'n Kritiese oorsig van Aardklop 2017
22221906_1924406724548127_4213470544744560190_n.jpg

’n Soortgelyke verhaal aan die van Sarah Baartman is die van Franz Taaibosch, soos uitgebeeld deur die uitvoerende kunstenaar Smangaliso Smangoti Khumalo, tydens Aardklop 2017. Foto: Johan Thom

Dis goed om te sien dat die kunste, en diskoers daaromtrent, voortgaan. Hierdie jaar se fees gaan wel gepaard met ’n stewige dosis introspeksie. Hoekom is die gehoor omtrent net wit? Waar is die bruin Afrikaansprekendes, waarvan daar meer is as hulle wit taalgenote? Wat verdring hulle? Wat behoort Aardklop se rol te wees aangaande gehoorontwikkeling? Taxi Teater is wel ’n voorbeeld van ’n ontwikkelingsinisiatief wat geneem is.

Ná Aardklop se val in 2015 en gehulpe opstaan in 2016 het die fees vanjaar die grootste toets in die oë gestaar: die volhoubare voortlewing van die kunstefees ondanks vorige wanbestuur, politiek en eksterne druk. Vanjaar se terugvoer klink positief. Die fees word jaarliks geken aan die betrokke produksies en aanbiedinge – hier is van Ruan Fourie (RF) en Francois Lion-Cachet (FLC) se indrukke.

Visuele kunsteprogram

Hierdie jaar se fokus was op gemeenskapskunsprojekte, soos bymekaargebring deur Johan Thom, kunstenaar en akademikus verbonde aan die Universiteit van Pretoria se visuele kunsdepartement, wat sy intrede as feeskurator gemaak het.

Deelnemers sluit in die Bag Factory (1991-), Keleketla! Library (2008-), Found Collective (2015-), die Dead Bunny Society (2015-), NIROX Foundation Trust (2007-), die Artist Proof Studio (1991-) en die Centre for the Less Good Idea (2016-). ’n Indrukwekkende versameling instansies wat werk doen oor ’n breë spektrum van mediums en velde.

Dis een ding om ’n program met meriete aan te bied, maar op dié louere kan mens nie rus nie. ’n Sterk deel van kunsuitstallings is die galerygangers wat na die openingsgeleenthede getrek word. ’n Diverse gehoor met wye verwysingsraamwerke en perspektiewe voeg soveel by tot die gesprek en algehele ervaring, iets wat afgesteek het tydens die Kunssafari. Eerder as kritiek teenoor die wat wel daar was, wonder mens hoe om jong en nuwe gehore van die stedelike gebiede na Potchefstroom toe te trek. Visuele kunste het hierdie trekkrag, maar daarvoor is strategiese skakeling en bemarking nodig, buite die tradisionele feeskanale. Die kunsaanbieding moet gesien word deur ’n wye mark om dit relevant te maak, en om verkope aan te help. Dit sal ook meer beteken vir die kunstenaars en hulle verteenwoordigers; hoe voel dit vir swart en bruin kunsgeselskappe om vir ’n meerderheid wit en Afrikaanse gehoor uit te stal, wat nie daarna neig om die werk te koop nie?

Found Collective se SNAKE EYES 2.0, wat in die NWU-Galery se botaniese tuinspasie gewys het, het gevestigde en opkomende kunstenaars deur samewerkende projekte laat bande smee. Dit het vars werke opgelewer. Dié uitstalling is as die beste van die fees aangewys.

Centre for The Less Good Idea, met William Kentridge as stigter en weldoener, se augmented reality invisible exhibition het die verskuiwende grense van kuns en kunsaanbieding aangetoon. Die NWU-Galeryspasie was leeg behalwe vir twee iPads waardeur ses verskillende kunswerke beskou kon word. ’n Interaktiewe en prikkelende ervaring. Hierdie voorskou het voor die amptelike launch in Johannesburg plaasgevind, met kunstenaars Deborah Bell, Minnette Vári, Frederick Clarke, William Kentridge, Stephen Hobbs en Robyn Penn. Het die feesgangers geweet wat hierdie uitstalling behels?

