Draadhond: poëties, polities en punk daarby
Andréa Müller oor die obskure side-project band se nuwe EP, Vooruitstrewend
Omtrent ’n maand gelede ontvang ek ’n e-pos met ’n WeTransfer link na ’n EP getiteld Vooruitstrewend. Vyf snitte, opgeneem deur die twee-man-band Draadhond. Ek herken die bandnaam van die striking swart-en-wit strokiesprent in die 2019-uitgawe van Ons Klyntji, ‘Die storie van Draadhond’, deur argitek Anton Barnard, wat die mitologiese origin story van die band vertel.
“Ons het letterlik omtrent twee fans. Dis net ons twee se vroue wat ons posts op Fa(k)ebook ooit like,” vertel Anton vir my in ’n opvolg-e-pos-exchange. Hulle Spotify-stats wys 21 maandelikse luisteraars, met ses followers uit Suid-Afrika, een uit Duitsland, een uit Ierland en een uit Australië. Intrigued deur die prospect van hierdie vyf snitte en hierdie byna-mitologiese en obskure side-project band, I was.
Nog meer so toe ek die snitte actually luister en dit vir my duidelik word dat Draadhond se obscurity en (mainstream) onbekendheid nie sinoniem met eenvoud of oppervlakkigheid is nie.
In 2020 skryf Francois Lion-Cachet vir Klyntji oor Anton se tekeninge: “Sy sketse getuig van ’n Suid-Afrikaanse agtergrond, verbind met ’n diepgaande kennismaking met die Europese landskap. Dit is punk daarby.” Hierdie woorde kon net so wel oor Draadhond en die vyf snitte op Vooruitstrewend geskryf gewees het: harde rock en beeldryke lirieke wat getuig van ’n Suid-Afrikaanse agtergrond, verbind met ’n “diepgaande kennismaking” (om Francois se woorde te gebruik) met die Suid-Afrikaanse diaspora en (dis)enchantment met said Suid-Afrikaanse agtergrond, veral vanuit die buiteland.
Die toneel vir hierdie kennismaking word reeds in die eerste snit ‘Die Ketting’ se eerste paar reëls geskets: “Hier sit ons nou verstrooi / Vêr weg van die land / Soos ou dryfhout in die skuim geslyp / op diaspora se strand.” Treffende, poëtiese beelde kleur hierdie verkenning van self-sans-nasie in: “Al wat oorbly is hierdie taal / se naklank in ons skedels / ’n afgod se skelet, ’n tent se paal / wat jou seile van binne stut.”
Die Ketting
Hier sit ons nou verstrooi
Vêr weg van die land
Soos ou dryfhout in die skuim geslyp
op diaspora se strand.
Van ons volksmoeders gespeen
Die ketting skyn gebreek
Nou slaap die stories van ons oumense
op die bodem van die see.
My mense maak nou kuns
Hulle dig die dieper donker
My mense dans op vêr blou eilande
Praat met gode op die maan
Die pennedrywers en beeldenaars
Die buitekamer rockstars
Skep hul water uit die bron,
staan naak onder die son.
Al wat oorbly is hierdie taal
se naklank in ons skedels
’n afgod se skelet, ’n tent se paal
Wat jou seile van binne stut.
Ons vier wit Kersfees in die somer
Maar niemand vra waarom
Dis die eggo’s van ons voortyd
Wat ons stemme laat verstom.
My mense is nomade
Burgers van die aarde
My mense woon in die eter
Hulle voete vêr oor die water
Die queers en anargiste
Blinde sieners, stom profete
Skep hul water uit die bron,
Loop snags onder die son.
Ons trek maar soos die swaeltjies
Daar’s kontinente wat nog wink
Is ons nie lankal daar nie,
Is ons nader as wat ons dink?
Ons dink ons skep ons eie waarheid
Maar ons het net onsself gevind
Aan ons eie swerweraard
Met kettings vasgebind.
My mense, my mense
Ons dink ons het onsself onttrek
Maar slegs ’n dieper sin ontdek
Ons was nog nooit gebonde
Aan net een hawe
aan net een plek.
