Die Vele Kleure van Margot Bloem

Die Vele Kleure van Margot Bloem

LOUIS ROUX

louis roux.jpg

Margot Bloem se nuutste album, Lelies, Rose, is om die minste te sê, ’n sukses. Krities, kommersieel, hoe jy ook al sukses in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf meet, het Bloem nuwe hoogtes bereik.

Bloem se gewildheid het oor die laaste paar jaar ontplof, en om goeie rede, maar dié wat haar ontdek het deur Veel Geluk (2015), Jou Pop (2012) of selfs Madeliefies (2009) weet dalk nie dat Bloem een van die mees prolifiese, begaafde en interessante musikante in Suid-Afrika is nie. So nou, met die sukses van haar 20ste (20ste!) album, is dit die perfekte tyd vir my – #1 Margot Bloem kenner – om die wyer publiek bloot te stel aan die musiek – die kuns! – van hierdie 36-jarige sangeres/pianis/komponis. (Ek weet. 36. Kan jy dit glo? Sy lyk nog presies soos die vurige 20-something met die rooi lippe wat ek soveel jare gelede vir die eerste keer op ’n verhoog gesien het. (Ek, in teenstelling, dra elkeen van my 36 jaar op my gesig én om my middel)).

Aan die begin was daar Lelanie Janse van Vuuren en die begin was 1981. Dis als maklik genoeg om uit te vind , maar nou die aand was ek besig om ’n whiskey te drink in die Brazen Head toe Werklik Waar (die tweede single van Lelies, Rose) begin speel. Ek hoor toe ’n snotneus 2de jaar: “Het jy geweet haar regte naam is Lelanie?” “Wat ’n kak naam!” skerts sy vriendinnetjie. Ek was so kwaad ek kon nie eers my Chivas klaarmaak nie).

Maar kom ons grawe ’n bietjie dieper – hoe was die papiejare van Lelanie Janse van Vuuren? Wat het gebeur om Lelanie se transformasie na Margot Bloem te bewerkstellig? Bloem, gewoonlik gewillig om vir ure te praat, raak stil en kortaf wanneer sy gevra word oor haar papiejare. In ’n onlangse onderhoud met Keur sê sy bloot: “Ons was ’n baie normale middelklas gesin, ek was in ’n goeie model C-skool. Ek het meestal net gelees en na musiek geluister.” Maar dis nie hele storie nie. Margot-née-Lelanie noem gereeld haar ma, maar nooit haar pa nie. Amper nooit nie. Dié wat weet waar om te kyk, wie om te vra, sal uitvind dat Ernst Janse van Vuuren in 1987 verdwyn het. Sy liggaam is drie weke later gevind – hy het klaarblyklik selfmoord gepleeg. Alhoewel hy nooit gediagnoseer is nie, kan ons vandag sy gedrag herken as simptomaties van Bipolêre Sindroom, waaraan Bloem ook ly. Dink byvoorbeeld aan Singelhout van haar 2007 album Die Woude: “Hierdie siekte / is my erfporsie,” sing sy 20 jaar na haar pa se dood. (Hulle huis, vir interessantheids-halwe, was  Singelhoutlaan 54). Hierdie tweesydige invloed loop deur al haar werk – dink mooi: Lelies = dood, Rose = liefde.

Hoe dit ookal sy, nature of nurture of iets tussenin, ontpop die jong Lelanie met haar eerste album in 1998 onder die pseudonym Flora Bell. Marigoldfinger, net 6 liedjies lank, net beskikbaar op tape, is ’n aanduiding van die meesterwerke wat kom en lê die grondslag vir temas en beelde wat sy deur haar hele loopbaan sal gebruik: ’n fasinasie en frustrasie met populêre kultuur, ’n kritiese en satiriese inslag op vrouens se “plek” in die wêreld en blomme. Altyd blomme met Margot. Dit gesê, is daar ’n heelal se verskil tussen hierdie lo-fi eksperimentele punk EP en die polished pop van Lelies, Rose. Marigoldfinger is ’n konsep album, elke snit uit die oogpunt van ’n ander Bond “Girl” wat vir die eerste keer kan uiting gee aan hulle woede en frustrasie, hulle drome en ambisies. Al is dit onafgerond, miskien ’n bietjie te cutesy, en verskriklik sleg gemix (te danke aan haar kêrel van die tyd wie se vaardighede sy duidelik oorskat het) is dit ’n goeie, vroeë indikasie van die genie wat ons later sou ontmoet.