Die nie-galery spasies wat vir elke jaar vir die visuele kunsteprogram se uitstallings gebruik word breek af aan die algehele aanbieding, tog word dit keer op keer gebruik. Die ouditorium foyer se mat- en baksteenmure, asook die Alumnisaal se nie-ideale toestand (met lekkasies), albei sonder behoorlike beligting, doen ’n onreg aan die kuns wat vertoon word. Nuwe venues, wat meer vleiend tot die kunswerke is, kan gerus nagevolg word.

Die BASA Awards-genomineerde MTN Kunsafari vir Kinders het weereens ’n belangrike rol vervul om die visuele kunsteprogram te ontsluit vir skoolkinders van alle kulture en agtergronde. Keleketla Library se bydraes was nie op sig duidelik nie, maar belowe om deurgaans tot en met die volgende Aardklop hulle program te laat uitspeel. Jong ingeligte feesgangers sou meer aanklank vind by die visuele kunste as die tradisionele feesgehoor, maar die probleem van vervreemding staar mens altyd in die oog. – FLC

Teaterproduksies

DEURnis Een-tot-een-teater

 Llewellyn Steenkamp in  H O F F I E .

Llewellyn Steenkamp in H O F F I E.

Twaalf produksies van sowat 20 minute elk, met net een akteur en een gehoorlid, aangebied in pakkette van drie. DEURnis is aangebied in ’n nuwe venue, ’n eiesoortige mansion, met elke vertoning wat spesifiek vir ’n kamer in die huis geskryf was. Die gehoorlid word hier ’n deelnemer, siende dat jy nie kan wegkruip nie. Jy sit langsaan die akteur, of die akteur sit op jou. Dan word jy nog verder ontbloot: hoekom het jy as kyker hierdie vertoningspakket gekies?  ’n Intieme en unieke ervaring met intensiewe storielyne. – RF / FLC

Los asseblief ’n boodskap

 Simoné Nortmann in  Los Asseblief 'n Boodskap.

Simoné Nortmann in Los Asseblief 'n Boodskap.

’n Prettige tragikomedie met pop culture verwysings van Twin Peaks se soundtrack na elemente wat herinner aan Sofia Coppola se Bling Ring en Emma Roberts in Wild Child. Suid-Afrika se plattelandse dorpies en bestaan word op ’n surrealistiese wyse oorgedra deur Simoné Nortmann, in hierdie stuk geskryf deur Louis Roux. Disenchanted enchantment, aanbeveel vir die hoërskoolmeisie in jou. – FLC

Splinterster

Soos sameroeper Kobus Kotze dit beskryf is Splinterster “een lang gedig”, maar dit is ook ’n interdissiplinêre gemengde-media-installasieteaterstuk. Dit speel losweg af teen die agtergrond van (post-)apartheid Suid-Afrika, met Steve Biko, Johannes Kerkorrel, Eugène Terre'Blanche en Pieter Dirk-Uys se gesigte wat gebruik word in die visuele, met treffende gebruik van ’n hologram. Elke kunstenaar in die stuk vertel hulle eie storie wat soos ’n vers aansluit tot ’n groter tema, wat deels as verlange en verdriet oor ras, geslag, seksualiteit, kultuur en taal beskryf kan word – onderwerpe wat maklik te ambisieus kon wees, sou die produksie gepoog het om die onderwerpe te bemag. ’n Wending in die produksie na vroulike energieë en spiritualiteit (die “oergedagte”) kom net betyds. Die gehoor word betrek deur hulle aan te moedig om van hul opgekropte geheime te laat gaan. Die produksie se uitdaging is dat dit ’n ingeligte, self-ondersoekende en bewuste gehoor vereis. Die videomateriaal, geskep vir die produksie, vertel ’n storielyn buite die fisiese ruimte en van die produksie. Ek was meegevoer. – FLC

Piekniek by Mpande (née Dingaan)

Projeksie scenografie deur Abri de Swardt vir Piekniek by Mpande (née Dingaan).

