Dalton Smit: nie Afrikanerseun, maar Fyn Boi
'n MA in mode gebaseer op 'n genderqueer Instagram-persona
Dalton Smit het in 2021 sy meestersgraad in mode aan die Nelson Mandela-universiteit voltooi. Deur ’n outo-etnografiese, praktykgebaseerde ondersoek het hy genuanseerde diskriminasie en manlike identiteit in ’n Afrikaner-kulturele konteks ontleed en (her-)interpreteer. Smit skryf dat tradisionele Afrikanerkultuur dikwels geassosieer word met konserwatiewe oortuigings, wat patriargale figure soos die man en pa verhef. Die studie se praktiese uitvoering het die maak van konseptuele kledingstukke en gemengde digitale media behels, wat gedeel is op die Instagram account, FYN BOI, ’n alterego van Smit, gevorm deur sy kunsregie, stilering en die modellering van sy klere. Deur die gebruik van Instagram word hierdie studie vir gehore buite die akademiese domein oopgemaak.
“’n Afrikanerseun se voorkoms is onomstrede en nooit flambojant of uitdagend nie. Afrikanerseuns moet hipermanlik voorkom. Hulle neem nie deel aan stereotipiese vroulike aktiwiteite nie,” skryf Smit in sy verhandeling. In sy studie gebruik hy voorwerpe wat vir hom verband hou met stereotipiese manlike en vroulike norme. “Ek het voorwerpe soos braai, doringdraad, 4x4-bakkies en stereotipiese Afrikanermans-verwante klere, soos rugbybroekies, vir die manlike gelys. Vir die vroulike is dit voorwerpe wat verband hou met kombuiswerk en om die huis stylvol en skoon te hou. Voorbeelde hiervan is die kombuisspons, wasgoedlyn, handdoeke en lakens.” Van hierdie voorwerpe is in sy ontwerpe geïnkorporeer.
“FYN BOI, as alter-ego van myself, rebelleer teen en daag verwagtinge van wat ’n man se voorkoms moet wees, uit. Dit sluit luide en kleurvolle klere, BDSM- en punk-geïnspireerde bykomstighede, en die dra van juweliersware en nie-gender-ooreenstemmende kledingstukke en bykomstighede, in.” Met Smit se genderqueer selfuitdrukking meng hy sportklere en utilitêre drag met pêrels, linte, en versierings soos kristalle en ander tipiese “vroulike” materiale.
“FYN BOI verteenwoordig ’n bevryde faset van my identiteit, losgemaak van die Afrikaner-kulturele reaksies van verwerping wat uitgelok en uitgedaag word. Alhoewel Suid-Afrika sosiale vordering ondergaan het, leef baie Afrikanergemeenskappe steeds volgens ou, patriargale norme. Hierdie denkwyses van manlikheid is nie in lyn met my waardes, oortuigings en die visuele voorstelling van my identiteit nie.”