Haar volgende projek, ook van 1998, wys dat Bloem (oftewel Bell op hierdie punt) nie net ’n konseptuele reus is nie, maar ook ’n uiters begaafde komponis. Lily Nightmares: new compositions ontplof met geraas – digitaal en analoog – wat Janse van Vuuren-Bell-Bloem sagkens manipuleer en vorm gee met klavier, viool en klarinet. Ek sal tot vandag toe soms vir my ’n whiskey skink, Lily Nightmares in die hifi sit, die ligte afskakel en myself verloor in die sensuele golwe van klank. Dis amper of ek Margot se hande op my gesig kan voel, haar asem in my nek…

Dis moeilik om nou te dink dat Lily Nightmares amper haar laaste album was, dat Suid-Afrika (en die wêreld) (en ek) amper hierdie … geskenk verloor het. Net ’n week na sy Lily Nightmares gemaster het, het sy dodelik siek geword – breinvliesontsteking. Volgens Karien Strijdom, haar beste vriend in die Stellenbosche musiekdepartement, het sy by die randjie van die dood omgedraai. Goddank het sy omgedraai en goddank het hierdie noue ontkoming gelei na haar volgende album – 2000 se Geheime Spykergewere. Geheime Spykergewere is die tipe album wat in ’n kunsmuseum moet hang. Dis dig, konseptueel en kompleks, met invloede van John Cage, Yoko Ono, Le Monte Young, Artaud, Fluxus, anti-kuns. Alhoewel die album wemel van verwysings – nie net na moderne kuns nie, maar ook na Dr Phil, The Bold and the Beautiful, Oprah, Touched by an Angel (als wat ’n mens sou sien op daytime TV van ’n hospitaalbed af) – is dit steeds ’n emosionele kragtoer; ’n meditasie oor siekte, verlies en hernuwing. Net twee van die snitte het lirieke, en die woorde wat daar is, dui daarop dat haar verhouding met taal besig was om te verander. Dink byvoorbeeld aan die lirieke van Geskenkwinkelblomme: “Wentel, wentel, wentel / drentel nog ’n rukkie / stukkies van wolke / tog ’n rukkie / wentel”. Ek laat interpretasie aan die leser oor, maar dis dalk interessant om te noem dat Bloem in 2003 ’n performance stuk, gebaseer op die gedigte van Gertrude Stein, in Kaapstad opgevoer het (waarvan ek een van die skaars bootleg recordings besit).

Geheime Spykergewere is ook die eerste album wat sy as Margot Bloem gemaak het en in retrospeksie is dit maklik (miskien te maklik) om hierdie projek (en die siekte wat daarna gelei het) te sien as die geboorte van Margot Bloem – maar miskien nie die Margot wat ons vandag op kykNET sien nie.

Wat volg is ’n tydperk van ongelooflike produktiwiteit en kreatiwiteit: 2001 se Eurydice en die Rivier is ’n beeldskone en oordadige barok kamer-opera wat die Griekse legende verskuif na ’n 18de eeuse Kaapstad; 2002 sien Transformasie: ’n Nuwe Afrikaans, ’n konseptuele boeremusiek/hip-hop album wat haar inslag in die (aangaande) Taaldebat merk: oor die eklektiese musiekmengsel rap en sing Bloem in ’n taal wat net-net herken kan word as Afrikaans – ’n mengsel van Afrikaanse dialekte van Windhoek tot Knysna, Engels, en isiXhosa – Bloem se projeksie van 22ste eeuse Afrikaans (sy sou later self sê dat hierdie poging nie heeltemal geslaagd was nie en dis waar;  Transformasie is amper onmoontlik om na te luister) maar die album staan nog steeds as ’n artefak van ’n unieke stem). Die volgende jaar skep sy nie minder as vier albums nie (as jy Rose vir Gertrude tel, which I do): Die Godweet EP (nog steeds ’n collector’s item onder Margot Bloem die-hards) het die punk van Marigoldfinger weer besoek, dié keer met ’n fyner oor, beter produksie en bytende, onverbloemde sosiale kommentaar; die Britney Britney Britney EP bestaan heeltemal uit gebreekte en verbuigde Britney Spears samples – dit skep ’n vreemde tipe klankpoësie, ’n feministiese jeremiade teen die publieke eiening van bekende vroue se liggame. Daarna kom Rose vir Gertude – ’n projek wat sy doelbewus nooit opgeneem het nie, ’n manier om haar noue band met Stein se poësie te “bewaar”. Gelukkig het iemand in die gehoor daaraan gedink om dit op te neem. Die laaste Bloem projek van 2003 keer terug na die intieme selfondersoek van Geheime Spykergewere, maar Maniese Muse is ’n perd van ’n ander kleur.

