’n Stresprinses

Gedigte van Janke Mostert

janke mostert.jpg

Geselskap

Ek praat te veel.
soveel so dat my angs vir my sê om te chill
Shit.

Ek praat te min.
Shit.
het hulle my sarkasme gevang?
Dalk was die grappie nie so snaaks nie
Dalk is ek simpel dalk
Moet ek vra?
Shit.
Nee. Hulle sal dink ek dink hulle is stupid
Eet ’n slaaiblaar. As jy nie kan snaaks wees nie, lyk
tog net ten minste of jy ’n leefstyl handaaf
wat gesonde kleinkinders sal verseker.

Nie dat ons ooit ooit oor seks gaan praat nie;
die kleigrond pampoen op die borde
weet hoe om ons kake besig te hou
Beurtelings bekoor deur die wysheid van ’n vrou:
“Babas val uit die lig uit, my liefiepoppelap,”
Maar sy weerhou die woorde
wat sy in haar kleikeel kou:
“ons probeer hulle maar net dodge.”

Shit.
Ek praat te veel.
daarom skryf ek my woorde vir jou neer
in deursigtige ink
met my wysvinger op jou pols
en my wang in die holte van jou nek
Shit.
“Holte” is nie ’n baie romantiese woord nie
Ek hoop nie ek het dit nou uitgelig
voordat jy dit besef het nie
Shit.
Ek is so jammer

Ek praat te veel.


Kristalbal

Eendag as ek Groot is
gaan ek my eie hele huis hê.
Ek gaan blommetjies plant in die tuin en altyd lekkers in die kas hê en al die Barbie movies in die wêreld.

Ek gaan elke aand McDonald’s eet en twintig katjies hê en al die mure pienk verf. Ek gaan blonde hare hê soos Hannah Montana en koekies bak wanneer my maatjies kom kuier.

en middernag, wanneer hulle wegry,

gaan ek die res van die koekies
in die toilet afspoel
my hare afskeer en stadig
die papier van die mure afskil
die katte voer
die asbakkies leegmaak
die leë bottels op die woonstel se dak stukkend gooi,
die skerwe en
die skottelgoed op die tafel / op die grond / in die badkamer / los

van alles vergeet

en soos ’n Grootmens
gaan slaap


quod me nutrit, me destruit

Wanneer ek ons       foto’s middeldeur skeur
word ek met ’n       dilemma gekonfronteer -
dieselfde een        wat my keer op keer
in die middel van        die nag so boos vermaak:
doen ek dit            om van jóú gesig
of myne             ontslae te raak?


Beste Wense

Self love is bomb.
Love ’n stukkie self love
in die byskrif van ’n selfportret...

But why issit altyd in die 3de persoon?
soos: “Sy was ’n storm in ’n teekoppie.”
met so ’n lekker dik lomo filter
(nie ekskulsief die probleem nie
maar dit help ook nie die saak nie)

Wie is ‘sy’? Dis net jy in die foto,
Felicia.
eerlikheid begin hier
2k18:

Ek is
boorgatwater in ’n Typo beker
waarvoor ek definitief te veel betaal het.
Kom stap saam met my,
Felicia.

Beste wense.


Mankbeen

Somer voel anders waar ek sit by my lessenaar
as wat dit gevoel het op jou balkon in Rochester
waar die bure grade celsius
trotseer om met hulle staffies te stap

Ek weet ek is ’n hond
wat beurtelings wegloop van die huis af
en beurtelings terugkom;

ek kom nou nog terug -
maar nie na jou toe nie.


f.o.k. (feit - opinie - konklusie)

FEIT:
Die menslike liggaam neem 35 dae om sy buitenste laag vel te vervang.
Ek het jou 4 liggame gelede gegroet.
FEIT:
Nuwe bloedselle word elke sekonde gegenereer.
My are is skoon.
FEIT:
Oogselle word nooit heeltemal vervang nie.
Ek wil jou nie weer sien nie.
OPINIE:
Jy was verkeerd - ek is nie nikswerd nie.
KONKLUSIE:
My woorde was miskien nie van waarde vir jou nie
maar dankie tog, my lyf was.


Hoekom Skryf Jy Nie Oor My Nie?

Ek sit altyd halftyd my pen neer
As ek ons bloukolle transkribeer
want vergelykings ontgaan my
soos water uit die kraan gly
En ek sweer jy sou nie eers weet
daai vers was plagiaat nie
Hoe de hel moet ek oor jou skryf in ’n taal wat jy nie praat nie?


Liefdesbrief In Fuga
(vir Joy)


/fjuːɡ/ n.

1. A musical composition for two~ voices, built on a central subject, in which imitation (repetition of
the same melody at a different pitch) recurs frequently.
2. A loss of awareness of one’s identity, often coupled with flight from one’s usual environment.

i. BUBBLEWRAP

Terwyl ek
elke oggend
drie rolle plastiek
om my hart gevou het
(packing peanuts; boks;
fragile; this-side- up
- met ’n strikkie by, sommernet)
om veilig te bly vir die ekspedisie na joune
het jy terselfdetyd,
net vyf ure later,
drie kilometer foreign vel
om ’n leë swart bic lighter gedraai
(rooi verf vir effek; in by jou ribbekas;
Made in Thailand; mass-produced
- kort vir: “doen met hom wat jy wil”)
om gevaarlike beloftes vir my te pos

ii. SEËL

Min weet jy
my pakkie is teruggestuur
weens verbode inhoud
(plofstof)
terwyl joune dood genoeg was
om die riglyne te bevredig

so nou sit ek
(geen styrofoam; ontbloot
kwesbaar; maar sunny-side up)
en skryf my laaste brief aan jou:
“We sincerely regret to inform you...”
met jou stuk rommel en my dinamiet
“...you ain’t shit.”


Volg haar op Instagram.