Fransi Phillips skryf oor die tekens van die tyd

Fransi Phillips skryf oor die tekens van die tyd
 Foto: Tom Grimbert via Unsplash

Foto: Tom Grimbert via Unsplash

Die volgende is aangepas vanaf ’n toespraak deur die skrywer ter aansluiting by haar boek Liefde in die tyd van die Internet, gelewer te Cafè Riche, Kerkplein, 28 Sepetember 2018.


As ek terugdink aan die laaste jare voordat ons getref is deur televisie, rekenaars en die internet, wat ook die laaste jare voor die Soweto onluste was, dink ek terug aan piekniekmandjies by die inryteater, simfonieorkeste in die Pretoriase stadsaal, glaskaste vol aandenkings wat my ouma nog ’n paar jaar vroeër op bootreise om die wêreld versamel het, vergeelde foto’s van Dr. Verwoerd, tikmasjiene, langspeelplate en porseleindiertjies wat mens kon versamel in koffieblikke.

Dit was min of meer die dae waarin ’n jong Australianer, Julian Assange, die seun van ’n aktivistiese enkelma wat voortdurend op vlug was voor ’n lastige man, Australië van hoek tot kant deurkruis het met ’n byekorf op sy skoot, saam met sy jonger boetie en dié se hoenderhaan. Om die bye binne te hou sou die jong Assange die korwe in koerantpapier toedraai, maar op ’n dag het die bye wat moeg was van die kar se geskud hulle pad deur die koerante gebeur. Deur die vensters en deure wat oopgemaak is om die woedende swerm bye vry te laat, het die boetie se hoenderhaan ook ontsnap en die veld in gestorm met die bye agter hom aan.

’n Jaar of tien later kompenseer ’n steeds jong Assange vir die verlies aan sy byboerdery deur ’n rekenaar so groot soos ’n yskas te bou, met netwerke wat kan herinner aan die byekorf waarvoor hy so lief was en wat, in kombinasie met die sosiale aktivisme wat hy met moedersmelk ingekry het, dieselfde potensiaal vir disaster sou inhou as die van ’n woedende swerm bye. Sokrates sou met my saamstem dat die soeke na waarheid nie besonder populêr is nie.

Ek vermoed dat tydsgees beskryf kan word as dit wat ons geleidelik begin verstaan wanneer ons alle politieke, artistieke, kulturele en tegnologiese uitings van ’n sekere tyd bymekaarbring en saam probeer interpreteer.

Ek vermoed dat tydsgees beskryf kan word as dit wat ons geleidelik begin verstaan wanneer ons alle politieke, artistieke, kulturele en tegnologiese uitings van ’n sekere tyd bymekaarbring en saam probeer interpreteer. Hierdie kollektiewe menslike uitings noem ek vir die duur van hierdie lesing “Die tekens van die tyd”.

In 2006 het ek die eerste keer gehoor van Wikileaks. Ek het toe nog by die Tsjeggiese Ambassade in Pretoria gewerk. Ek het gehou van my werk by daardie ambassade, veral van die dele waar ek filmfeeste moes organiseer vir ’n Europese Unie van wie die onderskeie lidlande mekaar maklik sou vermoor oor iets so gering as die spasies tussen letters op ’n poster. Daar was ’n opvallende verskil tussen die films en ander kunsuitings van Oos-Europese lidlande wat pas aangesluit het, en die van die weste. Oos-Europa het ’n hernude trots getoon met die herontdekking van sy eie verlede en tradisies aan die einde van ’n eeu van kommunisme wat hulle kulture tevergeefs probeer uitwis het. Die Tsjegge was trots op hulle ou en nuwe argitektuur, ou en nuwe ontwerp, ou en nuwe films, animasie, en grafiese kuns. Die toeëiening van ou tradisies in die werk van ’n grafiese kunstenaar soos Marina Richterova het ’n herlewing van ’n ou kultuur ten doel gehad, terwyl toeëiening in die weste eerder ’n soort hersirkulering sou wees van beelde waaraan die kultuur oorversadig geraak het tot so ’n mate dat kreatiwiteit as oorbodig beskou word. In die weste was daar vir solank as wat ek kan onthou toenemende tekens van ’n selfsatheid met hulle eie kultuur.

Die Oos-Europieers het hulle nasionale trots probeer sluk in ooreenstemming met Europese Unie standaarde, maar nie so diep dat hulle nie in die groot eetkamer vol antieke kaarte net langs my kantoor die sg. Visegradgroep vir Suid Afrika kom stig het nie. Ek onthou Mnr Konvalina het goulash in bier gekook in die kombuis, wat hy opgedien het in mandjies wat hy uit brood gebak het en wat saam met die goulash geëet moes word. Die lande wat saam geëet het voordat die ambassadepersoneel op die oorskiet getrakteer is, was die Tsjeggiese en Slovaakse Rebublieke, Pole en Hongarye: almal lande wat tans op Merkel se senuwees werk in hulle onwilligheid om hulle kultuur te offer aan ’n Derde Wêreld waaroor hulle met goeie rede nie vreeslik skuldig voel nie.

