Die tragiese saak van Pamina Vermaak: romcom met 'n leerbaadjie

Foto’s: Verskaf deur kykNET/Silwerskermfees

'n Onderhoud met Elanie Rupping, Bibi Slippers, Kabous Meiring, Annie Klopper en Carla Smith

Die tragiese saak van Pamina Vermaak is die filmverwerking van Annie Klopper se gelyknamige boek wat in 2018 verskyn het. Met Kabous Meiring as regisseur (en as vervaardiger saam met Danie Bester en Jaco Nothnagel), Elanie Rupping en Bibi Slippers as draaiboekskrywers, Eva du Preez as redigeerder, Johannes Pieter Nel as kinematograaf en Charl-Johan Lingenfelder in beheer van die klankbaan, is daar ’n indrukwekkende span wat agter die skerms te werk gegaan het om dié fliek op die grootskerm te bring. Die cast is ewe impressive: Carla Smith, Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi, Duane Williams, Rolanda Marais, Christiaan Schoombie, Albert Pretorius en Armand Aucamp.

Hier is die gist: Die tragiese saak van Pamina Vermaak is ’n Afrikaanse romcom gesentreer rondom die titular Pamina Vermaak – ’n quirky deurmekaarkop twenty-something joernalis wat padgee uit Kaapstad om te gaan regroup by haar ma-hulle in die kusdorpie waar sy grootgeword het. In die proses raak sy verlief op die musikant Wolf de Jager – ’n classic enemies to lovers trope, of dalk eerder moerige-musikant-meets-quarter-life-crisis-hardekop-girl – en ’n uur of wat later (in cinema time) begin die sparks fly. 

(Confession: Hierdie track is al so lank in my guilty pleasure Afrikaanse love song playlist dat ek begin glo het Wolf de Jager is ’n regte égte artist, maar lo and behold is dit eintlik Hunter Kennedy wat dit geskryf en opgeneem het in tandem met die publikasie van die boek in 2018. Wil jy nou meer!)

Die fliek speel grotendeels af in die fiktiewe Weskusdorpie, Eigerlaarsdrif, met ’n paar tonele in Kaapstad. In my vroeër resensie van die fliek, wat by vanjaar se Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière het, skryf ek in meer detail oor die visuele aanbieding, soos die stelontwerp en wardrobe – twee aspekte van die projek wat ek meen besonders suksesvol uitgevoer is. 

Ek gesels verder met Elanie Rupping, Bibi Slippers, Kabous Meiring, Annie Klopper en Carla Smith.


ELODI: Elanie, hoe het jy die aanvanklike verwerking van die teks tot draaiboek benader? Dit moes ’n enorme taak gewees het.

ELANIE: Dit was inderdaad ’n reuse-uitdaging, maar dit was darem al my tweede verwerking, so ek het ’n goeie idee gehad van waar om te begin en wat die proses sal wees. Ek het die boek voos gelees en ge-highlight en margin-notas gemaak (my eksemplaar val al geheel uitmekaar uit), maar uiteindelik het ek die hoof-draaipunte geïdentifiseer en met hulle begin bou aan die struktuur van die draaiboek. Daar moes uiteraard redelik gesny word aan van die detail en ek het ook ’n paar van my eie idees en tonele bygevoeg. Daarna het ek die een draft ná die ander begin skryf (my eerste draft was amper dubbel die hoeveelheid bladsye van wat dit veronderstel was om te wees), elke keer ná gesprekke met Kabous, Annie en Tina Kruger, waar ons verskillende dinge probeer het. Ek het uiteindelik vier drafts geskryf voor ek aan Bibi oorhandig het. 

ELODI: Bibi, kan jy meer vertel oor die verwerkingsproses van die teks? Elanie het aanvanklik aan die draaiboek gewerk. Hoe en wanneer het jy betrokke geraak? 

BIBI: Ek kan nie presies onthou wanneer Kabous, Jaco en Danie my gekontak het oor Pamina nie, maar ek dink dit was laat in 2021. As vervaardigers (en voornemende regisseur ook, in Kabous se geval) het hulle sekere kwessies gehad met die bestaande teks. Van dit was struktuur-dinge en van dit was concerns oor die uitvoerbaarheid van sekere tonele binne die begroting. Ons het so paar keer oor Zoom gesels en almal het hulle notes op die bestaande teks gegee en my toe tyd gegee om daaraan te werk. 

