Afrikaanse hip-hop oor swangerskap

Afrikaanse hip-hop oor swangerskap

Yoma is onbeskaamd oor hoe sy 'n album maak

claudia witbooi yoma.jpg

Yoma, ook bekend as Claudia Witbooi, se nuwe album Moedertaal fokus op wat sy tans as vrou deurgaan. Swangerskap is 'n lewensbepalende gebeurtenis, dus het sy gevoel dat dit 'n gepaste tema is vir haar debuutalbum. Tot 'n mate is haar fokus op vrouwees en die werking van die vroulike liggaam feministies ('My Blom'), deur dat sy onbeskaamd omgaan met gebeurtenisse wat tradisioneel onder 'n mantel van privaatheid weggesteek word. Vir Yoma is dit 'n opwindende en natuurlike proses wat sy graag deel met haar aanhangers. In 'My Pens' lig sy haar sexyness uit al is sy hoogswanger – die album cover is 'n pink en wit swangerfoto. 

Die oorhoofse temas van die album gaan hierdie nie noodwendig 'n treffer onder jong kontemporêre hip-hop luisteraars maak nie, maar die album is tog toeganklik vir 'n breër Afrikaanse mark; dis nou as hulle hulself daarvoor kan oopmaak. Sy bly edgy genoeg om haarself te onderskei van die massamark van sokkietreffers en polities-besmette autotuners, maar posisioneer haarself tog so dat sy aan die Afrikaans is Groot-verhoog kan deel. Sy is deurentyd uitgesproke oor Afrikaans as moedertaal wat goed koppel aan die toonaard van Afrikaanse bevorderingsorganisasies wat op soek is na meer diverse spreekbuise.

Deur verskeie colabs poog die kunstenaar om 'n album te skep wat iets vir almal bied, maar enkele van die tracks kom wel lukraak en uit plek uit voor ('Engele', 'Oos Wes'). Die afbreking van 'n samehangende klank is heel moontlik 'n doelbewuste element wat poog om 'n album te skep wat oor kultuurgrense diversiteit saambind. Die colabs met HemelBesem, haar man, en Coenie de Villiers pas meer vloeiend aan by die res van die album se klank.