OppiKoppi, maar tight op budget? Hier is vir jou 'n kaartjie

OppiKoppi, maar tight op budget? Hier is vir jou 'n kaartjie

In ruil vir 'n gedig of illustrasie

31285789_1682414571835836_317614137209257984_o.jpg

English here

"Old man look at my life, 24 and there's so much more," lui Neil Young se woorde. Vanjaar is OppiKoppi 24 jaar oud, en met goeie grootwordjare agter die rug, is dit nou tyd om rigting te kies vir die pad vorentoe. Dié pad lei na Nomakanjani se line-up waar almal onder Mzansi se son 'n plek sal vind. Die musiekfees haal Felix Laband losweg aan: "Ek is nie bang om stadig te beweeg nie, maar ek is bang om stil te staan." 

In 'n onderhoud met Klyntji praat Resoborg, hierdie jaar se feeskunstenaar, oor wat Oppi vir hom beteken – 'n bymekaarkoms van verskillende mense en kulture. Hierdie jaar se feesplakkaat gaan oor fabels en legendes wat jy op die pelgrimstog se strate mag teekom.

Ons sien veral uit na DJ Bob se Jazz Club, wat gerieflik in die koelte geleë is waar verskeie paaie saamkom, met die lewe wat polsend voortwoed rondom hierdie bosveldnes van kultuur. Dis soos die Boonste Bar, maar Down Under. DJ Bob is terug vir sy 22ste OppiKoppi – hy wéét van, en deel graag sy kennis. Soos Bra Hugh Masekela gesê het: "Love, Learn and Teach."

Kom klim saam na nuwe hoogtes, sonder vrees of voorbehoud.

 

Teken of skryf jou pad na Northam

Stuur vir ons jou illustrasie of gedig wat gaan oor enige aspek of ervaring van OppiKoppi. Ons ruil graag twee OppiKoppi-kaartjies vir die tekening wat die gees van hierdie sabbat vasvang soos geen ander nie. Vir die gedig wat met ons praat en praat en práát, ook twee kaartjies. 

Afrikaans of Engels is in die haak. Uitblinkers se inskrywings sal gepubliseer word.

Deadline: Vrydag, 20 Julie, 17:00

Stuur na: oppikoppi@klyntji.com

Voorstelle en bydraes: kontak@klyntji.com