Gedagtes oor Zuid-Afrikahuis en Suid-Afrika vanuit Nederland
Die onskatbare waarde van Suid-Afrikaanse stemme
In ’n stunningly privileged move het ek besluit om vir my quarter-life crisis my lewe in Suid-Afrika op hold te sit en vir twee maande in Nederland te kom afpak. Dit is vir my vreemd as mense my gelukwens oor die feit dat ek myself vir ’n tydjie in Nederland kon vestig, sonder dat hulle eens weet wat ek hier kom maak het. Dit impliseer vir my dat om bloot vir ’n wyle uit Suid-Afrika te kom ’n prestasie op sy eie is, iets om na te streef. Om weg te kom, is ’n einddoel, nie ’n medium tot iets anders nie. Ek het ’n vermoede dat ek vir sommige mense sou kon sê dat ek Nederland toe gekom het om in die Rooiligdistrik te werk en hulle sou my steeds met net soveel entoesiasme gelukgewens het.
Gelukkig is dit wel nie wat ek hier kom soek het nie. Ek het vir twee maande tyd by die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam deurgebring. Soos wat dié organisasie hulleself beskryf: “Het Zuid-Afrikahuis is een internationaal kennisinstituut dat zich richt op taal, cultuur en geschiedenis van Zuid-Afrika.” Die Zuid-Afrikahuis is van waarde vir Suid-Afrikaners, maar vir my is die grootste werk wat hier gedoen word om inligting geloofwaardig oor te dra aan Nederlanders (Europeërs) self — hier is die effekte wat hierdie land op die res van die wêreld gehad het. Dit is nie toevallig dat hierdie Afrika-taal, Afrikaans, wat soveel klink soos Nederlands, bestaan nie. Dit drup van swaar geskiedenis.
Die werk wat die Zuid-Afrikahuis doen, is om Nederlanders te laat verstaan wat hulle rol in die wêreld is en was, en hoe lande soos Suid-Afrika op internasionale vlak ’n invloed uitoefen. Op hierdie manier is dit dan natuurlik ook empowering vir Suid-Afrikaners om te besef dat hierdie plek in Nederland bestaan, waar kenners gespits is daarop om die Suid-Afrikaanse kultuur en geskiedenis te verstaan, en dit op ’n ingeligte manier vir Nederlanders voor te lê. Hier staan Suid-Afrikaners nie bakhand voor die deur van ’n ontwikkelde land nie. Hier word daar onskatbare waarde aan Suid-Afrikaanse stemme gekoppel. Deur bloot Suid-Afrikaans te wéés, word hier waarde aan toegevoeg. Suid-Afrikaners loop rond met ’n komplekse, diep en emosionele verstaan van verskillende aspekte van menswees. Dit is in die meeste opsigte werklik onbereikbaar vir iemand wat in Nederland woon om so te internaliseer en op persoonlike vlak toe te pas soos wat Suid-Afrikaners kan.
Hiermee dan uittreksels uit my reisjoernaal, in nog ’n spectacular show of self-involvement.
1. Ek sit in Utrecht nadat ek by Jack Parow se Parowfest soundcheck was en drink ’n bier saam met ’n Nederlander wat leer Afrikaans praat het toe hy na Die Heuwels Fantasties se musiek geluister het. Hy was nog nooit in Suid-Afrika nie, maar hy is mal oor Afrikaans en sy kennis oor Suid-Afrikaanse musiek strek wyer as wat myne ooit sal. Hy vertel met trots hoe hy een keer met Hunter Kennedy gesels het ná ’n show in Nederland. Hy het vir Hunter vertel dat hy hom leer Afrikaans praat het, en Hunter het sonder om ’n oog te knip om verskoning gevra dat hy vir hom “slegte Afrikaans” geleer het. David kan elke liewe Jack Parow-liriek uit sy hart uit opsê. Ek is nou op ’n WhatApp group saam met hom, geskik genoem “Die Parow Poeste”.
2. Ek weet nie wat om vir die Ukranian-vlugteling wat oorkant my sit, te sê nie. Wat doen jy vir ’n lewe? Wat is jou stokperdjies? Waar in Ukraine bly jy? Hoe gaan dit? Alles irrelevant. “Ek vlug vir my lewe. My stokperdjies is om te hitch-hike tot in ’n vreemde land ter wille van oorlewing. My huis was in Kyiv, maar nie meer nie — nou bly ek nêrens nie. Dit gaan sleg dankie, en met jou?” Sy vertel hoe iemand gister vir haar probeer verduidelik het wat ’n mikrogolfoond is. Sy weet wat ’n mikrogolfoond is.
3. Suid-Afrikaners staan bakhand voor lande soos Nederland en vra vir hulp. Tereg — ons is nogals in die moeilikheid. Maar die inferiority complex wat ons almal ervaar in lande soos hierdie een, is vir my oorweldigend. Dink ons regtig dat ons niks het om te bied nie? (En ek praat nie van toerisme nie. Ek praat van waarde wat ons kan toevoeg aan die internasionale narratief.) Ek weet dis naïef en ek weet dinge is erg deurmekaar en besig om ’n bietjie in die afgrond in te stort. (Terloops, sê mense nie al vir die afgelope 50 jaar dat dinge op die rand van die afgrond is nie? Wanneer gaan daai afgrond nou kom? Ja, ek weet ons word heeltyd daarheen gestoot, maar hel ons stoot hard terug. En al vir lank. En ek glo ons gaan dit vir nog lank moet doen — maar nie tevergeefs nie.)
