Die monsters van die Cape of Good Hope
Anja Venter se herverbeelding van koloniale Kaapstad
Anja Venter is ’n illustreerder en ontwerper van die Kaap. Sy het ’n doktorsgraad in mediastudies behaal aan die Universiteit van Kaapstad. Monsters at the Cape of Good Hope, wat in 2021 by Artist Admin in Kaapstad vertoon het, is haar eerste solo-uitstalling.
In Monsters at the Cape of Good Hope gebruik Venter bestaande historiese kunswerke en herverbeel hierdie geskiedenis deur mitiese wesens in tonele te plaas van die Kaap gedurende die koloniale era. Venter het saam met argiviste by die Iziko-museum gewerk om hierdie kunswerke op te spoor. Werke deur Wilhelm Langschmidt, Samuel Davis, Nicolaas van Frankendaal, Aernout Smit, Henry Clifford de Meillon en Jan Brandes is as skilderdoeke ingespan vir die reeks. Al hierdie kunswerke is in die publieke domein, en mag daarom vir enige doel hergebruik word. Die skilderye waarin Venter die monsters geplaas het, beeld stadstonele uit wat ’n idee van die topografie, argitektuur, enkele historiese gebeure en alledaagse lewe in die koloniale Kaap gee.
Die monsters wat in hierdie werke uitgebeeld word, kom uit antieke mitologie vanuit suidelike Afrika. Daar is Grootslang, wat volgens die legende in ’n diep, diamantgevulde grot in die Richtersveld woon; |Kaggen, ’n vormveranderende trickster-god wat gewoonlik die vorm van ’n bidsprinkaan aanneem, sowel as dié van ’n eland, luis, slang en ’n ruspe; Impundulu, die mensgrootte swart-en-wit voël wat donderweer en weerlig met sy vlerke en kloue kan oproep; Inkanyamba, ’n legendariese slangdier wat volgens oorvertellings in ’n watervalmeergebied in die noordelike woude naby Pietermaritzburg voorkom en wie se humeur seisoenale storms tydens die somermaande veroorsaak; en Dingonek, ’n langvoetige, skubagtige waterdier wat na bewering in die vroeg 1900’s in suidelike Kenia opgemerk is.
In monsterstudies verteenwoordig die monster die Ander; dit wat gevrees word omdat dit afwyk van die norm. In haar kunstenaarsbeskrywing van die reeks, verwys Venter na JJ Cohen se Monster Theory (1996), waarin hy skryf dat die samelewing se fiksasie op monsters sy oorsprong het in die gesamentlike begeerte om eerstens ’n naam te gee aan dit wat moeilik is om te verstaan, en tweedens om hierdie onbekendheid mak te maak en sodoende van mag te stroop. Monsters dien ook dikwels as metafore vir ons eie monsteragtigheid, en dwing ons dan om te konfronteer wat ons as “natuurlik” en “menslik” beskou. Venter skryf verder: sedert die ontstaan van Westerse kolonialisme het skrywers, kunstenaars en ontdekkingsreisigers oor ontmoetings met “monsters” berig. Enige pogings om die menslikheid in die Ander te erken, is deur hierdie gruwelike verhale mee weggedoen — veral so in die projek om Afrika te koloniseer.
Die konsep van die monster en die monsterlik-uitgebeelde Ander is ’n belangrike motief in spekulatiewe werk. Skeppers van spekulatiewe kuns bevraagteken die posisie van die monsterlike Ander wat in ’n liminale toestand tussen die binêre kategorieë van die samelewing bestaan, soos bepaal word deur dualiteit en die koloniale denkwyse. Die fantasiegenre bied aan skrywers en kunstenaars die geleentheid om verbeelde realiteite te konstrueer waarin monsters nie monsteragtig is nie, waarin nie-normatiewe eienskappe as waardevolle aanwinste beskou word, en waarin die posisie van die gekoloniseerde Ander uitgedaag word deur die verlede, hede en toekoms te herskryf. Deur hierdie nuwe maniere waarop die Ander geïnterpreteer word, word ’n herevaluasie van die Westerse definisie van die “monster” dus aangevra.
Hiermee saam is die subjektiewe aard van die monster en monsterlike ’n belangrike konsep om in gedagte te hou. Die omvang van die definisie van die monster hou verband met die wisselwerking tussen verbeelding en realiteit, en daarom moet monsters en monsteragtige kenmerke as ’n kulturele kategorie hanteer word. Hierdie kulturele kategorie is onderhewig aan samelewingsnorme wat gehandhaaf word deur die “ons” wat teenoor die “Ander” staan, en is daarom nouliks verstrengel met koloniale magshierargieë. Ek dink hier aan Ramón Grosfoguel se oortuiging dat die mite van die postkoloniale wêreld — die wanopvatting dat die afskaffing van koloniale administrasies tot dekolonisasie gelei het — een van die grootste wanoortuigings van die moderne tydperk is. Die menslikheid van gekoloniseerde groepe word geïmpliseer deur moderniteit/kolonialiteit, wat in elke aspek van die moderne wêreld voortleef. Westerse moderniteit omhels ’n lui, onverantwoordelike manier om in die wêreld te bestaan en aanspreeklikheid vir die geweld van die verlede — en die hede — te neem. Dit is gerieflik vir Westerse magstrukture om ’n blinde oog te draai teen die voortdurende impak van vorige gewelddade wat op gekoloniseerde lande, gemarginaliseerde gemeenskappe en minderheidsgroepe van die samelewing toegedien is, aangesien kolonialiteit, selfs in die afwesigheid van koloniale administrasie, voortduur om die Weste te begunstig en te bevoordeel.
Deur hierdie mitologiese wesens binne die konteks van die historiese Kaap te verbeel, laat Venter se kunswerke die kyker nadink oor die koloniale magte wat vandag steeds ’n bepalende impak het op alledaagse leefervaringe in Suid-Afrika. In dié geval word die fokus selfs meer genuanseerd deur die uitbeelding van die Kaap — die voorbladgesig van die land. Venter vertel aan Ilse Fredericks dat die reeks ook die verwoestende effekte van sogenaamde “vooruitgang” uitbeeld, terwyl die monsteragtigheid van ons imperiale geskiedenis ondersoek word. In Monsters at the Cape of Good Hope daag Venter dus die “us-versus-them”-binêre uit, vanwaar die handelinge van Othering en die benaming van die monster verstrek.