Adam Heyns se dokumentêr oor sy oupa se opstand teen apartheid

Adam Heyns se dokumentêr oor sy oupa se opstand teen apartheid

Die 19 minuut lange dokumentêr Exorcist of Apartheid se ontsenuende klankbaan deur Jacob Israel, gemix deur Peach van Pletzen, saam met die treffende en meestal gevonde beeldmateriaal is indringend, spanningvol en intens. Die film is nie soseer geweldadig nie, maar gaan wel oor verset teen 'n brutale en monsteragtige sisteem van onderdrukking – wat in aard wel geweldadig is.

Die film handel oor Adam Heyns (regisseur, redigeerder en vervaardiger) se drie jaar lange ontdekkingstog oor die lewe en werk van sy oupa, Dr. Johan Adam Heyns, wat bekend bly vir sy opstand teen die apartheidsisteem en die NG Kerk se destydse ondersteuning daarvan. Dit was eers toe Adam se ouma vir hom 'n boks vol VHS tapes gegee het, dat hy die volle omvang van sy oupa se rol in die weerstandbeweging besef het. Willem van den Heever is mede-vervaardiger.

Johan Heyns is in 1994 in 'n sluipmoordaanval deur die agterkop geskiet, deur hulle sitkamervenster voor sy kleinkinders. Adam en sy gesin was ten tyde van die voorval in Duitsland gewees, en het vir die eerste keer daarvan gehoor op radio en op die lughawe in die The New York Times, vertel Adam se pa, Christof Heyns, in die stuk 'n Soldaat van vrede. Niemand is ooit vervolg nie en die identiteit van die moordenaar bly onbekend.

Dit was eers ná Johan Heyns in 1982 uit die NG Kerk se leierskapstrukture gestem is, vanweë sy streng kritiek teenoor apartheid, dat hy as moderator van dié kerk verkies is tydens die noodtoestand in 1986. Apartheid is toe met sy leiding formeel veroordeel deur dié kerk – 'n groot terugslag vir die apartheidregering.

Een van die dokumentêr se mees treffende oomblikke is beeldmateriaal van Heyns se Geloftedagpreek by die Voortrekkermonument in 1988, waar hy die skare van duisende aanspreek as mense wat vir hom soos van 'n ander ras is. Hy breek af aan die heersende ideologie dat Afrikaners die uitverkore volk van God is – 'n beroep op moraliteit wat hom nie juis gewild maak onder sy eie geledere nie.

Die fim verken ook die bevrydingsroete wat Johan Heyns gestap het tot sy besef van die onverdedigbare aard van apartheid. In Amsterdam het hy vir die eerste keer saam met 'n swart persoon nagmaal gevier; dit was daar waar hy tot die besef gekom het wat in die naam van die kerk gedoen word.

Die film is is 'n subjektiewe verkenning van erfenis, asook 'n poging om sin te maak van die verlede se invloed op die hede. Die persoonlike aard van die dokumentêr maak dit amper 'n eerbetoning van Adam aan sy oupa. Die kyker word uitgenooi om ook eienaarskap van dié gedeelde erfenis te neem, en verder daarop te bou.

Die dokumentêr se première by The Bioscope in Johannesburg, op 22 Augustus, het hittige bespreking onder 'n groep jong Suid-Afrikaners ontlok. Het die kerk werklik veel verander? Wat van die uitsluiting en veroordeling van gays? Kan mens in 2018 nog geduldig wees met 'n rassis om tot 'n diepere besef te kom? Is Suid-Afrika vandag in 'n beter plek in vergelyking met die 1980's? Dié vrae is van die wat bespreek is.

Die klankbaan is op Jacob Israel se Marchlands gebaseer, wat hy beskryf as 'n tipe borderland – 'n area tussen twee lande – 'n niemandsland. Hy vergelyk dit aan 'n right of passage, 'n tawwe area om deur te beweeg waar jy nie meer jou vorige of toekomstige self is nie. Vir hom is dit waar Suid-Afrika ditself tans bevind, in 'n oorgangstydperk wat sal bepaal hoe die pad vorentoe lyk. Hy sê iets in die lyn van: "Maybe as South Africans we are still in the continuous marchland, trying to get through, to exit our borderland into the country where we are supposed to be. It is time to stand up against the bullshit." 


Die film is ook tydens die Johan Heyns Memorial Lecture op 23 Augustus 2018 vertoon, aangebied deur die Universiteit van Pretoria se fakulteite van geesteswetenskappe en teologie, in samewerking met die UP-kunsdepartement as deel van die gesprekreeks The Public Intellectual in Times of Wicked Problems. Dit wys ook op die 14de September by die NG Gemeente Rondebosch, kyk hier vir meer inligting.

Sien ook: Wie en wat was Jan Smuts? 'n Dokumentêr deur Adam Heyns

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com