Noorde vs Suide

 

Gedagtes oor Jol-hannesburg en Slaapstad

“Kyk hoe sit sy daar met haar kak Jo'burg baadjie en kak Jo'burg bril,” laat ’n universiteitsvriend van hom hoor.

Ek is vir die eerste keer in vier en ’n half maande terug in die Wes-Kaap, en ’n spul van ons nuttig ’n (paar) bier(e) by ’n lekker jolkol in Stellenbosch. Dit het verander in my afwesigheid. Nuwe bestuur, nuwe exteriors. Nie juis die plek waar jy voel jy ’n morsige aand kan hê nie.

Sy aanmerking word deur die res van my vriendegroep beaam. Ek het “so Jo'burg” geraak. En dit bloot omdat ek genoem het dat die sogenaamde throbbing metropolis van Kaapstad lagwekkend is. Maar hoor gou hier: daar steek die Absa-gebou, Media24, en Portside Building uit, omring deur ’n handjievol ander struktuurtjies wat netjies in die kommetjie tussen Die Berg en Die See inpas. En dis dit. Waar’s Transnet? Die Carlton Toring? eTV? Hillbrow Toring? Ponte Tower? Die SAUK-toring? Énige torings?! Jirr, selfs die Sandton-skyline?

Die blote grootte van hierdie nimmereindigende stad het my heeltemal onkant gevang. En my van vooraf laat besef dat Kapenaars maar flaky en lui kan wees. “House party in Obs? Kief, maar dis like 13 minute se ry, so nee.” hahahahahahahaha.

In Gauteng kan jy maar vergeet van oor die pad stap om ’n dop te drink. Ons is nou juis op pad na die studente-suipkuil van Bohemia in Skelmbos.

“Die enigste rede hoekom ons nog daarheen gaan is omdat die booze so fokken cheap is,” sê nog ’n vriend.

Is ja. Dis immers net na 20:00; ons het nog so 40 min voor die special eindig. Daai Black Labels en brandewyn roep.

Ek word gereeld deur Kapenaars gevra of Johannesburg nie dúúr is nie. Nie duurder as Kaapstad nie, antwoord ek gewoonlik. Dit waarop ek die meeste geld bestee, is Uber. As iemand wat nie kan bestuur nie, het ek ’n ding of twee oor Egoli se openbare vervoer te sê. What. Even. Boots ’n bietjie Slaapstad na en kry ’n MyCiti of iets? (Gaan Wikipedia gerus Johannesburg public transport. Selfs Assange-hulle weet hoe mens moet sukkel.)

So gepraat van Uber: wanneer laas het jy ‘R20-R21’ vir ’n rit op jou skerm gesien? Dalk is ek net bederf omdat ek in Vredehoek bly en enige plek wat iets is etlike minute weg is. Dalk is dit omdat ek in Johannesburg vergeet om promo codes in te tik en sodoende my R30 afslag verkwis. Sug.

En het jy al ooit in Gauteng jou Uber-bestuurder “Dis 'n morsige antie, dié” hoor sê soos ’n vrou in ’n moerse 4x4 deur ’n nou straatjie op jou afgepyl kom? Nie so gedink nie.

’n Rookie-mistake wat ek vir die eerste maand of so hier bo gemaak het, is om vir die bestuurder te sê dat ek city bowl toe gaan. Johannesburg het ’n Central Business District. Gahoor?

Die Gautrein is wel een van my gunsteling features wat Gauteng bied.

“Gautengers is so trots op die Gautrein as wat Kapenaars op julle berg is,” het een gewese-Pretorianer al vir my gesê. En met goeie rede :D Stiptelik, skoon, ’n scenic roete Snor City toe vir daai dae wanneer jy van Johannesburg wil ontsnap en jou mede-passasiers goed soos 'O, koek!’ hoor sê. Idillies.

So lief het ek die trein dat ek selfs bereid is om ’n blinde oog te draai as een van my vrinne vannie noorde awê 'aweh’ spel.

Dan weet jy.

  • Foto’s: Gérard Rudolf

Mila is redakteur van BooksLIVE.