
In sy kamer by die huis wys hy sy versameling hardloopskoene en al die medaljes wat hy tot dusver verower het. Hy verduidelik ook die inspirasie agter die kunswerke bo sy bed wat hy geteken het, en wys die sertifikaat wat hy ontvang het vir ’n kunskompetisie wat hy op skool gewen het. Teen die muur is ’n geraamde foto van sy oorlede ma.
Ek sou graag meer wou skryf oor hoe die Cloetesville-gemeenskap uitgebeeld word in die film. Ek sou ook meer in detail kon kyk na hoe verskillende beelde deur die loop van die film met mekaar in gesprek tree, en hoe die vervaardigers ’n klop op die skouer kan kry vir hoe ek as gehoorlid in ’n kort tyd in Hendricks se ambisies en toekomsplanne geïnteresseerd geword het. Dit is egter moeilik om terug te tree en krities na ’n dokumentêre film soos hierdie een te kyk. Ons is nie hier besig met fiksie nie; Langafstand maak die venster op ’n skrefie oop om vir sowat ’n halfuur lank ’n blik te kry op ware lewens waarin die einde van die dokkie nie die einde van die “karakters” se storielyne beteken nie. Vergewe my asseblief dat ek my punt probeer staaf deur uit ’n animated series aan te haal, maar: “Sometimes life’s a bitch and then you keep living” (Diane Nguyen in BoJack Horseman).
Langafstand is ’n treffende dokumentêre projek. Ek hoop en glo ook dat die credit rolls nie die laaste plek was waar ek Deon-Lee Hendricks, die atleet, se naam gaan lees nie. – Elodi Troskie
Teater na die mense
Teater na die mense was vir my ’n (indien nie dié) hoogtepunt van vanjaar se filmfees. Hierdie film is ’n belangrike projek wat die merkwaardige dog verbasend-onbekende geskiedenis van die Cape Flats Players-teatergeselskap dokumenteer.
Tegnies gesproke is die dokkie hoogs indrukwekkend: Die storie word aanmekaar geweef deur rond te spring tussen beeldmateriaal uit die argiewe van die Cape Flats Players se mees noemenswaardige historiese oomblikke, onderhoude met huidige lede van die geselskap en gesprekke met van die groep se oorspronklike lede. Veral treffend is die onderhoudstylgesprek wat plaasvind tussen stigterslid, Peter Braaf, en sy dogter, Genevieve Muller. Die persoonlike verbintenis tussen dié twee belig die opofferings wat Braaf, sy gesin en die res van die geselskap bewustelik gemaak het ter bevordering van protesteater in verset teen die apartheidstelsel. Deur in die film ’n stem te gee aan verskillende generasies wat aan die Cape Flats Players verbonde is, word kykers toegelaat om selfs ’n dieper verstaan te kry van die enorme impak wat hierdie geselskap deur hulle aktivisme tot gevolg gehad het – ’n impak wat steeds voortleef onder die jongste lede van die huidige teatergroep.
Ek het die dokumentêr as uiters opvoedkundig ervaar. Ek het skaam gevoel dat ek totaal onbewus was van so ’n kragtige beweging in Suid-Afrika, en Afrikaans, se (onlangse) geskiedenis – nie net oor die werk van die Cape Flats Players en DRAMSOC (die Universiteit van die Wes-Kaap se drama society) nie, maar ook oor dié twee groepe se noue betrokkenheid by die eerste opvoerings van menigte van Adam Small se mees bekende (en dikwels ook minder bekende) verhoogtekste.
By die teater uit het ek onmiddellik op die internet gespring om te probeer uitvind of ék bloot oningelig is, en of Teater na die mense juis ’n praktyk van argiefbou beoefen deur blootstelling te gee aan ’n kultuurbeweging waarvan baie Suid-Afrikaners moontlik totaal onbewus is. In hierdie artikel bevestig Hein Willemse, wat ook insette in die dokumentêr lewer, dat die Cape Flats Players (ten tye van publikasie in 2017) nog nie nagevors is nie, en dat daar oor die algemeen baie min inligting oor die kulturele aktiwiteite van geselskappe soos dié beskikaar is.