Die stigting van die Visegradlande was die eerste oorsaak van ’n sekere euroskeptisisme in my hart, wat verder versterk is deur ’n boek wat ek in Afrikaans moes vertaal vir die destydse Tsjeggiese korrelkop president Vaclav Klaus wat die Europese projek uit ’n ekonomiese oogpunt met die grond gelyk gevee het.

Maar kom ons keer terug na Wikileaks. Ja, op daardie stadium het ek geglo Wikileaks, die beweging wat gestig is deur bg. Julian Assange om by regerings se internet kommunikasiesisteme in te hack en hulle vuil geheime aan die wêreld uit te lek, is uit die bose. Regerings, het ek geglo, bestaan uit goeie mense soos die goeie ambassadeur by die ambassade, en wat geheimhouding nodig het om hulle goeie werk te kan doen. Ek het nooit gewonder hoekom goeie dinge in die geheim moet gebeur nie. Mens bly maar nog lank ’n virgin na jou eerste seks.

Toe gaan ek na Rusland, waar ek die wonder van politieke inkorrektheid ontdek. “Die Weste dink ons wil soos hulle wees”, vertel ’n veertienjarige my. “Maar ons lag vir die Weste, want ons is vry.” En ek begin wonder oor bullshit. Oor almal wat deur die goeie Weste in goeie oorloë moer toe gebom is om vry te word onder ’n tirannie van goeie politieke korrektheid. Ek onthou die spinnerakke in Saddam Hoessein se hare toe hy onder die vloerplanke uitgekrap is om gehang te word oor kernwapens wat tot nou toe nog nie opgespoor is nie. Ek onthou die bebloede lyk van Gaddafi, en Hillary Clinton wat lag: “We came, we saw, he died.” Ek sien ’n onderhoud op Russiese televisie van Obama wat vir Putin vertel dat die twee van hulle saam vir Sirië gaan binneval om Sirië van Putin se vriend Assad te bevry en Putin wat kortweg antwoord: “Nyet”. Ek sien die arrogante konsternasie op Obama se gesig, by die gedagte dat iemand vir hom nee kan sê en boonop nog in so ’n veragtelike taal soos Russies. En nee, dit kan nie propaganda wees nie, dit was ’n direkte uitsending.

Kort na hierdie insident is daar ’n Westers- gesteunde staatsgreep in die Oekraïene, en nog ’n paar maande later begin Islamic state babas aan flarde kap in Sirië. Alles natuurlik heeltemal toevallig, en wat nie toevallig is nie, is Putin se skuld.

Assange veroorsaak in 2010 ’n opskudding met die publikasie van Chelsea Manning se bekentenisse van invalle in Irak en Afghanistan waarvoor Manning in die tronk gegooi word. Toevallig word Assange in daardie jaar van verkragting aangekla deur ’n Sweedse meisie wat die wonder van “me too” ontdek het tydens gewone volwasse sex. Maande later erken sy dat sy eintlik net ontsteld was oor n kondoom wat gebreek het. Dis nou maar van Assange: Hy sukkel blykbaar om dinge binne te hou.

Teen die tyd dat die wêreld uitvind hy is onskuldig, is hy egter reeds weer skuldig bevind omdat hy nie tereg gestaan het vir iets waaraan hy onskuldig was nie. Hy het eerder in die ambassade van Ecuador in Londen gaan wegkruip wetende dat die vals verkragtingaanklag sou kon lei tot ’n reeks uitlewerings en Westerse politieke bullshit waarvoor hy uiteindelik in die ergste geval die doodstraf vir hoogverraad opgelê sou kon word. Dis hoekom hy nou al vir ses jaar lank alleen in daardie ambassade sit, en swerms bye in die vorm van gekraakte inligting oor die aardbol uitstuur. Die meeste van hierdie inligting hou verband met Amerika se generous bevrydingsoorloë waarin hulle mense van olieproduserende lande buiten Saudie-Arabië verlos van hulle eie geloof, kultuur, en tradisies. As mens iets moet sê van die kultuur van ons tyd, sal dit wees dat kultuur in ons tyd die nuwe fascisme geword het.

