Koos Kombuis oor ‘Langpad na Lekkersing’

Koos Kombuis oor ‘Langpad na Lekkersing’

Langpad na Lekkersing is Koos Kombuis se nuutste album wat sopas vrygestel is. Ons het met hom daaroor gesels.

a3985638399_10.jpg

Die album dra hier en daar swaar aan emosie, nostalgie en politiese onsekerheid asook swaarmoedige hoop oor Suid-Afrika (“In hierdie donker land het ek geen toekomsplan”, “Waarnatoe gaan ons nou?”); tog word dit opgewek oorgedra met ’n volwasse en vreedsame klank.

Ek sou saamstem dat dit nogal ’n emosionele album is, en dat daar heelwat weemoed en hartseer in baie van die liedjies is. Maar daaroor sê ek nie sorry nie, want hartseer is ten minste ’n aanwesige en outentieke emosie, anders as woede, wat ’n negatiewe emosie is, of depressie, wat die afwesigheid van emosie is. Dis partykeer lekker om te huil! Baie van my vorige werk was moerse depressed en moerse kwaad, en ek is baie verlig en dankbaar dat ek nie meer in daai donker gat in my lewe is nie.

En ek is darem nie meer heeltemal moedeloos oor Suid-Afrika nie. Oor die Springbokke, ja, okei, dit weet almal, maar behalwe vir hulle het ons baie positiewe goed wat in ons guns tel in hierdie mooi land! Dis hoekom ons besluit het om die album af te sluit met Die Trots Suid-Afrikaanse Fokkol Song. Destyds het ons die woede-album Bloedrivier mos BEGIN met ’n moerse negatiewe weergawe van daai selfde song, want toe was ek seriously pissed-off oor alles…

Hou die totstandkoming van die album vir jou ’n dieper simboliese betekenis in? Die tema van om terug te keer na een se huis, en die roete wat geneem moet word om daar te kom, kom voor as ’n herhalende tema. Met vele albums en boeke agter jou rug, voel dit of die sirkel voltooi word? 

Ja, jy’s heeltemal reg, dit voel vir my soos die einde van ’n reis, ’n tuiskoms. Ek kan nie vir jou mooi verduidelik hoekom nie. Die songs self verduidelik dit waarskynlik beter.

Ek weet nie, ek is net so verlig dit is klaar en dat die crowdfunding ’n sukses was (dankie, Jumpstarter!) en dat Schalk-hulle sulke epic arrangements gemaak het, hulle het round the clock gewerk. Ek is happy met Anna Davel dat sy help saam-skryf het en baie bly dat David Kramer al die pad deurgery het om persoonlik betrokke te raak. Hy het nie net die liedjie Ek Wil net Huistoe Gaan ge-co-write nie, maar ook belangrike advies gegee oor die inhoud en trant van die album, en ons het sy riglyne en ervaring gebruik met die finale keuse van die materiaal.

Ek is ook bly dat daar sulke befokte musikante deelgeneem het. Ek dink as ek iemand moet uitsonder is dit die pianis Ramon Alexander. Soos jy weet het my liedjies al die jare maar nog dieselfde vyf of ses akkoorde. Maar Ramon het met sy tower-vingers daai Cape-Jazz-gevoelentetjie bygesit wat die hele CD so ’n subtiele crossover-reukie gee. Ek het Ramon verlede jaar bevriend toe ons ’n huis gedeel het vir ’n rukkie en hy was die eerste musikant na Schalk Joubert en David Kramer wat ek gaan soek het om op die album te kom speel.

Ek is ook moerse bly vir die ander mense wat my geïnspireer het, soos die rubriekskrywer Herman Lategan, maar dis stories wat julle in die sleeve-notes kan lees oor ’n paar weke as die CD in die winkels is.

 

  • Die album is nou beskikbaar op iTunes.

redakteur@klyntji.com