Ek het heel eerste net weer teruggegaan na die boek toe en dit weer gaan lees, sommer met ’n highlighter, om van die beste dialoog en oomblikke in die boek te merk – ek wou seker maak dit is uiteindelik in die movie. En toe moes ek begin planne uitdink om almal se feedback en idees en bekommernisse en darlings te probeer address. Ek is ’n baie stadige skrywer, so dit het maar tyd gevat, maar dis beslis minder intimiderend om aan so iets te werk waar jy nie met ’n leë bladsy gekonfronteer is nie. Ek het die boek en die bestaande teks as basis gehad – en ek’t baie analities gewerk met ’n scene by scene-opsomming van die bestaande teks in tabelvorm waarop ek almal se notas gekonsolideer het en die storie ge-track het. En toe het ek op ’n tweede dokument begin om aan die struktuur en storie te edit voor ek enige iets geskryf het. Die einde was ’n groot issue, omdat die einde soos dit in die boek is heeltemal te duur sou wees om uit te voer. So ons het iets probeer uitdink wat dieselfde situasie skep, maar in ’n baie kleiner konteks.

ELODI: Wat was vir julle 1) die moeilikste en 2) die lekkerste deel daarvan om die teks in ’n draaiboek te omskep?

BIBI: Die moeilikste was om die boek se struktuur te versoen met die three act story structure van ’n movie, wat pretty much non-negotiable is, veral in ’n redelike straight forward narrative soos Pamina. Dis ook moeilik om sekere dinge wat baie charming is in die boek, te moet verloor omdat begrotings en logistiek dit onmoontlik maak – ek is steeds so sad dat ons nie vir Wolf kon laat skaap-skuif nie! Die lekkerste deel was om die great dele van die boek net so te kon oordra en te sien hoe dit lewendig word op skerm. En dan hier en daar ’n fun stukkie invention wat hopelik ietsie bygedra het tot die hele spul aan die einde.

ELANIE: Die lekkerste deel van die proses was om myself binne Pamina te vind. Ons persoonlikhede is baie verskillend, maar ek dink elke vrou oor 30 in ’n kreatiewe industrie was al op daai punt waar jy na jou lewe kyk en besef dit het nie noodwendig uitgedraai soos jy gedink of gehoop het dit sou nie. En ek dink Pamina is so dapper om daai self-destruct-knoppie op haar lewe te druk, haar spoke in die gesig te gaan staar en dan te herbou aan ’n lewe wat voel soos sy. Ek het ook baie daarvan gehou om die verskillende dinamikas tussen die karakters te verken. Die moeilikste deel was sonder twyfel om die struktuur reg te kry. Bibi kry baie krediet hiervoor. Daar is baie karakters en wendings wat hulle nie noodwendig aan ’n speelfilm-formaat ontleen nie, en dit was soms ’n uitdaging om presies te weet wat om te hou, wat om te sny en wat om te verander. Die ander ding wat ook altyd moeilik is met ’n verwerking, veral van ’n roman met ’n eerstepersoonsverteller, is hoe om die protagonis se binne-wêreld visueel uit te beeld. 

ELODI: Was daar enige tipiese conventions van die romcom/chick-lit genre waaraan julle getrou wou bly of wat julle juis op sy kop wou draai in die verwerking van die teks? 

ELANIE: Van ek die boek die eerste maal gelees het, het ek daarna verwys as ’n romcom met ’n leerbaadjie aan. Dit is wat dit is, maar dis ook anders. So, ek het my deur die storie laat lei eerder as enige konvensies. Ek dink goeie genre-films gebruik konvensies as ’n shorthand om met die gehoor te kommunikeer, met ander woorde as ’n kortpad om betekenis te skep. Dus word dit ’n geweldige kragtige stuk gereedskap in jou toolbox om gebruik te word soos nodig om jou spesifieke storie so bes moontlik te vertel. Ek hoop dis wat ons reggekry het met hierdie film.

BIBI: Ek dink met ’n adaptation soos dié wil mens so getrou moontlik aan die bronteks bly – en alhoewel Pamina ’n aweregse karakter is en die rock-en-roll van Wolf se wêreld dit bietjie wilder maak, is Annie se boek eintlik, at its heart, ’n homage aan een van daai great, outydse Weskus-liefdesverhale. Dis ’n girl meets boy-storie met ’n guaranteed happy ending – mens wil nie met dit mors nie!

Dis ’n girl meets boy-storie met ’n guaranteed happy ending – mens wil nie met dit mors nie!
— Bibi Slippers

ELODI: Kabous, ek het hier gelees jy het vir Annie ja gesê om ’n fliek van haar boek te maak nog voor jy dit eens gelees het. Daar moet dus ’n groot mate van vertroue en respek vir mekaar se werk wees om byna blindelings in te stem tot só ’n groot projek. Wat is dit aan haar skryfwerk wat jou die push gegee het om jou debuut as rolprentregisseur te maak? 