Maniese Muse is ’n gemors. Daar is geen ander manier om dit te sê nie. Selfs vir my, wat haar eksperimentele en persoonlike werk meer geniet as haar mainstream goed, is Maniese Muse haar swakste album. Golwe van geraas stamp dom teen mekaar, die geskree van dierepyn (opgeneem in ’n abattoir) en Bloem se lae, vibrerende dreunsang grawe in jou beendere in, en in een snit skeer sy haar hare af terwyl sy Plath cutups lees – alles saam skep die indruk van iemand wat beheer verloor oor ’n trok. Daar is niks kreatief hier nie – dit is pure verwoesting. Tog, as ’n dokument van Bloem se reistog as kunstenaar en mens, is dit waardevol – ’n tragiese argief van haar eerste ernstige maniese episode. Vir die grootste deel van 2004 ontvang sy behandeling by ’n gesondheidsentrum in Knysna.

Vir ’n paar jaar onttrek Margot haarself aan die scene. Sover enigiemand weet, het sy in Knysna aangebly en gewaitress by die Blue Oyster. Ek verbeel haar soms in hierdie tydperk (daar is nie enige foto’s nie wat ek kon vind nie): haar blonde hare wat ongetem teruggroei, oggende op die strand met goeie boeke, die son en die see en die woude wat haar stadigaan versterk. ’n Tydperk van vrede waarin sy nie gedruk is om te skep nie;  toe sy die rots in haarself kon vind. Dis nie pure spekulasie nie – haar volgende album, Die Woude (2007), is haar mees volwasse projek tot op daardie stadium. Die Woude, ’n subtiele, onderbeklemtoonde akoestiese album, is ook die eerste Margot Bloem album wat kritiese aandag gekry het.  Huisgenoot se resensent (wie se naam ek nie sal noem nie) het Die Woude 3/5 gegee en dit is duidelik uit sy ongesofistikeerde analise dat hy nie die dieper temas van die album waardeer of selfs raaksien nie. Hy noem haar “’n belowende jong sangeres”, wat waar is, soos dit waar is dat Mozart ’n “belowende jong pianis” was.

Hierdie is tipies van Margot se kritiese ontvangs – lof deur mense wat nie weet waarvan hulle praat nie, wat nie die toewyding of liefde het om haar kuns regtig te verstaan nie. (Voel sy soms eensaam? ’n Genie in ’n see van middelmatigheid? Is sy op soek na iemand wat haar kan raaksien, regtig sien?) Dieselfde het gebeur met My Eie Huis (2008). Uit Die Burger se resensie: “Bloem is ’n hipster Laurika Rauch vir die nuwe generasie.” Die vermetelheid! Nie dat ek iets teen Rauch het nie, natuurlik nie, maar hierdie tipe vergelyking doen net afbreek aan altwee kunstenaars. En boonop noem hierdie resensie (of enige ander resensies) nie eers die Virginia Woolf invloed wat deur die album loop nie – party meer obvious (Die Golwe, Wie’s Bang?), party minder (dink byvoorbeeld aan die viool- melodie in Sonder Sonder Sonder volgende keer wat jy To the Lighthouse lees). Ek is net bly dat ek die geleentheid het om hierdie kritiese gaping te vul. Kunstenaars en kritici het ’n intieme verhouding – ons maak die deure oop, ons sê wat die kunstenaars nie self wil of kan sê nie. Dit is ons werk om hulle te leer ken soos ’n familielid, of ’n minnaar.