Nadine Cloete, as regisseur en vervaardiger van die dokumentêr, het ’n indrukwekkende taak verrig in die skep van die film. Soos Candice Jantjies hier skryf, sluit Cloete se jongste projek aan by die fokus op erfenis en identiteit wat in haar vorige filmprojekte opgemerk kan word.
Almal kan iéts uit Teater na die mense leer. – Elodi Troskie
Thrift tot die dood
Thrift tot die dood word gekategoriseer as ’n riller, maar dit kon ook ’n komedie wees. En ek bedoel dít geensins as negatiewe of afbrekende kritiek nie. Die film is beslis vreesaanjaend én grusaam – en oortuigend só. Ek het by tye behoorlik gegril en my asem opgehou, soos ’n mens vir ’n riller maar doen. Maar Thrift tot die dood het ook ’n briljante lepelvol van humor tot die klassieke riller-resep gevoeg.
Die konsep van die kortfilm alleen verleen inderdaad aan die film ’n groot mate van absurditeit – ’n thriftshop-eienaar, part-time-heks (neem ons aan) se betoorde klere pleeg moord op ’n jong hashtag-hipster-thrifter in Yeezy’s met ’n septum-ring, alewig met ’n green juice in die hand – maar die suspense en gore hou ’n mens op die punt van jou stoel. Dít is hoofsaaklik te danke aan die regie, kamerawerk, kinematografie, klank en on point fake bloed en grillerige gore. En natuurlik die oortuigende en innoverende uitbeelding van hoe die boosaardige kledingstukke tot lewe kom met ’n bloedlus. (Wie sou kon raai dat dít ’n oortuigende riller-verhaal kon vertel? Because it does.)
Natuurlik moet ek Anré Bouguenon se oortuigende vertolking van die hunted hipster ook uitsonder (daarsonder sou die absurditeit die riller-genre g’n guns doen nie). Liezl de Kock sowel as haar puppets (as’t ware) is scary af (laasgenoemde self ook cute af). – Andréa Müller
Volle bors
Volle bors beeld ’n jong vrou (Eva, vertolk deur Marguerite van Eeden) se stryd met die kennis dat sy ’n hoë risiko vir borskanker het en dat sy ’n mastektomie moet ondergaan, uit. Ek glo dis ’n film waarby kykers in soortgelyke posisies, of met familie of vriende met soortgelyke ervarings, baie aanklank sal vind.
Die film beeld veral uit hoe familie en vriende, deels weens onkunde en onsensitiwiteit, te kort skiet om vroue soos Eva volkome te ondersteun. Maar dit beeld ook ten einde uit hoe ’n bemagtigende gemeenskap (hetsy aan- of vanlyn) vroue soos Eva kan ondersteun, en dat vroulikheid en ’n vrou se waarde en identiteit meer as hulle borste is – of, eerder, wat hulle borste simboliseer. “Borste” word hier kode vir die verskeie rolle wat van vrouens verwag word om te vul, hetsy a) om sensueel en sexy te wees, of b) om te voed en te sorg. Ek dink nie dis pure toeval dat die hoofkarakter se naam Eva is nie.
Die kinematografie is mooi, en daar is heelwat skote wat sinspeel op borste en Eva se innerlike stryd. My gunsteling is dié van twee verlepte krismisrose in ’n spreekkamer. Ek het ook gehou van die maniere waarop die gebruik van sosiale media en/of die internet uitgebeeld is.
Die rolvertolking het my egter nie besonders beïndruk of oortuig nie. Maar Volle bors slaag tog daarin om ’n heartfelt lig te werp op ’n kwessie waaroor daar nie veel “met volle bors” (en nie in gedempte, hush-hush-stemme nie) gepraat word nie. – Andréa Müller