4. As mense vir my vrae vra oor Suid-Afrika kry ek die horries, want ek word in daardie oomblik geag as ’n kenner en ek weet eintlik niks nie. En ek wil heeltyd “maar” – “dis ’n ongelooflik ongelyke samelewing, maar…”; “ja, daar is baie geweld, maar…”; “die regering is korrup, maar…” Dalk moet ek ophou “maar” en net face the music? Ek is 25 jaar oud. My grootste lewenslesse het ek geleer deur heartbreak. Ek dink nie dit kwalifiseer my om genuanseerde kommentaar te lewer oor ’n ongelooflik komplekse land nie, maar…
5. Ek is by ’n poetry evening wat deur die plaaslike gemeenskap van Aalsmeer gereël is. As Amsterdam die Nederlandse Kaapstad is en Rotterdam die Nederlandse Johannesburg, is Aalsmeer die Nederlandse Vanderbijlpark (my hometown). Toe ek iemand wat ek hier ontmoet het, vertel dat ek in Aalsmeer bly en elke dag die bus neem na Amsterdam, was haar verontwaardigde reaksie: “Ben je gek?” (Nie gek nie, net besig om te dink in rande. Huur in Amsterdam is immoreel duur.) In elk geval, hier sit ek en tjank asof ek ’n geskeide vrou in ’n 90’s romcom is wat alleen by ’n bar sit en ’n liedjie uit haar childhood hoor. To be fair, ek sit wel alleen in ’n bar en ’n oom met een hand is besig om ’n gedig oor bome voor te lees. Die oomblik is nogals dramaties. Gedigte is ongelooflik belangrik, vir verskeie redes, maar meestal omdat dit al vir eeue lank reflekteer (en bepaal) hoe mense oor hulself en die wêreld rondom hulle voel en dink. Dis ernstige sake. Hanna Kamfer skryf op 21 Junie 2021 vir Vrye Weekblad: “Ten besluite, skryf is ’n ernstige kuns, ook wanneer die onderwerp nie ernstig is nie. Behandel dit met respek, al julle selfuitgewers en julle gevestigde uitgewers. Niemand van julle gaan Afrikaans aan die lewe hou met die uitryg van prulle nie.” Hier sit ek dan nou in ’n kroegie in Aalsmeer (à la De Stomme Jonge in Stellenbosch), en huil oor Afrikaanse digkuns omdat ’n ou oom besig is om vir die persoon wat nounet ’n gedig voorgelees het, te vra oor alliterasie.
6. Gedurende my tyd hier het ek vir ure lank in die son gelê in Vondelpark, rondgegly in die sneeu op pad na die busstop toe en die tulpeseisoen ervaar. “De kans op groei blijft wonderbaarlijk klein / maar alles zweeft. Alles is samen jij,” skryf Ingmar Heytze. Ek verpes gewoonlik die winter en die kouete sypel gewoonlik tot diep binne-in my brein. Hoekom moes ek eers koud kry in ’n ander land voordat dit nie meer so erg vir my was nie?
7. ’n Mens sou dink dat ek ’n meer Europese ervaring sou kry uit dates, maar hier sit ek wragtig met ’n ou van Pretoria oorkant my. Ek gaan nie jok nie, ek het nou al te veel gehoor hoe Nederlandse ouens vir my vra: “If we should just go Dutch,” dan knik ek maar net en handig gedweë my geld oor. (En dit het niks te doen met mans wat vir alles moet betaal nie. Dit het eerder alles te doen met mense met euro’s wat moet betaal.) Ek het gehoop dat die Afrikaanse sjarme sou inskop, aangesien ons ’n bottel rooiwyn gedeel het en die geldsake gaan maar sleg hier. Ons raak aan die gesels oor politiek (soos wat die norm maar is as twee mense van dieselfde land hulleself bevind in ’n plek wat so geïdealiseer word deur hulle landgenote). Hy verklaar selfvoldaan dat hy nooit een van daai Suid-Afrikaners sal wees wat sleg sal praat van sy eie land terwyl hy hier is nie. “Ek is nie hier omdat ek my land haat nie, ek is hier omdat my werk my hierheen gestuur het.” Miskien is my standaarde laag, maar hy raak dadelik vir my aantrekliker in daai oomblik. Later draai die gesprek rondom werk. Ek sê: “Ek wil wat ek hier doen, kan doen vir die res van my lewe.” Hy sê dis nou nie sy gunstelingding om te doen nie, maar hy maak lekker geld. “En dit het ’n kaartjie vir my gekoop.” Ek wil onthuts weet of sy maatskappy dan nie sy vliegtuigkaartjie hierheen betaal het nie. “Ja, natuurlik het hulle, maar ek bedoel om iets tegnies te gaan swot, het vir my ’n kaartjie uit Suid-Afrika gekoop. My graad was eintlik my kaartjie.” All good and well om nie jou land te haat nie, maar is om iets te haat en om dit net lief te kan hê van ’n afstand af, nie baie naby aan dieselfde ding nie? Ons het uiteindelik die rekening gedeel.
8. My ma sê een aand oor die foon vir my dat ek haar net nie verkeerd moet verstaan nie, sy kan sien dat ek in ’n ander land is, maar die foto’s wat ek stuur laat dit lyk asof ek net so wel ook in Stellenbosch kon gewees het. Dit sal niet beter sein, en dit sal niet slechter sein. Op sy best of op sy slechts sal dit alleenmaal anders sein. Presies, Ma. Presies.