Fotograaf Jansen van Staden oor Vipassana-meditasie, skaatsplankry en DMT
Sy fotoboek, Microlight, gaan om met sy pa se fratsdood en grensoorlog-trauma
Daar is ’n onoplosbaarheid omtrent Jansen van Staden. Sy misterieuse persoonlikheid gaan gepaard met ’n praktiese sienswyse wat lei tot dieper insigte in die alledaagse. Van Staden vertel aan Ruan Scott, in ’n uiteenlopende onderhoud, oor beide die ontstellende en gelukkige gebeurtenisse wat aanleiding gegee tot sy fotoboek Microlight, en hoe hy bevryding vind.
blaai deur Microlight
Kom ons begin by laas jaar, September 2019.
Ek was een van vyf wenners van die CAP-prys. Die Contemporary African Photography-prys. Dit klink nou asof ek brag… Elke jaar se wenners word vir ’n uitstalling na Basel, Switzerland uitgenooi. Ek het die projek waaraan ek tans werk, Microlight, hier uitgestal.
Twee ander puik Suid-Afrikaners is ook gekies, die legendariese Jodi Bieber en die nederige Thembinkosi Hlatshwayo. Die ander wenners was Abdo Shanan van Algerië, Benidicte Kurzen van Nigerië/Frankryk en Sanne de Wilde van Nigerië/België. Ek raai julle aan om na dié mense se uitstekende werk te gaan kyk. Dit was blerrie nice om my werk te sien op so ’n skaal.
Vertel ons van jou fotografie-loopbaan. Waar het jy begin en waar is jy nou?
Toe ek 14 jaar oud was, het my pa ’n kamera in my hand gedruk. Dieselfde dag nog het ek ’n foto van ’n eend geneem wat op Hartbeespoortdam swem. Met daai einste foto het ek ’n kompetisie in ’n tienertydskrif gewen en ek is met ’n kamera beloon.
Ek het my vriende wat skaatsplank ry begin afneem. Dit is deur die vryheid van die skaatsplank-kultuur en my blootstelling daaraan dat ek ’n belangstelling in fotografie ontwikkel het.
Nie dat jy gevra het nie, maar ek beskou myself nie as ’n “straat-fotograaf” nie, eerder net ’n fotograaf. ’n Mens met ’n kamera en ’n nuuskierigheid wat kom van die oog en van die hart. En god, moet my net nie ’n kunstenaar noem nie.
Vir die afgelope paar jaar werk ek as ’n beligting-assistent. Ek help ander fotograwe met hulle beligting. Dis ’n seisoenale werk en dit vind meestal in die somer plaas. Dit gee my die geleentheid om geld te spaar om in die winter die pad te vat en my eie ding te doen. Kan ek vloek in die onderhoud?
Jy kan sê net wat jy wil.
Ek gaan fok sê. Doos. Fok. Naaier.
Vertel my van die kameras wat jy gebruik het: die een wat jy gewen het, en die kameras wat jy vandag gebruik om mee te skiet.
Dis mos nou ’n lekker kak vraag! My reaksie op die vraag ontstaan uit die absurde aard en sommer die sielkunde van die self-opgelegde-trots wat mense aan hulleself toeken deur watse blêrrie kamera hulle gebruik. Soos om te pronk dat jy op film skiet. Sodra die kyker die informasie lees in die caption van ’n foto, word die interpretasie van die foto weggemoer. Die inhoud van jou foto raak verlore. Ek wil dan nie meer jou foto lees nie, want jy gee min om oor die foto self. Jy gee nie om oor wat jy dalk sê nie. Jy gee nie om hoe jou foto gelees kan word nie. Die estetika van die foto is nou al wat belangrik is. Oulik, man.
Skiet film, ja. Skiet met whatever kamera. Skiet op jou foon. Dit maak nie saak nie. Maar dink ’n bietjie oor die verhouding tussen jou foto, teks en die leser van jou foto.