Vir konteks dien die gegewe beskrywing goed: “In 1988 stik die Afrikaanse establishment in hul koffie oor die opspraakwekkende kabaret Piekniek by Dingaan, ’n seminale protesstuk wat die Afrikaanse kunstelandskap ingrypend verander het. Heilige koeie is geslag; bloed het gevloei. Alternatiewe Afrikaanse musiek kry vlerke met die Voëlvry-beweging, terwyl die musikante landwyd op kampusse verbied is. Verwoerd se kleinkinders wys ’n dik, vet middelvinger vir die safaripak-en-grysskoen-brigade en die tannies met die gedoende hare – dit is die naasste wat wit Suid-Afrika nog aan sex, drugs and rock ‘n’ roll gekom het. Vandag is Suid-Afrika ’n ander land. Of is dit? Bloed vloei steeds. Heilige koeie wei dikgevreet en onverstoord in die groen-groen land van KwaZulu-Natal. Kom luister na die nuwe generasie se protes terwyl dit klippe reën.” Regie, stel- en beligtingsontwerp deur Wolf Britz en met Louis Roux as skrywer. 

Dis ’n goeie gehalte produksie, maar verbasend mín mense het die vertonings bygewoon. Is apatie makliker as empatie, en gevolglik vermy feesgangers protesteater? Ander “kontroversiële” produksies is wel goed ontvang. Die projeksie scenografie deur kunstenaar Abri de Swardt dra by tot die visuele keurspel – kapitalisme: versier/versuur - met subversive ikonografie as protes en as uitbeelding hoe die Afrikanerjeug tans na die land en lewe uitsien. Dit is soos ’n hoërskool werwings-roadshow vir wit Afrikanerskap, waardeur die foutlyne van die kultuur slim uitgewys word, soms uitbasuin word, soos te sien in ’n ode aan Orania.

Die produksie, wat meertalig omgaan, vra heel gepas aan die einde af of “enige een taal voorkeur behoort te geniet by Nasionale Kunstefeeste?”, ook “behoort daar ’n teaterinisiatief eksklusief vir Afrikaanse teater te wees?” Hulle gaan voort met, onder meer, “Die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief het R1 miljoen aan hierdie produksie toegestaan. Is dit… okay? Motiveer.” “Is dit moontlik om buite jou sosiale en politiese konteks te dink?” “[…] wie se skuld is dit alles?”

Die produksie erken die erotiek van magsisteme, soos die kyker afgevra word met wie op die verhoog jy die graagste seks mee sal wil hê. Kyk… dink… hoekom? 

Die aanspreek van kwessies aangaande natuurbewaring en watergebruik is verfrissend binne die huidige konteks waarin ons onsself bevind. Millennial en eietyds, meer mense moes dit sien. – FLC

Die reuk van appels

 Gideon Lombard in  Die Reuk van Appels .

Gideon Lombard in Die Reuk van Appels.

“As jy eers in jou skoolklere baklei, is jou toekoms in die skool verby, en jou kanse om ‘n goeie werk te kry.”

Die reuk van appels is gebaseer op die roman deur Mark Behr, verwerk deur Johann Smitt met regie deur Lara Bye.

Dis asof min mense die Die reuk van appels-gesprek kon voer; heelwat is bloot stomgeslaan (veral weens die letterlike en figuurlike falliese aard van die stuk). Dis nogal ’n tendens met gesoute teatergangers om hulle oë oop te maak — en as dit wat hulle sien hulle ongemaklik maak, lúister hulle. In Die reuk van appels ontvang teatergangers via (hoofsaaklik) ’n kind wat van die Grensoorlog-era (en -ervarings) vertel, ’n duidelike boodskap dat die geskiedenis nie moet toegelaat word om homself te herhaal nie. Die toneelstuk tree op as ’n tipe requiem, maar hierin is dit van ’n vervloë oordeelsdag. Gideon Lombaard artikuleer via Johann Smith se verwerking besondere detail van Mark Behr se oorspronklike roman, deurdat die struktuur van die toneel ook bestaan uit heen-en-weer-flitse, met meer klem op die kinderlewe as op lewe op die grens (en dus as ’t ware die oorlogagtigheid van kindwees aktiveer). Om die teks se eie woorde teen hom te draai: “Dis beeldskoon. Dis angswekkend.”   – RF

