Jammer pappa ek speel nie rugby nie
Die kuns van Michal Kruger
Michal Kruger se kuns gryp my aan. Sy voorgraadse studente-uitstalling van 2016, Tjank, sowel as sy voortspruitende werk wat ’n ondersoek is van Afrikaneridentiteit, impliseer ’n intrige. Ek glo dis nodig om Tjank te belig saam met die kennisname van dié kunstenaar, vir ’n beter verstaan van sy werk. Tjank, wat in Makhanda gewys het en aanlyn gesien kan word, beeld Michal se verhouding met rugby uit, die sport wat as verteenwoordigend beskou word van ’n spesifieke tipe Wit Afrikaner manlikheid. Ondanks die kunstenaar se Afrikaanse agtergrond is hy ’n buitestander van daardie tipe machismo, ’n blik wat opmerkbaar is in sy kunswerke.
Tjank is in ’n sportgrondmansbadkamer uitgestal, ’n ruimte waar tradisionele maskuliniteit dikwels opgevoer word. In sy Missing Player-werke (hieronder) word die kunstenaar se (nie-)teenwoordigheid in sulke ruimtes uitgebeeld. Deur die Normal/Reversed-diptiek kyk hy ook na die heteronormatiewe aard van rugbykultuur. Die visuele raamwerk van Missing Player is gebaseer op ’n jaarboekfoto van Michal se skool se eersterugbyspan, terwyl die Normal/Reversed-diptiek afkomstig is van illustrasies wat in die boek Teaching Rugby to Boys verskyn.
Daar is op sigself niks verkeerd met ’n bietjie tackle en skrum nie, maar dat hipermanlike kultuur al baie gelei het tot geweld, veral teen queer persone, vroue, en ander mans, is welbekend. Michal se verhouding met sy oorlede oupa word in Tjank ondersoek; hy was die enigste (gay) kleinseun wat nie voor voorsiening gemaak is in sy oupa se testament nie (die twee ander kleinseuns het wel die jaggewere geërf). ’n Videowerk beeld die kunstenaar se pogings uit om rugby teen ’n dertienjarige te speel, terwyl Steve Hofmeyr se ‘Die Bloubul’ in die agtergrond gehoor word, ’n fluitjie word ook in die agtergrond geblaas. In die oorspronklike installasie kyk ’n ou portret van Michal se oupa in die rigting van die TV-skerm wat in die “Wit patriarg” se studeerkamer gehang het, aldus die kunstenaar.
Dít alles – nie net sy oupa nie, maar die samelewing se verwagtinge, afkeur en geweld – los ’n blywende indruk op die kunstenaar se psige. ’n Reeks klein skilderye, afkomstig van familiefoto’s van Michal as ’n kind, is ’n manier om herinneringe vanuit ’n queer blik te heroorweeg. Onderliggend aan die familiêre skilderye is ’n onheilspellendheid oor ’n skeur wat sou kom. Oomblikke word uitgebeeld waar Michal ’n ongemaklike spel moet speel, waar die reëls teen hom geld, so ook vir baie ander.
Michal se latere werk, van 2017 vorentoe, is steeds ondersoekend na die vele fassette van sowel Afrikaner- as Suid-Afrikaanse-identiteit. Hy noem Witheid, grond en taal as deurlopende temas. Michal bly tans in Nederland en dit lei tot ’n oorweging van Afrikaners se Europese geskiedenis, die persepsie dat dié bevolkingsgroep nóg Europees nóg Afrikaan is, en die vraag waar erfenis dan vandaan kom.
In 2020 behaal Michal ’n meestersgraad in skilderkuns aan die Frank Mohr-instituut by die Universiteit Hanze in Groningen. Hy vertel oor hoe daar in Nederland meer befondsingsgeleenthede is vir kunstenaars wat nie-kommersiële werk maak. Hy merk ’n tendens daar op dat kuns dikwels oor die tradisie van kunsmaak self gaan, en nie soseer die politiek of sosiale kwessies hoef te betrek nie, anders as wat die norm in Suid-Afrika is. “Daar is bietjie van ’n anti-politieke kultuur in kuns hier, dit gaan oor die vorms en kleur en materiale. Dit was vir my ’n moerse ding om by in te pas, veral ná Grahamstad.”
In 2021 wys ’n tentoonstelling van Michal by H47 in Leeuwarden en in 2022 wys sy solo-uitstalling BREEK JOU NEK by die Nuweland-galery, bestaande uit installsiewerk sowel as sketse en skilderye. In 2021 en 2022 ontvang Michal ook ondersteuning van die Nederlandse Mondriaan Fonds. Hy werk deeltyds as ’n kelner om sy kunspraktyk te ondersteun.
Tydens lockdown het sy werk ’n wending na die seksuele geneem: Grindr screenshot-sketse wat ’n ander tipe performatiwiteit en beoordeling van die manlike betrek. Hy skryf nie hierdie sketse toe aan ’n volslae nuwe wending in sy werk nie, maar beskou dit eerder as ’n poging om aan te hou kuns maak tydens Covid. Dit spreek wel van ’n aanvaarding en gemak met queerwees, ’n volgende hoofstuk wat betree word.
Terwyl Michal ’n reputasie in die Lae Lande opbou, is hy beslis ’n kunstenaar wat op eie bodem gereken moet word.