Die projek wat jy hierbo noem, Microlight, gaan ’n boek word. Hoe het dit ontstaan en wat behels dit?
Ek wil nie te veel weggee nie. Ek wil hê die foto’s moet die storie vertel. Dit is wel ’n baie komplekse storie.
Ek is in 2017 uitgenooi om ’n masterclass in Nairobi, Kenia by te woon. Dit word elke jaar deur die Goethe-Institut gereël. John Fleetwood het my uitgenooi, ek werk al vyf jaar of wat saam met hom.
My pa is in 2011 oorlede in Kenia, suid van Mombassa, in ’n Microlight ongeluk. Ek en my broer het tot en met daardie oomblik nog nooit die kans gehad om Kenia toe te reis nie. Ons het die kans gevat om my pa se laaste paar dae te herleef, as genesing en om afsluiting te kan neem. Ons het die ongelukstoneel besoek. Ons het met die vlieënier gaan praat wat die ongeluk oorleef het. Ons het die dokter gaan sien wat die lykskouing gedoen het. Ons het sy laaste kamer gaan sien, en net daar gaan sit. Ons het gaan eet by die laaste plek waar hy geëet het. Ons het ook met ’n klomp mense gesels wat hom laaste gesien het. Dit was ’n ontsettende terapeutiese ervaring. Nie net vir myself en my broer nie, maar ook vir die vlieënier. Hy blameer homself steeds, en sy hart is kapoet van die trauma en skuldgevoel, al was dit ’n fratsongeluk.
Ek het die hele trip afgeneem, en het die foto’s voorgestel aan die masterclass in 2017. Die beoordelingspaneel en my mede-studente het my aangespoor om die ding klaar te maak. Dit is toe dat ek begin grou het en Microlight regtig begin vorm aanneem het.
Ek het my oom, my pa se broer, gevra vir my pa se hardeskyf. Al my pa se honderde duisende foto’s is daarop. My pa was ’n entoesias, ’n man met ’n kamera. Sy werk het hom die geleentheid gegee om baie te toer en sy kamera was altyd saam met hom.
Soos ek deur die hardeskyf begin werk het, het ek op ’n brief afgekom. ’n Opstel. My pa het dit geskryf as deel van sy terapie. In sy laaste paar jare het my pa en sy geliefde baie hard gewerk aan die donkerte in sy siel. In die brief skryf hy oor sy tyd in die grensoorlog en die effekte wat dit op sy lewe en sy verhoudings gehad het.
Die brief is nie vir die publiek nie. Die details is kras en was baie moeilik vir my om te aanvaar. Ek kon net nie glo dat die man wat ek ken as my pa, wat al sy energie, sy hele lewe lank amper in volhoubare ontwikkelingsprojekte in Afrika bestee het, dié goed gedoen het nie.
Dit het my met baie vrae gelos. Waar kom die geweld vandaan? Wie is die ou? Hoe kan ’n 17-jarige met trots oorlog toe gaan? Wie het dit vir hom geleer? Hoe het die samelewing en die families van daai tyd kinders beïnvloed? Vir wat en waar kom die ideologie vandaan?
So het ek vir drie jaar aan die projek gewerk. Omdat my pa oorlede is, kon ek nie die goed uit die perd se bek self hoor nie. Ek het dus my pa se familie gaan besoek met al die vrae wat ek oor sy geskiedenis gehad het. Dit was ’n belangrike gesprek in die familie. Moeilik. Ek het my ma gaan pla. Dit was vir haar baie moeilik, maar terselfdertyd terapeuties. Dit het ’n moerse invloed op my gehad, en ek voel ek is ligter as gevolg daarvan. Ek verstaan nou beter.
Ek glo nie in hoop nie, maar ek wil dié gesprek oopmaak. Al is dit voordelig vir een persoon, is die hele ding soveel meer waardevol. Dat die kinders wie se ouers op die grens was, en die ouers wat self op die grens was, begin praat tussen mekaar oor wat gebeur het. Ek voel dit is ontsettend belangrik. Belangrik om te verstaan van waar jy kom, en hoe dit jou lewe gevorm het, en om om te gee oor wat op die oomblik in ons land aangaan, van hierdie perspektief af.