Dis duidelik dat Margot ongelukkig was met die oorgrote meerderheid van haar ontvangs: sy het haar bes probeer om haar werk toeganklik te maak vir ’n groter gehoor en hulle het haar aanvaar – haar merch en CD’s gekoop, dronk saamgesing by kunstefeeste en lateraan haar albums op Apple Music gekry en haar gefollow op Instagram – maar hulle het haar nie verstaan nie (iets wat Kurt Cobain ook ervaar het). Dit vat ’n spesiale tipe mens om Margot Bloem regtig te verstaan in al haar nuanses en kompleksiteit. Veral haar volgende projek, miskien gebore as ’n reaksie op haar hoofstroomaanvaarding. Johannesburg, 14 November 2008 (2009) is Margot se laaste werklik eksperimentele album – ’n reeks edited en remixed veldopnames van ’n dag wat sy in die stad spandeer het, elke snit ’n kategorie van klanke: Verkeer, Hawkers, Lag. Maar hoekom het sy nooit weer so iets gemaak nie? Omdat die album ’n kommersiële flop was? Sekerlik nie, nie as ek haar gevoelens reg interpreteer nie. Wat het dan Margot se musikale moed geknou? Die laaste snit van Johannesburg, 14 November 2008 kan ons dalk ’n leidraad gee. Aan die heel einde van Gesprekke, onder die poliritmiese gebrabbel kan ’n mens vaagweg hoor: “Hey, ek’s André.” En wie is André? André Vogt, a.k.a. Andy Fokol. Hy is een van die Kaap se verveligste kitaarspelers en was in November 2008 in Johannesburg op toer met sy band Who Cares and the Whatevers. Hulle het omtrent dadelik ’n verhouding begin en according to ZAMusicScene.org is hy nou Margot Bloem se “fiancé” (‘SA’s most adorable indie couple are getting married and we literally can’t even’, 2017).

Maar miskien is dit premature om Andy, of André, of wat ookal sy naam is te blameer vir die agteruitgang in Margot se werk (en ek sê dit nie ligtelik nie; daar is niemand wat so lief is vir Margot, of haar werk, soos ek nie). En miskien is dit onregverdig om te sê dat sy ‘slegter’ geword het. Haar werk is minder kompleks, ja, sonder die virtuoso uitvoerings van Geheime Spykergewere, ja, die temas is minder dig verweef as Rose vir Gertrude, sure, minder waaghalsig as Transformasie of Britney Britney Britney, okay, maar meer suksesvol, toeganklik en aanvaarbaar. 2011 se Doubles Tennis is ’n sjarmante folk-rock album wat die moeilikhede en suksesse van romantiese verhoudings Wimbledon toe transponeer, en selfs Madeliefies (2009) wat slegs uit liefdesliedjies bestaan (wat sy seker geskryf het net na sy André ontmoet het) is mooi op sy eie manier, al is dit ’n bietjie soetsappig, ’n bietjie naïef.

In 2012 (miskien met Andy se “hulp”) het haar populariteit ontplof met Jou Pop, ’n werk van pure, bitsige satire, al het nie ’n enkele resensent dit besef nie. Hoe anders kan mens die helder synths, die cheap drum machines en die auto-tune wat die tekstuur van Margot se stem uitwis, verduidelik? Kan dit wees dat hierdie kunstenaar, Margot Bloem, met haar musikale en persoonlike geskiedenis besluit het om dit als weg te gooi om popsensasie-status na te streef? Nee, nie my Margot nie. Lirieke soos “Ek is jou pop pop pop / Sê net spring en ek sal hop hop hop” (Jou Pop) en “Hou my net vas op die dansvloer / met jou is daar stilte in die rumoer” (Jou Hande, My Heupe) is duidelik parodiese kommentaar op die walglike onkreatiwiteit van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – en tog het niemand, nie eers ZAMusicScene.org dit agtergekom nie. (Net ek verstaan Margot, en haar kuns, en haar blomme)

Tussen 2012 en 2015 vind Lelanie, jammer, Margot haarself in die middelpunt van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy was die hotste property op die scene – Afrikaans en Engels. Daar was 2012 se Vers en Vlam opvoerings met Coenie de Villiers – ’n voortsetting van die Afrikaanse tradisie van elke paar jaar toonsettings te doen van Afrikaans se “beste” (lees: “bekendste”) gedigte. Later in 2012 span sy en Inge Beckmann saam op die single Sitting Pretty, wat gelei het tot gerugte van ’n vollengte collab album wat tot vandag toe bruis. Aan die ander kant is daar gerugte dat daar drama tussen Bloem en Beckmann was, dat ’n album nooit gaan kom nie. Niemand weet regtig nie. In 2013 maak sy en Freshly Ground Rosebud (’n Citizen Kane verwysing? Op hierdie punt weet ek nie meer of enigiets wat Margot doen aspris is nie). Onthou jy Rosebud? Dit was vir twee maande onmoontlik om van dit weg te kom – dis op Jacaranda op pad werk toe, jou kollegas speel dit in die kantoor, dis in jou gunstelingkroeë, die dub remix in al die clubs. Vir twee maande word ek gevolg deur hierdie Margot Bloem soundalike, hierdie stroperige herinnering van die kunstenaar wat sy was. Op ’n punt wou ek net in my kar klim en … Maar toe’s dit weg. Net so. Wie kan Rosebud onthou? Nie ek nie.