Die ander vier snitte bou voort op hierdie temas en beelde, en vorm ’n tematies-gehegte EP wat verdien om in een sitting van begin tot einde geluister te word. Elke snit dra iets unieks by tot die groter geheelbeeld en bied ’n spektrum van emosies, energie, en kompleksiteite betrokke in die kennismaking met die sogenaamde Suid-Afrikaanse diaspora. Die skertsende ‘Ek is gekant teen sokkiejol’ is ’n classic pop-punk-middelvinger-vir-die-mainstream manifesto (“my moves suck / ek weet dis waar / eendag gaan my band hier speel en die mosh gaan julle opfok”), terwyl die ernstiger snitte werklik poëties en diepsinnig is (lees net die lirieke van ‘Die Ketting’ vir een voorbeeld). ‘Leën jou ore uit’ en ‘Südafrika’ se dieper, donkerder klank herinner aan Rammstein.
Terwyl Draadhond se storie, soos vertel deur Anton in Die storie van Draadhond mitologies is, is die storie van die werklike mense agter Draadhond eenvoudiger en meer gebonde aan realiteit. Anton en SC se vriendskap en “musikale vennootskap” (Anton se term) begin in 1996, toe hulle as universiteitstudente die band Plan B gestig het – aanvanklik ’n christian rock band (nou nie meer nie). Sedert 2017 noem hulle, hulle vennootskap “Draadhond” – na “die voorstede se volopste spesie”. Draadhond se eerste “regte” studio recording ‘Vark’ is ook toe uitgereik.
Anton kom aanvanklik uit Wellington; SC uit Oudtshoorn. Anton is ’n voltydse argitek wat in Sigmaringen, ’n distrik in die Schwäbischen Alb in die suid-westelike deel van Duitsland, werk. SC is ’n fotograaf wat skool- en troufoto’s in Oudtshoorn neem, waar hy ook ’n photo print shop het en saam met sy vrou en seun woon.
Anton is goed bekend met ’n nomadiese bestaan. Ná universiteit in die Baai/Oos-Kaap woon hy in Kaapstad, waarna hy en sy Duitse (toe toekomstige) vrou in 2005 na Dublin, Ierland verhuis; daarna is hulle na Munich tot 2014, en woon sedertien in die Schwäbischen Alb. “Ek sing in Afrikaans, maar ek sê altyd die topics gaan nie altyd noodwendig oor Suid-Afrika nie,” vertel Anton. Tog sing hy in ‘Südafrika’: “My bloed bly aan jou bodem kleef / my slagare is vasgebind / maak nie saak hoe ver ek wyk / ek moet altyd my pad terug vind.”
Iets wat Anton en SC baie goed doen, is om met ’n tipe samewerkings-DIY approach vir Draadhond aan die lewe te hou, selfs al het hulle beide voltydse day jobs en sit hulle ongeveer 13 083 km van mekaar af, op verskillende kontinente. “Ek is nie juis ’n goeie kitaarspeler nie,” bieg Anton, en SC “dink nie juis aan homself as ’n songwriter nie”. Dit verg dus ’n oefening in collaborative kreatiwiteit: Alles begin met Anton wat die lirieke skryf, verduidelik Anton aan my, waarna hy ’n chord progression en vocal melodie uitwerk, wat hy op sy foon opneem en vir SC stuur. SC werk dan drum parts, basslines en multi-layered eleketriese kitaardele uit. Waar Anton die lirieke, vocals, album artwork en musiekvideo’s bied, doen SC die musical arranging en speel hy die meeste van die instrumente op die opnames – drums, bass en kitaar, insluitend die leads. ’n Mens kan ook SC hoor sy ma se klavier in die intro van die snit ‘Die Ketting’ speel. Vir ‘Südafrika’ het Anton die lirieke van die lied geskryf en vir SC gestuur om te toonset. Anton maak al die tekeninge en animasies wat hulle snitte visueel vergesel en komplementeer. DIY is immers een van die hoekstene van punk.
Vir die opname van Vooruitstrewend was Anton wel in Suid-Afrika en het hy en SC hulp ingespan. Die EP is opgeneem by Jo Ellis se Blooroom Studios in Ladismith (Draadhond se 2018-album Was jou bek uit met seep is ook by Jo opgeneem), waar Anton en SC tydens die opname van die EP in Jo se “spartaanse klein flatjie langs sy studio” kon afpak en ’n “holiday band camp” kon hou as deel van Anton se once-a-year-terugkeer na Suid-Afrika om vir sy ouers te kuier. “Dis my manier om ’n bietjie kontak te behou met die kreatiewe aspekte van my eie kultuur,” verduidelik Anton.