Die projek lyk of dit baie met my pa te doen het. Maar die waarheid is dat die projek gaan oor my proses om al hierdie inligting te hanteer. Om te besef van waar ek kom, my posisie in die land as gevolg daarvan, en my verantwoordelikheid om seker te maak dat ek nie onbewustelik my voorouers se kak oordra nie.
Ek is bewus dat jy Vipassana-meditasie beoefen. Wat is dit en hoe het jy daarby betrokke geraak?
Ek’s seker almal het al iewers van dit gehoor. Die plek in Worcester waar mens vir tien dae nie met enigiemand mag praat nie. Daar waar jy vir agt tot tien uur elke dag kruisbeen sit en luister hoe jou kop raas. En ek sê vir jou, jirre… dit raas.
Vipassana beteken om dinge te sien soos dit werklik is. Om die waarheid van konstante verandering binne jouself te beleef. Dis ’n baie eenvoudige tegniek.
Die kursus is gratis. Dit moet so wees, want die tegniek is suiwer. En vir almal. Maak nie saak wat jou geloof of agtergrond is nie. Daar is geen geld wat die waarde kan dra van wat jy daar leer nie. Daar word gesê dat as jy van die tegniek hoor, jy ongelooflik bevoorreg is.
Daar is geen voodoo of hippie-stront betrokke nie. Maar ek sê jou nou, dis op dieselfde tyd die moeilikste en die mees lonende ding wat jy in jou lewe sal doen. Daar is niks om voor bang te wees nie, net jouself. Ná die tien dae is die doel om self-dissipline toe te pas en elke dag te oefen. Te oefen – by die huis terwyl jy loop, terwyl jy fiets ry, terwyl jy sit, terwyl jy lees. Terwyl jy in jou neus grou. Terwyl jy jou hol afvee. Terwyl jy tik. Terwyl jy bergklim. Terwyl jy asemhaal. Jy sal die tegniek saam met jou dra vir die res van jou lewe, en dit gebruik vir die oomblik wanneer jy sterf. Jy kan voorbereid wees. Ek is vir dié rede nogals opgewonde oor die ervaring om dood te gaan.
Skateboarding speel ook ’n rol in jou lewe. Hoe en waar het dit in jou lewe gekom en is dit nog steeds ’n element in jou lewe?
Ek het toe ek 13 was begin skaatsplank ry, in Pretoria. Dis mos nou lekker in Afrikaans... Skaatsplank…
Al die cool kinders by die skool het dit begin doen, maar dit het vinnig momentum verloor. Later was dit net ek en ’n handjievol ouens. Skaatsplankry was baie anders toe ons groot geword het. Vandag se kinders dink almal dis ’n sport, en dit word sodoende aanvaar deur baie meer mense as in die verlede. Dis orals in die media. Dis ’n moerse geldmaakstorie in Amerika. Iets wat mens na toe kan streef om kos op die tafel te sit.
Ons was die fokops. Die weirdo’s. En as ek nou terugdink, was dit so waardevol gewees. Om uit te voel. Om jou eie ding te doen. Saam met die ander fokops.
Daar is geen onderwyser of afrigter nie. Geen ouers langs die rugbyveld nie. Geen spanmaats nie. Jy moet self plan maak. Jy moet die ding self bemeester. Dit bou karakter om vir ure lank jou gat te sien en te sukkel, vir twee sekondes se genot, wanneer jy ’n toertjie land.
My regterknie is gefok en ek kan ongelukkig nie meer hierdie plesier geniet nie. As gevolg daarvan het ek stadig begin wegbeweeg van die skaatsplankwêreld af. My broer, Joubert, is egter nog heelwat aktief in die skaatsplankwêreld van Suid-Afrika. Dit is wat ons lewens gevorm het. Die vriende wat saam met ons stap en die kameras waarmee ons onsself besig hou – dis als te danke aan die stukkie hout.
Jy is ook straight edge of verkies jy die term geheelonthouer… Hoe het jy tot dié besluit gekom?
Geheelonthouer… jirre Ruan, wat ’n woord!
Straight edge is ’n hele beweging op sy eie, met sy eie geskiedenis. Ek volg dit nie. Skoon en nugter... ja... wel soortvan... ek sal lieg as ek sê ek is heeltemaal skoon en nugter. Haai, dis mos nie mooi om te lieg nie. Wat sal my ma dink?
Behalwe vir ’n klein glasie tuisgemaakte bier in Frankryk, het ek agt jaar laas iets gedrink. En die dagga, dis nou ’n lelike woord, die politiese stoners hou mos nie van die woord nie. Die zol, die zaan, die omkyk-twak, het ek sewe jaar laas gehad. Dit het als te doen met die meditasie, jy sien...
Elke drie jaar of so doen ek myself ’n guns. DMT of Dimethyltryptamine. Net een reis, elke drie jaar of so. Dis amper asof ek myself ’n ondersoek gee. Of ek wil uitvind of ek nog orraait is. Dat als orraait is. Dit is altyd soos ’n groot warm drukkie van ’n moerse teddiebeer af. Die teddiebeer sê vir jou: “Kyk hier, my vriend, als is eintlik orraait.” Ek het baie respek vir die ding, en jy moet nie rondfok met dit nie. Doen dit ordentlik of los dit.
Jou social media-teenwoordigheid is maar min. Hoe kry jy jou werk daarbuite?
Social platforms het sy plek en funksie. Ek voel ongemaklik met die goed. En ek hou nie van die manier hoe dit foto’s vinnig gemaak het nie. Ek weet dit van my eie gewoontes op Instagram, dat baie min mense regtig na die foto’s kyk. Om krities oor fotografie te dink, word nie ondersteun nie. Foto’s word minder gelees en bespreek. En ek voel die foto’s wat populêr is, volg sekere standaarde van “beauty”. Weereens, die estetika. Ek bevraagteken die beautification van dinge. Ek voel dis goedkoop, maklik en oneerlik.
Nietemin, Instagram en social media is nodig in vandag se wêreld. Dit is hoe mense na ander se werk kyk. Dit maak blootstelling maklik in verskeie opsigte, en sodoende kweek dit vinnig ’n nuwe generasie van fotograwe wat bewus kan wees van ’n groter wêreld.
In terme van hoe ek my werk daarbuite kry, wel ek’s nie so gepla oor dit nie. Ek is nie haastig vir enige meriete nie, en ook nie lus om gat te kruip nie. Daar is ook so baie dinge buite mens se beheer wat ’n invloed het. En daar is ook ’n waarheid wat mens moet aanvaar — dalk is jou werk net... kak. Dis ’n moeilike ding eintlik, mens wil tog ’n bestaan maak uit fotografie. Terselfdertyd is daar honderde duisende mense wat dit ook probeer en baie van hulle het uitstekende werk. Daar is ’n afstand tussen hoe ek my geld maak, en my eie fotografie-“loopbaan”. En ek dink dit tel op die oomblik in my guns.
Is fotografie kuns? Wat is jou siening?
Fotografie is ’n taal. En wanneer dit gebruik word om stories te vertel, spits ek my ore. Ek hou van stories. ’n Bietjie kak praat saam met ’n vreemdeling…
Verder glo ek goeie kuns is soos ’n spieël. Dit gee jou bloot ’n kans om na jouself te kyk, en dalk iets raak te sien wat jy nie voorheen van bewus was nie.
In daai opsig is alles kuns. Alles wat buite jouself gebeur, kan ’n kans word om jouself te leer ken.
Groete, dankie, liefde. Fok. Bok sal sorg.
Vooraf-bestellings van Microlight kan gemaak word deur microlightbook@gmail.com.