KABOUS: Ek het nog altyd gedink Annie se ondersoeke as akademikus is interessant. Dat sy as digter, literêre mens en taalliefhebber die musieklandskap in Suid-Afrika ondersoek. Dat sy die heerlike, wilde wêreld van Afrikaanse rock en rap in haar akademiese wêreld verweef. En dan die clincher, dat sy ’n ligte boek skryf, ’n liefdesverhaal wat in die wêreld afspeel. Met ander woorde Annie se wye uitkyk op genres en inhoud en dat sy haarself soms nie te ernstig opneem nie en ander kere wel, is aantreklik. Dit gaan vir my oor volume in Afrikaans, dat dit nie homogeen is nie, dat Suid-Afrikanerskap gaan oor al die wonderlike subkulture, dat jy met mediums soos flieks, romans, gedigte en M-verhandelings dieselfde dinge kan ondersoek, maar verskillende toonaarde daarvan. Vir my persoonlik gaan dit oor die identiteitsondersoeke en die oneindige plesier wat geput word daaruit om die eienaardige spel van menswees in enige vorm te ondersoek. Ek kies film, want ek is baie lief vir die visuele en musiek ook. Om atmosfeer te skep.

Dit gaan vir my oor volume in Afrikaans, dat dit nie homogeen is nie, dat Suid-Afrikanerskap gaan oor al die wonderlike subkulture, dat jy met mediums soos flieks, romans, gedigte en M-verhandelings dieselfde dinge kan ondersoek, maar verskillende toonaarde daarvan.
— Kabous Meiring

ELODI: Is daar enige onverwagse uitdagings (en plesiere) wat jy ervaar het tydens die maak van die fliek? En kan jy iets vertel oor hoe die film tot dusver ontvang is? 

KABOUS: O ja, daar is baie. Die uitdagings was meesal logisties van aard, dit gaan goed in die Afrikaanse televisie- en filmbedryf en mense werk. Ons moes dus baie hard dink oor wie is beskikbaar om ’n sterk span aanmekaar te sit. Ek het geleer dat jy jouself moet vertrou in terme van keuses, maar dat ek hou van insae. Mens moet net weet wanneer om te sê: Goed, ek het geluister, maar ek gaan nou met hierdie keuse. Dis fantasties om in ’n span te werk, daarom hou ek ook van die medium van fliekmaak. Anders was ek dalk ’n digter… Maar ek is nie. ’n Uitdaging waaraan ek verslaaf is, is die use what you have-benadering, wat bied die omgewing? Leer die kyker om dalk anders na iets te kyk wat vir hulle voor die hand liggend lelik is, maar as jy die hoek verander, raak dit beeldskoon.

ELODI: Met die verwerking van die boek na die grootskerm is daar natuurlik heelwat veranderinge wat aan die storie en karakters gemaak word. Dit het my veral bygeval hoe current die fliek is. Dit speel sonder twyfel in die jaar 2023 af, terwyl die boek meer van ’n early 2000’s-gevoel het. Met Pamina wat haarself (tydelik selfoonloos) terug in haar ouerhuis bevind, omring deur al die relics van haar tienerjare, word die kyker in sommige tonele egter na ’n vroeër tyd verplaas. Kan jy iets deel oor hoe julle te werk gegaan het met die speling tussen generasies en tydgebonde verwysings? 

KABOUS: Dit was lekker! Ek het my verstandtande in die negentigs gekry en daarmee saam die grunge scene gevolg, ook Suid-Afrikaanse musiek. Die rockers in die bronteks, die boek, is my ouderdom, so ek het gedink die beste is om met ons invloede te werk en die current klank van ons musikante ook te inkorporeer. Daar is tans ’n ode aan die negentigs, want mense in hul veertigs is skielik leiers… Dus was dit maklik om die simbiose te weerspieël. Henry Ate is byvoorbeeld ’n liedjie wat almal van my geslag dadelik gaan herken, maar as jy dit die eerste keer in 2023 hoor, gaan jy daarvan hou, want die invloede is sterk op huidige musiek. Dankie dat jy dit agterkom!

ELODI: Annie, hoe betrokke was jy by die skep van die draaiboek en die algehele vervaardiging van die fliek? 

