Pampoenresep

CHARLES TAIT

Vir Breyten se verjaarsdag, 16 September 2016.

tumblr_inline_odlhvoTPY21tz8ud8_500.jpg

’n Anderman het gaan soek na ’n pampoen wat ’n man sou koop vir sy verjaardag die sestiende September. Die tyd was nou hier en hy was honger. Wat jy waar gaan kry? brom Anderman se vrou. “Die pampoen is nou president.” Dit was waar. Al wat naby die pampoen kon kom was die vlieë of soms ’n swaeltjie om aan sy pitte te pik. Was dit dan te veel gevra om die president te besoek op pampoendag, die sestiende September?  Die maan was vol en later  in die dag het dit voor die son verby gegly. Die Anderman het op die balkon gaan staan om te sien of die maan nog in die lug sou hang. Meneer die president! Wat soek jy hier? Verbaas om te sien dat die pampoen op ’n plastiek tuinstoel sit. Hy wou sy vrou roep om tee en beskuit te bring, maar sy sou haar nie steur nie. Die pampoen het begin huil en die man het geweet dis omdat sy kabinetslede hom wil vermoor. Soos ’n samaritaan druk Anderman die pampoen onder sy arm en begin hol. Ek neem jou na die man op sy verjaardag die sestiende September. Met ’n langbeen trap die dogtertjie van die maan tot die aarde. Sy is weer vol eise soos skoene vir haar kaal voete en gratis toegang tot universiteit. #pampoenmustfall. Wat het jy daar teen jou blad? Voor ’n antwoord soos ’n voël uit anderman se mond kon spat begin die pampoen te grom. Dis ’n bom. Dis ’n bom! Alles was skielik blou, toe rooi, toe weer blou. Soldate het gekom sonder ’n geloei en die pampoen teen die straat stukkend gesmyt. Met ’n glimlag het hulle Anderman beboet en sonder skuldgevoel die nag ingery. Running with pampoen. R300. Anderman het sy kop vasgehou en gekreun wat gaan die man nou maak vir sy verjaardag die sestiende September? Hoe maak ek ’n feesmaal op ’n sypaadjie terwyl al die pampoenkenners vir ons loer. Jy maak nou so, sê die maandogterjie aan niemand spesifiek nie:

  • Halwe boerpampoen, ontpit en met skil en al in dik wiggies gesny; olyfolie; kaneel; fyn gemmer; heuning (100ml); Water. Sout na smaak op die sestiende September.
  •  

Skryf vir ons! kontak@klyntji.com