Die enigste ding erger as Rosebud is Rampokkertjie – ’n dansvloer treffer wat sy duidelik op die ingewing van die oomblik met Kurt Darren gemaak het, kompleet met ’n technicolour musiekvideo met slegte green screen. Dis seker veronderstel om ’n stukkie ligte self-parodie te wees, maar kom net voor as ondraaglik smug. Hierdie kreatiewe laagtepunt is natuurlik beloon met honderd duisende Apple downloads en YouTube views.

2015 se Veel Geluk is … vervelig (Jammer, Lelanie, maar dis waar, selfs ZAMusicScene.org het dit net 2.5/5 gegee.) Sy het wel daardie jaar by Afrikaans is Groot opgetree so dis … goed?).

Dit beteken ons beland uiteindelik na 36 jaar se eksposisie by Lelies, Rose. Met die eerste oogopslag ’n return to form vir Bloem – die melodieë is roerend, die instrumentasie uitdagend en die blomme, die blomme waarmee sy haarself haar hele lewe lank omring het, is terug. Aanhangers, die regte aanhangers – nie hierdie Johnny-come-latelies nie, sal dalk wonder of iets verander het. Het sy en André uitgemaak? Is sy eindelik bevry van sy middelmatigheid?

Dié wat weet waar om te gaan, sal in ’n boom moet klim, ’n ou wilger in Emmerentia. Dié wat weet waar om te kyk, sal die gloed van die oranje mure dadelik herken as Marigold Vermillion. Hulle sal mettertyd die skildery teen die oranje muur onstyfer as … lelies. Het sy op daardie groot wit bed gesit en na daardie skildery gekyk en besluit op een helfte van die album? ’n Oppervlakkige opmerking, ek weet, maar natuurlik sal ’n mens nie alles in een aand kan sien nie, nie al die verwysings en metafore en simboliese implikasies nie. Mens sal ’n vêrkyker moet kry en ’n warm donkergrys jas, en ’n notaboekie – analitiese gereedskap.

Na ’n paar aande se inspeksie en interpretasie (wat nie goed was vir my knieë, of my rug, of my longe nie) kan ek sê dat André-Andy en Lelanie-Margot nog steeds ’n paartjie is. Hulle verhouding (soos Lelies, Rose) is maar op en af. Soms argumenteer hulle – ek kon nog nie ontsyfer waaroor nie, maar ek lei af dat dit iets met Andy se higiëne te doen het. Wanneer hulle stry, beduie Margot wild, asof sy die orkes op Kraaie dirigeer. Soms sit hulle en maak saam musiek – Margot altyd besig om terug te hou, Andy altyd besig om op te vang (miskien is hierdie aktiwiteit die saad van die underwhelming titelsnit). En soms maak hulle liefde. Dit is nie musikaal nie.

Vanoggend het Margot alleen in die kombuis gesit. Andy was … êrens anders, wie gee om? Die kombuis is wit, maar nie klinies nie. Net skoon en helder en vars en vol energie. Die energie van Margot wat die oggend instrek, ’n koppie chai wat stoom op die houttafel, ’n joint wat rook in die asbakkie en Margot, in ’n kimono, haar hare op in ’n los bun, besig om alleen te dans. Wel, nie alleen nie. Ek is hier, so naby dat ek amper die hitte van haar oggendvel kan voel. Sou ek kon uitreik en haar hand in myne neem? Sou ek haar kombuis kan penetreer, myself tuismaak by haar tafel, my dik grys baadjie uittrek en ’n trek van haar joint vat? Kan ek haar bevry van Andy se middelmatigheid, haar herinner aan haar helderheid, haar uitdaag om haar mure af te breek en weer te skep sonder limiete en dan in die aand gaan lê op haar wolkerige wit duvet, haar gewig op my liggaam voel, haar asem drink soos heuningwyn, en uiteindelik een word …

Nee, seker nie. Maar ek sal definitief ’n ogie hou op hierdie belowende jong sangeres.

  • Louis Roux  is veronderstel om ’n skrywer te wees, maar meeste van die tyd sit hy net en stres. Volg hom op Instagram.