Foto's van 'n jong Breyten Breytenbach, meestal in 'n pak
Jy's welkom ❤️
Foto’s van die man en ikoon as openbare figuur in die openbare domein. Vry gemaak (wel nie sy portret saam met James Baldwin nie). Wil jy agter die kap van die byl kom oor hoe Breyten Breytenbach in ’n simbool van verset verander het? Die boek Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990) deur Francis Galloway is gratis beskikbaar. Dit is ietwat akademies, maar ’n sterk aanspraakmaker om as ambisieuse vakansieleesstof aangepak te word.
“Maan, engel, wind, duisternis, murmurering, naat, kroon, dood.” Hierdie woorde is van dié wat die meeste in Breytenbach se gedigte (waarvan hy reeds na aan 2,000 geskryf het) voorkom. Só skryf Georges Lory, Breytenbach se Franse vertaler, in sy portret van dié ingewikkelde kunstenaar.
Breytenbach is op 16 September 1939 in Bonnievale gebore. Ná hy in 1957 aan Hoërskool Hugenote matrikuleer, studeer hy onder Boerneef en DJ Opperman in die Department Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Kaapstad, en hy studeer ook kuns aan die Michaelis-kunsskool. Sy kritiek teen die apartheidregering dryf hom om Suid-Afrika op die ouderdom van twintig te verlaat na Europa. Hy vestig in 1961 in Frankryk, waar hy die Franse Yolande Ngo Thi Hoang Lien van Viëtnamese afkoms ontmoet. Breyten en Yolande trou kort ná hulle ontmoeting, maar die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike van 1949 en die Ontugwet van 1950 onder die apartheidstelsel in Suid-Afrika, verbied hulle om na sy geboorteland terug te keer.
In Parys verwerf Breytenbach bekendheid as ’n prominente lid van die Sestigers, ’n nuwe literêre beweging wat skrywers soos André Brink, Jan Rabie, Etienne Leroux, Ingrid Jonker, Adam Small, Chris Barnard, Abraham H de Vries en Elsa Joubert insluit. Die lede van die Beweging van Sestig het hulle beywer vir prosa wat die politieke en sosiale kwessies binne Suid-Afrika met ’n moderne, tolerante en vry aanslag aangepak het.
Breytenbach se eerste bundel, Die ysterkoei moet sweet, is in 1964 gepubliseer. Talle romans, gedigte en essays het daarna gevolg, en as skrywer is sy oeuvre tot op datum sonder gelyke. Sy skilderye vertoon in stede regoor die wêreld insluitend in Johannesburg, Kaapstad, Parys, Stockholm, Brussels, Amsterdam, Edinburgh, Hong Kong en in New York.
Sy mees opspraakwekkende politiese poësie, Skryt: Om ’n sinkende skip blou te verf, het in 1972 verskyn. Drie jaar later is die uitgawe van die bundel verban in Suid-Afrika. Dié verbod is eers sowat ’n dekade daarna gelig. Sy betrokkenheid by anti-apartheidgroepe bring hom in Augustus 1975 met ’n vals paspoort terug na Suid-Afrika. Ná sy arrestasie op aanklagte van die besit van vervalste dokumente word hy ingevolge Artikel 6 van die Wet op Terrorisme aangehou.
“My groot vriend, Breytie, was maar altyd ’n bietjie mallerig,” sê Adam Small by ’n taalsimposium op Potchefstroom ná Breytenbach se arrestasie. “Maar God weet, die man skryf wonderlike Afrikaans.”
In die tronk het Breytenbach aanhou skryf. Sy volledige versameling gevangenisgedigte, Die ongedanste dans: Gevangenisgedigte 1975–1983, is in 2005 publiseer. The True Confessions of an Albino Terrorist, ’n direkte en omvattende verslag van sy arrestasie en aanhouding in Suid-Afrika, verskyn in 1984.
In 1982 is Breytenbach se vonnis van nege na sewe jaar verkort. Hy word vrygelaat en keer terug na Parys waar hy Franse burgerskap ontvang. “Om vry te wees, is vir my ietwat van ’n skok waarvan ek nog nie heeltemal herstel het nie, maar ek is bly om weer Franse lug in te asem,” sê hy in Desember 1982 aan Volksblad. Meer as tien jaar later, waar hy steeds in Parys in selfopgelegde ballingskap woon, keer hy in Desember 1993 vir die eerste keer sedert sy vrylating uit die tronk terug na Suid-Afrika. Sedertdien lê Breytenbach gereeld besoek af aan Suid-Afrika, maar hy bly egter woonagtig in Frankryk.
Terloops, lees ook op Klyntji wat het Koos Kombuis oor Breytenbach te sê: monumente vir Breyten en kie.
Regstelling: In ’n vorige weergawe is daar foutiewelik genoem dat Reza de Wet ’n lid van die Sestigers was. De Wet het egter eers in die 1980’s begin publiseer en word dus nie as ’n Sestiger geklassifiseer nie.