‘Ons was jonk gewees, ons was dronk gewees’

‘Ons was jonk gewees, ons was dronk gewees’
tumblr_inline_nxyj5eurPG1tz8ud8_500.gif

KOOS KOMBUIS

Onlangs ontvang ek per epos ’n brief van ’n twintigjarige student. Sy wil graag meer by my weet oor my liedjie Lente in die Boland. Wanneer en waar het ek dit geskryf? ‘

Ek probeer onthou. Die eerste reëls wat by my opkom, is:

Want ons was jonk gewees

En ons was dronk gewees

Die hele lewe was ’n bring-en-braai

Vol nostalgie dink ek terug. En ook met ’n bietjie kommer.

Was dit nie dalk ’n bietjie onverantwoordelik om studente indirek aan te moedig om ook “dronk” te word soos wat ons dronk was tydens ons Matie-jare nie?

Dis ’n feit soos ’n koei: studente drink oor die algemeen te veel.

Dalk, om hierdie rede, is daar nou ’n stuk voorgestelde wetgewing op die tafel wat, indien aanvaar, die regering klaarblyklik in staat sal stel om die verhoging van die ouderdom van wettige alkohol-konsumpsie vanaf agtien tot een-en-twintig.

Sou so-iets ’n goeie ding of ’n slegte ding wees?

Okei, kom ons kyk objektief hierna. Hoe oud is die gemiddelde eerstejaar wat met sy of haar studies begin?

Neem nou maar ’n tipiese jong Afrikaanse Matie-eerstejaar. Kom ons noem hom Jeandré, want hy is waarskynlik ’n bietjie bederf en sy ryk ouers het hom met ’n pretensieuse naam opgesaal. Maar dis nie sy skuld nie. Hy het ten minste een ding reg gedoen. Hy het sopas Graad 12 deurgekom, en is nog agtien wanneer hy aankom op Stellenbosch se kampus.

Volgens die nuwe wetgewing, indien dit deurgevoer word, sal Jeandré nie mag drank koop en geniet in openbare plekke voor hy met sy Honneurskursus begin nie. Indien hy alles vinnig deurkom, en op die ouderdom van twintig besluit hy is klaar geswot, sal dit beteken dat hy ’n ganse drie-jaar-graadkursus “droog” gedoen het; daar sal nie eens die aand na die finale gradeplegtigheid ’n drankie geniet kan word saam met sy ouers of vriende om sy prestasie te vier nie.

Dis mos loutere onsin.

’n Wet soos hierdie, vrees ek, hoe goed ook al bedoel, sal beslis meer kwaad as goed doen. Dit sal die kulturele landskap van Stellenbosch handomkeer verander. Dit sal W.E.G. Louw se woorde sinloos maak:

Die hele Boland ruik na wyn

Dit sal ook die naweek-uittogte van Maties na die Beyerskloof-landgoed – spesiaal so gereël dat die bestuurders van die voertuie te alle tye nugter is – onwettig maak. Om nie te praat van Beyerskloof se logo op die kant van my Kombi nie – as alle drankborgskappe ook nog afgeskaf word, en drank-advertensies verbied word, sal ek my wiele kwyt wees. Nie dat ek eens my wiele nog nodig sal hê nie: as die wettige alkohol-vlak in bestuurders se bloedstroom verlaag word na nul present – NUL PERSENT, I kid you not – sal ek nie meer konserte kan hou en na die tyd huis toe bestuur nie. Nie eens na slegs ’n halwe glasie rooiwyn nie.

Terug na die studente (dit gaan hier immers nie net oor my loopbaan nie). ’n Totale verbod op drank op alle kampusse kan ongewenste en onvoorspelbare konsekwensies hê wat, paradoksaal genoeg, die drankmisbruik-probleem onder studente eerder sal vererger as verbeter!

Stel jou ’n universiteitskampus voor waar ’n sopie geniet saam met jou klasmaats so strafbaar is soos om ’n joint te rook saam met jou skorrie-morrie-vriende.

’n Kultuur van wetteloosheid en geheimhouding sal ontstaan waarin studente dit as hul reg sal sien om reëls te breek.

In ’n omgewing waar drank en dagga as ewe “sleg” gesien word, sal baie meer studente ook begin dagga rook. Alkohol kan die nuwe “gateway drug” word.

Informele shebeens sal in elke koshuis ontstaan. Dieselfde dealer wat vroeër onwettige dwelmmiddels soos coke, ecstasy en tik verskaf het in die onderdorp, sal nou ook bier verkoop. En hy sal nie meer van die onderdorp af funksioneer nie. Hy sal homself installeer in die een vertrek wat byna nooit meer gebruik word nie: die Gebedskamer.

Hierdie voorgestelde wetgewing raak natuurlik nie slegs studente nie, maar alle jongmense. Paartjies wat trou voor hul een-en-twintigste verjaarsdag, sal nie ’n glasie sjampanje mag klink by hul eie huweliksonthaal nie. Die huwelike sal na die tyd in die hotelkamer gekonsumneer moet word met total oneffektiewe opkikkers soos Red Bull, Cola Tonic of ’n koppie rooibostee.

Ek maak kapsie. O, ek maak ten sterkste kapsie teen hierdie wet! Dis erger, veel erger as my liedjie!

Dit is net nog ’n tipiese ANC-gedrewe inperking op ons persoonlike vryheid, ons vermoë om volwasse keuses te maak, ons reg om vir onsself te dink, en ons kinders se normale grootwordproses om uiteindelik verantwoordelike volwassenes te word, sonder onnodige hang-ups, skuldgevoelens en wanpersepsies oor die lewe.

As daar iets is waaroor ons jongmense, en almal van ons moet betoog, inderdaad BAIE hard moet betoog, is dit die beoogde nuwe drankwette van die ANC-regering. Want dis maar net dieselfde kwasi-morele ou N.P.-paranoia in ’n nuwe baadjie.

Skryf vir ons! kontak@klyntji.com