Moedertaal

Sandra Prinsloo se derde solovertoning, Moedertaal, gaan nie noodwendig oor Afrikaans nie, maar eerder oor die universele taal van moeder-wees. Die verhaal word op ’n strand vertel (die hele stel is sand, klippe en twee stoele) en is, aanvanklik, redelik humoristies, maar wend later na die trauma wat sy as ma en vrou deur die loop van haar lewe ervaar het. Die teks, deur Nico Scheepers, is deursaai met poëtiese juweeltjies wat (meerdertyd) heeltemal suksesvol deur Prinsloo gelewer word; ander kere is die stelwyses en vergelykings net-net hoogdrawend. Dié toneelstuk is, nietemin, ’n “Sistynse kapel van woorde en prentjies” en ’n sterk katartiese belewenis. – RF

Half Leeg

Cintaine Schutte debuteer Half Leeg by Aardklop, ’n toneel wat oor die universele temas van identiteit, liefde en aanvaarding gaan; dié vrou wil net haarself wees. Sy praat hoofsaaklik met die gehoor, en sy praat oor die tipe goed wat ’n mens met ’n vreemdeling in ’n bar sou bespreek. Wat dit interessant maak is dat dit hoofsaaklik op ’n party bus afspeel (wat deur middel van klank en beligting oortuigend uitgebeeld word) waarin sy hoofsaaklik die stripper probeer vermy en maak of sy na ’n mede-werker luister. Die toneel lewer kommentaar op hoe maklik vervangbaar mense geword het in die online dating era; swipe links, swipe regs, dan’s jy dalk vinnig weer alleen. Daarteenoor het dit almal sekerlik al oorgekom, daai “mense wat stadig in jou lewe inkruip en voor jy weer sien is jy fucked up”. – RF

Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistoftrilogie

Die vloeistoftrilogie se drie afdelings handel onderskeidelik oor traan 10544 (een van Klara Maas se trane), ’n bloeddruppel genaamd Santiago, en ’n spermsel, Linguini, in die lende van Romeo Montague. Uiteraard is die lewe van ’n druppel buite die liggaam nie langdurig nie; trane verdamp en bloed word droog. En “om ’n spermsel in die lende van ’n Italiaanse tienerseun te wees is nie ’n lang-termyn commitment nie.” Die teks, deur Wessel Pretorius, is quirky en humoristies, sowel as skerp en roerend. Die drie verhale word deur slegs Pretorius en David Viviers, met ’n magdom props wat die oorgange tussen verskillende karakters vergemaklik. Oor hierdie aanbieding moet liewer min gesê word, omdat teatergangers dit net self moet ervaar. Die produksie is ’n kaleidoskoop (met vloeistof as middelpunt en, myns insiens, die sinspeling op Shakespeare se pre-Renaissance 90210 as hoogtepunt). – RF

Melk & Vleis

Melk & Vleis is ’n verwerking van Euripides se teks Medea wat deur Marina Albertyn behartig is, waarna Marthinus Basson regie en stelontwerp behartig. Die verwerking is besonder goed gedoen, en die akteurs gee dit lewe in ’n oortuigende plaaskombuis-stel waarvaan een vloerteël van die begin af al uit plek uit is. Dit vertel die verhaal van hoe man en vrou mekaar ontgroei en hoe die een die ander een wegdryf. In die hedendaagse drama gebeur dit baie minder dat ’n man se ontrouheid sy vrou na letterlike waansin dryf, maar Medea se wortels lê diep in die Griekse mitologie. Die laaste sekonde, net voor die ligte uitsny en die hele teater pikdonker word, skok heelwat teatergangers, en dit betoon dat ondenkbare wraak eerder in ’n plastiekvleisbak opgedis moet word. Illse Roos en Paul du Toit sorg uitmuntend vir die uitbeelding ’n vurige huwelik wat homself verteer, met Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka as ondersteuning en beklemtoning van die belang van ’n mens se pligte en besluitnemings. Dié huwelik gee ’n mens rillings. – RF

Nog notas:

Spoegwolf se volgepakte middagvertoning by die Elgro Hotel was iets om te beleef. Danie du Toit is ’n showman sonder perke. 

In/between: ’Till Africa and China meet was alles wat dit beloof het om te wees, en meer. Dít was die kunste buite die Afrikaanse kultuurbubble.

Asem is sonder twyfel ernstige en goeie teater, wat Melk & Vleis ’n goeie run for their money gegee het met die aanwysing as Beste Algehele Aanbieding (laasgenoemde is ook bekroon met Beste Aktrise, Akteur en Regisseur).