Die aanslag op kultuur word ook voortgesit in die Europese Unie, waar onderlinge kulturele verskille reeds toe ek nog by die ambassade gewerk het stelselmatig uitgewis is. Die uitwissing word nou verder gevat in die vorm van ’n oorname deur die mense van lande wat die bevryding van kultuur in hulle eie lande so ondraaglik gevind het dat hulle na Europa moes vlug. Europese leiers soos Victor Orban in Hongarye en Matteo Salvini in Italië wat hulle eie kulture wil beskerm word gebrandmerk as fasciste.

Die Amerikaanse snobberkoningin Oprah Winfrey kan gesien word as een van die gesigte van die snotliberale tradisie van multikultiralisme. Daarteenoor staan die Russiese teenfoeter vir multikultiralisme: die filosoof Alexander Doegin. Doegin word in Europa beskryf as die brein agter Putin. Hoewel Putin ’n brein van sy eie het, is dit tog so dat Doegin gesien kan word as die beliggaming van ’n hedendaagse Russiese tydsgees, wat volstrek teenoor ’n multikulturele tydsgees staan. Daar is niks universeels aan die mensheid nie, sê Doegin. Daar bestaan nie soiets soos een gedeelde menslikheid nie, en dan veral nie ’n mensheid ondergeskik aan ’n Westerse persepsie van wat menslikheid is nie. Hierdie persepsie word aan almal opgedring. Daar word nie vir die Russe gevra wat hulle persepsie van die werklikheid is nie, of vir die Chinese nie. Die antwoord word eenvoudig opgedring: menseregte, liberale demokrasie en die vrye mark. In werklikheid is die mensdom egter uit verskillende menshede opgebou, en uit verskillende beskawings met eie waardesisteme. Die grootste en kleinste volke het almal ’n eie ervaring van wat reg is, wat verkeerd is, wat die mens is, wat God is.

My boek, Liefde in die tyd van die Internet, bemoei hom tot ’n groot mate met die kultuur waarvan die Russies Orthodokse Alexander Doegin deel is: Katedrale in sneeubedekte donker woude waar die gelui van klokke mense inroep na ’n binnekant van kerslig, goud en ikone en waar die koorsang met die klokke harmonieer. Dis ook die kultuur van skrywers soos Tolstoy, Pushkin, Dostoyevsky, Turgenev, Gogol, Brodsky, Bulgakov, en van komponiste sos Tchaikovsky, Rachmaninoff, Glinka, Balakirev, Rimsky Korsakov, Scriabin, Shostakovich. Dis die land waar Diaghilev, Nijinsky, Barishnikov, Pavlova, en Nureyev vandaan kom. Die land van wit nagte in Saint Petersburg, van polities inkorrekte pelsjasse en Siberiese woude en mere, van die Kremlin en Rooiplein en kommunistiese betongeboue, van babushkas en kossakke en kaviaar in buckwheat pannekoekies en vodka. Die Russe gaan nie hulle kultuur vir ’n ander een verruil nie, in die eerste plek omdat jy gaan sukkel om hulle te oortuig dat dit ’n onverdienstelike kultuur is, en in die tweede plek omdat geen ander kultuur hulle gaan help oorleef in die ysige land waar hulle bly nie.

Kultuur is nie beperk tot ’n snobistiese skilderytjie hier of konsertjie daar of kunsuitstallingtjie wat net deur die intellektuele elite bewonder kan word nie. Dit kan veel eerder gedefinieer word as die vorm waarin die mens sy wêreld ontmoet.

Kultuur is nie beperk tot ’n snobistiese skilderytjie hier of konsertjie daar of kunsuitstallingtjie wat net deur die intellektuele elite bewonder kan word nie. Dit kan veel eerder gedefinieer word as die vorm waarin die mens sy wêreld ontmoet. ’n Mensheid wat sy eie kultuur afsterf verloor sy greep op die wêreld, sy vermoë om met ander om te gaan en uiteindelik sy vermoë tot oorlewing. In ons eie land is dit my kultuur wat dit vir my onmoontlik maak om te deal met 56 moorde en 79 verkragtings per dag onder ’n regering wat niks doen om dit te verander nie.

Op een punt in Liefde in die tyd van die Internet sê die skrywer van die boek, ’n sekere Phillips, vir haar hoofkarakter Hanna, tydens ’n gesprek oor tydsgees: as daar nou al ooit ’n gefokte tyd was, is dit reg nou. Wat sou sy alles daarmee bedoel? Ek weet nie altyd presies wat in Phillips se kop aangaan nie, maar as ek kon raai sou ek sê sy het dit oor die gebrek aan en minagting van kultuur. Hierdie minagting begin waar lande wat nie ooreenstem met kultuur soos voorgeskryf deur die Nuwe Wêreldorde nie eenvoudig vernietig word, veral daardie lande met olie of oliepyplyne. Die vernietiging van kultuur hou egter nie daar op nie, maar eindig binne in die kulturele hart van ou Europa. Al wat nog nie aangeval is nie, is Hollywood. Die gevolg is die dood van enige outentieke kulturele uitlewing, met ’n kitsch en onsamehangende gebabbel oor menseregte deur mense wat ander nie eers die lug wat hulle inasem gun nie. Dan wonder ons hoekom daar geen waardering oor is vir outentieke kunsuitings nie terwyl enige gomgat wat baby baby kan blêr verhef word tot ’n god.

