’n Pop is nie ’n bedreiging nie

Annelies Hofmeyr oor Barbies, trofeevrouens en menswees

 

Sy is ’n kaalvoet plaaskind van Vredendal. Dan ook ’n konsepsuele kunstenaar. Kom ons sê sommer ’n all-round kleurryke wunder frau. Annelies het bekendheid verwerf met haar Wit Myt Period Project, voorheen gefeature op Klyntji. Sy baan die weg vir gesprekke waarvan ons dikwels wegskram. Van menstruasie tot sensuur en skoonheidstandaarde – hiérdie uitdagende en talentvolle artiste ken van. 

Annelies se nuutste projek staan bekend as Trophy Wife Barbie, ’n fotoreeks van die omstrede Barbie-pop wat in uitlokkende situasies uitgebeeld word.

Klyntji het met haar gechat. Hier is wat sy te sê het.

 

Mila:Wat beteken die konsep van ’n Trophy Wife vir jou? 

Annelies:Etikette, besitting, stereotipering, objektivering, seksisme, gelykheid, bemagtiging, selfbeeld, vrouwees, menswees. Mens het altyd ’n keuse wat jy doen met die etikette wat ander op jou plaas. Jou krag lê in dit wat jou anders maak. ’n Goeie selfbeeld baat die mense rondom jou ook. As jy jouself aanvaar lei dit na die aanvaarding en opbouing van ander. Dís die wêreld waarin ek wil lewe, so dis die lewe wat ek op Trophy Wife Barbie projekteer. Plus so bietjie ironie. 

Trophy Wife handel nie oor enigiets nuuts nie, maar praat wel oor onderwerpe wat baie mense as ongemaklik ervaar, net op ’n nuwe manier. Omdat ’n pop nie ’n bedreiging is nie, kan mens makliker oor moeilike dinge praat: geslag, menstruasie, sensuur, beauty standards, ens. Met ’n pop het jy ’n keuse of jy die boodskap ernstig wil opneem of nie. Hoe dit ook al sy, die boodskap is oorgedra.

M: Wat beteken Barbie vir jou? Het jy enige spesiale verbintenis met dié pop? 

A: Barbie, soos enige pop, is iets om jou idees of gevoelens op te projekteer. Ek het al deur ’n hele siklus van gevoelens teenoor Barbie gegaan; van kleintydse onskuld tot om haar te blameer vir vroue se slegte selfbeeld. Ek is nou by die punt waar ek grootmens probleme op haar projekteer. ’n Pop word nie gesien as ’n bedreiging nie en dus is dit ’n handige manier om oor swaarder onderwerpe te praat.

M: Ek’s mal oor hoe jy iets soos (pienk) vere sal gebruik om pubes uit te beeld. Hoe besluit jy op die materiaal wat jy gebruik? 

A: Ek speel maar soos ’n kind sou met verskillende dinge om te simboliseer wat dit is wat ek wil hê Barbie moet sê. Partykeer is die materiaal toevallig, ander kere help dit om die boodskap dubbelsinnig te hou.

M:Wat wil jy die graagste met jou werk bereik? Die afbreek van geslagsrolle en die stigmas wat daarmee gepaard gaan? 

A: Ek probeer sin maak van die wêreld en hoe ek daarin pas as ’n vrou en mens. Dit sal seker altyd die dryfkrag agter my projekte wees. Ek sien dit wel verander soos ek ouer word en met verskillende aspekte van mens- en vrouwees worstel. Die beste manier vir my om deur dinge te werk is om daaroor te praat, so ek hou daarvan om werk te maak wat gesprek fasiliteer. ’n Ander perspektief help altyd, al is dit net om mens se gevoelens te bevestig.

Volg die projek op Instagram.

Daar het julle dit! 

Mila is redakteur van BooksLIVE.