ANNIE: Ek het ’n hele paar eiers gelê oor die draaiboek en was bevoorreg dat Kabous en die vervaardigers my die kans gegun het om insae daarin te lewer, want dikwels word boekskrywers ge-sideline in die verwerking van boek tot film. Natuurlik moes ek ook in die proses leer om nie te precious te wees oor enigiets nie en te laat gaan van sekere spesifiekhede in my kop. Maar ek het geweet die storie is in goeie hande, want ek vertrou Kabous as mens en as creative. Uiteindelik het ons ’n droomspan bymekaar gehad wat elk weet wat hulle doen. Toe dit tyd raak om te cast en te skiet het ek in die skadu’s verdwyn en met gemak oorgegee aan die proses. Ek het ook geboorte gegee aan my tweede kind tydens verfilming, dus kon ek in ieder geval nie gaan inmeng en irriteer op stel nie!

ELODI: Musiek is natuurlik ’n groot deel van beide die boek en die film. In ’n ander onderhoud het jy genoem jy is huiwerig om dit as “musiekfliek” te bestempel, hoewel plaaslike musiek tog ’n groot aspek daarvan is. Ek stem saam dat die gebruik van musiek ’n ander dimensie tot die storie gee. Jy het voorheen kunstenaars soos Fokofpolisiekar, Paul Simon, Fleetwood Mac en The Doors ge-cite as belangrike invloede in die skryf van die teks. Is daar enige ander bands of artists wat ’n bepalende rol in die leefwêreld van die fliek gespeel het?

ANNIE: Om verskeie redes moes ons die musiek wat in die film gebruik is, aanpas. Daar was byvoorbeeld geen manier dat ons die verbruiksregte sou kon bekostig vir al die internasionale songs waarna Pamina in die boek luister nie. Ons het toe besluit om meer van plaaslike bands gebruik te maak en so het Henry Ate byvoorbeeld plek in die film gekry – ’n idee van Kabous – terwyl dit nêrens in die boek genoem word nie. En toe kon ek myself skop dat ek nie daaraan gedink het om dit in die boek te gebruik nie, want dit werk perfek – dis só iets waarna Pamina sou luister. Ons het ook nuwe musiek gebruik wat verskyn het in die tyd tussen die publikasie van die boek en die verfilming, soos Hunter Kennedy se ‘Parasite’ wat vir my dié temalied van die fliek is.

ELODI: Waar dink jy is Pamina en Wolf vandag?

ANNIE: My vriend, die komediant Melt Sieberhagen, het die joke gemaak dat ek ’n opvolg moet skryf waar Pamina en Wolf sukkel om swanger te raak, met die titel Die tragiese saak van Pamina se maat se saad. Maar ek dink ek sal maar liefs vir Pamina en Wolf los waar hulle is in die verbeelding van die lesers. As ek ’n opvolg sou skryf, sou dit wees oor Aidan of Ma Kotie en Ma Diedie se stories. Daar’s nou vir jou ’n backstory. Maar ek dink nie ek sal nie, ek het te veel ander karakters en idees wat in die wings wag om geskryf te word.

ELODI: Carla, ek dink deel van die rede hoekom Pamina so ’n loveable karakter is, is omdat ons iets van onsself in haar kan sien. Om jonk en deurmekaar te wees en te voel of jy dit net nie regkry nie. Was dit vir jou ’n comforting ervaring om Pamina te speel en te sien hoe sy stadig maar seker haar voete vind? Wat het jy by Pamina geleer? 

CARLA: Pamina is baie hardkoppig. Sy maak foute, stamp haar kop hard, maar staan dan op en maak asof sy fine is. Ons ontmoet haar wanneer haar kop en lyf en hart nie meer wil saamspeel nie en sy MOET nou gaan stilstaan. Ek hou nogals daarvan om myself na ’n burnout toe te dryf en Pamina het my net weer herinner dat dit beter is om een ding af te handel en dan vorentoe te beweeg, nie alles op dieselfde tyd nie. Ek glo wel in brutale eerlikheid en om lewensknope so gou moontlik op te los, waar Pamina eerder weghardloop, hasepad kies, alles los vir later. Dit was goed vir my siel om te sien dat dit beter is om konflik vinnig op te los, al is dit moeilik – Pamina het my geleer dit word net moeiliker met tyd.

Werksgewys verstaan ek ook eenhonderd persent hoekom sy so gatvol is aan die begin – ons almal soek iets wat ons stimuleer en wat voel soos “ons”. Vir my voel ons 20’s soos ’n massiewe eksperiment wat driekwart van die tyd ontplof in jou gesig – blou vel, unintended mohawk. Pamina gee mens hoop dat as jy net ’n bietjie stilstaan, terugkeer na jou mense wat jou battery kan herlaai en jou kan herinner wie jy is, sal jy dít vind wat jou opgewonde maak oor die lewe. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die tragiese saak van Pamina Vermaak: romcom met 'n leerbaadjie gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand