Cucurbita pepo – fragmente van ’n veldpampoen

Cucurbita pepo – fragmente van ’n veldpampoen

CHARLES TAIT

Vir Breyten se verjaarsdag, 16 September 2017.

tumblr_inline_owe3vjj5mu1tz8ud8_500.jpg

’n Anderman het die koerant gelees. Opsoek na woorde. Enige berig oor ’n Man wat ’n pampoen koop vir sy verjaardag die sestiende september. ’n Bosduif het voor hom kom pik aan die fotos op die bladsy. So geweldadig het die ding geword dat sy veertjies begin uitval. Voor die duifie die duiwel die krans afja vou die Anderman hom in die koerant toe. “Waar vind mens nog ’n boerpampoen om onder jou arm te dra op die sestiende september?” Vra die man homself. Met die duifie in die gefrommelde papier stap die Anderman veld toe. Met elke tree dryf daar veertjies agter hom. Hulle gaan rus liggies op die wandelpad en verdwyn soos wat hulle vergeet word. “Waarna soek jy alweer?” Vra die man in die maan. Klink nes my vrou dink Anderman aan homself. “Ek soek ’n man wat ’n pampoen koop vir sy verjaardag die soet september saterdag.” Die maan knik sy kop en wys met ’n kaasneus in die rigting van die veld. Maar so vroeg in die more is die veldpampoene kwaai. Toe die Anderman daar aankom grom hulle soos ’n koor. Hy was gekonfyt in die smaak van pampoen en het geweet daar moet vandag ’n nuwe een op die rank wees. Hy tel hulle in twees. So kom hy agter daar is net soveel soos laas jaar. Hy druk sy hand in sy sak om die duifie uit te haal. Maar die voëltjie is weg. Hy was egter gaaf genoeg om die koerant te bemis gedurende sy ontsnapping. Anderman plant ’n saadjie in die papier en begrawe dit langs die ghoempampoene. Soos die son sak ontsnap daar ’n posduif uit die lang skaduwëe. Met ’n briefie in sy bek vir ’n man wat pampoen koop op sy verjaardag die sestiende september.

Sien 2016 se parody van Breyten se pampoenprosa. Charles het hom intussen ontmoet.