Wikileaks het verder inligting gepubliseer oor Hillary Clinton se bewondering vir en vriendskap met die kunstenares Marina Abramovich. Abramovich is bekend vir haar performance art sessies waartydens sy die idiotiese “me too” beweging ver vooruitloop deur vir haar besoekers meslemme en ander martelobjekte te gee en dan kaal gaan sit en wag dat hulle iets aan haar moet doen, totdat een of altwee terughardloop in Oprah se arms in waar hulle lekker lank en innig oor hulle eie slegheid kan gaan sit en tjank. Nou, dis natuurlik dieper as wat hulleself dink, want terwyl hulle dink hulle is besig om die arme onskuldige kaal vrou se uitgelewerheid aan die bose man wat nooit iets anders as uitbuiting, verkragting en onderdrukking op sy brein het nie na vore te bring, is hulle eintlik besig om te illustreer wat Camille Paglia lankal gesê het: liberalisme gee altyd aanleiding tot barbarisme, barbarisme gee altyd aanleiding tot sadomasochisme.

Assange het ook kort voor die verkiesing in 2016 die aandag gevestig op die kunsversameling van Clinton se assistent John Podesta en sy broer Tony. Die uitstalling bestaan uit interessante beelde van die kannibaal Jefrey Dahmer se slagoffers pas nadat hulle koppe afgesny is, plastiek vrouens wie se mae oopgesny en binnegoed uitgepak kan word, verhongerde seuntjies vasgebind in storte, rye en rye seksslaaf dogtertjies met hulle hande agter hulle rue vasgebind. Jy kan kuns op ’n serebrale vlak interpreteer vir wat dit probeer sê, of jy kan jou daarin verlustig. Niemand kan bewys op watter van die twee opsies die sjarmante Podestabroers hulle obsessies grond nie, en ek gaan hulle die voordeel van die twyfel gee ten spyte van die perverse ondertone wat deur die eensydigheid van hulle versamelings beklemtoon word.

Die interessantheid van Hillary Clinton en haar avant garde bende hou egter nie op by die Podesta broers nie: Anthony Weiner, die man van Clinton se baie persoonlike persoonlike assistent Huma Abedin, maak ’n ratse sprong tussen kuns en virtuele werklikheid deur sy Weense worsie op internet aan minderjarige meisies te vertoon. Daarvan sê die skrywer, Phillips, in my boek: Die liefde neem soms eienaardige vorms aan in die tyd van die internet. Wat Clinton se getroue eggenoot Bill Clinton betref, merk Phillips ewe spiteful op dat hy volgens sy paspoort ’n pedofiel eiland waar kinders aangehou word, 26 keer besoek het, en volgens homself nie eenkeer seks gehad het met ’n kind nie. Jy sal vra wat Clinton op hierdie stadium met enige iets uit te waai het. Die antwoord is dat die Weste nog steeds tot ’n groot mate deur die wêreldorde waarvan sy deel is, regeer word, tot so ’n mate dat daar werklik min speling is vir haar opvolgers om teen hierdie tekens van ons tyd te reageer.

 Foto: Fransi Phillips

Foto: Fransi Phillips

Ek dink nie Julian Assange deel noodwendig my obsessie met kultuur nie: sy ma was meer soos ’n hippie wat geglo het in die mooi liberale deugde van menseregte, deursigtigheid en vryheid van spraak, en dit is die deugde waarmee hy grootgeword het. Dit maak sy bemoeienis met die liberaliste van die dag tegelyk meer ironies en meer betekenisvol. Dit gaan vir hom oor die manier waarop daardie selfde menseregte waarvoor kulture opgeoffer moet word, verkrag word nadat die offers gebring is. Die manier waarop die liberalisme van die Nuwe Wêreldorde op sy eie ideale kannibaliseer.

Wat betref my nostalgie vir my eie verlede en vir ’n tyd voordat ons getref is deur die Nuwe Wêreldorde: daardie nostalgie word elke dag sterker. Wat betref my obsessie met kultuur: aan my liefde vir die ou Europese en Russiese kulture sal niemand iets verander nie. Ek sal liefhê wie ek wil en haat wat ek haat, oor my eie redes. Ek sal lag vir wie ek wil. Na die hel met die res.

Fransi het 13 of 14 boeke gepubliseer en 5 of 6 jaar in Rusland gebly.