Maar Anton is baie duidelik oor Draadhond se verwerking van hierdie kreatiewe aspekte van die (Suid-)Afrikaanse kultuur: Draadhond stel nie daarin belang om, soos baie Afrikaanse bands en sangers, kommersiële sukses te bereik deur die massas met rooskleurige beelde van “die goeie ou dae […] mee te sleur” nie.
Draadhond “verpes nostalgie”; in fact, “NOSTALGIE IS DIE DOOD!” skryf Anton aan my, in all caps, referencing die titelsnit van Vooruistrewend. ’n Besonders verfrissende houding in die diskoers rondom emigrasie en Suid-Afrikaners wat in die buiteland bly (en selfs onder sekere groepe wat steeds in die land woon). Soos Dominic Griffiths en Maria LC Prozesky in hulle artikel The Politics of Dwelling: Being White / Being South African dit stel: “The fall of apartheid has swept away the home in which [W]hite South Africans thought they dwelt. The resulting existential homelessness, a product of the artificial, distorted dwelling born out of the colonial endeavor [...] is a strongly motivating factor for many South Africans who leave the country.” Nostalgie vir “die goeie ou dae” (wat, let’s be honest, regtig die slegte ou dae was) word dikwels as wapen gebruik, meen Anton.
Draadhond se EP eindig eerder op ’n headbang-worthy chant: “Vorentoe, altyd vorentoe.”
Die liedjies op Draadhond se Vooruistrewend-EP is wel alles krete van ’n byna “existential homelessness”, maar óók van ’n transnasionalistiese identiteit en herverbeelding van (Suid-)Afrikanerskap. ’n Pleidooi vir bewustheid van dinge buite jou onmiddellike omgewing of verwysingsraamwerk (‘Leën jou ore uit’) en vir ’n toekomsgerigte, aksiegedrewe, intentional Suid-Afrikanerskap, in beide die buiteland en tuis. ’n Kollektiewe DIY project, selfs.
Soos hulle dit op Instagram stel: net omdat Draadhond miskien “’n klein, obskure en deeltydse band” is, beteken dit nie dat hulle nie iets het om te sê nie.
Anton vertel vir my hulle skep in die eerste plek musiek omdat hulle self ’n behoefte het om na Afrikaanse rockmusiek van dié aard te luister. “As iemand anders daarvan hou, is dit ’n bonus,” skryf hy. “Tot dusver het nog min mense van ons gehoor.” Hy vertel van die gemeenskap van Afrikaanse creatives wat hy op Instagram ontmoet, wat almal regoor die wêreld “verstrooi” (sy woord) is, wat sy eie gevoel van isolasie in die buiteland teenwerk. “Is ek finaal afgesny van my ‘tribe’ of is my ‘tribe’ juis dié mense oor die hele wêreld wat soveel kuns maak?” vra Anton retories. “[‘Die Ketting’] was ’n anthem vir daai tribe van my. Ek wou met daai song uitroep na hulle en sê: ‘Ek is hier! Ek hoor julle! Hoor julle my?’ Eintlik was ons volk maar altyd op reis deur die wêreld, nè.” Soos Anton in ‘Die Ketting’ sing: “My mense is nomade / burgers van die aarde.”
Taal, herkoms en kreatiwiteit as ketting — of ankerpunt — in ’n transnasionale gemeenskap van buitekamer rockstars en kulturele nomades, dus. Dis poëties, polities, en punk daarby.
Stream Vooruitstrewend op jou voorkeur-musiek-streaming service.
’n Beperkte hoeveelheid EP’s is in gedrukte formaat beskikbaar. Stuur ’n e-pos aan Anton by antonbarnard@yahoo.com om ’n harde kopie te bestel om afgelewer te word by jou, waar ook al jy jou in die wêreld bevind. Die kanse om Draadhond live te sien, is natuurlik skaars. Maar Anton insist dat “musiek skep sonder live speel [...] soos huwelik sonder seks [is]”. So, hou Draadhond se socials dop. Dalk disrupt hulle ’n sokkiejol met ’n mosh pit in ’n kerksaal naby jou.