Octavia Roodt, in dié strip, treur om Desmond Tutu
'n Verlange na die 'reënboognasie'
Die verlies van aartsbiskop Desmond Tutu voel soos die verlies van ’n ghoeroe. Ons uitvoerproduk, ons eietydse vergifnissimbool. Die Amerikaanse presidentshuis, die Verenigde Nasies en Liesbet die tweede bring hulde en die jong Afrikaner treur saam – of dit nou ter wille óf ten spyte van sy geskiedenis as struggle-figuur is. Tutu se naam is een van die min ANC-era-name wat nie in ’n stryery tussen vriende sal ontaard nie. Inteendeel. The Book of Joy (2016, Penguin Random House), Douglas Abrams se vaslê van gesprekke tussen Tutu en die Dalai Lama, word ook deur Afrikaanse vriendekringe uitgeleen en versprei. Dis hoe ek my eksemplaar ontvang het.
Die beeld van Tutu wat ek herroep is die gesig wat skeeftand giggel op die voorblad van The Book of Joy. Of Zapiro se karikatuur van hom. Ek dink aan die pers gewaad en aan daai krom, verrimpelde handjies. Die knoetsige ring. En dan dink ek aan sy heerlik-soetsappige kinderboeke of sy verskynings op podsendings oor sosiale genesing en spiritualiteit. Sy Godsiening het ruimte geskep in sy tradisie. In ’n sekere sentimentele (en wispelturige) bui het ek al gevoel asof hy ’n nuwe Suid-Afrika in ’n globale interspiritualiteit ingenooi het.
Hoofsaaklik, wel, treur ek om die nostalgie wat Tutu in my opgewek het. Hy was die toonbeeld van ’n tipe goedgelowigheid wat ek as Suid-Afrikaanse kind ervaar het. ’n Kinderlewe in die tydperk toe die “reënboognasie” met minder ironie op die oor geval het. Sonder veel verstaan van die implikasies, natuurlik, het dié woord ’n vae sin van hoop en veiligheid in my geskep. En hier besef ek dat my konnotasies met Tutu se reënboognasie al minder met die man self te doen het.
As ek verlang na die reënboognasie, verlang ek na die diep, speelse optimisme van kleinwees. Die beskerming teen eksterne eise en die mites wat daarmee saamkom; van almag, van onvoorwaardelike koestering sonder om ooit terug te moet gee. Ek hoop dat ander dit ook geken het; die kind se perfekte lewe as ’n somervakansie. Lang dae van jol, hardloop deur warm strate, op soek na stoutigheid. Op soek na ’n roomyskarretjie. Die kraak van die swembadhekkie. Eenvoud. Vêr verwyderd van die kompleksiteit van ’n volwasse lewe. Vêr weg van die politiek van ’n skoon swembad.